Wanneer word 'n profeet gehoor?
Verwelkoming:
Hallo almal – mense sukkel om te verstaan en te verwerk wat alles met ons gebeur in hierdie tyd – ons as gelowiges kom saam met die oortuiging dat Jesus self by ons is en dat Hy ons bron van hoop is – ons is nog in hierdie wêreld, maar Hy het hierdie wêreld klaar oorwin…
Ons is ook bevooreg saam met Liana Lubbe om haar dogtertjie Imke vanoggend te doop.
Seëngroet:
Ons het ‘n eie openbaring nodig, ons Vader wat ons sy heerlikheid en genade wys; daarom begin ons vanoggend met Joh se groet aan die 7 gemeentes aan die begin van Openbaring:
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.
Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.
Skriflesing:
Markus 6:1-13
Preek:
Ek dink alle dominees onthou dit: daardie eerste keer wat jy moes opstaan en voor jou eie familie moes preek. Voor die tyd kon ek agter kom my pa het ernstige twyfel gehad of hierdie seun van hom hierdie takie sal kan baasraak. Na die tyd kon ek darem sien daar is ’n bietjie verligting, selfs’n bietjie trots; hy het iets gesê soos: “dit lyk darem of jy dit sal kan doen.” Prediking is iets anders as ander vaardighede soos sê maar musiek of sport wat ouers so geleidelik saam met hulle kinders ontdek. Prediking is iets gevaarlik publiek wat voortvloei uit iets intens privaat. Ouers en ander wat jou sien grootword het sal geneig wees om skaam te voel oor iets so diep persoonlik wat nou hier voor almal bekend gemaak word – en almal voel weerloos in so ’n situasie.
En natuurlik was Jesus heelwat meer as jou gemiddelde gemeentepredikant. Jesus tree vir die eerste keer in die sinagoge van sy tuisdorp, Nasaret op. Natuurlik het die stories oor Hom Hom vooruitgegaan. Hulle moes geweet het van sy onvergelykbare lering (hoogs waarskynlik was dit sy gelykenisse wat so anders was as iets waarmee hulle nog ooit voorheen kennis gemaak het) asook die wonderwerke. Aan die einde van Mark 4 lees ons van sy dissipels wat met “groot ontsag” vervul is as selfs die golwe en die wind na Hom lusiter en aan die einde van Mark 5 (verlede Sondag se teks) was die mense “stom van verbasing” as die dogtertjie uit die dood uit wakker word. En aanvanklik is die locals in Nasaret “aangegryp”, en het hulle gewonder: “Waar kom Hy aan al hierdie dinge en watter besondere gawe van wysheid het Hy dat daar sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind?”
Maar ten spyte van dit alles, iets wat onteenseglik reg voor hulle oë gebeur, kies hulle om Hom te verwerp. “Hulle wou niks van Hom weet nie”. Letterlik: “hulle het aanstoot aan Hom geneem”. Wie dink hierdie Laaitie wat voor ons grootgeword het is Hy? Natuurlik sê dit iets van hoe kragtig ons vooroordele is. Maar daar is ook iets dieper, glo ek wat hulle terughou: die waarheid wat Jesus bring is ontwrigtend; sy leringe, sy wonderwerke daag alles oor hulle(ons!) godsdiens en hulle uitkyk en hulle manier van lewe uit; en om Hom te kan afmaak as maar “net ’n timmerman” uit die huis van Maria is ’n baie handige verskoning.
Ek is bly dat Markus opmerk dat Jesus “verbaas was oor die ongeloof van die mense.” Om met mense te werk en te wonder wat hulle gedagtes en lewenswyse kan verander kan nogal ontnugterend wees. Mense skop vas – hulle vrees enige iets vreemds en anders wat kan maak dat hulle hul greep op die lewe verloor – selfs al is dit tot jou eie en jou mede-mens se nadeel, soos nou met die pandemie.
Ek is verskriklik bekommerd: ek lees dat Dischem bekend gemaak het dat net 30% van die 60plussers wat geregistreer het vir die inenting opgedaag het vir hulle afsprake. En ek weet iemand gaan vir my ’n e-pos stuur hieroor, maar 99% van wetenskaplikes oor die wêreld heen stem saam dat ons bevoorreg is om beide veilige en effektiewe vaksienes te hê – ons enigste hoop om die pandemie agter ons te sit met al sy fisiese en emosionele impak, nou wat die lewensreddende inenting hier is (data in ander lande bevestig dit), nou wil ons dit nie neem nie.
Maar so is mense – ek ook. Ons het die verbysterende vermoë om te glo wat ons wil glo. Ons leef in ’n verskriklike tyd waar elke jan rap en sy maat ’n megafoon het om op die Internet elke gevaarlike (en dikwels onwaar of moedswilige) mening te kan vlerke gee. Ons is, meer as wat goed is vir ons, bewus van hoe groot, hoe kompleks, hoe verandered, hoe gevaarlik en hoe onbetroubaar ons wêreld is. Ons beleef ’n gebrek aan sekuriteit en dit maak ons bang en laat ons terugtrek in ons laers van gevestigde oortuigings. Ons sukkel om oopkop te bly en eerlik te kyk en te luister.
Jesus se uitstuur van sy twaalf dissipels kom op ’n baie spesifieke tyd in die groei van die Jesus-beweging; die koms van God se koninkryk. In Markus se evangelie is Hoofstuk 6 ’n tipe van ’n tipping point. Dit word duidelik dat mense nie net beïndruk gaan wees en Jesus gaan volg nie, maar dat hulle ook teen Hom gaan draai en Hom gaan verwerp. Selfs sy eie dorp, sy eie familie (waarvan van hulle darem later gelowiges sou word, soos Jakobus die broer van Jesus wat die kerkleier in Jerusalem sou wees). Dit sou die laaste keer in die Markusevangelie wees dat Jesus in ’n sinagoge kom – die godsdienstige establishment sou toenemend teen Hom draai.
In hierdie kort vensterperiode stuur Jesus se dissipels om soveel as moontlik impak te maak – om die koninkryk te gaan verteenwoordig met die gesag wat Hy vir hulle gee. Hulle dryf ook bose geeste uit en maak ook siekes gesond. Hulle verkondig dat mense hulle moet bekeer. Hulle moet lig reis en in weerloosheid, sonder persoonlike sekuriteit, aangewese net op God soos wat Hy aan hulle voorsien deur die gasvryheid van mense voortgaan op hulle sending. Wanneer mense nie wil luister nie, m.a.w. in ongeloof reageer, moet hulle nie tyd verspil nie – maar tog, as ’n simboliese handeling die stof van hulle voete afskud as ’n aanklag teen daardie mense.
Ons het die hele Pinkster spandeer om dit vir mekaar uit te spel: ons is almal God se geroepens en gestuurdes. Ons het almal ook hierdie profetiese rol. Die profete in die OT moes die wil van die Here vir spesifieke omstandighede aan mense bekend maak. In sommige omstandighede kon hulle ongemaklik reguit wees. Hulle het onreg en die gevolge daarvan op die naam genoem. Ek erken ruiterlik dat dit vir my verskriklik moeilik is. Ek probeer getrou wees – ek bestudeer die Woord, ek probeer luister na die Here, ek probeer mooi oplet en onderskei. Maar steeds wonder ek – hoe weet ek dit is nie net my opinie nie; hoe ver kan ek gaan voor ek mense vervreem en hulle in elk geval nie meer na my luister nie – of is ek net bang om as persoon verwerp of gekritiseer te word?
Ek wil jou weer herinner aan die vrae van Pinkster: wil jy vir Jesus volg? Sien jy die hoop in jou roeping – die heerlikheid op die kruispad? Want dit gaan moeilik wees. En dit gaan wonderlik wees. En die wêreld het dit so nodig!
Wat doen ons nou: in hierdie tye van verwarring, van ongeloof, van hardkoppigheid en hopeloosheid?
Ons ken die basics – dit is tyd dat ons dit begin doen!! Kom ek recap:
Vind jou daaglikse ritmes in die teenwoordigheid van Jesus. Hoekom? Want jy kan nie sonder die onderhoudende krag van sy liefde en die leiding van sy Gees nie. Ons roeping is nie om menings oor reg en verkeerd te hê en dit aan almal te probeer smous nie – menings is daar genoeg en dit lyk nie of enige-iemand meer met argumente ’n duik maak in iemand anders s’n nie.
Ons moet (soos in Fil 2:5) leer oor die gesindheid/gedagtes van Jesus, op so ’n manier dat dit ons eie word. ’n Wandelende lees van die evangelies kan ons baie hiermee help – daardie tweede natuur moet ons eerste natuur word (vir die wat die verwysing uit pinkster onthou). Net voorbeelde het enige oortuigingskrag.
Onthou ook dat nie een van ons al die wysheid in pag het nie. Ons bly groei, laat ruimte daarvoor – wees geduldig en genadig met jouself en met ander mense. Jou geloof dat mense kan verander kan hulle help om te verander!
Probeer oopkop bly; vertrou die Gees van Jesus wat op verrassende wyse na jou kan kom en dat dit verrykend kan wees. En probeer eerlik wees – eerlik oor die vrug in jou eie lewe; oor die rede vir jou reakies op sekere goed. En let ook eerlik op die vrug in mense se lewens met wie jy jou assosiëer.
Onthou: ons verteenwoordiging van die Here se koninkryk is voorlopig en ons het altyd weer en weer bekering nodig.
Ek en jy kan nie die wêreld verander nie; ons kan net getrou wees. Met wie en wat jy is, met wat die Here jou gegee het, daar waar Hy jou geplaas het – maak die verskil; wees die alternatief.
En laastens, moenie bang wees nie, Hy gaan saam en Hy gee jou sy gesag. As jy vanuit liefde kyk, sal jou hart vir jou sê waar die onreg is. En as jy dit sien, moet jy dit sê, jy moet iets daaraan doen.
En hier is my twee sent vir jou om te weeg vir vandag: as ons alles wat ons vandag weet eerlik opweeg, dink ek die common good, die welstand van ons almal weeg die swaarste: asb, gaan kry jou inenting as dit enigsins vir jou moontlik is. Amen.
Doop:
In vanoggend se gedeelte lees ons hoe Jesus se eie tuisdorp en familie Hom verwerp het – op ’n ander plek sê Hy, as sy moeder en broers hom soek, dat sy dissipels en almal wat God se wil doen sy familie is.
Is Jesus dan negatief oor familie? Nee, glad nie – dit is sy belangrikste instrument om kinders te vorm in geloof.
Maar saam met met al die wonderlike dinge van families, kan families ons ook verkeerde dinge leer – ons op verkeerde maniere vorm; selfs al het ons ’n wonderlike familie – dalk ’n verkeerde manier om konflik op te los of rassime..
Hulle kan ons ook vashou of inperk omdat hulle dink hulle ken ons en daarom verwag hulle nie dat ons dalk in staat is tot meer en beter nie.
Daarom, Liana, wil ek voor die doop net twee goed vir jou as ma sê:
- As ons agterkom daar is iets verkeerd in ons lewe, moet ons terugdraai na die Here; bekering is aan die hart van die doop.
- En tweedens: hou klein Imke styf genoeg vas dat sy nie seekry nie, maar lig genoeg dat sy haar eie mens kan wees; die Here leen ons kinders vir ons om hulle voor te berei vir hulle roeping in sy koninkryk. Ons besit hulle nie om hulle te maak soos ons hulle wil hê nie.
Vrae vir oordenking en bespreking in groepe:
- Let jy op dat jy terugtrek? Wat maak jou tans bang, onseker en verward?
- Na watter “profete” luister jy? Is hulle betroubaar?
- Hoe lyk jou voorbeeld? Kan mense iets van Jesus in jou sien?
- As jy dink aan die voorbeeld van Jesus se liefde: kan dit jou help om meer te waag?
- Wat is die volgende tree in jou geloofsreis?
