Waar is jy?
Verwelkoming:
Hoe kan mense soos ons ’n verhouding met God hê? Gesamenlike aanbidding is waar ons dit saam ontdek en oefen…
Votum/seëngroet:
Gebaseer op die skepping skryf Johannes oor Jesus…
1 In die begin was die Woord,
en die Woord was by God,
en die Woord was God.
2Hy was in die begin by God.
3 Alles het deur Hom ontstaan,
en sonder Hom het selfs
nie een ding wat bestaan,
ontstaan nie.
4In Hom was lewe,
en dié lewe was die lig vir die mense.
5 En die lig skyn in die duisternis,
en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Skriflesing:
Gen 3:1-15
Preek:
Ten spyte daarvan dat dit die verhaal is waar alles begin skeefloop, is dit een van my gunstelinge gedeeltes in die Bybel – hierdie verhaal van Gen 2-3. Aan die een kant is daar iets ongekunsteld en eenvoudig(kinderlik) – en aan die anderkant is dit so diep – op ’n manier word alles wat vir ons as mens se bestaan belangrik is op ’n manier aangespreek!
Iemand het mos gesê: Die Bybel is vlak genoeg vir kindertjies om in te speel en diep genoeg vir groot mense om in te verdrink…
En die styl van die teks wys vir ons dat ons dit baie meer soos digkuns as soos geskiedenis moet hanteer.
(In Gen 1 het ons 7 Skeppingsdae en nog baie meer 7’s en in die volgende eenheid, Gen 2-3 het ons sewe tonele – iets wat deur die hele boek van Genesis voorkom – net om vir jou ’n idee te gee oor die fenominale kunstige konstruksie van hierdie Bybelboek).
So hier is die toneel. Die Here God vorm die mens uit dieselfde materiaal as die res aarde, maar Hy blaas in sy neus die asem van lewe – God se eie asem/Gees vul die mens. Die Here God, so terloops, is die twee Hebreeuse woorde Jahwe en Elohim. Die een is die Naam vir Israel se Verbondsgod wat hulle persoonlik gekies het – die ander is die meer algemene naam vir God wat almal gebruik het – wat ook in die grootprentjie skeppingsverhaal van Gen 1 voorkom.
Die storie raak nou meer intiem en persoonlik. God maak vir die mens ’n mooi tuin – ’n veilige, goeie, mooi plek waar hulle kan bly. Daar was allerhande bome, wat nie net mooi was om na te kyk nie, maar ook goed om van te eet.
En die mens het ook ’n lewenstaak gehad; ’n vennoot van God; betekenis: die mens moes die tuin bewerk en op pas.
Uit al die bome, was daar twee merkwaardige bome. Die boom van die lewe en die boom van kennis van goed en kwaad. Van al die bome mag die mens na hartelus eet, ook die boom van lewe, net nie van die een boom nie: die boom van kennis van goed en kwaad…
Hierdie tuin sou later in die simboliek van die tabernakel en die tempel uitgebeeld word, want dit was die ideaal – ’n plek waar God en die mens in harmonie en intimiteit saamgeleef het. Die Here sien dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie, en maak vir hom ’n helper, ’n maat, ’n gelyke. ’n God van verhouding wat die vreugde van lewe wil deel in liefde.
En die mens en sy vrou is naak, maar hulle is nie skaam nie… in ’n perfekte wêreld is daar geen gevaar nie, niemand wat jou wil misbruik/verkleineer nie – volkome en wonderlike onskuld…
Slang se opwagting is toneel 3 – reg in die middel – die keerpunt.
Net so ontwykend die vraag nog steeds is hoekom daar boosheid in die wêreld is, net so ontwykend is die vraag waar die slang vandaan kom en hoekom hy so listig is? Hoekom is boosheid deel van die Here se skepping en ons lewens?
Wat ons wel weet is dat ons nie opgewasse is nie. Die slang se listigheid is te veel vir die vrou se naiwiteit.
“Het God (nie Here God nie!) regtig gesê dat julle nie van enige boom in die tuin mag eet nie?”
Is God nie dalk maar net suinig nie? Steek Hy dalk iets weg? Kan jy Hom vertrou?
Dit is soos die Matrix se rooi pilletjie vir die wat daai fliek onthou: Julle sal nie sterf nie… Hier is jou kans! Jou oë sal oopgaan – Jy kan self soos God raak…
En dan sien ons hierdie perfekte uitbeelding van die dinamika van ons begeertes. Iets ontwaak in die vrou. Sy het nog nooit so na die boom gekyk nie. Die boom is ’n lus vir oog, en dit is begeerlik om van te eet. En sy eet, en haar man eet.
En hier is die moeilike van die storie om te verstaan. Die slang was nie heeltemal verkeerd nie. Hulle het nie fisies gesterf nie en hulle oë het oopgegaan…
Dit is net dat ons nie onsself kan vertrou om presies te weet wat ons wil hê en wat ons nodig het nie. Wat hulle verwag het en die werklikheid van die ervaring was sekerlik wêrelde uitmekaar. Hulle oë gaan oop en hulle ontdek hulle naaktheid – dat ons beskaam kan word en seergemaak kan word – dat ons kwesbaar is.
Wat maak dat ons vir altyd terugverlang na die onskuld van ons kinderdae? Is dit hoe die Here ons help om te bly hunker na die paradys? Vir baie van ons laat ons kinderdae ons dink aan sorgvryheid, liefde, geborgenheid en verwondering…
Maar as jou oë eers oopgegaan het, is dit nooit weer dieselfde nie.
Die twyfel, die vrees, die wantroue, die sinisme en die seerkry – die droom is verlore.
Die mens en sy vrou maak patetiese pogings om die saak te probeer red. Vyeblare klere kan nie baie prakties wees nie. En hulle kruip weg.
Het die Here áltyd daardie tyd, in die koelte van die laatmiddag kom “kuier”?
En (in toneel 5, wat verband hou met T3, wat drie stellings oor die boom gehad het) vra die Here God nou drie vrae: Waar is jy? Wie het jou vertel dat jy naak is? Wat het jy nou gedoen? Hierdie is nie sommer-net vrae nie…
Waar is jy? Waar wil jy wees? Waar moet jy wees? Waar hoort jy? By wie jy is tuis? Waarvoor kruip jy weg? Is jy op plekke van vervreemding/wantroue van God, of plekke van nabyheid, vertroue en vrede. Kan jy God in die oë kyk, of loop jy draaie?
Wie het vir jou vertel? Na wie luister jy? Wie is die gesag in jou lewe? Die stemme/menings/logika wat jy volg? Wie en wat vorm jou begeertes, jou drome en ideale. Wie gee jou identiteit en betekenis en roeping aan jou?
Wat het jy nou gedoen? Dit kan soos ’n beskuldiging klink, maar dit is uitroep van hartseer. Spyt kom altyd te laat. Is daar iets wat ons kan doen met ons skuld, skaamte en spyt?
Is daar na hierdie gebeurtenis (eintlik ’n dinamika in ons elkeen se lewe) nog hoop vir die mensdom. Hoop vir my en jou? Kan ons weer terugkeer na Eden? Die Hele Bybel is ’n antwoord op hierdie vraag. En letterlik heel aan die einde, in Openbaring, is ons weer terug in die tuin, met die boom van die lewe in die middel (Openb 22).
Dit is nie maklik en sonder stryd nie. Maar die vloek is gebreek. Die deur is oop.
Want die God van die Bybel bly soek na sy mense. Die wat Hy gevorm het en sy asem in geblaas het. Waar is jy, roep sy stem… En later, sou gelowiges vir Jesus sien in hierdie woorde van Gen 3:15 oor die vrou en die slang se nageslag. Dat daar Een sou kom wat die doodsbyt van die hele wêreld se bose sou omskep in die finale verplettering van die slang se kop. Hy wat gesê het Ek sal die 99 skape op kraal los om die een verlore skaap te gaan soek.
Ons eerste onskuld is verlore, maar ons kan ’n tweede onskuld kry. Ons kan weer leer vertrou. Ons kan naby aan God kom. Ons kan met wonderlike eenvoud, dankbaarheid en verwondering lewe.
Ons kan tekens en ’n voorsmaak van die paradys beleef.
Dit is ’n leuen dat jy selfgenoegsaam is.
Dit is ’n leuen dat jy te sleg is en dat jy moet wegkruip.
Dit is ’n leuen dat daar nie tweede kanse is nie of dat ’n situasie sonder hoop of uitkoms kan wees.
Dit is ’n leuen dat God ver is of nie omgee nie.
Moenie meer wegkruip nie. Jy is mooi gemaak en duur gekoop.
Hou op vinger wys en skuld gee. Kom oor jou kleinlikheid en slagofferskap.
Waag met jou weerloosheid.
1 Toe het die engel aan my ‘n rivier met die water van die lewe gewys. Dit was helder soos kristal, en het gestroom uit die troon van God en die Lam. 2In die middel, met die hoofstraat aan die een kant en die rivier aan die ander kant, staan die boom van die lewe, wat twaalf keer vrugte dra – elke maand dra dit vrug. En die blare van die boom bring genesing vir die nasies. 3Daar sal geen vloek meer wees nie. Die troon van God en die Lam sal in die stad wees, en sy diensknegte sal Hom dien. 4Hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam is op hulle voorkoppe. 5Daar sal ook nie meer nag wees nie. Die behoefte aan die lig van ‘n lamp en die lig van die son sal nie meer bestaan nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle vir ewig en ewig as konings sal heers.”