Afgode?

 

Votum:

Deut 6:4 Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Amen

Seëngroet:

Pet 1:2 Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here!

Teks: Eks 20: 1-5a

Ek wil vanoggend graag die fokus laat val op die eerste 5 verse wat vra dat die Here ons enigste God moet wees en dat ons geen ander gode moet aanbid nie.

Hierdie gedeelte is vir baie van ons al so bekend, dat ons soms dit hoor maar dit eintlik nie meer hoor nie. Kom ons probeer daarna luister asof vir die eerste keer.

Eksodus 20:1-17 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig: (2) “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. (3) Jy mag naas My geen ander gode hê nie. (4) Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. (5) Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My.

7. Preek:

As ons na die gedeelte kyk, moet ons onthou dat die 10 gebooie nie gister vir gelowiges gegee is of met die laaste algemene sinode se sitting nie. Daar word gereken dat dit aan Israel gegee is tussen 1600 – 1300 jaar voor Christus! Dus: meer as 3300 jaar terug! Daarom moet ons verstaan hoekom die Here dit vir die Israeliete gegee het as ons wil begryp wat dit vir my en jou vandag beteken.

Iemand vergelyk dit met die handleiding van ‘n nuwe motor vandag. Jy het die kar gekoop, maar eintlik weet jy niks van die kar af nie. Jy weet nie hoe werk die instrumentepaneel nie, en waarvoor is elke knoppie en liggie nie. En dan is dit baie belangrik dat jy die handleiding sal lees. As jy dit nie doen nie, kan jy verongeluk! Dis nie ‘n straf nie, maar ‘n hulp.

Die Bybel vertel ons dat hulle as volk ongeveer 430 jaar lank in Egipte gebly het. Maar God het hulle nie vergeet nie. Hy het hulle nie nodig gehad nie, maar Hy kies om hulle steeds lief te hê en besluit om hulle deur Moses te lei uit Egipte na hul eie land toe. Maar in die tyd het baie van hulle van God vergeet, die Egiptiese gode begin aanbid of sommer net hul eie kop begin volg. Die pad wat vooorgelê het was lank en daarom gee die Here, omdat Hy lief was vir hulle, ‘n handleiding. In daardie tyd was die inleiding van ‘n dokument dan ook die belangrikste. Ook so met die 10 gebooie. Soos wat die 2

twee skarniere van ‘n deur die belangrikste van ‘n deur is om te kan werk, is hierdie 2 inleidende verse die heel belangrikste vir Israel op hul onbekende pad die toekoms in: (1) dit is die Here wat hulle bevry het uit Egipte en (2) Hy is die enigste God wat hulle mag en moet aanbid. In die Ou Testament word ten minste 13x hierna verwys en in die Nuwe Testament 4 keer.

Baie jare later, eggo Jesus dit as Hy sê:

Mat 22:37-39 Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. (38) Dit is die grootste en die eerste gebod. (39) En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

Vir baie lank in my lewe het ek gedink as ek die 10 gebooie begin doen, sal ek gered word, sal ek nie hel toe gaan nie. En elke keer as ek dit oortree het, het twyfel my weer beetgepak en het ek gewonder hoe op dees aarde ek ooit gered kan word, want vir elke 1 keer wat ek dit reggekry het, het ek seker 5 keer dit nie reggekry nie. Later het die 10 gebooie my bang gemaak omdat dit elke dag net vir my gewys het op my sondes.

Maar dit was nie die bedoeling van God met die wet nie. Sy bedoeling was juis om hulle te help om gelukkig te wees. Om rêgtig vry te wees om as vry mense, van buite en binne te lewe. Ons kan net word wat ons bedoel is om te wees as God die enigste God in ons lewens is.

Dit het my so laat dink aan die lawwe storie wat Tolla vd Merwe of iemand anders vertel het van die boer wat ‘n visdammetjie in sy voortuin gehad het met ‘n pragtige Koivis wat homself geniet het in die dammetjie met genoeg water en kos en skuilplek. Maar toe kom daar ‘n droogte en met die het die water ook begin minder raak. Later was die vis net halflyf in die water. Toe begin daar sulke pootjies uitgroei onder die vis se maag en toe die dammetjie later leeg is, kon die vis gemaklik stap op die bodem van die dammetjie. Maar so het die vis later op die werf begin rondstap en saam met die honde geëet en as die boer ry, agter op die bakkie gespring en saamgery. Maar saans het hy in sy leë dammetjie geslaap. Toe, op ‘n dag, bars daar ‘n wolkbreuk op die plaas uit in die nag en die dammetjie het skielik vol geword. En toe versuip die vis!

Nou vertel ek die simpel storie sodat ons dit dalk beter sal onthou, maar ons weet ook almal dat dit onmoontlik is! As daar nie water was nie, as die vis nie beperk was tot die dammetjie met water in nie, sou hy vir seker gevrek het. Sy beperktheid tot die water en dammetjie was juis sy waarborg dat hy vry sal wees! As God vir ons beperkings gee deur die wet, dan is dit nie om ons vryheid weg te neem nie, maar juis sodat ons die ware lewe kan lei. Dis juis ‘n handleiding om vryheid en vrede te beleef. Daarsonder val alles uit mekaar. En sien ons dit nie rondom ons gebeur nie? Die haat en geweld, die korrupsie en uitbuiting, die moord en die disrespek vir menslike lewe, die seksuele misdrywe, die gebroke huwelike en stukkende kinders, die uitbranding agv oorskatting van ons arbeid, die smag na geld en besittings, die diefstal, die blatante liegtery en bedrog, die onbeteuelde begeertes en vergrype, die diepe selfsug – in ons samelewing en wereldwyd – is oorweldigend. Hoekom is dit alles so? Omdat mense buite die dam van God se liefde en genade op hulle eie wil lewe. Omdat Hy nie die enigste Here van hul lewens is nie. 3

Hoor hoe raak sê Dallas Willard dit:

The 10 commandments are God’s gift of specific information on how best to conduct human existence.

Of in Jesus se eie woorde:

Mat 6:24 Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.

Jesus gee nie hier ‘n nuwe wet nie, maar hy praat oor die werklikheid. Mens kan eintlik net een God gehoorsaam. En as jy die lewe wil ontvang wat Jesus belowe, moet Hy die enigste God in ons lewens wees.

So, wat is die ander afgode in ons lewens? Eintlik is dit in die eerste plek nie dinge nie, maar wanneer ek toelaat dat my eie natuurlike begeertes en drange en denke my op ‘n pad bring waar God nie meer voor loop nie. En dis dan wanneer die wrange vrugte gedra word wat ek ‘n flussies genoem het. En die ergste is dat ek en jy op ons soeke na geluk juis dan al hoe meer ongelukkig raak. Wanneer genoeg nie meer genoeg is nie en vrede in jou hart en lewe verdwyn en mense om jou net gebruiksartikels word. Die sleg van ander gode in my lewe is dat hulle jou lok maar dan uitspoeg.

Baie jare terug vertel dr Jan Grey in ‘n preekreeks by ons gemeente in King William’s Town van hoe hy self ‘n rowwe lewe in sy jong lewe gelei het. Maar soos Augustinus se ma, het sy ma aanhou bid vir hom. Hy kom tot bekering en gaan leer vir ‘n dominee. Op ‘n dag besluit hy om vir ‘n drinkerspêl van sy vorige lewe te gaan kuier – ek dink sy naam van Japie. Maar toe vind hy uit Japie sit in die tronk vanweë al die verkeerde gode in sy lewe. Hy gaan sit toe om met hom te gesels; Jan dié kant van die tralies en Japie agter die tralies. Op ‘n stadium vra hy vir Japie: “Japie, hoekom gee jy nie jou lewe vir die Here nie?” En weet julle wat sê Japie? “Aaaag, ou Jan, ek ‘guess’ ek wil eers nog ‘n bietjie die lewe geniet”! Hy wil die lewe geniet, maar hy sit agter die tralies. Dis hoe die afgode van die wêreld jou belieg en jou lewe van jou steel.

As ons nou moet dink aan vandag se afgode, dan sal daar seker ‘n lang lys opgestel kan word: Geld, karre, beroemdheid, mooi meisies of manne, pornografie, status, Facebook en nog baie meer. Maar die ou kerkhervormer, Martin Luther, skiet ‘n kolskoot as hy sê:

Waaraan jy jou hart hang, jou op verlaat, dit is eintlik jou god!”

En dit is ‘n baie persoonlike vraag wat jy alleen in eerlikheid voor die Here kan antwoord. Wil jy nie vandag of môre in gebed voor die Here vra dat die Heilige Gees jou sal lei om te sien waarnaan ek en jy ons harte hang nie?

Ek sluit af: Beteken dit nou dat ek en jy eers werklik ‘n sinvolle lewe sal kan lei as ons die wet volkom hou? Nee, want ons weet elkeen dat ons feilbare en sondige mense is en dikwels ons harte ook aan ander goed hang. Die enigste weg om die lewe te ontvang, is om Jesus te volg. Naby Hom te bly. En dan staan die wet soos 4

waarskuwingstekens langs die pad wat die Heilige Gees jou bewus van maak en wat wys op die paaie na afgronde. Dan wil die wet ons help met regte keuses op ons pad agter Jesus aan. Ja, soms draai ons af en stap ons in die verkeerde rigting. Maar dis dan wanneer Jesus se woorde ook vir jou en my bedoel is:

Mat 11:28-30 Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. (29) Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. (30) My juk is sag en my las is lig.”

Amen

css.php