Die heerlike uitnodiging

’n Gebed vir Onderwysers (na aanleiding van Psalm 112)
deur Anriëtte de Ridder

Here, ons prys U vandag.
Ons dank U vir onderwysers –
Elkeen wat U dien en vertrou
en met blydskap hulle roeping uitleef.
Mag hulle invloed verder strek as wat hulle ooit sal sien,
van geslag tot geslag.
Gee vir hulle genoeg –
genoeg wysheid, genoeg krag, genoeg geduld,
en ook genoeg rus.
Laat U sonlig oor hulle lewens skyn,
veral op moeilike dae, wanneer hulle moeg is of druk ervaar.
Here, vorm hulle harte om vrygewig te wees –
met tyd, aandag en hoop.
Leer hulle om reg te doen,
selfs wanneer niemand dit raaksien nie.
En mag hulle vreugde groei
waar hulle leer, lei en liefhet.
Amen


Votum/seëngroet:

“Because children have abounding vitality, because they are in spirit fierce and free, therefore they want things repeated and unchanged. They always say, “Do it again”; and the grown-up person does it again until he is nearly dead. For grown-up people are not strong enough to exult in monotony. But perhaps God is strong enough to exult in monotony. It is possible that God says every morning, “Do it again” to the sun; and every evening, “Do it again” to the moon. It may not be automatic necessity that makes all daisies alike; it may be that God makes every daisy separately, but has never got tired of making them. It may be that He has the eternal appetite of infancy; for we have sinned and grown old, and our Father is younger than we.” ~G.K. Chesterton, Orthodoxy

Skriflesing: Mat 5:1-12

Preek:

Jesus was nie net ’n groot Leermeester wat ons ’n paar mooi reëls en riglyne vir die lewe wou gee nie. Met Jesus se bergrede, en spesifiek die inleiding, die saligsprekinge, is Jesus nie in die eerste plek besig om vir ons sekere waardes te gee om na te strewe nie (dit ook). Die woord makarios kan gelukkig, geseënd, salig, wees. Hierdie aankondiging van seën en geluk, van goeie nuus, sê nie probeer hard om so te lewe nie. Jesus sê dat mense wat reeds so is, op ’n goeie plek is – hulle het rede om bly te wees.

Dit is ook nie Jesus se manier om te sê dat hierdie tydlose waarhede is van hoe die wêreld werk nie. Ons weet die wêreld lyk juis nie so nie. Barmhartiges ontvang nie altyd barmhartigheid nie en treurendes word nie altyd vertroos nie – mense wat verlang na geregtigheid, sien dit soms nooit nie. En Jesus kondig aan dat met sy koms, sy woorde, sy dade, sy teenwoordigheid, is dit besig om waar te word. “This is an upside-down world, or perhaps a right-way-up world” (Tom Wright).

Elke lewe in pas met God beteken, dat ons ook weer, soos die eerste dissipels Jesus sal hoor wat ons roep en sê, “volg My”. Want net soos toe, is dit steeds: In Jesus is die lewende God besig om iets nuuts te doen. En dit is die goeie nuus, die heerlike uitnodiging: ons kan deel wees daarvan. ’n Nuwe era vir God se mense en God se wêreld het in Jesus aangebreek en dit breek steeds aan en deur.
Maar ons moet “bekeer”, soos Jesus se eerste oproep van ons vra. Bekeer julle want die koninkryk van die hemel is naby. Metanoia beteken om jou gedagtes, jou perspektief te verander, om nuut te sien (en nie in die eerste plek jou morele keuses nie). Jy moet Jesus se aankondiging glo en hierdie verrassende beskrywing van God se nuwe wêreld moet jou hart se skat en jou persoonlike roeping en strewe word.

Die struktuur van Matteus se evangelie wys vir ons duidelik wat hier gebeur: Dit is die aankondiging van God se nuwe verbond – en hoe heerlik, wyd en verrassend sou dit nie wees soos wat die storie verder ontvou nie. Jesus se eerste deel van sy lewe is ’n spieëlbeeld van wat die volk Israel deugegaan het totdat hulle die beloofde land in ontvangs geneem het. Jesus kom uit Egipte (waarheen sy ouers moes vlug om Hom van die Herodes se vervolging te red), Hy kom deur die water (van sy doop) en die woestyn (sy versoeking van 40 dae), tot in die land van die belofte (4:12-17).

God gaan alles regmaak. En dit het reeds begin. En nou roep Jesus ons op om te lewe op ’n manier wat sal sin maak in God se beloofde toekoms, want daardie toekoms het reeds aangebreek in Jesus van Nasaret. Dit mag onderstebo lyk, maar ons word uitgedaag om te glo dat dit in der waarheid regte kant bo is. Jesus se uitsprake in die saligsprekinge herinner baie aan die ander Rabbi’s van sy dag se uitsprake, maar juis om basies die teenoorgestelde te sê. Volgens die Joodse Leermeesters was die wat die koninkryk van God sou binnegaan ’n eksklusiewe klub: Joods, manlik, wetsgehoorsaam, gesond en welgesteld.

Maar Jesus begin by die armes van gees. Dié mense in die samelewing wat ons almal jammer kry – die wat lyk asof niks en niemand aan hulle kant is nie. Gelukkig, geseënd is hulle, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. God sluit julle in – julle is welkom in sy koninkryk.

Kom ons noem nog ’n paar voorbeelde. Sagmoedigheid (meekness in Engels), is ook ’n vrug van die Gees – so dit beskryf verseker iets wat ons moet nastreef. Maar daar is ook ’n ander kant daarvan waarna Jesus waarskynlik hier verwys. Dit kan ook verwys na die mense wat nie in staat is om vir hulself op te staan nie. Die fyn outjie wat geboelie word, die vrou wat deur haar man mishandel word. Hulle sal die aarde erf. Dit verwys waarskynlik na grond. Landeienaars was dikwels onderdrukkend en het baie huurgeld en werk vereis net om op huurgrond te woon.

Die wat honger en dors na geregtigheid. Dit verwys na groot nood. Hierdie mense smag na iets wat hulle nie het nie. Dinge moet reggestel word. Dit is dalk wel bewonderswaardig, maar glad nie ’n posisie wat ons beny nie. Maar ook vir hulle is daar goeie nuus. Hoop is hier. Regstelling kom. Julle sal versadig word.

Ons bewonder barmhartiges, mense wat hullself weggee. Maar ons weet ook sulke mense is kwesbaar, want hulle word maklik misbruik. Barmhartigheid kom nie altyd terug na jou nie. Ons het selfs ’n gesegde: No good deed goes unpunished. Maar in God se koninkryk ontvang barmhartiges barmhartigheid. Die sirkel word voltooi. Dinge is soos wat dit veronderstel is om te wees.

Vredemakers plaas hullself tussen mense wat baklei of in konklik is. Hulle is in die middel vasgevang. Om ’n vyand te dwing om te buig of in te gee is nie vredemaak nie. Vredemakers is bereid om te ly en selfs te sterf vir vrede. Vredemakers sal kinders van hul Vader in die hemel genoem word, omdat hulle doen wat hulle hemelse Vader doen. God is ’n vredemaker.

God meet anders as die wêreld. As jy Jesus regtig wil volg, moet jy dit aanvaar en vier. Want dit is goeie nuus. Ons hoef nie te strewe na mag, status en rykdom nie. Almal is ingesluit. Die koninkryk van God is vir dié wat dit soos ’n kindjie ontvang.

In Lukas (6) se weergawe van hierdie woorde van Jesus, sê dit net geseënd is die armes (nie van gees nie nie) – en Jesus spreek ook ’n redelike skokkende oordeel uit aan die einde:
24“Maar wee julle wat ryk is,
want julle het reeds julle troos weg.
25 Wee julle wat nou versadig is,
want julle sal honger ly.
Wee julle wat nou lag,
want julle sal treur en huil.
26 Wee julle
wanneer al die mense net goed van julle praat,
want hulle voorvaders
het die vals profete net so behandel.”

Is rykes, gelukkiges en bevoorregtes dan uitgesluit van God se koninkryk? Nee, maar oral waarsku Jesus dat hulle veral moet oplet wat in hulle harte aangaan. Die verhewenheid, die selfsug, die gebrek aan deernis, die hoogmoed, die afgode en die gebrek aan behoefte en noodsaak aan die Here, is nooit ver weg nie. Vir hulle is dit konstant so moeilik om volkome afhanklik van God te bly.

Maar vir elkeen en elke oomblik, kom Jesus se woorde. Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel is naby. Ontvang en vertrou die heerlike uitnodiging: die Goeie nuus. Hierdie koninkryk is oop vir almal! En uiteindelik sal almal wat in Christus is, lewende salisprekinge word. Lopende, pratende, seëninge vir die wêreld. Amen.

Sieloefening: Gasvryheid

Die Saligsprekinge gee aan gemarginaliseerde mense ’n plek in die koninkryk van God. God gee om vir die mense wat die wêreld uitsluit. En deur die beoefening van gasvryheid kan ons hierdie goeie nuus aan hulle bevestig.

Om jouself buite jou gemaksone te begewe, laat jou weerloos voel. Maar hoe meer jy dit doen, hoe makliker raak dit. En dan kan jy die versteekte gawes van die “vreemdeling”. ontdek wat God vir jou in gedagte het. Hoe kan dit lyk?

Soek ’n geleentheid om tyd te spandeer, of ’n gesprek aan te knoop met iemand met wie jy gewoonlik nie sou nie (dalk ander ras, kultuur, geloof, dalk iemand wat gestremd is as jy “able bodied” is, ’n ondergeskikte by die werk).
As hierdie nog te ver voel, oefen hierdie aspekte van gasvryheid:
Luister na mense: Let op na die mense om jou, moenie haastig wees nie. Gee aandag. Bevestig dat jy hulle hoor en sien.
Wees ’n “voorbereider”: Dit beteken jy doen klein gebare wat vir mense wys hulle is welkom. Gooi die tafeldoek oor, sit die glase reg, pluk ’n blommetjie!
Gee jou aandag aan die mense wat jy liefhet: Sit jou foon eenkant toe as iemand met jou praat. Sit die TV af en eet saam om die tafel. Wys jou gedrag dat hierdie mense vir jou saakmaak?
Verwelkom ander in jou groep: Nooi die persoon wat graag ook saam wil kuier hierdie week!

css.php