''n Hart verskeur...
Votum/ seëngroet:
Toe Israel nog ’n kind was, het ek hom al liefgehad, en ek het hom, my seun uit Egipte geroep
Jou pad met die Here se begin? Tekens van sy liefde? Van waar het Hy jou geroep?
Skriflesing: Hos 11:1-11
Preek:
Dit is veral wat Israel gedefiniëer het: Hulle is die volk wat deur die Here hulle God uit Egipte verlos is. Egipte: die plek van fisiese en geestelike slawerny. As slaaf het jy geen waarde of identiteit nie. Jy is maar net ’n ratjie in die magtige Empire se masjien. Volgens antieke logika moes hulle gode sterkter wees as jou God. Hoe ver moes die beloftes van die Here nie gevoel het nie – hoe onoortuigend die stories van die voorgeslagte oor God se beloftes aan Abraham, Isak en Jakob en sy pad met hulle, 400jr gelede!!
Die beloftes van ’n groot en geseënde nasie, in hulle eie land. ’n Volk, so geseën, dat hulle vir al die nasies van die wêreld tot seën sal wees.
Maar toe hulle Hom by die berg Sinaï ontmoet het, na daardie dramatiese bevryding met plae en ’n pad deur die see, moes dit vir hulle duidelik gewees het: Hy is die enigste God – hulle God; die God wat hulle uit Egipte, uit die plek van die slawerny Bevry het. Dit is sy definisie, en hulle s’n: Hy is die Verlosser en hulle is die Verlostes!
En as teken van hierdie unieke identiteit, gee die Here sy wet, sy voorskrifte vir vryheid. Dit is hoe sy mense wys hulle is anders.
Nooit weer sal hulle hoef te twyfel wie die Here is en wie hulle is nie? Reg? Verkeerd…
Wat gebeur in die Here se hart as ons wegdraai, ons harte verhard, voorgee ons eer Hom, maar ons harte is ver van Hom, verkeerde paaie stap, afgode vereer? Hosea is een van die profetiese boeke wat vir ons op sulke intieme maniere beskryf wat in ons Vader se hart gebeur. Dalk is daar van ons wat onthou dat Hosea die profeet is wat van die Here die opdrag kry om met ’n prostituut te trou. Sodat sy huwelik die voorbeeld kan word van die pyn van ontrouheid.
Die profesie in hoofstuk 2 het baie dieselfde dinamika as hoofstuk 11. God is die man en Israel is die Vrou. Eers die hartseer oor die Vrou se ontrouheid. Dan die aankondiging van oordeel. En dan die Here se hunkering na volkome herstel van gemeenskap:
“13Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê. 14Wanneer ons daar is, sal Ek weer vir haar wingerde gee, Ek sal die Akorlaagte ‘n poort na ‘n nuwe toekoms maak. Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het.”
Die pyn vir die Here is soos ’n eggenoot wie se huweliksmaat ontrou aan hom/haar was. Dit is soos ’n ouer wie se oogappelkind niks meer met hulle te doen wil hê nie. Dis hartverskeurend. God as die ouer in Hos 11 het alles gedoen, daar was opregte liefde, omgee en versorging:
“1Toe Israel nog ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep…3Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra, maar hulle wou nie erken dat dit Ek is wat vir hulle sorg nie. 4Ek het hulle met sorg en liefde gelei, Ek was vir hulle soos iemand wat die juk oplig as dit sy trekdier skaaf.”
En ten spyte van die pyn, bly die Ouer se hart hunker; Hy kan nie die kind afskryf nie Soos die Pa in die gelykenis bly sy oë op die horison vir ’n teken dat die verlore seun huis toe kom:
“8Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.”
So goed as wat mensetaal en mensebeelde dit kan beskryf, sien ons die tweestryd in die Vader se hart as die ondenkbare gebeur: dat hierdie troue liefde van ’n minnaar en van ’n ouer verwerp word.
Wie kies slawerny, as hulle vryheid gegee word; tydelike genot as hulle ware liefde aangebied word; krummels as hulle oorvloed kan geniet; die dood as hulle die lewe kan kry; afgode as hulle die enigste ware God kan dien?
Israel kies dit. Die kerk kies dit. Ons kies dit. Dis onverstaanbaar, maar weer en weer doen ons dit. Ons weet liefde is beter as haat. Ons weet vergifnis is beter as wraak. Diens beter as oorheerings en mag. Goedheid beter as geweld. Genade beter as oordeel. Om te gee beter as om te ontvang. Skatte in die hemel beter as skatte op aarde. Die koninkryk van God van veel meer waarde as al die koninkryke van die wêreld.
Maar wat wys ons lewe?
Daar is ’n aspek van die storie wat ons tot nou toe Vermy het. En miskien Vermy ons dit maar so ver as moontlik. God se oordeel. Die straf in die OT van vernietiging en ballingskap is nogal oorweldigend in die felheid daarvan. Die idee van God se toorn en woede waarvan ons lees maak ons bang. Sommige mense verwys graag daarna – hoe die Here sekere mense gaan straf. Verlekker hulle selfs daarin.
En die ongemak is verder: Jesus praat ook daarvan: hoe seker mense in Gehenna (ons vertaling, hel) se brandende vuur gegooi sal beland.
Ons lees ook van die eindoordeel in Op 20: van die vuurpoel waarin die duiwel en sy volgelinge gaan beland. Ook die mense wie se name nie in die boek van die lewe geskryf staan nie.
Ons sal nooit al die gegewens in die Bybel hieroor ten volle kan verstaan nie, maar die volgende opmerkings dink ek is belangrik:
1) Kom ons gee maar nie voor ons verstaan die eindoordeel (hemel en hel) te goed nie. Die verwysings daarna is eintlik min en beeldryk. Ons tradisionele verbeelding daaroor is baie meer deur ’n klomp ander goed gevorm as deur die boodskap van die Bybel self.
2) In die Bybelse tyd was daar rondreisende regters wat die dorpies besoek het. Die “dag van oordeel” was iets waarna mense uitgesien het. Geregtigheid sou geskied. Dinge sou weer reggestel word. Boosheid sou nie sommer net, sonder gevolge, kan voortgaan nie. En iets hiervan kan ons verstaan of hoe? As daar geen gevolge was nie, hoe sou die wêreld dan gelyk het?
3) Want dit is die punt, soos ons teks sê: “Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ‘n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.” Die oordeel kom God toe, dank God! Hy is nie wraaksugtig en bevooroordeel nie. Daar is geen balk of selfs splinter in sy eie oog wat Hy eers moet verwyder nie. Ons wêreld het regstelling nodig. Ons kan die oordeel geheel en al aan Hom oorlaat, wat ’n verligting – ons kan liefhê en genade betoon sonder grense!
Ek en jy het soms die loutering van sy vuur nodig om werklik vry te wees, om werklik die lewe in oorvloed te ken.
Want ons sien die vreeslike gevolge van die mensdom wat sy rug draai op God, van die Vader se stukkende hart, in die gesig van Jesus aan die kruis. Daar ontmoet God se oordeel en liefde mekaar in genade. Daar wen die liefde as God die gevolge op Homself neem.
Want Hy kan ons nie prysgee nie, Hy kan ons nie laat vaar nie. Hy kan dit nie oor sy hart kry nie – sy liefde brand te sterk.
Hy sit weer sy hart op die tafel. Die minnaar. Die liefdevolle ouer. Hy bied weer sy liefde aan om ons terug te wen. Ons kan weer die dolk in sy hart steek, of ons kan ook ons harte in liefde aanbied. Amen.
Gebed:
Kom bied weer jouself aan
