'n Ontmoeting in die woestyn

Verwelkoming:

Ewe skielik is die hoogtepunt van Interskole ook verby… Ons almal ken die ervaring…

Votum: (uit Ps 42 en 43)

Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome

So smag ek na U, o God.

Ek dors na God, na die lewende God.

Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn?

Dag en nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle vir my:

“En waar is jou God nou?”

Net U is my skuiling, my God.

Nou waarom verstoot U my dan?

Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei

En bring my na u heilige berg, na u woning!

Laat my ingaan na die altaar van God, die God oor wie ek wil jubel en juig,

Dat ek U kan loof met die lier, o God, my God!

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?

Vertrou op God!  Ja ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

Seëngroet: Hier op die Here se heilige berg is daar rus vir sy mense.

Skriflesing:

1 Kon 19:1-15 (Bekend: na die vuur uit die hemel en die oorwinning oor die Baal-profete).

Preek:

Daar is net soveel dinge in ons huidige kultuur en omstandighede wat vernietigend is vir ons siele. Die eerste ding is ’n ongekende era van woede en venynigheid (hostility) en valsheid. En kampe – ons tribes… (Heilige koei: Interskole… ons wil regtig glo ons is beter as ander…) Ons vertroue is laag. Ons vrees is hoog. Ons weet nie waar ons hulp vandaan gaan kom nie. Wie gaan dit beter maak?

Die druk by die werk is hoog – en ek sit boonop druk op myself, want ek moet ten alle koste bewys dat ek iets beteken – aan my baas en aan myself.

Wat ons siele nodig het is skaars: vryheid, om ons ware self te kan vind en uitleef. Om te voel ek het ’n kreatiewe en unieke bydrae om te maak, ek behoort, ek maak saak. Ek sien vir my ’n toekoms, ek is op pad iewers heen…

Ons hoor deesdae baie van geestesgesondheid en die belangrikheid daarvan. Ons weet baie meer van ons sukkel daarmee. Ek dink ons almal was al daar of jy gewonder het of dit nog enigsins die moeite werd is om aan te gaan.

“Nou is dit genoeg, Here, neem my lewe…”.

Dit lyk nie of Elia beplan het om terug te kom nie. Hy laat sy slaaf agter en stap ’n dagreis ver die woestyn in. Hy gaan sit onder ’n besembos en wens hy gaan dood. Ons weet hoe dit kan wees. Die een dag voel jy nog in beheer, en die volgende dag is dit net of alles inmekaar tuimel.

Terugskouend weet jy dalk dit kom al lank aan, maar ewe skielik weet jy, jy is diep in die moeilikheid – as dinge nie verander nie, dan gaan hulle dieselfde bly 🙂

Ons almal ken die wonderlike einde van hierdie storie. Die verskyning van God in die fluistering van die windstilte. Alles is weer goed.

Maar ons moet tyd neem en die reis respekteer. Mooi oplet na en tyd gee vir Elia se reis. Mooi oplet na en tyd gee vir ons reis. Die reis is joune. Met God. Ons kan saamstap met mekaar. Ons kan mekaar vashou.

Ons kan saam bid vir en uitkyk vir die Here se leiding.

Ons kan uit die Woord leidrade bymekaarmaak wat ons kan rig in die voetstappe van ons voorgangers in die geloof. Maar die reis is joune. Met God.

Leidraad 1: ware verandering en vernuwing kom gewoonlik net deur pyn. Ons weet nie hoekom dit so moet wees nie. Ons weet ons Vader straf ons nie en dat alles wat oor ons pad kom nie noodwendig deur Hom gestuur word nie.

Maar dit is die geheimenis van die kruis. Ons moet eers leeg word voordat ons kan vol word. Ons onvolwasse beelde van die lewe en God moet eers afgebreek word voordat dieper en ryker en lewegewende beelde van Hom kan ontwikkel. Ons beelde van God word gevorm as ons nog baie klein is, n.a.v. die gesagsfigure in ons lewens – ons vereenselwig sy karakter en sy stem met hulle – maar dit kan baie onvolwasse, beperkend en ongenadig wees…

Om rockbottom te wees is bitter pynlik. Maar daar is ’n geleentheid. Probeer dit besef. Kyk of jy dit selfs kan verwelkom. Moenie daarteen baklei nie. Gee oor. Die woestyn is in die Bybel elke keer die plek waar God se mense ontmoetings met Hom het, gereinig, gelouter word, voorberei word vir hulle nuwe roeping. (Volk, Moses (40 dae), Jesus self (40 dae…)

Dit is die teken vir gestrooptheid, vir eerlikheid, vir afsondering en stilte. Iets dring Elia daarheen. Hy dink dalk dit is sy selfmoordsending – of het die Gees ’n afspraak met Hom gehad?

Let saam met my op die oorgang. Daar is niks meer oor in Elia se tenk nie. Hy gaan slaap maar net.

Daar is net ’n klein afstand tussen moed opgee en oorgee.

As jy sy Naam aanroep, al is dit beskuldigend (Dit is nou genoeg, Here!) sal daar ’n engel op jou pad wees op die regte tyd.

Niks beweeg vinnig nie. Hy eet en gaan slaap weer. Die engel kom ’n tweede keer; hy eet en nou is hy reg vir die reis – het hy geweet waarheen hy gaan, of het hy maar net gestap in vertroue, met Iemand wat sy voetstappe gerig het?

Veertig dae in die woestyn, sonder enige teken van God.

Moenie dit vreemd vind as God soms afwesig voel nie – dit is deel van die woestynervaring, deel van die reis – Hy bly lief vir jou en Hy straf jou nie.

Toe die mylpaalHoreb/Sinai, die berg van God. Waar sy voorvaders saam met Moses vir God ontmoet het met donderweer en aardbewings – waar die verbond van God met hulle bevestig is in die gee van die tien gebooie – die verbond en die riglyne vir volk van God wees wat hulle maar net nie kon nakom nie.

Besoek weer daardie plekke wat vir jou mylpale, heilige plekke is. Laat die Gees vir jou die kolletjies verbind.

Eers nog ’n nag se stilte in die grot….

Twee keer vra die Here vir Elia: “Wat maak jy hier, Elia?” 

In jou reis, hoe het jy hier gekom? Wat het jou hier gebring? Hoekom is jy hier? Wat wil jy nou ? Wat het jy nodig? Waarheen wil jy gaan? En waarmee moet jy besig raak?

Elia se storie gee ook vir ons ’n paar baie belangrike leidrade in hierdie verband. Die een gaan oor die rol van ons ego. Vir ons om normaal te ontwikkel moet ons egosterkte kry. Dit is daardie fase waar die kleintjie vir ons begin sê: “Ek wil self, ek kan self!” Maar as jy vir jou man koffie maak en “Hy kan self” gaan dit nie meer so oulik wees nie! 

My waarde moet skuif van wat ek kan doen na wie ek is – dan word ek vry om te dien eerder as naam te maak – dan kan ek liefhê en ander laat floreer en groei – en dan versterk dit my waarde omdat ek regtig ’n verskil maak – ek leer leef in die koninkryk van God (dit is die sg. tweede helfte van my lewe).

Elia wys vir ons hoe subtiel dit kan wees: “Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie…” Ek is maar net so sleg soos almal – daar is geen hoop vir die mensdom nie. Ons voel die selfbejammering. Selfs nadat die hele volk op hulle knieë geval het en uitgeroep het “die Here is God!”, lyk dit in hierdie oomblik vir Elia asof hy niks bereik het nie. “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here almagtige God…”.

Ek het alles gegee – en nie vir myself eens nie; vir U, vir die volk, vir die mense, en nog steeds word ek vervolg, nog steeds kry die bose die oorhand.

Dit is ’n geldige wroeging waarmee ek seker die Here begrip het. Een mens kan net soveel vat en Hy weet dit…

Maar tog… Daar was ’n seker showmanship aan Elia se optrede op Karmelberg – die spottery van die profete – die drama; was daar ’n bietjie van ’n selfbewustheid van sy posisie, die groot profeet. Daar was hy trots op die titel van die enigste oorblywende profeet van die Here. Die ego geniet altyd die aandag, die erkenning, die vermoë om ander te beïndruk.

En as God nie hierdie keer kom in die vuur, die aardbewing of die rukwind nie, dan wys Hy nie net net vir Elia wie hy as Elia moet wees nie, Hy wys hom ook meer van wie Hy is.

Die Een wat nie gedefiniëer word deur sy kragdadigheid nie, al kan Hy Homself so wys as dit Hom behaag. Die Een wat ons altyd dieper lei na die hart van die wonder van die lewe self: en dit is om Hom te ken, te soek, te begeer en lief te hê –

om onsself te vind in lewe in sy teenwoordigheid, in voortdurende gemeenskap met Hom. Dit lê in die ontdek van wonder en die potensiaal van die tussentye, die valleie, die stiltes, die woordlose wees, die verwondering oor die skepping en ons liefdes, verhoudinge en ons drome.

Dit lê in die ingroei in die misterie van die God deur wie ons leef, beweeg en bestaan; wie se heerlikheid die hele aarde vul. Die God wat altyd oral is; wat met sy Gees nou in elkeen woon wat hulle vertroue in Hom geplaas het. Die God wat ons leegmaak sodat Hy ons kan vul. Die God wat fluister in die stilte. Sal jy die reis onderneem sodat jy daar kan wees as die tyd vir ontmoeting reg is? (Iets wat ons nou weer by die Gemeenteretreat beleef het). Amen.

Seën:

Mag die genade van ons Here Jesus Christus met jou gaan waar Hy jou ook al stuur; mag Hy jou lei deur die wildernis, beskerm deur die storm; mag Hy jou laat jubel oor die wonders wat Hy jou wys en mag ons mekaar weer ontmoet hier in sy teenwoordigheid.

css.php