God is betroubaar

Verwelkoming:

Dinge lyk deurmekaar; ons wil ons gedagtes rig op die dinge wat daarbo is, waar Christus is… Verander ons binne in ons werklikheid en maak ons nie wêreld vreemd nie…

Votum/seëngroet:

14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. (Rom 8)

Skriflesing:

Mark 14:32-42

Preek:

Ek is so dankbaar dat hierdie deel van Jesus se storie vir ons opgeteken is. Ons sien Jesus hier die heel kwesbaarste in alles wat ons van sy tyd op aarde weet. Erg ontsteld en beangs. Sy siel is diep bedroef tot die dood toe. Hy val neer op die grond en bid. Hierdie beskrywing kan nie anders as om jou te raak nie – om jou terug te neem na die oomblikke in jou lewe wat iets so oorweldigend, bedreigend en seer oor jou pad gekom het dat jy agterkom dat jy niks meer in jouself oorhet om weerstand te bied of hoop te sien nie. 

Geloof beteken duidelik nie ons voel altyd triomfantlik en verskans in die oomblikke van intense pyn, swaarkry en verlies nie. Ons sal seker nou nie vir Jesus beskuldig van ’n gebrek aan geloof of vervulling met die Heilige Gees nie? Geloof is brose oorgawe aan die Vader as ek niks meer het nie. Jesus smeek by sy Vader. 

Hy gebruik eers die Aramese woord Abba, wat die gevoelswaarde van die Afrikaanse “Pappa” het, en dan die meer formele “Vader” waar die Grieks meer sou dui op die hoof van die familie, die een wat voorsien en aan wie se gesag jy onderhewe is. Jesus weet Hy kan sy eie behoefte sonder skaamte uitspreek teenoor sy Vader. Hy sien nie kans vir hierdie pad van die vernedering en lyding wat vir Hom voorlê nie. Hy weet sy Vader is tot alles in staat. Maar ten spyte daarvan gee Hy oor aan sy Vader se wil.

Hoekom kan Hy dit doen? Omdat Hy weet wie sy Vader is. Hy weet sy Vader is goed. Hy het vir Hom, sy Seun en vir ons almal net die beste, die goeie in gedagte. Selfs al maak dit nie sin nie. Selfs al moet ons ons eie kruispad loop. 

Jesus het geweet. Hy het die woorde by sy doop en op die berg diep in sy identiteit gedra: “Jy is my Geliefde Seun, oor jou verheug Ek My…” En daarom kon Hy daar opstaan en enduit die pad van redding en verlossing en verheerliking stap – vir Homself en vir ons. 

Hierdie storie word nie net vir ons vertel om vir ons te leer van Jesus se geloof nie. Die Bybel sê ons groei nie net om in Jesus te glo nie, maar ook om soos Jesus te glo; om te geloof “van” Jesus ons eie te maak. Sy inwoning deur die Heilige Gees maak dit moontlik in ons. Wat merkwaardig is, is dat selfs Jesus in sy uur van benoudheid, die gemeenskap van sy dissipels opgesoek het. Hy vat sy naaste drie dissipels en vriende saam, en vra hulle om by Hom te wees; om saam met Hom te waak en bid – want Jesus het hulle nodig. En Hy het natuurlik geweet dat hulle ook sou deurloop en dat ook net hulle deur die krag van God staande sou kon bly. 

As Jesus dit nodig gehad het in sy oomblik van aanvegting, hoeveel te meer nie ons nie?  Op ons pad na vertroue in die goeie God, die God wat daarom betroubaar is, het ons mense nodig wat saam met ons sal waak en bid. Wat teenwoordig sal wees; wat ons sal herinner aan die Vader se stem wat oor ons almal fluister, 

jy is my Geliefde kind oor wie ek baie bly is. 

Ek het jou lief. Ek het vir jou net die goeie in gedagte. Ek voel dit alles saam met jou. Ek verstaan dit – en Ek stap die pad saam met jou. 

Maar net soos Jesus se dissipels is ons gees ook gewillig maar ons vlees is ook swak. Soos die dissipels sien ons nie die omvang van iemand anders se nood nie – ons voel dit nie asof dit ons eie is nie. En as ons self in daardie oomblikke is, is ons siel nie so deurdrenk met ons identiteit van Geliefde dat ons vashou aan ons goeie, betroubare Vader en sy wil nie. 

Reeds voorverlede week het Nico vir ons Jim se drie aspekte gewys wat deur die werk van die Heilige Gees belyn moet word sodat ons getransformeer kan word in ons verhouding met God. Die een is ons verkeerde prentjies of narratiewe oor God wat iewers deel van ons binnewerke geword het… 

En soos Hugo verlede week gewys het, is die prentjie van ’n God kleinlik is en wil vergeld en straf nog so dikwels deels van ons eie storie. Ons dink sy vergifnis is ’n transaksionele ding; Jesus het vir ons sondes betaal, maar ons kan dit net toe-eien elke keer as ons vra vir vergifnis; en as ons vergeet of die sonde is dalk te groot gaan ons die prys betaal – en ons leef in skuld, skaamte en vrees. 

Ons mis genade. Ons mis die Goeie Nuus. In ’n verhouding is die liefde en die vergifnis onvoorwaardelik en ’n gegewe. Dit is eens en vir altyd en vir alles. En dan sal die ander onvolwasse stemmetjie vir ons sê, as ons onsself te maklik vryspreek, dan gaan ons nie gemotiveerd wees om te verander nie. Maar vrees en skaamte is baie swak motiveerders. Liefde aan die anderkant is baie sterk. Embrace die vryheid van God se genade onvoorwaardelik – dit sal jou hart verander. 

Dit is ’n geestelike stryd aan hierdie kant van die ewigheid en daarom moet ons waak en bid, saam met mekaar, saam met Jesus. En dit is hoekom ons weereens praat oor geloofsgewoontes of sieloefeninge. Dit is die dissipline aan ons kant om seker dinge gereeld te doen sodat daar poorte en paaie vir genade in ons lewe kan wees sodat ons identiteit as Geliefde diep in ons hart en siel sal kom lê. 

Ons “beker”, is die dinge wat op ons afgeforseer word in ons lewe. Ons kan en sou dit nie kies nie. Ons moet almal vir onsself afvra, wat is ons beker? Wat is die dinge wat dit vir ons moeilik maak om die Here te vertrou? 

’n Groot deel van lewenskuns is egter om ook te sien dat ons beker nie al is nie; ons beker hoef ons nie in te sluk nie en al die ander gawes en wonders van hierdie lewe te verdring nie. 

Ek leer om elke ding in my lewe te sien in die groter konteks van God se liefde, sy gawes, die ewigheid, sy groter plan en doel met my en sy skepping. Ek neem deel aan die koms van sy koninkryk. My storie is deel van ’n veel groter storie. 

En daarom is ons geloofsgewoonte/ sieloefening vir hierdie week om ons seëninge te tel. Ons sal dit nou- nou ’n bietjie oefen en vir julle riglyne daaroor deurgee in die week. 

Jim vertel ’n mooi staaltjie om die vertroue op ons Vader te illustreer. Toe sy seun 6 jaar oud was, het hulle twee ’n pretpark besoek; daar was nie baie mense nie, so hulle kon van rit na rit gaan sonder om te wag. Sonder om te veel aandag te gee, klim hulle toe op een en die tienerwerker gespe hulle vas – die ding ruk hulle toe rond soos wasgoed in ’n tuimeldroër. Toe hulle wegstap, sien hy die ding se naam is die Scrambler. En hy het homself verkwalik dat hy sy seuntjie aan hierdie wilde rit blootgestel het wat veels te rof vir ’n sesjarige was. Maar sy seuntjie wou weer gaan; hy het homself gate uit geniet. En toe hy hom vra hoekom hy nie bang was nie en hoekom hy op ’n rit soos hierdie sou klim, was sy antwoord: “Because you did, Dad”. Sy seuntjie het hom vertrou, meer as wat hy as mensepa verdien. 

Die lewensrit wat ons ry is baie keer vreesaanjaend, maar dit is Goddank, ook baie keer pret en vreugde. Die sleutel tot die storie is om te onthou Wie saamry. God is met ons, en God is goed en betroubaar. Amen. 

Gebed/sieloefening:

Tel jou seëninge:

Maak ’n lys van al die wonderlike dinge waarmee die Here jou seën.
Skenk aandag aan al die details van jou lewe – selfs die klein dingetjie wat ons dikwels miskyk. 

Begin klein: kyk of jy by ’n lys van tien dinge kan uitkom

Maak dit meer as ’n eenmalige oefening – maak dit ’n gewoonte!

Omskep jou dankbaarheid gereeld in lof aan God…

  • Watter groot dinge in jou lewe maak jou dankbaar? Gesondheid, geliefdes, voorsiening in jou basiese behoeftes?
  • Watter klein dingetjies is vir jou spesiaal -wat kom eerste na jou toe?
  • Loof die Here hiervoor…

St. Francis het gebid:

O divine master grant that I may
not so much seek to be consoled as to console;
to be understood as to understand;
To be loved as to love
For it is in giving that we receive-
it is in pardoning that we are pardoned.
And it’s in dying that we are born to eternal life.
Amen

Lucas Maree:

Ons almal is maar bang dat die liefde dalk sal opraak

Dus probeer ons toe om swerwens toe bewaak

En dan bere jy dit suinig in die hart se diepste kluis

En hou jou naaste op ‘n afstand met jou vuis

Maar as die goeters wat mens weggee wat jou ryk maak

En dit is daarmee wat jy mense om jou raak

Want wat beteken liefde dan as jy dit nie gaan gebruik nie?

Of ‘n blom se geur as niemand daaraan ruik nie?

Ek vermoed die hart werk soos die weduwee se kruik

Wat vol bly selfs al sou sy dit gebruik

Ek vermoed die hart werk soos die weduwee se kruik

En die liefde is die olie in sy buik

Dis eintlik so eenvoudig en tog almal murmereer

Want die liefde het ‘n les wat baie min van ons ooit leer

Jy kannie liefde optel soos in boekhou balanseer nie

Want liefde’s wins se som bly omgekeerd

css.php