7 Feb 2021: Geliefd, Gevorm, Gestuur – 2 Kor 5:14-20

 

Verwelkoming:

Ons het geleer dat ons kerkwees en die koninkryk van God verder strek as die mure van die gebou. Hy is in ons, met en en werk deur ons. Mag ons as gemeente in 2021 opnuut vashou aan Hom, vashou aan mekaar en aan hoop en mag ons elkeen sy heerskappy verteenwoordig oral waar ons leef!

Ons het vir julle pakkie gemaak waarmee jy vir jou ’n vissie kan maak – die antieke Christelike simbool waarmee Christene mekaar uitgeken het en wat in Grieks ’n akroniem is vir Jesus Christus Seun van God. (Ichtus). Maak dit aan jou spieël vas of jou sleutels – onthou van ons verbondenheid aan Hom en aan mekaar in hierdie tyd.

Votum/seëngroet:

Kom ons raak stil rondom die volgende woorde uit 2 Kor 4:
7Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.

8In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;

ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;

9ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,

op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

10Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam,

sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.

“Iemand wat aan Christus behoort is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit is alles die werk van God.”

Skriflesing:

2 Kor 5:14-20

Preek:

Hoe bly ons by die hart van die evangelie – hoe maak ons seker ons bly getroue gesante/ambassadeurs van Jesus Christus en sy Koningskap? Ek vermoed as ons dit vir Paulus sou vra, dan sou hy juis die tema aanroer wat hy hier oor skryf aan die Korintiërs: Versoening. Op ander plekke, in Romeine en Efesiërs as Paulus skryf oor die geheimenis van die Goeie Nuus wat eeue lank verborge gebly het maar nou aan ons in Jesus Christus bekend gemaak is, dan skryf Hy ook hieroor – oor versoening.

Nog nooit voorheen is hierdie konsep as die oplossing aan die mensdom voorgehou nie. Iets nuut het gebeur. Iets nuuts moet nou gebeur. Die werklikheid van versoening wat Jesus vir ons volbring het deur sy kruis en opstanding moet nou ’n bediening word; dit moet in die praktyk gebeur.

Wat gebeur het in Jesus as die Messias, is nie dat God aanspraak maak op ’n wêreld wat nie aan Hom behoort nie, of dat Hy ’n nuwe een uit niks uit maak nie; dit is God wat Homself en sy wêreld, sy skepping met alles en almal daarin, weer met Homself versoen na lang jare van skeiding, vervreemding en verval.

Vandag nog, net soos in die Bybelse tyd, is die beginsel van versoening nie ons verstekopsie nie; die gebeur nie outomaties nie – kyk maar net na die wêreld wat ons vir onsself geskep het en waarin ons leef. Ander beginsels, ander waardes (selfsug, vyandskap, hoogmoed) domineer ons verwysingsraamwerk, die maniere hoe ons dink, leef en met mekaar omgaan.

As ons dink aan wie Jesus was en wat Hy gedoen het, as ons kyk na sy verteenwoordiger Paulus se bediening, het ons hier met meer te doen as ’n nuwe godsdiens of filosfie oor die lewe – ’n nuwe wêreld is hier, ’n nuwe skepping is gebore.

Hierdie nuwe wêreld het ’n nuwe Koning en hierdie Koning het sy verteenwoordigers, gesante, ambassadeurs. Dié boodskap moet gedra word na die ganse wêreld: almal word uitgenooi om versoen te word met die God wat hulle gemaak het en wat hulle oneindig en onvoorwaardelik liefhet, deur terug te kom na Hom en ook te leer om Hom lief te hê.

Vanoggend is ons afskopdiens en ook die bekendstelling van ons nuwe Logo. Ons het besluit op hierdie drie woorde om ons verstand, ons harte en ons dade te rig as verteenwoordigers van hierdie Koning en sy nuwe wêreld: Geliefd. Gevorm. Gestuur. Ons glo dat dit ons gemeente se storie, ons verstaan van onsself, die dinge wat ons saam uit ons pad met die Here geleer het tot hier, goed saamvat. Maar ook dat dit ons kan help om in ons bediening(e) onsself te toets sodat ons kan getrou bly aan die hart van die evangelie.

Hierdie drie woorde (en alles wat hulle verteenwoordig) is nie stappe wat jy een na die ander afhandel nie. Hulle is ook nie mooi van mekaar geskei nie. Daar is voortdurende wisselwerking. Ons is die heeltyd en lewenslank besig met al drie. Hulle oorvleuel en vloei in mekaar. Maar hulle merk vir ons waar die lewe lê. Hulle nooi ons elke keer weer terug na die beweging en werk van God se Gees in ons lewens en ons wêreld; na die dinge waarheen die Bybel keer op keer terugkom.

Geliefd.

Ons loop altyd die gevaar om te vinnig hier verby te beweeg; want ons word geleer om produktief te wees. Wat kan ek nog oor die Here leer? Wat kan ek vir Hom gaan doen? Maar alle kennis, alle dade raak geforseerd en leeg as dit nie kom uit my diepste identiteit nie. Sonder liefde, skryf Paulus in 1 Kor 13 is ek niks.

Hierdie onverstaanbare liefde van God skitter al in die woorde van die OT:

Ps 23: – U laat my by ’n feesmaal aansit.. U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly…

Jes 43 – Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. Omdat jy vir my kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet…

Sef 3 – Hy is vol vreugde oor jou. Hy is stil tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.

En in die NT word die diepte hiervan nog verder ontbloot in die geheimenis van die evangelie wat lei tot hierdie onverstaanbare versoening:

Rom 8 – Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: Abba! Dit beteken Vader.

En in hierdie liefde lê ook alreeds die hart van ons innerlike transformasie (Gevorm) en die rede vir ons missie (Gestuur). “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat Een vir almal gesterf het en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe sodat die wat lewe nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.” (2 Kor 5:14-15).

Die vertrekpunt van ons geloofslewe, van ons spiritualiteit, die anker, die spilpunt waarom alles draai is die liefde van God. Keer op keer, elke keer weer moet ons ons pad terugvind na ons geestelike tuiste: God se Vaderhart. Miskien beskryf hierdie woorde van Henri Nouwen hierdie konstante bekering en oorgawe die beste:

“The world tells you many lies about who you are, and you simply have to be realistic enough to remind yourself of this. Every time you feel hurt, offended, or rejected, you have to dare to say to yourself: ‘These feelings, strong as they may be, are not telling me the truth about myself. The truth, even though I cannot feel it right now, is that I am the chosen child of God, precious in God’s eyes, called the Beloved from all eternity, and held safe in an everlasting embrace.”

En terwyl ek nou op so baie mooi aanhalings van Nouwen afgekom het, kom ons lei die “Gevorm” deel ook met een in:

If it is true that we not only are the Beloved, but also have to become the Beloved; if it is true that we not only are children of God, but also have to become children of God; if it is true that we not only are brothers and sisters, but also have to become brothers and sisters . . . if all that is true, how then can we get a grip on this process of becoming?”

Ons boodskap gaan oor ’n nuwe skepping, ’n nuwe wêreld ’n nuwe lewe. Ons het niks om te sê as ons dit nie word nie. Die beste manier om versoening te verduidelik is om dit te demonstreer.

Ons is klei in die hande van die Pottebakker wat ons lewenslank vorm om die kunswerk te wees wat Hy oorspronklik vir ons lewe in gedagte gehad het – en die vordering sal afhang van die mate waarin ons onsself aan hierdie vormingsproses onderwerp – bereid is om te sterf aan ons ou self. Om te laat gaan… Ons is nuwe skepsels wat ’n nuwe natuur ontvang het – God s’n. Ons deel ook in ons geestelike Vader se DNA deur wedergeboorte en sy Gees wat in ons woon. Volgens 2 Kor 3:18 is die Gees besig om ons al hoe meer te verander om die beeld van Christus gelyk te word. As ons geloofslewe ons nie help met hierdie “process of becoming” nie, is dit futiele oefeninge in die tipe “bring van offers” wat God verag.

En waaraan sal ons weet? Aan liefde natuurlik. Want ons is Geliefdes! Dit is die groot gebod. Dit is tog die basis van versoening en die motivering daarvoor én die gevolg daarvan. Prakties lyk dit my beteken het dit baie te doen daarmee om niemand meer volgens menslike maatstaf te beoordeel nie. Of in Jesus se eie woorde: Liefde vir die vyand. Ons kyk dieper as ons eie opinies, ons eie vooroordele en oortuigings, en sien ’n mens raak wat uitroep vir versoening.

Dan word ons gesante van Christus. Mense wat hulle Gestuurheid ontdek en leef. Dan word alles wat ons doen ’n beroep op ander mense: Aanvaar die versoening wat God bewerk het!

Laaste enetjie van Nouwen:

“When we claim and constantly reclaim the truth of being the chosen ones, we soon discover within ourselves a deep desire to reveal to others their own chosenness. Instead of making us feel that we are better, more precious or valuable than others, our awareness of being chosen opens our eyes to the chosenness of others. That is the great joy of being chosen: the discovery that others are chosen as well. In the house of God there are many mansions. There is a place for everyone – a unique, special place. Once we deeply trust that we ourselves are precious in God’s eyes, we are able to recognize the preciousness of others and their unique places in God’s heart.”

Elke keer as jy liefhet, dien, uitreik, kosgee, bemoedig, jou gawes hier in die kerk gebruik, ’n bydrae maak, neem jy deel aan die liggaam van Christus se konstante oproep aan die wêreld: Hoor die Goeie Nuus! Aanvaar die versoening wat God bewerk het! Amen.

Seën:

Jy die Geliefde van God die Vader. Jy word gevorm deur Jesus Christus om meer soos Hy te wees en die Heilige Gees stuur jou na ’n wêreld in nood om ’n ambassadeur van God se versoening te wees.

css.php