Val opwaarts!

Verwelkoming:

Ons is vandag hier saam sodat jy weet dat jy nie alleen is nie! Jy behoort aan ’n geestelike familie en aan die Here!

Votum/seëngroet:

Al is ons uiterlik besig om te vergaan – innerlik word ons van dag tot dag vernuwe…

Hoe het God jou hierdie week innerlik vernuwe?

Kindertyd:

Eendag was Jesus besig om met die Fariseërs te praat. Hulle was basies soos die dominees in die Joodse geloof van daardie tyd – maar hulle was ook Ryk en het aansien gehad. En Jesus het vir hulle verskillende stories vertel om hulle te waarsku dat geld baie gevaarlik kan wees – dit kan jou afgod word; jy is liewer daarvoor as vir God self – en daarom vertrou jy daarop en gee jou lewe daarvoor. Sy woorde was: “Jy kan nie God en mammon (die geldgod) dien nie.” 

En toe lag hulle sommer vir Jesus!

Ons lees van al hierdie dinge in Luk 16. En toe vertel Hy vir hulle ’n storie wat ’n mens nogal skok – ek dink dit is Jesus se plan om ons diep te laat dink… Hy vertel van ’n ryk man wat baie lekker geleef het met duur klere en duur partytjies. En dan was daar die arm man, Lasarus. Sy lyf was oortrek met sere waaraan selfs die honde kom lek het. Hy het by die deur van die Ryk man gelê het en gehoop het hy sal darem net van die Ryk man se oorskiet kossies kry. Maar so lyk dit, die Ryk man het hom nie gesteur aan Lasarus nie. 

En dan tekens Jesus hierdie prentjie waar die Ryk man en Lasarus albei doodgaan – die een na “die ereplek langs Abraham” (seker maar wat ons die hemel sal noem) en die ander een na die doderyk (seker maar wat ons die hel sal noem – al gebruik Jesus nie daardie woord nie). En daar, julle sal netnou die storie lees, sien ons dat die rolle omgekeer is en dat dit nou wonderlik gaan met Lasarus maar baie sleg met die Ryk man. En hy vra of hulle hom nie kan help nie, maar dit is nou te laat!! Daar is ’n groot kloof! Maar sal Abraham dan net nie vir Lasarus stuur om sy broers te gaan waarsku om hulle lewens te verander nie?  En dan antwoord Abraham, hulle het die Bybel, as hulle nie daarna luister nie, sal niks hulle van plan laat verander nie!

Ons het laasweek met die kinders begin praat oor die koninkryk van God. Om daarvan deel te wees is amper soos om burger van ’n land te wees. Ons is SA’ners en ons het ons eie tale, ons eie gewoontes, ons eie kos, en ons eie simbole (soos ons vlag, lied, die springbok ens!). Maar ons is ook burgers van “Godland” omdat ons sy kinders is! 

(Gebruik ’n onderstebo wêreldkaart om wat volg te verduidelik).

En Jesus draai die wêreld onderstebo – nee, eintlik reg, soos wat dit moet wees. Ons dink diep in ons harte Ryk mense, mense met mag, geleerde mense is die belangrikste, maar Jesus draai alles om, want in Godland (koninkryk!) maak almal saak!

Skriflesing:

2 Kor 4:13-5:1

Preek:

In hierdie brief in die gemeente van Korinte is Paulus besig om sy gesag as aostel te verdedig. Daar het teenstanders van Paulus in die gemeente ingedring wat hom gediskrediteer het: hulle beroep hulle op openbaringsgesigte, kom met “goeie aanbevelings”, is goeie redenaars en selfversekerd. Uiterlik geoordeel steek Paulus sleg af. Van wat ons kan aflei was Paulus nie noodwendig die beste spreker of fisies altyd in die heel beste toestand nie. Hoe kan hy dan ’n verteenwoordiger, ’n boodskapper van God wees wat ’n mens kan vertrou? 

In Pinkster het ek heelwat gemaak van die beeld van die skat in kleipotte wat ons net voor hierdie gedeelte in Hoofstuk 4 aantref. Dit gee eintlik vir ons die prentjie van Paulus se hele argument: dit gaan nie oor die uiterlike(kleipot) nie (die evangelie van Jesus werk nie so nie!) – dit gaan nie oor hoe aanskoulik en indrukwekkend die boodskapper is nie – dit gaan oor die skat daarbinne – en oor hoe hierdie skat uitdaag wat ons dink ons alles weet oor die waarheid – oor die lewe en oor God. 

Vers 13 lyk op die oog af nie vreeslik betekenisvol of verstaanbaar nie:

Daar staan in die Skrif: “Ek het geglo, daarom het ek gepraat.” Ons het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook.

Paulus gebruik soms hierdie strategie. As iemand wat die Bybel deur en deur ken, haal hy net een sinnetjie aan maar hy wil eintlik sy lesers nooi om die hele gedeelte en die betekenis daarvan van toepassing te maak. Sy aanhaling kom Ps 116:10. Ps 116 gaan oor iemand wat in die kloue van die dood was (net soos Paulus), maar die Here het hom daar kom red. Sy geloof, sê die Psalmdigter, het gemaak dat Hy op God kon bly vertrou en nou kan hy sy dank aan God uitdruk. 

Paulus se geloof in Jesus Christus is gebou op hierdie eeue-oue tradisie. Die vervulling van Ps 116 is in Jesus:

“14Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. 15Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer.”

En dan kan hy die evangelie-implikasies verder uitspel. (En hou nou die beeld van die kleipot met die skat binne-in in jou gedagtes). Aan die een kant is daar die uiterlike dinge, die swaakry in hierdie lewe, die sigbare dinge, die tydelike. Aan die ander kant is daar die innerlike dinge, die heerlikheid, die onsigbare, die ewige 

Gedragskenners soos Dr Kobus Neethling sê ons bly aan die binnekant gesond as ons iets het wat ons na die toekoms trek; iets om voor op te staan – ’n doel voor oë wat ons genoeg inspireer dat ons voel ons daaglikse lewe maak sin omdat ons dit in hierdie konteks sien. 

As ons ooit voel dat ons geloof ’n las of ’n verpligting is wat die lewe vir ons swaarder maak, dan verstaan ons dit verkeerd! Paulus bid in Ef 1:18 dat God die gelowiges se geestesoë so moet verhelder dat hulle kan weet watter hoop hulle roeping inhou – hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo – dieselfde krag wat Jesus Christus uit die dood opgewek het!

Ons innerlike vernuwing lê in die hoop van ons roeping wat ons trek na God se koninkryk, sy heerlikheid; na die ewige en onsigbare dinge soos wat dit nou reeds gestalte kry – soos wat ons in Pinkster gesê het: as ’n teken en ’n voorsmaak. Ons het ’n ongelooflike doel vir ons bestaan wat deur geen omstandighede hoegenaamd van ons af weggeneem kan word nie!

Fr Richard Rohr, ’n gerespekteerde kenner op die gebied van Christelike spiritualiteit, sê dat miskien die grootste vrees vir ons, as mense van ’n westerse kultuur, is mislukking. Ons sukses-gedrewe kultuur kyk neer op wat ons sien as mislukking, magteloosheid, kwesbaarheid en enige vorm van swakheid/armoede. En daarom is ons ook so hard op onsself – kan ons hierdie dinge oor onsself nie erken of hanteer nie. En dan raak dit ons skadukant wat so baie skade in ons lewens veroorsaak en ons weerhou van daardie sielsdiep vrede Wan ons fokus is die heeltyd daarop om ons ego te beskerm: ons probeer so hard bewys, aan myself en ander dat ek nie ’n mislukking is nie. 

Maar ons moet ons “skaduwerk” doen, soos RR dit noem. Bietjie skaduboks met die ego: Die evangelie se lig laat val op hierdie dinamika in ons lewe – dan kan gebeur iets wat RR noem “falling upward”. As ek my kwesbaarheid kan omhels, as ek in nederigheid kan erken, ek is maar net ’n kleipot, as ek eerder oor my swakhede roem, dan raak die krag van Christus my beskutting. Ek hoef nie meer vir my ego te skerm nie – ek is vry! 

Jesus se opstanding het die rigting van gravitasie omgekeer. Dit werk nou hemelwaarts, opwaarts. Ek val boontoe!

Maar eers kom die val. Eers sterf jou ou lewe aan die kruis. Eers verloën jy die behoefte om die heeltyd jou ego te beskerm en te boost. Eers leer jy om pyn en lyding nie as iets vreemd te sien nie, nie as ’n tydelike ontwrigting wat ons net agter ons moet kry nie, maar as deel van God se pad met jou – as ’n geleentheid. Jy leer om met die paradokse saam te leef. 

En dan kom die “opstaan”, die opwaarts, die innerlike vernuwing, die oog gerig op die onsigbare, ewige… As jou siel eers dit snap, dan het jy ’n radikale en onomkeerbare oorgang in jou lewe gemaak – maak nie saak wat jou ouderdom is nie – dan is jy in RR se woorde, in die tweede helfte van jou lewe. Hang dit saam met wedergeboorte waaroor Schalk verlede Sondag gepraat het? Ek dink verseker so.

Waar bevind jy jouself? Is jy besig om te val? Is jy besig om te val, maar jy cover nog vir jou ego, jy is nog te “trots”, jy wil dit nie erken nie? Is jy besig om te val en jy weet dit, jy erken dit aan jouself en aan ander? Val maar. Val in Jesus se lyding en dood in. Want dan val jy ook in sy lewe, in sy opstanding, in sy heerlikheid en in sy oorvloed in. Val maar. Jy siel is tuis by God. Jou ewige woning is voorberei. Jesus lewe. Gravitasie is omgekeer. Jy klim nie op na God en sy teenwoordigheid nie. Jy val daarin. Amen. 

Stilword:

Luister na die Gees…

Waar volg die skadu van die vrees vir mislukking jou nog?

Kan jy erken jy is ook maar net ’n breekbare kleipot?

Val maar – val in Jesus se lyding en dood in – val in sy opstandingslewe en heerlikheid in…

Hou op klim – val maar…

css.php