Net God...
Votum/seëngroet:
Goed is die Here
vir hulle wat op Hom wag,
vir die mens wat na Hom soek.
Goed is dit om stil te hoop
op die verlossing van die Here.
Hy moet alleen sit in stilte,
want die Here het dit op hom gelê.
Hy moet maar sy gesig in die stof hou;
miskien is daar hoop.
My Heer verwerp beslis nie
die mens vir ewig nie;
maar as Hy iemand bedroef het,
ontferm Hy Hom met die volle omvang
van sy troue liefde.
Kindertyd
Die hartseer: dit is goed as ’n mens praat daaroor: wat jy voel, dink en ervaar. En jy kan die iemand wees wat luister.
Vertroue: Leer om die Here te vertrou. Sal ek jou vang as jy spring? Kan ek? Wil ek? Glo ek sal – dan vertrou jy my. Hy kan en Hy wil help – en Hy sal altyd.
Skriflesing:
Klaagliedere 3:16-26
Preek:
Wat is regtig die bron van ons grootste lyding? Is dit net die swaar, hartverskeurende dinge self – of is die ergste daarvan, die swaartste deel van die lyding, dat ons dit nie verstaan nie – nie sin en betekenis daarin kan sien nie?
Wat ons van God dink, hoe ons Hom sien, hoe ons sy werkwyse verstaan, is natuurlik die hart van ons soeke na sin en betekenis. Nie ons almal hou daarvan om so daaroor te dink nie, maar ons elkeen het sy/haar persoonlike teologie. Ons eie basiese aannames or God, dinge in die Bybel wat ons graag beklemtoon en ander wat ons miskyk, ons verstaan van hoe God werk en wat ‘n mens van Hom kan verwag onder spesifieke omstandighede, die rol van die bose en lyding.
In die begin van die 1900’s was daar ’n Spaanse filosoof, Miguel Unamuno, wat die Westerse wêreld gekonfronteer het met die boodskap dat hulle die betekenis van ons geloof skeefgetrek het deur dit te belyn met die idee van “vooruitgang” (Voorspoedsteologie!). Hy sê Jesus en die profete was baie gemaklik met die “tragic sense of life” en dit het hulle ervaring van die werklikheid heeltemal anders gekleur. (Tragiese en onvoorspelbare is deel van die lewe).
Wat ons brose ego’s nodig het, is ’n ordelike en voorspelbare lewe met eenvoudige reëls en eenvoudige oplossings en verklarings. Maar die lewe is nie so ’n reguit lyn vorentoe nie. In die lewe (selfs in die natuur!) is daar dinge wat nie lekker by die patroon wil inpas nie. In die lewe is daar dikwels uitsondering en wanorde. Maar, en dit is juis die punt, die Bybel erken dit en gaan om daarmee. Al is die weereens nie met die tipe finale antwoorde wat ons sou verkies het nie. Geloof, so het Unamuno gesê, is vertroue in ’n onderliggende Krag wat so sterk is, dat dit self die dood kan insluit. Dit sluit ons rede en ons verstand in, maar dit is ook groter as ons rede en ons verstand. En dit is natuurlik waar ons van ons brose ego’s verlos kan word – deur meer te leer vertrou, en minder afhanklik te word van verstaan.
Hoe sekerder ons dink ons weet, hoe makliker gaan ons wêreld op sy kop gekeer word. Hoe sekerder ons dink ons weet hoe makliker gaan ons vir mense ons G(g)od voorhou, eerder as die God wat met hulle in ‘n verhouding wil tree. Alles rondom die skrywer van Klaagliedere het inmekaar getuimel. Letterlik alles. Die lyding wat God se mense moes verduur is onvoorstelbaar en onmenslik. Kinders word vermoor. Vrouens word verkrag. Jerusalem en die tempel word verwoes. Saam met die mure van Jerusalem val die skrywer se persoonlike teologie: (S7)“Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink draai my gedagtes vas.”
Die tempel is dan die teken van die Here se teenwoordigheid in Jerusalem. Jerusalem is dan die stad van God. Hy het dan belowe dat een van die afstammelinge van Dawid vir ewig op die troon sal sit in Jerusalem en dat Hy die stad nooit sal verlaat nie. As die Babiloniërs hulle oorwin, beteken dit dat hulle gode sterker is as Jahwe? As God hulle straf vir hulle ongeregtigheid deur die Babiloniërs, wanneer word die Babiloniërs dan weer gestraf vir hulle ongeregtigheid? My gedagtes knoop vas, Here, hoe werk hierdie dinge? Wat is u rol in die geskiedenis, in my lewe. Wie is U regtig?
God. Drie letters. Soveel inhoud. Die oorsprong en onderhouer van alle lewe. Die essensiële werklikheid. Die Onsienbare wat gekies het om met die mens in verhouding te tree. As ek sê God, dan gebeur daar iets in jou kop wat dalk nie in myne of in die persoon langs jou se kop gebeur nie. Dit sê nie een van ons is reg of die ander verkeerd nie, maar net dat die laaste woord oor God nooit gespreek is nie. Ons is nooit klaar geleer nie, en ons het nooit klaar gegroei nie.
‘n Mens se sekuriteit en jou sekerhede kom in gedrang as dit oor God gaan en ja, dit gebeur gewoonlik dat jou wêreld inmekaar tuimel wanneer onverwagse of uitgerekte of onregverdige of omvangryke lyding jou tref. Die vrae was nog altyd teoreties daar, maar nou dat jy swaarkry maak hulle saak. Reg of verkeerd, kyk net na hoe die digter God se rol in sy lyding sien (as ons net Klaagliedere 3 vat en ‘n paar goed uitlig) en dink jouself in sy skoene in: “Die Here het my in sy toorn geslaan… Hy het my die donker in gejaag…Hy stoot my gedurig weg… Hy laat my liggaam wegteer… Hy weier om my gebed te verhoor… Hy is soos ‘n beer wat my inwag, soos ‘n leeu wat my voorlê, Hy het my een kant toe gekeer en verskeur, my vermink laat lê…”
As jou Godskonsep onherroeplik vermink lê, wat bly oor? As dit vir jou voel asof jy Hom nie meer ken nie, asof jy Hom nooit sal verstaan, asof Hy toe glad nie is soos jy gedink het Hy is nie, waarnatoe gaan jy? Wat het ons vriend van Klaagliedere van ondergang gered? “Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself, die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.”
Jou ware lewe, die lewe van jou siel, skryf RR, is ’n dieper stroom as jou alledaagse omstandighede. Dit is wat Jesus beskryf as die ewige lewe, die lewe in oorvloed – strome lewende water wat uit jou binneste vloei. Aan die hart van die skat van die koninkryk van God lê hierdie misterieuse boodskap van jy wat jou lewe verloor om jou lewe te vind. As ons van Jesus se kruis ‘n eenvoudige teorie maak (vir my sonde), dan mis ons die groot prentjie en baie van die dieper betekenis. Ons hele prentjie van God sterf saam met Jesus aan die kruis, sodat ons ons in staat is om God regtig te sien. Daar is niks logies of ordelik aan ’n Messias-Koning wat sterf nie. Helde triomfeer oor hulle vyande. Maar daar is die diepste geheimenis van geloof, dat ons net waarlik kan leef as ons eers sterf.
Maar die eerste helfte van die lewe, voor ons vals idees en verwagtinge verpletter word, word saamgeneem en ingesluit. So is dit in die hele Bybel. Daar is die heeltyd ontwikkeling, verandering, nuwe begin – maar die oue word ingesluit, verhelder en bevestig. Al ons vorige ervarings saam met die Here, al was dit nog naíef, skeef en onvolwasse, is deel van sy pad met ons. Sy Gees begin met ons gees praat en iets van sy ewige aard en getrouheid raak deel van ons diepste lewe.
Iets in ons skrywer se hart sê vir hom dat God werklik met sy volk op pad is, dat die oploop van gebeure tot op hierdie punt nie bloot toevallig kan wees nie. Hy verstaan nie vir God op daardie oomblik nie, maar hy weet terseldertyd ook dat sy ervarings van God, sy oomblikke van aanbidding, die geloofslesse wat die Here hom geleer het, ook nie alles waardeloos kan gewees het nie.
RR noem dit “noodsaaklike lyding”. Die ballingskap gebeurtenis in ons eie lewe waar dit voel of alles wat ons gedink het ons weet van God wegval. Voor dit sal ons (ego’s) altyd bly klou aan ons valse beelde en sekuriteite. Maar dit is die weg tot die sg. 2de helfte van die lewe – daardie dieper lewe, die lewe in oorvloed, die strome lewende water, die ewige lewe as kwaliteit van lewe.
RR beskryf dit so (“down” en “up” is soos die geheim/patroon van sterf en opstaan):
(S11)“You will never know for sure if this message is true, until you are on the “up” side. You will never imagine it to be true until you have gone through the “down” yourself and come out on the other side in larger form. You must be pressured from on high, by fate, circumstance, love or God, because nothing in you wants to believe it, or wants to go through it. Falling upward is a secret of the soul, known not by thinking about proving it, but only risking it – at least once. And by allowing yourself to be led, at least once… It takes a foundational trust to fall or to fail – and not fall apart. Faith alone holds you while you stand waiting, and hoping and trusting.”
As jy dink dit is klaar met jou en met jou hoop op die Here, neem dit ter harte: Deur die liefde van die Here sal ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. Sy getrouheid is groot. As alles om jou platval, as jou persoonlike teologie nie meer die antwoorde verskaf nie, as jou Godskonsep vermink lê, dan is daar God… Amen.
Seën:
As alles platval, dan is daar God. Die Here sal julle seën en julle beskerm, die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees, die Here sal julle gebede verhoor en aan julle sy vrede gee.