Kan ons weer versoen?

Verwelkoming:

Mag jy God se rus en vrede ontvang en mag dit op so ’n manier deel word van jou lewe dat jy dit ook sal Bring na elke mens en situasie waarmee jy in kontak kom.

Votum/seëngroet:

Hy het ‘n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.”

Geseënd is die

sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

Rein van hart is, want hulle sal God sien

Vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Gebed:

Kom ons raak stil en haal rustig asem: God se Gees is in my.

Here, help ons om oor te gee – maak al die ander stemme stil, sodat ons net U stem kan hoor.

Skriflesing: Mat 18:15-20

Preek:

As ek Jesus se woorde lees het ek baie keer hierdie ervaring dat dit op die oog af so eenvoudig en padlangs-prakties lyk, maar hoe meer jy tyd daarmee spandeer hoe meer besef jy die omvang en diepte van die wysheid. Wat natuurlik vir Jesus onderskei van alle ander leermeesters, is dat Hy nooit onseker geraak het oor of Hy die waarheid beet het nie – Hy was ook nie bekommerd oor hoe mense Hom sou hoor en of hulle van Hom sou hou nie. Hy het geweet Wie Hy is en daarom presies wat Hy moes kom doen – waarvoor God Hom gestuur het.

En daarom was Hy vir baie mense stroom-op, onaanvaarvaar en teen hulle gryn. Jesus maak dit nie vir sy volgelinge maklik nie – tot vandag toe. Die bergrede is in Matteus Jesus se beleidsverklaring – sy groot preek aan die begin van sy bediening waarmee Hy sy kaarte op die tafel sit. Geseënd is dié, het Hy gesê, wat sagmoedig is, wat barmhartig is, wat rein van hart is, wat vredemakers is. Hy het gesê as jy maar net jou broer uitskel vir ’n idioot is jy strafbaar met die helse vuur; dat jy jou ander wang moet draai as iemand jou op die linkerwang slaan; en dat jy jou vyande moet liefhê – want dan is jy volmaak soos wat ons hemelse Vader volmaak is. Dan lyk jy die meeste soos God.

Dit alles kan eintlik saamgevat word in Jesus se oproep waaroor Schalk met ons laas Sondag gesels het: dat navolging van Hom beteken dat ons ons kruis opneem en Hom volg deur onsself te verloën en ons lewens te verloor, sodat ons dit kan terugkry.

Matteus 18 begin met die kratige prentjie van Jesus wat ’n kindjie tussen sy dissipels laat staan en hulle almal oproep om te verander en soos kindertjies te word – want as jy jouself gering ag soos die kindjie, dan is jy die belangrikste in die koninkryk van die hemel. Maar dan gaan Jesus ook ’n tree verder deur te verduidelik hoe belangrik dit is dat ons nie aanleiding gee dat enige een van die kleintjies/geringstes/kwesbares verlore sal raak nie. Ook in die gedeelte wat ons gelees het gaan dit dan hieroor – dat nie een van God se kosbare, kwesbare, kinders verlore moet raak nie.

In ’n paar kort verse nooi Jesus ons om oor baie aktuele, moeilike goed te dink: oor alles wat gebeur in ons en met ons wanneer ons konflik het met ander. En is dit nie ’n verskriklike belangrike tema vir ons as Christene om in hierdie tyd mee besig te wees nie? Terwyl ons as sondige mense hierdie planeet bewandel was konflik altyd met ons en sal dit altyd met ons wees. Maar mens kan nie help om te voel dat ons nou op ’n besonderse slegte plek is nie. Die groot wêreldmoondhede maak ’n mens erg bekommerd: Die VSA is diep diep verdeel, met Putin van Rusland kry mens die idee van ’n getewenlose aardsopertunis wat sy vinger in elke pie probeer kry en China probeer ook nog die ander twee die loef afsteek vir wêreldoorheersing. Mag en geld (wat gekamofleer word onder sg patriotisme) troef klaarblyklik ons almal se lewens, veiligheid en welstand.

Hier op die tuisfront is daar ook meer as genoeg om oor hopeloos te voel. Ons kyk mekaar klaarblyklik toenemend deur ’n rassebril – ons hou van vingers wys, name noem, aandik of plein leuens vertel om ons standpunt te handhaaf. Almal kyk wie die wedloop kan wen om die grootste slagoffer te wees. Ons is, soos iemand geskryf het “vingerpointers en crybabies”. Ons speel graag die speletjie van “maar wat van” sodat ons nie die moeilike issues direk hoef aan te spreek nie. As iemand vra of swart Lewens regtig net soveel tel as wittes, skree iemand maar wat van plaasmoorde? As iemand smeek dat daar gekyk word na die veiligheid van ons landelike gemeenskappe skree iemand anders weer – nou wat van wit bevoorregting? Ons val mekaar aan met kort, slim slagspreuke op sosiale media.

Ons val mekaar aan in die kerk – julle sien en hoor dit self – ek gaan nie nou daarop uitbrei nie. En in ons interpersoonlike ruimtes gaan dit nie veel beter nie – sommige huwelike het in ’n oorlogsveld geword – vrouens en kinders ly onder geweld wat dikwels deur ’n man in hulle binneste kring aan hulle gedoen word.

Is dit moontlik dat hierdie paar woorde van Jesus iets vir al hierdie kontekste van konflik te sê het? Ek dink so…Kom ons begin by die begin.

Konlikhantering se vertrekpunt is nie dat ons moet ontken dat ons mekaar regtig seermaak nie. In Jesus se voorbeeld het iemand regtig iets verkeerd teen jou gedoen. Dit is moeilik om in hierdie spanning te beweeg maar dit is die enigste manier wat gesond is en dit is wat Jesus van ons vra: Jy is eerlik oor die onreg wat aan jou of ander gedoen is en die effek daarvan op jou – maar die doel is nie om iemand anders te verkleineer of terug te kry nie – die doel is om daardie persoon terug te wen (of te wen) vir die koninkryk.

Die tweede belangrike ding wat ons opmerk, is die rol van die geloofsgemeenskap. Ons is almal subjektief – ons almal onthou dinge op verskillende maniere; ons het somtyds lang tone; Dit gebeur dikwels dat beide partye voel hulle is op een of ander manier verontreg. Daarom kry ons vir ons betroubare vennote in die proses, nog perspektiewe om die tafel – mense wat ons almal verantwoordbaar hou vir wat ons sê en doen en hoe ons dit sê en doen.

God se groot droom is die versoening van mense met Homself en met mekaar – hierdie is ’n baie belangrike deel van ons roeping as gelowiges, as kerk, veral nou as ons die tye reg lees. God gee aan ons gesag. Mens kan nie help om in diep nederigheid stil te staan by Jesus se woorde oor die oop en die toesluit nie. Daar waar God se kinders saam is, saamstaan, saambid, daar is Jesus regtig teenwoordig om in situasies wat onmoontlik lyk ’n daadwerklike verskil te maak. Ons kan nie ophou om dit te glo en te leef nie.

Om hierdie roeping ernstig op te neem, verg daardie verloor van jou lewe waaroor Schalk laasweek gepraat het. Jy sal jou ego die heeltyd moet dophou – anders gaan jy alles persoonlik opneem, eerder onttrek, of net baklei vir jou kamp en vir die wen. En dit is mateloos moeilik!!

Ons moenie verwag ons gaan ewe skielik oor alles saamstem nie. En oral is daar oppertuniste wat goeie gesprekke kaap en vir hulle eie gewin probeer gebruik – aan beide kante. En miskien is dit op hierdie vlak ten minste goed om onsself te herinner dat ons al die moeilike dinge in die lewe, al die issues, ook op interpersoonlike vlak ons iets maar net vanuit ons hoek kan sien en dat ons nooit ál die wysheid of ál die antwoorde het nie.

Maar wat vra Jesus van ons as Hy van ons vra om selfs ons vyande lief te hê? Is dit nie ten minste om altyd nog steeds alles in die stryd te werp om iemand se menswees te bly soek – om jou met empatie in hulle posisie te bly stel – om aan te hou luister, en om agter die onaanvaarbare gedrag die noodkreet raak te sien nie?

Want uiteindelik is en bly dit waar – ons is almal mense – ons wil almal erken word, met en respek en waardigheid behandel word – veilig voel – en ’n toekoms sien vir ons en ons kinders.

Ook in die drukkokers van konflik stuur Jesus sy volgelinge om daar in sy Naam en met sy gesag, met die nederigheid van kinders, sy versoening te bring. Amen.

Gebed:

Dankoffers: 

Die gebed is – Here, my geld en my goed behoort aan U.