Swakheid is 'n gawe
Verwelkoming:
Hy maak geen onderskeid nie en dat hierdie ’n plek is waar ons baie welkom is! Naby God, naby aan liefde… mag ons Hom ontmoet!
Votum:
(2 Kor 4: 6-7) “God wat gesê het: ‘Laat daat lig skyn in die duisternis,’ het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat van Jesus Christus uitstraal. Ons wat hierdie skat in ons het is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref kom dus van God, nie van ons nie.”
Seëngroet:
Vrede vir jou wat bereid is om voor God te breek en so sy lig in jou te ontdek.
Gebed:
Here Jesus, U is ’n werklikheid en leef onders ons. Lei U ons om U met oorgawe te dien.
Skriflesing:
2 Kor 12: 1-10
Preek:
In die snaakse vermenging van die feite en fiksie binne die Griekse mitologie is daar ’n storie van die beeldhouer Daedalus (wat dalk regtig geleef het) wat deur die bekende koning Minos na die eiland Krete gebring is om vir hom ’n Labarint te bou. Maar toe hy weer die eiland wou verlaat, wou Minos hom nie toelaat nie. As ’n besonderse kreatiewe persoon het hy toe ’n manier uitgewerk om te kan vlieg. Hy’t vlerke gemaak van die vere van voëls en hulle aan sy arms en skouers geheg met was. Hy het dieselfde gedoen vir sy seun Icarus. Saam het hulle weggevlieg na die vasteland, maar Icarus het te opgewonde geraak oor hierdie wonderlike nuwe uitvindsel.
Hy wou nie net meer teruggaan nie, maar al die pad na die son. Daedalus het alles in sy vermoë gedoen om sy seun te waarsku, maar die hardkoppige Icarus wou nie luister nie. Soos wat hy nader aan die son gekom het, het die was wat sy vlerke vasgehou het gesmelt, dit het afgeval en Icarus het in die see verdrink. Hierdie storie is oor en oor in die antieke wêreld vertel en dit is baie in die Renaisance tydperk geskilder; en die boodskap is duidelik…
Gen 3 herinner ons aan hierdie sentrale waarheid oor ons geestelike reis, die baie gevaarlike slaggat van ons eie trots en hoogmoed: Dit is natuurlik eintlik ons eie onsekerheid wat ons probeer wegsteek en ontken – en ons hoop ons kan aan onsself en die wêreld bewys dat ons self genoeg is. Daarom soek ons altyd meer; (ons het ook geleer tydens Pinkster dat dit ons siele is wat wat eintlik na God soek, maar ons probeer eers al die ander opsies….)
ons wil meer weet, meer ervaar, meer doen, beter wees. Goed wat in ons kultuur (dink maar aan die Olimpiese ideaal en die Amerikaanse droom) ondubbelsinnig gevier word as goeie goed; as die mooi in die menslike natuur; ons strewe om “die beste te wees wat ons kan wees”; tekens van die “triumph of the human spirit”. Uiteindelik nooi die Bybel ons om die masker af te haal en aan onsself die aaklige waarheid te erken: eintlik wil ons almal God wees – ten minste in ons eie lewe. Eintlik bou ons elke dag weer ons eie torings van Babel. Ek wil in beheer wees en ek wil my eie koninkryk bou.
Die slinkste manier hoe ons dit vir onsself wegsteek (en ironies die beste voorbeeld daarvan) is wanneer ons die skyn van godsdiens gebruik om ons eie godfantasie uit te leef. Die magte wat aan die werk is (in ons sondige natuur en in ons moderne kultuur) is so oorweldigend en en verweef dat dit nie anders kan as om ook ons geestelike lewens te beïnvloed nie. Baie mense het ons so ’n fassinasie met die besonderse gawes. Ons idealiseer baie keer so graag mense wat klaarblyklik “meer” as ons beleef? Hoekom kry ons vir ons geestelike helde wat ons op ’n troontjie sit? Hoekom gebruik ons so graag ons eie geestelike ervarings om ander te beïndruk? Hoekom raak ons so verslaaf aan spesiale belewenisse?
Icarus se sonde was nie dat hy gevlieg het nie; sy pa se ontwerp was goed en het dit vir hom moontlik gemaak. Icarus se sonde was dat hy vergeet het dat die vlerke nie sy eie was nie. St Francis het gesê: “Ons het geen reg om in onsself te roem oor enige van die buitengewone gawes nie, want hierdie gawes behoort nie aan ons nie, maar aan God. Ons mag roem in ons kruise, ons aanvegtinge, ons ontberings en ons moeilikhede, want hulle is ons eie.”
Presies die punt wat Paulus wil maak. In die hele gedeele waar Paulus sy apostoliese gesag verdedig (wat al in hfst 10 begin) sien ons Paulus se innerlike stryd en onsekerheid oor hoe hy die saak met die gemeente moet aanroer. Op die ou end besluit hy om tog (in sy eie woorde) die dwaas te wees en vir ’n oomblik die sinnelose speletjie saam te speel. Die goed wat julle nou so in die ander ouens bewonder en wat julle nou aan my gesag as gestuurde van Christus laat twyfel, het ek ook beleef: julle kan my nie op grond van my gebrek aan sulke ervarings afskryf nie, maar die punt is juis dat dit nie die punt is nie!!
Die ervarings is nie die probleem nie. God gee dit. In sy genade. Om ons te ontmoet, om ons iets te wys van sy heerlikheid, om ons te herinner aan sy krag, sy oorvloed; om ons te versterk en te inspireer en hoop te gee. Die probleem kom wanneer ons dit najaag as ’n prys; wanneer ons dit op een of ander manier met onsself of met ander mense identifiseer asof dit ons eie is; asof dit op enige manier met ons eie geestelike “vlak” of meriete voor God geassosiëer kan word. Dan mis ons waaroor navolging van Jesus Christus gaan op ’n radikale manier.
As ons nie deur die kruis (Jesus s’n en ons s’n) die evangelie verstaan nie, dan kom ons met allerhande skewe verwagtinge (bv. God wat dit vir my moet lekker maak, God wat my drome moet laat waar word, God wat my voorspoedig moet maak). Ons sit met soveel paradokse: Paulus ervaar duidelik die doring as iets wat God gee, maar tog identifiseer hy dit met die werk van die Satan. Hyself het dit aanvanklik nie erken as ’n gawe nie. Hy bid dat die Here dit wegneem. Drie keer. En waar hy oor die ander openbarings nie praat nie, deel hy met ons wel hierdie openbaring van die Here: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
As ons maar eerder ook oor ons swakhede sou roem – bereid was om kwesbaar te wees; dink net watter soort gemeenskap sou daar onder ons wees. As ons sou ophou om te vergelyk, ophou om te kompeteer, ophou om deur die smoke and mirrors verlei te word, dink net watter soort kerk sou ons word. Miskien ’n plek waar ons onsself regtig met Jesus Christus, die gekruisigde, identfiseer en onsself aan Hom oorgee. Miskien ’n plek waar mense regtig met mekaar kan identifiseer, en aan mekaar oor te gee in ware eenheid, omdat ons nie bang is om onsself te wees nie. Miskien ’n plek waar ons swak is saam met die swakkes, waar ons treur saam met die treurendes en waar ons deernis het met die wat struikel en die pad byster raak.
’n Plek waar ons God en onsself op radikale nuwe maniere gaan ontdek. ’n Plek waar ons ’n klomp goed as ’n gawe gaan raaksien wat ons nog nooit voorheen so gesien het nie. ’n Plek waar ons op nuwe maniere van onsself gaan vrykom en kragtige kanale van God se genade sal wees. Mag God óns logika vervang met die logika van die kruis, en mag ons ontdek, ons is veel swakker en Hy veel sterker as wat ons gedink het. Amen.
Gebed: Maak ons gemeente, Here, maak u kerk oor die wêreld, ’n plek van genade, Here. Waar mense U kan ontmoet en vry en heel word. Mag ons krag in swakheid ontdek en dorings as gawes. Mag ons vol wees van U en leeg van onsself. Amen.