God se huis

Verwelkoming: 

Mag ons saam vanoggend bewus word dat ons ingetrek word in iets wat groter is as onsself.  Die evangelie self – én die wolk van getuies…

Vanoggend is heilige oomblikke en ons is so dankbaar daarvoor.  Saam met julle as ouers dankbaar vir die kinders wat Hy aan ons toevertrou het en vir die wonderlike jongmense wat ons voor ons sien.  Saam met hulle dankbaar vir ouers en familie en vriende wat met soveel toewyding en opoffering hulle gehelp het om tot hier te kom vanoggend.

Huis…

Ons het oor die verlore Seun gedink en gesels met ons retreat en oor die vlakke waarop hierdie karakters en storie ons lewens raak…

Wat is die Vaderhuis: dit is op ’n manier ons eie grootwordhuis en ons gesinsverhoudinge. Dit is ook simbolies, ons plek van ware tuiste, waar ons ons ware self en ons roeping vind in God. 

Ons almal wil soms uitbreek – en soms moet ons afstand kry van ons huis om ons huis te herontdek.

Op ons almal se lewensreis is ons nie altyd ewe naby aan God nie. En daar is verskillende oomblikke van insig, en inkeer en terugkeer. 

Soms is ons soos die oudste seun wat veilig speel en gehoorsaam is, maar sonder vreugde – sonder om te weet hoe hartlik ons Vader is.

Is ons Vader nie merkwaardig nie: Hy gee ons vryheid van keuse én wag altyd met oop arms vir ons…

Stilword: 

In stilte kan ons al ons maskers afgooi, want hier by God is liefde, en waar daar liefde is, is dit veilig.

Asemhaling:  Die Gees van God is in my

Uitasem:  Gee weg wat keer dat ek in die oomblik kan wees.

Gebed: 

Here, U het ons in u Seun Jesus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.  Ons sien en voel dit vanoggend en dit is te veel vir ons om op een slag in te neem.  U het ons gekies om deel te word van u plan.  U plan om alles, alles in die hemel en op die aarde een te maak in Jesus.  In ons doop het U vir ons die Heilige Gees gegee.  Die Heilige Gees wat bevestig dat ons God s’n is.  Die Heilige Gees wat waarborg dat alles wat U belowe waar is en sal waar word.

Skriflesing:  Ef 4:1-7, 15-16

Preek:

Daar aan die heel begin van die Bybel, het alles begin skeef loop toe die slang vir Adam en Eva kom versoek het.  En hoe het hy dit reggekry?  Hy verlei hulle om op ’n manier aan God te dink wat nie waar is van Hom nie.  Hy het mos gevra:  “Het God regtig gesê dat julle van nie een van die bome in die tuin mag eet nie?  So asof God suinig is en wil baasspeel.  En as Eva dan sê dat dit net oor die een boom gaan, dan verdraai Hy weer God se woorde:  “Nee, julle sal nie doodgaan nie, julle sal soos God word.”  So asof God bedrieglik is en sy eie posisie wil beskerm.  Maar God is juis nie so nie.  Sy hart is vol liefde en vrygewigheid, Hy het alles mooi gemaak en vir ons ’n plek gegee wat alles voorsien wat ons nodig het.  Hy het ons gemaak sodat ons in sy liefde kan deel.  En as daar een ding is wat God nie kan doen nie, dan is dit om oneerlik te wees.

Maar daai dag het iets in mense gebreek.  Hulle het nie meer soos God geword nie.  Juis nie.  Hulle het wel meer soos die afgod geword waarvan die slang vir hulle ’n prentjie in hulle koppe gegee het:  Suinig, agterdogtig en baasspelerig.  En van daardie dag af leef ons in ’n wêreld waar daar nie egte gemeenskap (community) is nie.  Net in die volgende hoofstuk in die Bybel (Gen 4) kry ons die eerste moord.  Nogal ’n broer op broer.  En as gevolg van godsdiens, as Kain sy broer Abel vermoor oor ’n offer aan God.  En van daar af is die hele Bybelse storie een sad verhaal van stukkende gesinne, jaloesie en haat en geweld en onreg.

Ons kan nie meer volmaakte liefde ontvang en gee nie.  Almal het al iewers seegekry en ons vertrou mekaar nooit heeltemal nie.  En daarom is daar kompetisie en vergelyking.  Oral.  (S5)Maar omdat ons gemaak is vir egte gemeenskap (om ware liefde te deel), bly ons soek na aanvaarding en plekke om te behoort.

Maar iets in ons is gebreek.  Daar is skeiding tussen ons en God en tussen ons en ander mense.  En as ons self probeer om weer gemeenskap te skep, is dit altyd nagemaak en oneg.  Dit gee nooit vir ons wat ons regtig nodig het of wat ons hoop om te kry nie.  Daar is te veel valse prentjies, te veel afgode in ons koppe.  Ware liefde verdryf vrees, sê die Bybel, maar omdat ons nie meer dit ken nie, is ons bang, soos Adam, vir God en vir mekaar.

En daardie vrees hanteer ons verskillend.  Party mense trek terug en maak hulleself hard.  Hulle gee voor vir hullself en vir die wêreld dat hulle nie ander mense nodig het nie.  Hulle kan self regkom.  Hulle het al te veel seergekry.  Ander mense weer kan nie genoeg kry van ander mense nie.  Hulle is bang vir alleen wees en moet net altyd tussen ander mense wees.  Hulle wil ten alle koste in wees en sal enige iets doen om dit te bereik.  

Ons het baie groepe waar ons probeer om weer naby aan mekaar te kom, maar ons groepe kan so gevaarlik wees.  Dink maar aan die ekstreme voorbeeld van ’n gang.  Maar selfs al is dit net ons vriendekring, of sportspan, of skool, of klub of selfs kerk, dan is daar sekere mense wat in is en sekere mense wat uit is.  Ons hou by mense wat soos ons is en ons hou mense wat “anders” is uit.  En ons soek redes waarom ons goed is en ander mense sleg.

Jesus het nie ’n boek geskryf nie, Hy het ’n community gevorm.  Hy het dadelik mense om Hom bymekaar gemaak, want die mense wat God die nodigste gehad het, het welkom gevoel by Hom.  Hy het ons weer kom wys hoe God regtig is: dat daar by Hom plek is vir almal!  By Hom is ons ware huis, ons is regtig tuis!! Mens verstaan God nie die beste as jy boeke oor Hom lees nie, maar as jy sien hoe Hy is.  As jy saam met Hom lewe en toelaat dat Hy op jou afsmeer.  En een van die maniere hoe jy leef saam met Hom is om te leef saam met die mense op wie Hy al ’n bietjie afgesmeer het.

Die Jesus community het ’n baie spesiale naam:  Die liggaam van Christus.  Jesus het so ’n gemeenskap ’n werklikheid gemaak deur sy lewe te gee. In sy dood gaan alles wat gebreek is dood en in sy opstanding raak ons saam met Hom weer heel.  Dit is hoe ver God se liefde bereid is om te gaan om vir jou te kom haal en jou op die pad te sit huis toe.  Hy het weer God se beeld in ons kom regmaak, die ware prentjie so vir ons kom wys dat ons nooit sal kan vergeet hoe God regtig is nie.  Hy sal alles vir ons gee; tot Homself.  

Almal het vir Jesus nodig.  Net in Hom kan ons regtig vry wees.  Vry van kompetisie en vergelyking.  Vry om onsself te wees soos wat Hy ons gemaak het om te wees.  Vry om regtig weer liefde te ontvang en te gee.  In hierdie wêreld waar aaklike goed gebeur, is dit die eenvoudige antwoord; is dit die goeie nuus van Jesus Christus.  Hy roep vir jou.  Hy maak jou deel van hierdie beweging.  Jy is ingedoop in hierdie nuwe werklikheid.  

En Hy vra nou vir jou om te reageer en jouself ten volle hiervoor te gee.  Te gee vir die liggaam van Christus.  Deel te raak van die mense van alle tye en alle plekke wat bereid was om Hom te glo en Hom te volg in sy beweging waar alles en almal besig is om nuut te word.  Hy het jou nodig.  Vir jou.  Om te help om sy liefde te deel sodat meer mense nader aan Hom en sy doel vir ons kan kom.

Dit gaan nie altyd maklik wees nie.  Jy gaan partykeer mooi moet kyk en ver moet soek om iets van Jesus self raak te sien in mense en op plekke; selfs in die kerk.  Maar onthou dan, dat jy ook nie perfek is nie en dat ons almal nog sukkel.

Maar ons bly glo, want dit kom nie uit onsself nie.  Hy het dit self vir ons gegee in die doop en deur sy Gees.  En ons bly hoop, want Hy het vir ons gewys wat beteken dit om tot die einde toe uit te hou en Hy self is by ons en leef in ons.  Hy is ons een Here en daar is niemand soos Hy nie.  Uiteindelik gaan almal voor Hom kniel en erken dat sy pad al die tyd die regte een was.

Vir nou wil ek hê dat jy altyd hierdie woorde (ook uit die brief aan die Efesiërs) sal onthou:  “Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.  Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.  In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.”

As jy ooit voel jy is uit; onthou jy is klaar deel gemaak.  As jy ooit voel jy is niks werd nie, onthou jy is gemaak om God se liefde te deel.  As dit rof raak, Jesus is jou ware tuiste, jou skuilplek.  Amen.

Belydenisaflegging:

Jou naam: iets uit jou geloofstorie op die bord. Jy en jou ouers kom na die doopvont. 

Jy skryf jou naam in die doopwater: commitment, opeis van jou doop (al die gawes van Christus). Jou keuse om Jesus te volg.

Ouers: Jy maak kruisie op hul voorkop: as seën; vertrou hulle opnuut aan die Here toe; as ’n erkenning van ’n oorgangsfase ook in julle verhouding. 

Ontvang: ’n Bybel en saadjies in die hartjie… plant as teken van jou geloofsgroei. 

Die vrae 

  • Glo jy dat die Bybel vir ons leer hoe om God se verlossing te kry en sy kind te raak.  Glo jy dat ons gemeente dit getrou so verkondig?
  • Beloof jy om as lidmaat van die gemeente van Jesus Christus, deur sy genade in die belydenis van sy boodskap te volhard, tot die einde van jou lewe en alles wat nie daarmee ooreenkom nie te verwerp?
  • Bely jy dat die Here Jesus jou persoonlike Verlosser is en dat jy Hom liefhet?  Beloof jy om Hom getrou te dien, sy Naam getrou voor die mense te bely en om aktief aan die werksaamhede van die kerk deel te neem?
  • Aanvaar jy dat jou medegelowiges die verantwoordelikheid het om jou te help om op die regte pad te bly?

Hele gemeente staan:

  • Beloof julle as gemeente om opnuut die keuse te maak om Jesus te volg; om na hierdie jongmense

Geloofsbelydenis:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,

gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

die opstanding van die vlees

en ‘n ewige lewe.

Slot:

“Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.  Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.  In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.”

Seën: 

Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.  Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

css.php