Onbesonge helde

 

 

Votum/seëngroet (Geliefd):

Stilword bou nuwe breinpaadjies – (vernuwe ons denke). Ou denke/paadjies: presteer, bewys, kompeteer, doen. Onvoorwaardelike liefde, net wees, rus…

1241’n Pelgrimslied. Van Dawid.

As die Here ons nie gehelp het nie,

dit moet Israel bely,

2as die Here ons nie gehelp het

toe mense ons aangeval het nie,

3dan het hulle ons lewendig verslind

toe hulle woede teen ons ontvlam het;

4dan het die waters ons weggespoel

en die vloed ons oorweldig;

5dan het die skuimende waters ons oorweldig.

6Aan die Here kom die lof toe:

Hy het nie toegelaat dat ons hulle prooi word nie.

7Ons is bevry soos ‘n voël uit die wip van ‘n voëlvanger;

die wip het gebreek en ons was vry!

8Ons hulp kom van die Here

wat hemel en aarde gemaak het.

Gebed, Skriflesing:

Eks 1:8-2:10

Preek:

Aan die einde van Genesis word Josef deur die Here se voorsieining die onderkoning van Egipte. Weens die hongersnood in die beloofde land Kanaän, gaan woon hulle in Egipte en so red God sy volk. Hier word een van die beloftes aan Josef se grootoupa Abraham waar – hulle raak ’n groot nasie. Maar ook, tussen al die beloftes aan Abraham van land en ’n nageslag en seën aan al die nasies, het die Here ook al voorspel dat hierdie fase in hulle geskiedenis sal afspeel: hulle sal 400 jaar slawe in Egipte wees…

Egipte: die eerste groot wêreldryk (Empire) waarvan ons in die Bybel lees (later sou dit Assisrië, Babilonië en die Romeinse ryk wees). Empires bly altyd, tot vandag toe, dieselfde – en bestaan op mikrovlak ook!  Hulle werkswyse bly ook dieselfde. Die elite will vasklou aan hulle mag en rykdom. Almal wat dit skynbaar bedreig word uitgebeeld as die vyand met bose intensies. In ons dag is dit Amerika, Rusland, China, selfs die SA-regering. Maar dit is ook meer as dit – dit is ook wat Paulus later die logika of die patroon van die wêreld sou noem (soos in laas Sondag se teksgedeelte van Rom 12 — moenie aan die wêreld gelyk word nie…). 

Dit is die styl van die wêreld – om vanuit vrees en selfsug, eerder as uit liefde te reageer. Dit is verdagmakery en stereoptipering van die ander. Dit word deur geweld en onderdrukking in stand gehou. En uiteindelik is niemand vry nie. (En dis natuurlik ook nie volhoubaar nie!). En dit is ook nie die God se plan nie – dit is die koninkryk van die duisternis teenoor sy koninkryk van lig, lewe, liefde en vryheid. 

In ons verhaal sien ons die Empire so mooi in aksie. Die guns wat Josef hulle destyds gedoen het, is vergete. Die Farao kyk met agterdog en vrees na die Israeliete. Hy beraam “ ’n slim plan”. Eers die slawearbeid. Dan die plan vir geboortebeperking. Die Hebreeuse vroedvroue is die sleutel. Dink net aan die arrogansie: Hulle kry die verskriklike opdrag om hulle eie volksgenote se seuntjies met geboorte dood te maak. Dink net die geweldige druk en risiko vir hullself. Jy sê nie nee vir die Farao nie. Jy sal met jou lewe daarvoor boet. Maar hulle kan nie anders nie. Hulle het God geken. Hulle het geweet wat hulle moet doen. Hulle kon nie anders nie. 

My gedagtes het gegaan na Babita Deokaran. Wat voor haar huis doodgeskiet is, nadat sy haar dogtertjie by die skool afgelaai het, omdat sy die fluitjie geblaas het oor korrupsie by die Gautengse Departement van gesondheid. Ses mans staan tans tereg op haar moord – maar die baasbrein is nog skoonveld. In SA is sulke stories deel van die agtergrondgeraas…

Die Here se sorg aan die vroedvroue in ons verhaal herinner ons dat ons nie alleen is wanneer ons in moeilike omstandighede doen wat reg is nie. God is daar en Hy voorsien. 

Toe die Farao se eerste plan vir geboortebeperking nie werk nie, beveel hy nou sy hele volk om al die seuntjies van die Israeliete wat gebore word in die Nyl te gooi. En weer is daar ’n vrou wat net eenvoudig doen wat sy moet. Sy steek haar seuntjie vir 3 maande lank weg. En toe moes sy hierdie reuse geloofstap neem. Sy “gooi” hom self in die Nyl – maar in sy eie klein “arkie”. Die sinspeling op die storie van Noag se vloed is hier doelbewus. Deur Noag sou God die mensdom red. Deur Moses sou God sy mense red. 

En die volgende dapper vrou is Moses se sussie wat kyk wat gebeur – want ‘n kind is minder opmerklik as ’n volwassene. En miskien is dit ’n doelbewuste ironie – dat ’n jong meisie in hierdie storie die “slimste plan het” en nie net die Farao fnuik nie, maar help dat Moses se eie ma hom kon ’n rukkie kan versorg en dat die Farao op die ou end die Israeliete se bevryder as’t ware self sou groot maak. God se kreatiwiteit en humorsin!

Ons leef weer in ’n tyd van identiteitspolitiek. Dit is die ou ons-julle storie. Ons is reg en julle is verkeerd. Dis ras, dis klas, dis etnisiteit en gender. Amerika is die heel kru-ste voorbeeld hiervan – maar ons sien hoe hulle styl en gesprekspunte oorspoel hier na ons toe. 

Die eerste manier hoe mense wat vir die Here ontsag/eerbied het weerstand bied teen die patrone en logika van hierdie wêreld is waar ons styf vashou aan ons diepste identiteit– ons is almal God se geliefdes wat na sy beeld gemaak is. Sy styl is nie veroordeling, dwang, vrees en geweld nie – dit is liefde. Liefde vernuwe, liefde maak vry. Ons is nie naïef oor die mag van die bose nie, maar ons tree verstandig en gebalanseerd op. Ons demoniseer nie mense en groepe nie, ons bou brûe, en ons hou by die waarheid (ons stuur nie halwe waarhede, opruiende goed en fopnuus aan nie!).

Dink maar aan plaasmoorde – die werklikheid daaroor is reeds erg genoeg. Ons beywer ons vir landelike veiligheid, ons staan by mense wat bedreig word; maar… Ons blaas dit nie op nie – ons sensasionaliseer dit nie; en ons is groot genoeg om hierdie moorde te sien in die lig van die ander duisende moorde in ons land – mense wat vir die Here net soveel saakmaak. 

Hoe raak ons op die tweede manier die agente van die lig, die onbesonge helde van God se koninkryk. Ons raak bewus van waar God ons geplaas het. Ons vra Hom waarvoor ons hier is – hoekom sien ek die goed wat ek sien, hoor ek die goed wat ek hoor – en is my gedagtes nuut genoeg dat ek nie self al die patroon van die wêreld naboots nie. Ek is by organisasies, ’n skool, ’n werksplek/maatskappy – word daar met etiek en met integriteit met die geld gewerk? Word ondergeskiktes geboelie – vroue geviktimiseer? Is daar rassisme of seksisme of homofobie?

Die weë van die duister is slinks. Hier die goed word weggepraat, klein gemaak, onder die mat ingevee, uitgebeeld as normaal. Die weerstand en die viktimisering gaan daar wees – om op te staan sal altyd met risiko gepaard gaan. Ek kan nie namens jou besluit nie. Ek weet God is groter – en al neem sy planne lank – uiteindelik word sy wil uitgevoer. Ek weet God gee vir ons hoop, en ’n humorsin en kreatiwiteit om die planne van die empire, die konikryk van die duister se planne te fnuik. 

Ons is Entrepreneurs van Hoop. Ons is Geliefd, ons word gevorm en ons word gestuur. Dit is opwindend om saam met Jesus op die voorste linies te wees. Kyk uit vir die onbesonge helde. Bevestig hulle. Neem hulle hande. Wees dit vir ander wat dit nie kan wees nie. Amen.

css.php