Geloof of dade?
Wiel:
ons oorbrug verskille…
Onthou, ons bly in Pas met God – vanuit die hart – binne die dinamika van Geliefd, Gevorm, Gestuur – nie drie stappe nie – altyd al drie tegelyk!
Aan die hart, die geheimenis – muur van vyandskap is afgebreek – maar ons bou dit weer;
tussen geslagte en kulture, tussen klasse, rasse, tale en oortuigings
Christene steek grense oor – bou brûe – dit is baie prakties – hoe groet jy mense, waar gaan sit jy tydens middagete, met wie bou jy verhoudings, waar beweeg jy?
Votum/seëngroet (Jak 1):
22Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. 23Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ‘n spieël kyk: 24hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. 25Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vrymaak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.
Groet: Vir elkeen wat luister na die Heilige Gees, en volg in Jesus se voetspore, belowe die Here vrede en vryheid!
Skriflesing:
Jak 2:1-17
Preek:
Hoekom moet die Bybel soms so moeilik wees?! Op die een plek lyk dit asof een ding gesê word en op ’n ander plek weer net mooi die teenoorgestelde? Hoe ons die wet (van Moses, in die Ou Testament) moet verstaan, is een van daardie temas…
In Gal 3 vaar Paulus uit teen die Galasiërs in hoofstuk 3: “Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ‘t ware aan die kruis kon sien hang! 2Net een ding wil ek van julle weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo? 3Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig?” En verder aan in v24-25 sê hy die wet was ons oppasser tot die Christus sou kom en ons deur geloof vrygespreek wou word – en nou het ons nie meer die oppasser nodig nie. En ook in Gal 3 maak hy juis die punt dat Abraham deur sy geloof regverdig verklaar word en nie deur die wet (of dan nou sy dade) nie.
Klink by Jakobus net mooi heel andersom as hy in 2:21 sê: “Is Abraham ons vader nie op grond van sy dade regverdig verklaar nie?” En klink dit nie meer soos Jesus wat gesê het dat Hy nie gekom het om die wet of die profete ongeldig te verklaar nie, maar hulle hule volle betekenis te laat kry, en dat nie een strepie van die wet sal wegval nie? Hoe maak mens? Wat kan ons help?
Mooi lees, dit help altyd! Waarvan praat Jakobus as hy in v8 sê dat as die gelowiges die koninklike wet vervul “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” dan doen hulle goed? Dit is Jesus wat hierdie sinnetjie uit die Ou Testament (Lev 19:18) beroemd gemaak het. Hy het hierdie sinnetjie verbind aan die hart van Israel se geloof (die sg. shema van die woord “luister”) uit Deut 6 wat sê: “Luister, Israel die Here ons God is die enigste Here, daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel en met al jou krag.”
Toe die Skrifgeleerdes Hom gevra het oor die grootste gebod, het Hy die twee bymekaar gesit en aan mekaar gelyk gestel (en natuurlik so gewys hoe dit lyk as die wet tot sy volle vervulling gaan).
Maar as ons dan gaan kyk na die spesifieke aspekte van ons lewe voor God wat Jakobus wil aanspreek, is dit baie interessant om te kyk na wat in die res van Lev 19 (of die sg. koninklike wet) staan. Dit gaan oor wat jy moet agterlaat tydens oestyd vir die armes en die vreemdelinge, “want ek is die Here jou God” (v9-10). Jy mag nie jou naaste uitbuit of ’n dagloners se loon terughou nie; jy mag nie ’n dowe vloek of iets in ’n blinde se pad sit nie (v13-14), “Ek is die Here”. Jy mag nie onregverdig wees in regspraak of op ’n partydige manier die vooraanstaande bevoordeel nie. Jy mag nie haatdraend wees of wraak neem nie – jy moet jou naaste liefhê soos jouself…
Waarheen neem Jakobus ons terug as hy verwys (in v5) na God wat die armes gekies het om ryk in geloof te wees en om erfgename te wees van die koninkryk? Natuurlik na die begin van die bergrede waar Jesus vir ons (in Mat 5-7) verduidelik wat sy visie van God se koninkryk (of dan nou die vervulling/betekenis van die wet) is.
“Geseënd is die wat arm is van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel…” En in Lukas se weergawe is dit maar net “die armes”, want loop die twee nie maar dikwels saam nie?
En oorvleuel Jakobus se oproep aan die gelowiges nie maar presies met wat Jesus gepreek en geleef het nie. Die boodskap van ons Goeie Vader in die hemel wat vir almal sorg en vir almal liefhet – wat nie onderskeid maak nie, wat nie soos ons na die uiterlike kyk nie.
Dit is waarop die wet en die profete uitloop – liefde vir hierdie God wat uitloop op liefde vir ons naaste – ’n baie praktiese liefde; sodat Jesus, wanneer Hy praat oor die eindeoordeel in Mat 25:31-46, die skeiding kom tussen die wat barmhartigheid bewys het (honger, dors, vreemdeling, sonder klere, siek en in die tronk) en die wat dit nie gedoen het nie. Want jy kan nie bely jy glo in die God van die liefde en dan nie glo in die liefde self, die beoefening van liefde nie – dit maak mos geen sin nie.
So wat is dit nou, geloof of dade, wet of genade? Altwee. Paulus vergeet nie van goeie dade nie. Hy vertel net altyd eers in al sy briewe (voor hy by praktiese opdragte kom) wat God deur genade en geloof gee om dit moontlik te maak. In die bekende Ef 2 waar hy verduidelik dat ons deur genade gered word (“julle is inderdaad uit genade gered deur geloof. Hierdie redding kom nie uit jullself nie, dit is ’n gawe van God”) sê Hy ook dat God ons gemaak het wat ons nou is; Hy het ons in Christus Jesus geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. En Jakobus vergeet ook nie van geloof nie. In 2:26 sê Jakobus dat net soos die liggaam sonder asem dood is, so is geloof sonder dade dood.
Ons leer baie van wat ons noem balans as ons wil groei om meer volwasse te word. Dit is dit dalk selfs beter om dit te beskryf as ’n gesonde spanning waarmee ons moet leer leef. Volwassenheid en volwasse geloof gaan oor integrasie van die paradokse – dit skynbare teenstrydighede. Toe ek swak was, het ek geleer van innerlike krag; ek kan nie dapper wees sonder om my eie kwesbaarheid te erken nie; God doen alles, ek kan niks op my eie doen nie, maar niks verander sonder doelbewuste geestelike dissipline en dissipelskap nie. Dit is altyd albei.
En soms, in daardie oomblikke van harder self probeer, van kommer oor gebrek aan vertroue, moet ons die een kant hoor: laat gaan, laat God…
En soms het ons weer vir Jakobus nodig om ons eie harde harte, ons skynheiligheid en ons skewe kultuur te ontmasker sodat hierdie praktiese evaluering ons weer na binne kan laat kyk en ons onthou, ons kan nie in kompartemente lewe nie. God se verlossing is van die ou lewe na die nuwe lewe, die ou skepping na die nuwe en dit is alles genade en vryheid en florering – die versekering van ons ewige bestemming is op ’n manier maar net die uitvloeisel van ’n nuwe werklikheid wat nou al aanbreek.
En as ons dan van aangesig tot aangesig kom met hoe ons ook nog op die uiterlike oordeel, of maar net lewe vir ons eie gemak, dan wys dit ons op die armheid van ons eie innerlike lewe, die gebreke in ons geloof en motiveer dit ons om ons gedissiplineerd te verdiep in die genade – juis sodat ons ten volle kan deelneem aan God se groot en wonderlike plan wat ons en sy hele skepping laat floreer; sodat ontferming altyd oor die oordeel sal triomfeer. Amen.
Nagmaal:
Regdeur die Bybel sien ons die iets van die dag van die Here, die koms van die Messias, wat verbind word aan ’n Feesmaal.
Die eerste herinnernigsmaal was die Pasga: teken van Israel se verlossing – die plek van slawerny…
Jesus bou die nagmaal hierop – die nuwe uittog uit sondeslawerny, die verlossing uit ons ou lewe op reis na die beloofde Land.
Bybelskool – die Lam van God; ons deel in sy oorwinning -hierdie andersoortige oorwinning deur ons getuienis – ons selfopofferende liefde – die gee van ons lewens – net soos wat Hy gedoen het.