Geliefd. Gevorm. Gestuur

Verwelkoming:

Vader met twee seuns: Ons het geleer van die draaie wat ons stap – om ons huis iewers anders as by God te vind – en hoe ons kan terugkom en dan regtig by die huis wees – ons Vader sien vir wie Hy regtig is… Miskien is ons nie rebels nie – loop nie weg nie, maar ons hart verstaan nie genade nie en ons is sonder blydskap. 

Kers aansteek (orrel): Lied 177 (X2)

Votum/seëngroet:

Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, 

want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

Skriflesing:

Rom 5:1-11

Preek:

Vandag is die belangrikste by verre dat jy voor almal getuig dat jy vir Jesus ken, Hom liefhet en Hom wil volg – jou lewe en jou toekoms aan Hom wil toevertrou. Maar amper soos met die grootste gebod (jy moet die Here jou God liefhê bo alles…) is daar een wat hieraan gelykstaan (jou naaste liefhê soos jouself): jy raak deel van die kerk. 

Nou in vergelykig met die eerste een klink dit nie naasteby so opwindend en so belangrik nie. Miskien nog as jy dink aan die droom van die kerk – die groot liggaam van al Jesus se mense oor die hele aarde – dan klink dit nogal groot, maar as jy na enige spesifieke kerk, enige plaaslike gemeente, soos ons s’n kyk, kan ’n mens dink – is dit regtig so belangrik dat ek hiervan moet deel wees?

Op so ’n belangrike dag het ek mos die behoefte om so ’n bietjie al die lyne vir julle saam te trek – al die lyne van God, geloof en lewe. Ons gemeente het besluit om ons visie/leuse te maak: Geliefd, Gevorm, Gestuur. En vanoggend wil ek saam met julle daar begin. Want dit is hoe ons onsself wil herinner hoe ons deelneem en inskakel by God se groot plan. Dit som vir ons op waaroor die evangelie gaan en wat dit beteken om saam Christene te wees in hierdie wêreld. En hopelik dan ook wys hoekom dit so belangrik is om deel te wees van ’n plaaslike geloofsgemeenskap. 

Die eerste woord is Geliefd. Die is die hart en basis vir ons geloosreis. Dit neem ons hele lewe lank om in te groei in hierdie identiteit van God se geliefde. Op een of ander manier is dit net te moeilik vir ons om te glo. En as ons dit nie regtig glo nie, bly ons in hierdie lewe altyd onrustig en soekend, hoop ons dat die volgende ervaring die volgende liefde, die volgende vakansie of duur geskenk aan ons daardie geluk en vrede sal gee wat dit nooit kan nie. 

God se stem, so skryf Henri Nouwen, praat van bo en van binne met ons elkeen om daardie woorde wat Jesus tydens sy doop gehoor het vir ons elkeen te fluister: “Jy is my Geliefde Kind, oor jou verheug ek My!” Maar dit is moeilik om dit te hoor in ’n wêreld wat skree jy is nikswerd, jy is lelik, jy is waardeloos, jy is niemand – tensy jy die teenoorgestelde kan bewys nie. 

God het jou lief, net omdat jy is. Jy kan niks doen om te maak dat God jou liewer sal hê nie en jy kan niks doen wat sal maak dat God jou minder lief sal hê nie. Hierdie onvoorwaardelike liefde van God word in ons gedeelte van vanoggend so uitgedruk: “Vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe… maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was…”

Kan jy hierdie hoor en jou eie maak?

 “I have called you by name, from the very beginning. You are mine and I am yours. You are my Beloved, on you my favor rests. I have molded you in the depths on the earth and knit you together in your mother’s womb. I have carved you in the palms of my hands and hidden you in the shadow of my embrace. I look at you with infinite tenderness and care for you with care more intimate than that of a mother for her child. I have counted every hair on your head and guided you at every step. Wherever you go, I go with you, and wherever you rest, I keep watch. I will not hide my face from you. You know me as your own as I know you as my own. You belong to me. Wherever you are I will be. Nothing will ever separate us. We are one.” 

Henri Nouwen

Gevorm. Daar is ook ’n ander gesegde wat lui: God het jou lief net soos wat jy is, maar te lief om jou te los net soos wat jy is! Die lewe is in Jesus. Lewe eerder as die doodgeestelik en fisies. Ewige lewe. Ware lewe. Hoekom sal jy dood wil bly as jy kan lewe?! As ons teksgedeelte sê dat “ons deur die lewe van sy Seun gered word,” dan gaan dit nie net oor ons kaartjie hemel toe nie, maar oor ons eie nuwe lewe wat ons in Jesus kry. 

Die lewe waarvoor Hy ons eintlik gemaak het. Ons word ons ware self in Christus – wat bevry is van die ou/vals self. En ons word vry om ons unieke bydrae in God se wêreld te lewer. Jesus se dood en opstanding raak die dinamika van ons eie lewe – ons sterf saam met Jesus en ons staan op saam met Jesus – elke dag vir die res van ons ewige lewe. 

Jesus lewe en Hy is ons Leermeester. Ons leer by Hom en deur sy voorbeeld om ons lewe te leef soos wat Hy sou as Hy ek was. En dan is ek vry. Dan leef ek regtig. My ware self en my ware doel. 

Hierdie nuwe lewe word geanker en geken deur die vrug van die Gees. Vrug wys vir ons watter tipe boom dit is, wat sy aard is. God verander ons aard – ons kry die geestelike DNA van ons hemelse Vader. Die vrug van die Gees werk net so. Die Christen se boom dra liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. 

Gestuur. God is ’n sturende God. Juis omdat Hy ons so liefhet: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee/gestuur het… om die wêreld te red. Jesus het verduidelik dat Hy die Herder is wat agter die een afgedwaalde skapie sal aangaan. Hy was daar vir die mense wat Hom die nodigste gehad het en nie die wat hulself as die belangrikste gesien het nie. 

God stuur Jesus. Jesus stuur die Heilige Gees. En die Heilige Gees stuur en bekragtig die kerk. Alles omdat God die wêreld so liefhet. 

En net om die volsirkel aan te dui (band tussen geliefd en gestuur): As jy ontdek dat jy geliefd/gekies is en jou hele wese daarin begin vind – ontdek jy ander is ook geliefd, ander is ook gekies en jy wil dit vir hulle uitwys sodat hulle lewe en hulle blydskap ook volkome kan wees. Jy ontdek die wêreld is geliefd, die skepping is geliefd, jou gemeenskap is geliefd en jy wil help opbou en heelmaak en seën. Nood raak jou hart want dit raak God se hart en julle harte is besig om één te word. 

As Jesus ons stuur, dan sê Hy Hy stuur ons soos lammers tussen wolwe in. Dit klink nie baie maklik nie. Hy roep ons om ons lewe te verloor sodat ons ons lewe kan terugkry (Vorm). Dit ook nie. Selfs om jouself as Geliefd te sien is nie baie maklik nie (al die ander stemme). 

Maar ons is nie alleen nie. God is by ons. Die Een wat sy liefde in ons harte uitgestort het deur die Heilige Gees sodat ons met hoop kan lewe. Maar Hy is ook by ons deur ander mense. Iemand wat kan help, iemand wat kan bemoedig, iemand wat ’n voorbeeld kan wees, by wie ek kan leer, iemand wat kan inspireer, iemand wat my raaksien en liefhet en wys ek maak saak. 

En dit is wat ons vir mekaar moet wees by die kerk. Dit is hoekom die kerk nie net ’n idee kan wees nie, maar my verhouding met regte mense op ’n regte plek – soos hier by Paarlberg gemeente. Amen. 

Gebed:

Belydenisafleging:

God wat eerste uitreik; God wat jou sien, jou kies en jou opeis – God wat getrou is en vergewe – ’n God wat jou terugneem as jy afdwaal.

 

css.php