God kan oor begin...

Verwelkoming: 

Gelukkige Lente, mag die nuwe seisoen nuwe lewe bring.

Mag jy ook oral in die skepping en in jou lewe die vormende hande van die Groot Kunstenaar raaksien!

Wat doen die Here?

Votum/seëngroet:

Here, U sien dwarsdeur my,

U ken my.

2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,

U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit,

U is met al my paaie goed bekend.

4Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie

of U, Here, weet wat dit gaan wees.

5U omsluit my van alle kante,

U neem my in besit.

6Dié wete oorweldig my,

dit is te hoog vir my begrip.

Skriflesing:

Ps 139:13-16, Jer 18:1-11

Preek:

  • Bevrugting:  In die eerste sel van die baba is die 46 chromosome met die DNA waarin die volle program vir die baba se ontwikkeling vervat is.
  • Op dag 22 begin die fetus se hart klop met haar eie bloed – dikwels ‘n ander bloedgroep as die ma s’n.
  • Aan die einde van week 3 begin die fetus se ruggraat en senuweestelsel vorm.  Lewer, niere en ingewande begin vorm aanneem.
  • Week 5 begin oë, bene en hande ontwikkel.
  • Teen week 6 kan breinaktiwiteit al opgetel word. Daar is ‘n mond en lippe en haar vingernaels begin groei.
  • Week 7 skop en swem die fetus al.  Ooglede en tone neem vorm aan.
  • Week 8 begin vingerafdrukke vorm.
  • Week 9 kan die fetus al frons – en hik en sy kop draai.
  • Week 11 kan die fetus al goed vashou en funksioneer alle organe.
  • Week 12 is die baba selde vir langer as 5 min stil.
  • Week 17 begin die baba te droom.
  • Week 18: die baba begin hoor
  • Week 20 kan die baba sy ma se stem herken. 1 sel het 100 miljoen selle geword.

Ons is ’n skeptiese generasie. Ons wonder baie oor dinge. Ons glo soms te moeilik en soms te maklik (sommer enige nonsens). Maar daar is iets aan die onwikkeling van ’n baba wat nog altyd daarin slaag om ons met verwondering te vervul. Lewe. Van een selletjie met die “groot plan” in sy kern tot ’n volwaardige klein mensie. 

En selfs die ateïs sal moet erken, daar is meer aan ons as net fisiese, biologiese lewe…

Ps 139 is die intiemste woorde in die OT. Dawid lei ons in in die diepste geheime van ons lewe, menswees, en ons goddelikheid. Ons verhouding met onsself as hierdie wese wat ’n herkenbare fisiese kant het (ons looks en ons binnewerke) en al hierdie ander onpeilbare goed soos ons gedagtes, ons emosies, ons hunkeringe en begeertes, hierdie goed wat ons met woorde soos gees en siel probeer beskryf.

En ons verhouding met God wat so nou verweef is met hierdie verhouding met onsself; want ons kan nie God anders beleef as in hierdie liggaam met al sy draadwerk en geheime wat van ons mense maak nie. 

Waar ons kontak verloor met onsself, met ons eie waardigheid, met die verwondering oor wie ek is, met al die vreugde en pyn in hierdie liggaam van my, dan verloor ons kontak met God.

CS Lewis het gesê onsself is die lens waardeur ons na God kyk – so jy moet altyd daardie lens mooi skoon hou. Wie is jy en waar is jy op jou reis?

Ek wonder altyd oor hierdie vraag: wat die missing link is – wat sal maak dat ons nie net Christene is wat die regte goed nie, maar Christene word wat die regte goed doen.

In kort: wat maak dat ons nie net oor Jesus praat nie, maar soos Jesus begin lyk – ’n lewe getransformeer, gevorm.

’n Belangrike sleutel, so het ek ook op my eie lewensreis ontdek, is om te leer om geïntegreerd te lewe. Ons geestelike lewe is meestal nog iets wat ons apart sien van ons regte/fisiese lewe.

Maar alles is geestelik. Die hele aarde is gevul met die heerlikheid en die teenwoordigheid van die Here. In Jesus, fisies in sy liggaam, het hemel en aarde bymekaar gekom. God se Gees woon in my; my liggaam is sy tempel. Ek vind nie vir God en geestelike groei iewers daar buite as iets abstrak nie. Ek vind dit in die konkrete werklikheid van my eie liggaam en hierdie lyf se interaksie met ander lywe en die wêreld daarbuite.

Ps 139: 13:

“U het my diepste wese gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.”(Multivertaling Bybel)

“Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het.”

(2020 Vertaling)

Niere: beskou as die setel van die emosies.

Ps 139:16 (2020 Vertaling): “U oë het my vormloosheid gesien. En in u boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie.”

God gee vorm aan my lewe. Ek was in alle opsigte vormloos toe my lewe afgeskop het. In sy hande, as vormbare klei, kan ek ‘n kunswerk word tot sy eer, liggaam en siel, as ’n geïntegreerde geheel. 

Maar soos Israel in Jer 18 kan ons weerstandige klei wees in die hande van die Pottebakker.

Daar kan weer ‘n dag in jou lewe kom waar jy weer voel soos ’n vormlose hoop klei. Jou lewe voel soos ’n gemors, ’n mislukking, chaos, rigtingloos, verlore. Dan wil ek eerstens vir jou sê, welkom by die klub, en tweedens, hou moed, dit kan die heel belangrikste keerpunt in jou hele lewe wees.

As die liefdevolle, kreatiewe Pottebakker oorbegin met sy klei, om dit te maak “soos wat Hy dit wil hê” (Jer 18:4), dan gaan die punt van oorbegin, die einde van die mislukking wees, of hoe? Daar is ’n punt waar jy besluit – hierdie werk nie meer nie, ek moet oor begin. 

Die skewe pot gaan eers weer ’n vormlose hoop klei wees. Die ou skewe pot, moet eers finaal die nekslag kry voordat die nuwe een kan begin vorm aanneem in die hand van die Kunstenaar.

Maar dit is dieselfde klei; die weerstand is net nou weg; en die klei leer om vormbaar te wees, om die hande van die Pottebakker sy breiwerk te laat doen, sodat die pot gevorm kan word tot sy bedoelde eindresultaat.

Daar kom ook ’n ernstige waarskuwing na ons kant toe in Jer 19. Israel hou aan om hulle te verset. Hulle gee nie gehoor nie – wil hulle nie onderwerp aan die hand van die Pottebakker nie. Dan is hulle soos ’n kleipot wat Jeremia op die grond gooi en dit in spat aan skerwe. Klei wat hard geword het kan nie meer gevorm word nie. Die verset het te lank aangehou.

Jesus sou later sê, jy moet jou lewe in navolging van Hom verloor sodat jy jou lewe kan vind. Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor.

Paulus sou sê: Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.

Richard Rohr (wêreldbekende skywer oor Christen spiritualiteit) sê dat ons in die eerste helfte van ons lewe gefokus is om te bou: ons wil presteer en goed bereik; uitstyg.

En dan kom die punt, wanneer ons vra, nou hoekom en wat is die sin hiervan? Maar teen die tyd is ons al so verslaaf aan daardie manier van lewe dat ons dink dit is die enigste manier.

Ons sal net verander as die mooi gevestigde lewe wat ons gebou het uitmekaar begin val.  Dit is wat RR noem, noodsaaklike lyding.

En dit is hier, sê hy, waar jou siel ongekende uitbreiding kan beleef. As jy oop is om te vertrou, om te vryval in die genadige hande van die Pottebakker in, kan jy ontdek dat die val jou lewe opwaarts neem, ryker, mooier, beter.

Anders gestel: Jesus staan op in jou en jou vind die ware betekenis van jou lewe.

Jy sal mense herken wat die 2de helfte van hulle lewe betree het as mens wat  “grounded not guarded” is. Hulle soek na maniere om hulself weg te gee.

Wat moet jy aanvaar: Jy is veilig en geliefd in die Pottebakker se hande. Waag dit, laat gaan.

Dit gaan nie sonder pyn wees nie. Jy gaan soms weer wil weerstand bied. Jy gaan weer die noodsaaklike pyn van die breiwerk wil systap.

Maar die einddoel is die moeite werd.

’n Aardse lewe waarin die hemel reeds begin vorm aanneem.

Jy wat jou ware self is omdat dit nie meer jy is wat lewe nie, maar Christus is wat in jou lewe. Amen.

css.php