Lesse uit 'n storm
Kinders:
Hoekom gee die skool jou ’n toets? Dit is nie lekker nie, maar dit is nodig. Die toets wys of jy jou werk ken en verstaan. Dit wys hoe jy vorder en waaraan jy nog moet werk.
’n Goeie onderwyser gee dit nie vir jou om jou te straf nie – en hulle sal jy prys as jy goed doen, maar help (en nie kwaad wees nie!) as jy met seker goed gesukkel het.
Jesus wil sy dissipels leer wat dit beteken om Hom te volg en in God se wêreld as sy kind te leef.
En daarom moes Hy hulle ook die een keer ’n toets laat skryf… Hulle moet in ’n bootjie klim…
Votum/seëngroet:
1 Die Here het Job uit ‘n stormwind geantwoord; Hy het gesê:
4 Waar was jy toe Ek
die fondamente van die aarde
gelê het?
5Wie het die afmetings daarvan bepaal?
Of wie het ‘n maatband daaroor gespan?
6Waarop is sy voetstukke ingesink?
Of wie het die hoeksteen daarvan gelê
7 terwyl die oggendsterre saam gejubel,
en al die hemelwesens gejuig het?
8 Wie het met dubbeldeure die see ingeperk
toe dit uitgebreek,
uit die baarmoeder voortgekom het,
9toe Ek wolke sy bokleed gemaak,
en hom in ‘n diepe duisternis toegedraai het,
10toe Ek my grens bo hom
oopgebreek het,
en ‘n sluitbalk en dubbeldeure
in plek geplaas het,
11 en toe Ek gesê het,
‘Tot hier mag jy kom,
maar nie verder nie;
hier word my grens geplaas
teen jou trotse golwe! ’?
12“ Het jy op enige van jou lewensdae
‘n opdrag aan die oggend gegee,
vir die rooidag sy plek aangewys
16“Het jy al gekom tot by
die bronne van die see,
en in die onbekende dele
van die diep waters rondgeloop?
Skriflesing:
Mat 14:22-33
Preek:
Die woordjie “verplig” in die inleiding van hierdie gedeelte val ’n mens nogal op. Jesus verplig se dissipels om in die boot te klim en solank voor Hom na die oorkant te vaar terwyl Hy die skare wegstuur. En dan gaan bid Jesus in afsondering teen die berg. En ek kan myself nogal voorstel dat Jesus ook daar vir sy dissipels sou intree, want dit lyk asof Hy hulle hier doelbewus aan ’n toets of ’n leergeleentheid onderwerp.
Hulle het alles gelos om Hom te volg. Hulle was daar by die genesings en die bergrede. Hulle het pas beleef hoe Hy die skare voed. Maar nou kom daar ’n toets op hulle pad in die vorm van ’n storm. So ’n ervaring kan ’n katalis wees vir ’n tipe leer wat op ’n dieper vlak plaasvind. Dit laat ons weer teruggaan om seker te maak ons het geleer wat ons dink ons geleer het. Ons word gekonfronteer met dit wat ons eerder wil vermy.
Dit is nou al die middel van die nag. Die vierde wagbeurt is iewers tussen 3 en 6 in die oggend. Ons vertaling lees dat hulle bootjie heen en weer geslinger word deur die golwe. Die woord wat gebruik word beteken egter iets soos “tormented” – dieselfde woord wat op ’n ander plek gebruik word vir mense wat deur bose geeste gekastei word. Ons kan onsself die unieke vrees indink as jy met al jou krag teen die kragtige elemente van die natuur baklei – maar jy kom nêrens nie, jy wen nie, en teen hierdie tyd weet almal dat hulle lewens in gevaar is. Het hulle gedink aan Jesus? Het hulle gewens Hy is saam met hulle in die boot?
En hier sien hulle ’n figuur wat op die see na hulle toe aangeloop kom. Hulle reaksie is heeltemal verstaanbaar. Dit is tog letterlike menslik onmoontlik! Hulle raak so bang dat hulle “van angs begin skreeu”. Maar Jesus antwoord bevestigend. Soos soveel keer in die Bybel hoor ons. Hou moed. Moenie bang wees nie.
In Afrikaans vertaal ons dat Jesus sê: “Dit is Ek”. Maar in die Grieks is dit die woorde: “Egō eimi”. “Ek is”. Dieselfde woorde wat ons in die Griekse vertaling van die Ou Testament sou kry daar waar Moses vir God vra wie hy moet sê hom getsuur het, en God net sê: “Ek is”… sê “Ek is het jou gestuur”.
Wat is die boek in die Bybel wat oor die grootste moontlike menslike toets gaan. Is dit nie die boek, Job, nie? Die een wat letterlik alles verloor, en in worsteling leer om nie net oor God te argumenteer nie, maar om Hom te ontmoet en Hom te vertrou omdat sy weë en gedagte sovee hoër as ons s’n is? In hierdie boek, eers in Job se woorde, en later in God se eie antwoord aan Job, word ruim van beelde uit die skepping gebruik gemaak. Is dit dan toevallig dat frases en beelde om te beskryf hoe Jesus op die water loop, direk uit hierdie boek kom?
Job 9:8 – “(Dit is) Hy alleen,
wat op die see se rûe trap;
Job 38:16 – “Het jy al gekom tot by
die bronne van die see,
en in die onbekende dele
van die diep waters rondgeloop?”
Die simboliek is nog groter en dieper as dit. Die antieke mens het die see gesien as die magte van bose en chaos. En reeds aan die begin van die skepping tem en orden die Skeppergod dit as Hy met sy Gees oor die oerwaters sweef en dit beperk en orden sodat die land die mens se veilige woonplek kan wees.
Die groot leeroomblik vir Jesus se dissipels is dit. In Jesus het die dissipels te doen met God self. En as hulle Hom vertrou, dan vertrou hulle vir God. En as hulle vir God kan vertrou, dan kann hulle Hom ook vertrou. En dit lyk of die punt tuiskom as hulle in die boot voor Hom neerval en bely: “Waarlik, U is die Seun van God!”
Markus en Johannes het ook hierdie storie – maar die gedeelte van Petrus word by hulle uitgelaat. Maar, gewoonlik, as ons hierdie gedeelte lees, dan fokus ons op Petrus, want sy gedrag is vir ons fassinerend. Hy het so ’n bietjie op die water geloop – en as sy geloof sterk genoeg was, kon Hy en Jesus dalk sommer aangehou het tot aan die ander kant. Ons sien hom as so ampertjies as ‘n geloofsrolmodel in hierdie storie. Ons het selfs lekker gesegdes, soos “as jy nie uit die boot klim nie, sal jy nie weet of jy op die water kan loop nie…”.
Maar kommunikeer hierdie verhaal werklik dat ons vir Petrus moet probeer naboots? Soos wat Jesus vir hulle toets, toets Hy hier vir Jesus: bewys dit is regtig U! En as ons mooi oor die hele Bybel nadink, die Ou Testament en ook die wat vir Jesus as vir ’n wonderwerk vra om Homself te bewys, dan word die toets van die Here op hierdie manier elke keer afgewys.
Jesus het gesê dat dié wat na Hom kom, nog groter dinge as Hy sou doen. Ons word inderdaad met sy Gees, met sy gesag en met sy krag toegrus om in sy Naam in hierdie wêreld in te gaan en sy lig te bring. Maar geloof is nie ’n kragtoertjie nie. Dit is nie ’n manier om myself te laat geld of te bewys nie. Dit is die herkenning en die erkenning van die Een wat altyd na ons toe aangestap kom, veral in die storm. Miskien was Petrus meer ’n voorbeeld van geloof in daardie oomblik toe hy uitroep: “Here red my!” as toe Hy vol bravade was.
Die enigste ander keer wat hierdie belydenis van Jesus as die Seun van God in Matteus voorkom, is by die voet van die kruis nadat Jesus sy laaste asem uitgeblaas het en daar weer ’n storm was – ’n aardbewing wat die aarde laat skud en die rotse laat oopbreek het. En toe was dit ’n Romeinse offisier wat bely het: “Hy was werklik Seun van God” (Mat 27:54).
So op watter leerpad moet hierdie toets ons sit? Geloof bly dikwels teorie totdat die storm kom, en wanneer ons dan weer die bekende geloofstaal op ons lippe neem, het ons ’n beter idee van wat ons sê en wat dit beteken. Partykeer moet ons in ’n boot klim omdat Jesus so sê, al weet ons nie hoekom of waarheen nie.
Ons is nie alleen nie, al lyk dit so.
Ons herken Hom nie altyd dadelik nie – want ons kan al die maniere hoe Hy werk en waartoe Hy in staat is, nog nie lekker vir onsself voorstel nie, maar elke storm neem ons oor ’n sekere drumpel.
En geloof is nie bravade nie. Jy kan maar net doen wat Hy vir jou sê. Die wind sal weer gaan lê want dit is sy wêreld. Amen.
