Ontvangers van die belofte
Verwelkoming:
Die Drie Enige God nooi deur al die eeue nog vir mense in gemeenskap met Hom…
Votum/seëngroet:
Psalm 105
1Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het.
5Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het,
aan sy wonders, aan die reddingsdade op sy bevel,
6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob vir wie Hy uitverkies het.
7Hy, die Here, is ons God;
sy reddingsdade strek oor die hele aarde.
8Hy hou sy verbond altyd in stand,
die belofte wat Hy aan duisende geslagte toegesê het,
9die verbond wat Hy met Abraham gesluit het,
sy eed aan Isak.
10Hy het dit vir Jakob bevestig as ‘n vaste toesegging,
vir Israel as verbond wat altyd sal bestaan.
Gebed:
Skriflesing:
Gen 29:15-28
Preek:
Ons bly nog so ’n bietjie by die storie van Jakob. En ons moet erken, hierdie is ’n vreemde verhaal waar mense nie lekker seker is wat jy moet aflei nie. Wat wil die Here nou vir ons hierdeur sê of leer?
Jakob sluit aan by die baie goeie Bybelse tradisie van feilbare helde. Of eintlik het die Bybel nie helde nie. Net mense wat soms wel ongewone dinge en goeie dinge dinge doen, bemagtig deur geloof. Want eintlik bly God in die Bybel natuurlik altyd die Hoofkarakter – die protagonis.
Ons het in ons Bybelskool 2 nou begin met die boek Genesis (en jy is welkom om nog by ons aan te sluit!). Ons het nou al geleer dat die ander volke van daardie tyd, net soos Israel, ook stories gehad het oor hulle gode se rol in die skepping van die wêreld en hulle volk se plek daarin – sg. oorsprongstories (waar kom ons vandaan, wie is ons, waar pas ons in. Maar anders as in die Bybel, is die mense hier die helde. Aan die begin was dinge sleg, maar die mens, deur sy vindingrykheid en wysheid, maak dinge geleidelik beter. Die gode is maar ’n wispelturige klompie met beperkte mag – soms help hulle, soms hinder hulle.
Maar die Bybel (Genesis) is brutaal eerlik oor die mense. Wat natuurlik baie meer realisties is. Want, so is die Bybel se boodskap – mense kan nie regkom sonder God nie. Mense kan hulself nie red nie. Hulle het God nodig. Die begin van alle menslike probleme lê by die mens se behoefte om self God te wees (sondeval), self in beheer te wees – by ‘n ongesonde vertroue in sy/haar eie vermoë.
Ons weet Jakob is ’n ’n schemer, ’n bedrieër. Slinks. ’n Man met ’n plan. (Ons kultuur het mos eintlik so ’n bietjie heimlike respek vir so iemand – Musk?). Hy bedrieg sy broer Esau en sy Pa Jakob deur hulle swakhede uit te buit – en onthou, met sy ma, wie se witbroodjie hy was, se hulp. Hy wurm homself eintlik in God se plan en in die groot Bybelverhaal in (Die God van A, I en J – iets van God se vrye genade!) Deurgaans nou nie juis ’n voorbeeld van ’n gesonde, Christelike familie nie. Ek dink een van die belangrikste punte van ons verhaal is dat wat Jakob nou aan ander gedoen het, terugkom na hom nie. Hy ontsnap nie die gevolge van sy dade nie. Miskien sien ons iets van God se geregtigheid.
As ons verby ons Kinderbybel romantisering van hierdie verhale kan kom, moet ons BAIE vrae hê – en die Bybel dui nie altyd vir ons aan wat ons moet voel, dink, of aflei nie. Duidelik staan hierdie kulturele gebruike baie ver van ons s’n. Eerstens was troues binne families duidelik nie ‘n probleem nie. (Albei vrouens is niggies van Jakob!) Die plek van die vrouens is natuurlik ’n groot uitdaging. Ons weet nie wat hulle voel nie. Ons weet nie wat hulle wil hê nie. Die mans reël hulle lot. En hulle word duidelik nog so ’n bietjie geobjektiveer. Twee susters trou met dieselfde man – en hy is duidelik lief vir die een en nie vir die ander nie – en ’n jarelange tweestryd volg – basies oor wie vir Jakob kan kinders gee. En dan kom die twee slavinne ook sommer in die prentjie. Hulle word ook sommer vir Jakob gegee om kinders by hom te verwek as die vrouens dit nie meer self kan doen nie. Uit Jakob se 12 kinders, die vaders van die 12 stamme van Israel, is vier by die slavinne.
Vreemd, maar tog nader aan die huis as wat ons dink. Selfs oor al die jare en oor hierdie geweldige verskil tussen hulle kultuur en ons kultuur is dit nie “hulle” nie. Dit is “ons”. Hulle is ons. Ons is ver van perfek af. Ons is niks beter nie. Ons families is ook maar morsig en dikwels gebreek, selfs al probeer ons die beeld van ’n wonderlike Christen gesin op Facebook lewendig hou. Ons maak mekaar doelbewus en onbewustelik seer. Ons stel ons eie belange eerste en doen nie wat in die beste belang van ander en die groter prentjie is nie. Ons vra nie vir ander met minder mag en invloed as ons hoe ons besluite hulle lewe raak nie – en dit kan mens wat onder ons werk, ons kinders insluit.
Die doel van hierdie familie is om vir ons te wys hoe God besluit het om deur hulle die hele wêreld te red en te herstel. Hy gee aan hulle, in hulle voorvader Abraham, ’n vyfvoudige belofte as ’n antwoord op die vyfvoudige vloek oor Adam en Eva (die mensdom).
Die mensdom, ons is verlore en gebroke. Maar Hy het ’n plan om dit te herstel. Maar dit is duidelik nie maklik nie. En dit gebeur nie oornag nie. En dit word definitief nie moontlik gemaak deur mense se goedheid en wysheid nie. Goddank. Maar tog bly ons deel van die plan en belangrik daarin. Sal ons sy genade ooit kan peil?
In elke kwesbare oomblik is Hy weer daar om sy beloftes te bevestig. Toe Jakob moes vlug van sy broer Esau, in die nag en op sy klipkussing droom:(S8) “13Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. 14Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees. 15Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.” (Gen 28)
En as hy dan besluit om terug te gaan na sy familie, na hy eintlik eers gevlug het van sy oom Laban maar toe tog op goeie voet uitmekaar is:(S9) ““Here, God van my voorvader Abraham, God van my vader Isak, U wat vir my gesê het om terug te gaan na my land en my familie toe en U sal goed doen aan my, 10ek is al u gunsbewyse nie werd nie, ook nie die trou waarmee U my versorg het nie. Toe ek destyds deur die Jordaan is, het ek net my kierie gehad, en nou het ek hierdie twee groot groepe. 11Red my tog uit die mag van my broer Esau, ek is bang vir hom. Hy kan dalk kom en my doodmaak, en ook die moeders en kinders. 12U het my tog beloof: Ek sal beslis goed doen aan jou, Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sand van die see, wat nie getel kan word nie.” (Gen 32) En dan stoei hy die nag met die engel, met God – en hy kry ’n nuwe naam: Israel.
En na hy vrede kon maak met sy broer en tuisgekom het, het hy weer vir Bet-El besoek, daardie “Huis van God” waar hy die droom van die engeleleer gehad het, bevestig God weer sy belofte aan Jakob, aan hierdie familie: (S10) “God het vir hom gesê: “Jy is Jakob, maar jy sal nie langer Jakob genoem word nie. Jou naam sal Israel wees.”God het hom toe Israel genoem. 11God het verder vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word ‘n groot nasie. Baie nasies sal van jou afstam. Jy sal die voorvader wees van konings. 12Hierdie land wat Ek aan Abraham en aan Isak gegee het, sal Ek aan jou gee en ná jou gee Ek dit aan jou nageslag.” (Gen 35).
Psalm 105
6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob vir wie Hy uitverkies het.
7Hy, die Here, is ons God;
sy reddingsdade strek oor die hele aarde.
8Hy hou sy verbond altyd in stand,
die belofte wat Hy aan duisende geslagte toegesê het,
9die verbond wat Hy met Abraham gesluit het,
sy eed aan Isak.
10Hy het dit vir Jakob bevestig as ‘n vaste toesegging,
vir Israel as verbond wat altyd sal bestaan.
Die God van Israel is jou God. Net soos Jakob het Hy jou gekies, uit pure genade. Jy is die ontvanger van hierdie eeue-oue belofte wat selfs aan die einde van die OT nog onvervuld gebly het, maar in Jesus waar geword het. Israel het dit vir ons vasgehou tot die bestemde tyd. Ons in ons gebrokendheid en in al ons stukkende verhoudinge, word deel van Jakob en Abraham se familie, ’n nuwe verloste, vernuwe weergawe. Dit is steeds besig om waar te word. In ons, deur ons. Hy red en herstel die stukkende wêreld. Alles sal weer goed wees soos in die begin… Amen.
Gebed:
