5 Julie 2020: Is jou godsdiens swaar? – Mat 11:25-30

MATT. 11:25-30 (5/7/20)

#  Die ou Grieke van baie lank gelede het allerhande verhale vertel oor hulle gode en alles wat hierdie gode gedoen en aangevang het.

  • Ons lees vandag nog daarvan in die Griekse mitologie.
  • En een van die verhale uit die Griekse mitologie vertel van ’n reus met die naam Atlas.
  • En Atlas is daarvoor bekend dat hy met die hele uitspansel, die hele lugruim, op sy skouers staan.
  • As straf vir ’n oorlog wat hy help voer het, het hy die opdrag gekry om die lugruim alleen orent te hou.
  • En so staan hy dan nou met hierdie verskriklike las op sy skouers.
  • Dis nou, volgens die Griekse mitologie.
  • Maar ek dink in hierdie figuur van Atlas kan ons seker ook onsself herken.
  • Dit is mos ook baie keer asof óns met die hele wêreld se probleme op ons skouers staan.
  • En nou is daar in hierdie tyd nog boonop die ekstra las van COVID-19 wat op ons druk.

#  Maar belangrik, ook as dit by ons godsdiens kom, kan ons dalk so ’n Atlas-figuur slaan.

  • Dan dra ons ook aan ons godsdiens asof dit ’n swaar las op ons skouers is.
  • In Jesus se tyd was dít juis iets wat die Fariseërs gedoen het.
  • Hulle het vir hulleself baie godsdienstige reëls opgestel, baie moets en moenies.
  • Eintlik het hulle dit vir hulleself ontsettend moeilik gemaak.
  • En daarom lees ’n mens ook dat hulle in hulle geskrifte gepraat het van die “juk van die wet.”
  • Vir hulle was die Here se wet soos ’n juk wat swaar op ’n os se skof druk.
  • Vandag moet ’n mens seker na ’n museum gaan om te kan sien hoe so ’n juk lyk.
  • Maar in die tyd toe die mense nog met osse geploeg het en hulle waens deur osse getrek is, het elke os mos ’n juk op sy skof gehad.
  • So ’n hout-gedoente waaraan die ploeg of die wa se disselboom dan vasgeheg was.
  • En dan moes die os swaar trek aan die ploeg of die wa, terwyl die juk op sy skof druk.
  • Maar net so was die Fariseërs se godsdiens vir hulle soos ’n swaar juk op ’n os se skof.
  • As jy die Here wou dien, moes jy ’n groot klomp verpligtinge op jouself neem.
  • Dít is wat die Fariseërs geglo het.
  • Maar dít was ook die soort godsdiens wat hulle aan ander mense wou opdring.
  • En daarom sê Jesus in Matt. 23:4: Die Fariseërs “bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers.”

# En so kan ’n mens se godsdiens vir jou ’n swaar las wees.

  • Veral as jy probeer om jouself deur jou eie inspanning te red.
  • As jy dink alles hang net van jou af.
  • Jy moet alles laat gebeur.
  • En godsdiens is ook ’n swaar las as dit vir jou net uit ’n klomp wette en reëls bestaan.
  • Dan gaan dit vir jou net oor: Hierdie en hierdie dinge mag ek doen.
  • Maar daardie en daardie dinge weer nie.
  • En so kan godsdiens vir jou ’n las wees wat jou tot die dood toe moeg maak.
  • ’n Juk wat jou in die grond in afdruk.
  • Maar, sou die Here dit werklik so wou hê dat ons godsdiens vir ons ’n swaar las moet wees?
  • Sou dit werklik sy plan wees dat ons lewe saam met Hom vir ons soos een groot moeilike stryd moet wees?

#  Om hierdie vraag te beantwoord sou ’n mens kon vra: Maar wat sê Jesus oor die ware godsdiens?

  • Hoe lyk die godsdiens wat Hy verkondig het?
  • En dan dink ek moet ons maar weer lees wat Jesus in die laaste drie verse van Matt. 11 sê.
  • Hy sê daar: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.  Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.  My juk is sag en my las is lig.”
  • Jesus rig ’n uitnodiging.
  • Kom na My toe, sê Hy.
  • En Hy nooi juis almal wat voel die las is vir hulle te swaar.
  • Hy nooi veral dié mense van sy tyd wat die las moes dra wat die Fariseërs op hulle geplaas het.
  • En ons kan sê: Jesus nooi hierdie mense om heeltemal ’n ander soort godsdiens te kom ervaar.
  • Jesus praat ook van ’n juk en ’n las, maar Hy sê sy juk is sag en sy las is lig.
  • Dit waarvan Hy praat, verskil m.a.w. radikaal van die godsdiens wat die Fariseërs beoefen het.
  • Jesus se godsdiens is iets wat rus gee.
  • Nie iets wat jou uitput en oorlaai, en waaronder jy uiteindelik moet swig nie.
  • Nee, dis iets wat rus gee en jou tot rus bring.

#  En nou is daar ’n baie spesifieke rede waarom Jesus mense kón nooi om by Hom rus te vind.

  • En wat is die rede?
  • Jesus sou later aan die kruis op Golgota sterf.
  • En dáár het Hy ons hele las op Hom geneem.
  • Dáár het Hy die volle gewig van ons sonde op Hom laat neerkom.
  • En dit beteken: Daar het eintlik niks oorgebly wat ons meer hoef te dra nie.
  • Die Fariseërs wou hê mense moet ’n swaar las dra, die “juk van die wet.”
  • Maar by Jesus is dit totaal anders.
  • Hy wil maar net ’n sagte juk en ’n ligte las op ons plaas.
  • En Hy kan dit doen, want Hy het self die volle gewig van ons sonde aan die kruis gedra.

#  Hoe beleef u en ek ons godsdiens?

  • Is dit vir ons ’n juk en ’n las wat swaar op ons druk?
  • Is dit iets wat vir ons min of meer onhanteerbaar is?
  • Dan mag dit wees dat ons die blye boodskap van die Bybel dalk iewers misverstaan.
  • Dalk dink ons (miskien heel onbewustelik), maar dalk dink ons: ek moet myself red deur my eie inspanning.
  • Ek moet as ’t ware “presteer” om gered te kan word.
  • Maar gelukkig sê Die Bybel op so baie plekke dat Jesus ons uit genade kom red het.
  • Dat Hy uit genade ons las op Hom kom neem het.
  • Ongelukkig verstaan ons maar so moeilik wat genade is.
  • Ons wil meestal dié dinge wat ons in hierdie lewe ontvang, self verdien.
  • Ons wil ’n prestasie of teenprestasie daarvoor lewer.
  • Maar Jesus red ons uit genade, m.a.w.: sonder dat ons dit kan verdien.
  • En daarom moet ons by die punt kom dat ons maar net sê: Dankie, Here, vir u genade!
  • Ek laat vaar nou alle pogings om myself te red of om iets by U te verdien.
  • Ek omhels nou maar net u genade.
  • Ek neem nou die sagte juk en die ligte las van Jesus op my skouers, en kom tot rus by Hom.

#  Maar dalk sal iemand nou wil vra: Maar hoekom praat Jesus dan nog steeds van ’n juk en ’n las?

  • Hy red ons dan uit genade, en Hy maak ons vry van ’n wettiese soort godsdiens – hoekom praat Hy dan nog steeds van ’n juk en ’n las?
  • Hoe ek dit sien, is dat ons as gelowiges nou almal saam in een span trek.
  • Dis soos ’n reuse span osse wat die wa van Jesus se koninkryk vorentoe help trek.
  • Ons staan mos nie los van mekaar as medegelowiges nie.
  • En ons staan mos ook nie los van Jesus en sy saak nie.
  • Nee, ons is juis nou almal deel van Jesus se groot aksie in hierdie wêreld, van hoe Hy sy liefde en verlossing oral in die wêreld versprei.
  • So, ek is ook ingespan in Jesus se span, en ek moet ook saam trek in sy span.
  • Maar dis ’n ander soort span as die Fariseërs s’n.
  • Want in Jesus se span is die juk sag en die las lig.

#  Maar kom ons vra ook nog: Hoekom sê Jesus sy juk is sag en sy las is lig?

  • Ek dink dit help ons om te onthou hoe Jesus die wet van God opgesom het.
  • Hy het mos die wet opgesom deur te sê dat ons God bo alles moet liefhê en ons medemens soos onsself.
  • M.a.w.: liefde is die groot geheim!
  • Liefde maak van Jesus se juk ’n sagte juk en van sy las ’n ligte las.
  • Want in Jesus se soort godsdiens doen ek wat ek doen uit liefde.
  • Uit liefde vir Hom, en uit liefde vir my medemens.
  • En daarom wil ek dit ook doen.
  • Dis nie vir my ’n swaar las nie.
  • Nee, dis ’n ligte las, want dit gaan eintlik maar net oor ’n lewe van liefde wat die Here van ons verwag.

#  As gelowiges trek ons almal saam in Jesus se span.

  • En daarom is daar tog ’n juk en ’n las wat op ons druk – wel ’n sagte juk en ’n ligte las, maar tog nog ’n juk en ’n las.
  • En wat is ons juk en ons las?
  • Ek dink dit is veral die swaarkry van ander mense.
  • Waar ons sien dat mense swaarkry, sal dit altyd soos ’n juk en ’n las op ons druk.
  • Sal dit ons altyd pla.
  • En sal ons hopelik ook iets daaraan wil doen.
  • Aan die lot van arm mense, en siekes, en eensames, en bedroefdes.
  • En in hierdie tyd is dit vir ons so ’n skok om amper daagliks herinner te word aan die verskriklike lot van so baie vroue en kinders in ons land, en aan hoe wreed mans dikwels teenoor hulle optree.
  • Hierdie krisis kan mos nie anders as om ook soos ’n juk en ’n las op ons te druk nie.
  • Net soos al die ander swaarkry van mense waarvan ons bewus is.
  • En waar ons ook al kan, dáár moet ons ’n verskil maak met Jesus se liefde.
  • En al kan ons dalk net een persoon se swaarkry in hierdie week help verlig, dan is dít waarvoor Jesus ons roep.

#  Ware godsdiens is om met die regte juk en die regte las op ons skouers te leef, met Jesus s’n.

  • Kom ons trek dan elke dag saam in sy span.
  • En kom ons ervaar hoe sy sagte juk en sy ligte las ons eintlik ook tot rus laat kom by Hom!

AMEN

css.php