Hoop sien nuwe geleenthede

Votum/seëngroet (Ps 27, 2020 vertaling):

Die Here is my lig en my redding – vir wie sal ek vrees?
Die Here is die toevlug van my lewe – vir wie sal ek bang wees?
Een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek bly nastreef:
om al die dae van my lewe in die huis van die Here te woon,
om die lieflikhede van die Here te aanskou en daaroor
na te dink in sy tempel.
Ja, Hy steek my weg in sy skuiling op ‘n dag van onheil;
Hy verberg my in die beskutting van sy tent;
Hy tel my hoog op ‘n rots.
Daarom is my kop hoog bo my vyande rondom my.
Ek wil met uitroepe van vreugde offers bring in sy tent,
ek wil sing, ek wil die Here besing.
My hart eggo u woorde:“Julle moet my teenwoordigheid opsoek!”
U teenwoordigheid, Here, soek ek op.
Moet u gesig nie vir my verberg nie,
moet u dienskneg nie in toorn wegwys nie.
U was my Helper, moet my nie verstoot of verlaat nie,
God wat my red.
Selfs al verlaat my vader en moeder my,
die Here sal my aanneem

Skriflesing:

Jer 32: 1-3, 6-9, 13-17, 23-25, 42-44

Preek:

Om prakties te wees is ‘n waarde wat hoog geag word in vandag se samelewing. As iemand sê jy is prakties en realisties is dit ‘n groot kompliment. Ons hou van mense wat vinnig en effektief is, wat dinge laat gebeur en nie tyd mors nie. Om te besluit ‘n persoon is onprakties of onrealisties is om die persoon as irrelevant af te maak.
Bybelse geloof ís prakties. Bybelse geloof wil ons help om ‘n sinvolle lewe te lei in hierdie tyd en in hierdie omgewing. Dit wil ons nie op ‘n wolkie sit van waar ons die wêreld ongeskonde en sonder enige sorge en betrokkenheid kan dophou nie. Dalk wil dit tog ons idee oor wat haalbaar en realisties is heelwat skuif!

Ons eerste reaksie oor wat Jeremia gedoen het deur ‘n stuk grond in Anatot te koop sal wees: totaal onprakties, totaal onrealisties, meer nog. Die skrywer van Jeremia maak in v1 seker ons weet presies wanneer hierdie gebeure afspeel. Dit is die laaste jaar voor die verwoesting van Jerusalem in 587vC. Regemente van die Babiloniese weermag kamp op die grond wat hy koop. Hyself is basies in die tronk, onder arres in die binneplaas van die paleiswag, met geen vooruitsig om vrygelaat te word nie. Die vyand lê teen die mure gereed om die volk in Ballingskap weg te voer. Hy wat Jeremia is het homself juis lelik ongewild gemaak deur juis hierdie dinge te voorspel toe die tekens dat dit aan die gebeur is nog nie daar was nie.

En Jeremia koop grond, waarop hy nooit ‘n olyfbompie sal plant nie, nooit ‘n wingerdstok sal snoei of ‘n huis sal bou nie – ‘n stuk land wat hy dalk nooit eens sal sien nie. Jeremia het geweet dat om daardie grond te koop onprakties en dwaas gelyk het. Dit was nie in lyn met die geskiedenis, met die publieke opinie, of met “common sense” nie. Maar hy het nie die stuk grond gekoop op die advies van sy makelaar nie, maar op grond van die leiding van God. Hy wou nie vir hom ‘n aftreehuisie op die grond bou nie. Hy was ‘n getuie van God se betrokkenheid in die vervulling van sy beloftes.

Wat Jeremia gedoen het was in lyn met die diepste werklikheid wat bestaan, en daarom was daar niks meer prakties en realisties vir hom om te doen as juis dit nie. Jeremia se uitkyk op die praktiese was gegrond op die oortuiging dat God die belangrikste realiteit is waarmee hy en die mense om hom mee rekening moes hou. Dit is die kern waarom sy lewe en sy bediening gedraai het. Hy het geglo dat elke mens gemaak is vir ‘n verhouding met God, en dat die persoon wat nie daardie verhouding ken en versorg nie, besig was met ‘n valse lewe en daarom ‘n onpraktiese lewe.

Ons idee van om prakties te wees is dikwels net ‘n verskoning om niks te doen nie. In ‘n moeilike situasie verval ons in wanhoop en in apatie en besluit sommer voor die tyd: niks wat ons doen sal mos ‘n verskil maak nie, alles is net onpraktiese voorstelle wat op niks sal uitloop nie.
‘n Wanhopige lewe is seker die mees onpraktiese een wat daar is. Dit loop doodeenvoudig nooit op iets prakties uit nie. Ons idee van om prakties te wees is om die tekens van die tye, die tekens van al die omstandighede wat ‘n rol speel, reg te lees en om net as dit gunstig is ons planne tot uitvoering te bring. Geloof speel geen rol in die praktyk nie, of so dink ons. Die Bybel en geloof is een ding, maar die praktyk, is nou vir jou ‘n ander storie.

Hoekom het Jeremia die grond gekoop? Sy redes was baie prakties: Hy het dit gedoen omdat hy oortuig was dat die moeilikheid wat almal op daardie stadium beleef het juis deur God gebruik is en dat dit uiteindelik sou uitloop op die verlossing en herstel van die volk en die land.
Die belangrikste werklikheid vir Jeremia was nie dat die Babiloniërs op daardie staduim op die stuk grond gekamp het nie (al was dit onmoontlik om daardie feit te ontken), maar dat God daardie stuk grond gebruik het om sy beloftes in vervulling te laat gaan. Hy het die grond gekoop as ‘n belegging in God se volgende projek vir Israel.

Chesterton het iets gesê wat ‘n mens losweg as volg kan vertaal: “So lank as dinge regtig hoopvol is, is hoop basies niksseggend. Net as alles hopeloos is, dan is hoop ‘n bron van krag. Hoop is soos al die ander Christelike waardes net so onredelik soos dit onmisbaar is.”

Die grootste probleem wat ons as kerk het is nie swak erediensbywoning, of al die chaos en pyn land en samelewing of onbetrokke jongmense nie. Ons grootste probleem is ons verhouding met God wat glad nie prakties is nie. Ons grootste probleem is ons onvermoë om God se leiding te soek, om dit te onderskei en om daarop te reageer. As ons net altyd op ons omstandighede reageer en onsself daarvolgens skik, leef ons vasgevalle, onpraktiese lewens, want ons is altyd agter by God se skedule, agter by wat God besig is om te doen. Ons is onbetrokke by God se toekoms, ongereed daarvoor en onbruikbaar in sy koninkryk. (Dissipelskap – egte spiritualiteit)

Jeremia het nie oordeel gepreek in oorlogtyd nie. Hy het lank voor die tyd daaroor gepraat. Toe die oordeel begin aanbreek, het hy begin praat oor hoop en herstel en vergifnis en verlossing. Hy was soos sy God en in lyn met sy God, pro-aktief. Nou dat die oordeel op hande is, vestig hy die aandag op die doel van die oordeel, nl. om mense voor te berei vir die belofte van verlossing. Daar is nie net Babiloniërs by julle hekke nie, daar is ook ‘n God in julle midde. Ja, die slegte het gebeur, maar moenie in wanhoop verval nie. Aanvaar dit. God is nie teen jou nie, Hy is vir jou. Hy is besig met jou. Jeremia het geleef binne die diepste en die mees essensiële werklikheid wat daar is was en altyd sal wees: dit waarmee God besig is.

Ons elkeen het in hierdie tyd van beslissing ‘n baie belangrike keuse om te maak. Ons kan besluit om te leef vanuit die werklikheid wat ons elke dag omring, vanuit die dinge wat ons elke dag in die media lees en hoor en waarvan party op ons voorstoepe is. Of ons kan besluit om te leef en ons te laat lei deur die diepste en mees essensiële werklikheid, wat God is.

Robert Louis Stephenson het as klein seuntjie in die negentiende eeu deur die venster van hulle huis na die donker straat staan en kyk. Toe sien hy die man wat gaslampe in die straat aan die brand steek en hy sê: “I see something wonderfull. I see a man coming up the street, and he is poking holes in the darkness.” Toe Jeremia die grond in Anatot gekoop het, was dit ‘n doelbewuste daad van hoop. Die wêreld het meer nodig as redelik en beredeneerde en realistiese reaksies op dit wat ons om ons sien gebeur. Mense het hoop nodig. Ek en jy het hoop nodig.

Wanneer ons dade van hoop gaan verrig, daadwerklik leef wat ons sê ons glo, gaan ons afgelag word as onprakties omdat ons nie konformeer tot die sigbare realiteit nie. Maar ons gaan in der waarheid besig wees om mee te werk aan die werklikheid wat reeds besig is om in vervulling te gaan maar nog nie sigbaar is nie. Hoop commit ons tot aksies wat in lyn is met God se beloftes. Dit maak van ons mense wat gate in die donker steek omdat ons in die Lig lewe wat die duisternis nie kon uitdoof nie.

Wat ons hoop noem is dikwels net ‘n wensery. Ons wil dinge hê wat ons dink onmoontlik is, maar ons weet darem van beter as om enige geld daarop te spandeer of om ons lewens daaraan te wy. Bybelse hoop is ‘n daad – soos om ‘n stuk grond in Anatot te koop. Dit maak dalk nie vir die samelewing sin nie, maar dit maak geloofsin. Dit voel en lyk dalk dom, maar dit bring inspirasie en lewe. Hoop handel op die oortuiging dat God die werk wat Hy in ons begin het sal voltooi selfs wanneer dit nie so lyk nie, veral wanneer dit nie so lyk nie. Hoop is om in te koop op wat ons glo.

Dit het tyd geword vir my en jou om onsself te begin oefen in die onderskeiding van God se stem, sodat ons die diepste werklikheid wat bestaan kan leef en ons lewens werklik prakties kan raak. Hoeveel roeringe en oortuigings en impulse en passies was daar nie al in ons harte en in ons lewens, wat die stem van God was wat ons roep tot dade van hoop, wat ek en jy afgemaak het as onpraktiese en onrealistiese drome nie? Wat is nou op jou hart? Watter dinge laat jou dink, maak jou kwaad, maak jou passievol? Watter planne broei al lank in jou gemoed?

Watter doelbewuste en daadwerklike daad van hoop vra God van jou in hierdie week. Jy sal dalk stupid voel en lyk vir die wêreld en vir van jou mede-Christene. Dit voel en lyk dalk onprakties en onrealisties, dit is dalk ook nie spectacular of in terme van ander se definisie geestelik nie, maar jy weet hierdie onbesonne daad van jou is jou manier om in gehoorsaamheid gate in die donkerte te maak.

Dit is om ’n Entrepeneur van hoop te wees. En soek die mense wat dit reeds doen. Omring jou met hulle. Bid saam met hulle. Werk saam met hulle.
Wat is jou gawes, talente, geleenthede, netwerke, hulpbronne? Wat kan jy doen?!

Dit is mode om sinies wees. Jy hoef nie te skuif nie. Jy kan jou reputasie behou. As ons in hoop lewe gaan ons teen die stroom. Hoop is die enigste praktiese manier om te lewe. Ons dade van hoop skep ‘n vastrapplek vir enige iemand wat hulle weg wil vind uit die chaotiese wanhoop na die geordende heelheid van verlossing.

“Die profetiese taak van die kerk is om die waarheid te vertel in ’n samelewing wat in ’n illusie lewe, om te rou in ’n samelewing wat in ontkenning lewe en om hoop te leef in ’n samelewing wat in wanhoop (despair) lewe.” (Walter Breuggeman)
Amen.

Wat is ’n Entrepreneur van Hoop?

• Entrepreneurs van Hoop word juis wakker wanneer daar moeilikheid is en wanneer
optimisme taan. Wanneer dit lyk of die spel verby is – skaakmat, sien Entrepreneurs
van Hoop dat die Koning nog ’n skuif het.
• Entrepreneurs van Hoop het ’n fyn aanvoeling vir die nood rondom hulle. Hulle sien, hoor en voel aan wanneer daar pyn is, watter soort pyn dit is en watter impak dit het om mense en die skepping. Terselfdertyd het Entrepreneurs van Hoop ’n helder visie van die oplossing, want hulle is in voeling met die Bron: God se liefde, vrede en vreugde.
• Entrepreneurs van Hoop soek en skep die kanale waardeur nood en oplossing, geleentheid en die liefde bymekaar kan uitkom. Dit is die grootste gawe wat
Entrepreneurs van Hoop het, naamlik om
nie net te sien nie, maar te doen.
• Entrepreneurs van Hoop het die vermetelheid om te bly hoop waar ander al die aftog geblaas het. Hardnekkig vol te hou dat God met ons besig is en dat ons maar net moet probeer agterkom waar en hoe Hy werk en Hom dan daarin moet volg.
Entrepreneurs van Hoop kom agter dat hulle “in die middel van die winter in hulleself ’n onblusbare somer ronddra” (Albert
Camus).

Stilte
#gaanleefgeloof:

Verduidelik blare (wat het jou hierdie week hoop gegee?) – ons gaan van die lys) en gee koeverte.

Seën:

“Ek sal ‘n blywende verbond met julle sluit… Ek sal dit geniet om aan hulle goed te doen in my trou…” (Jer 32: 40-41) Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees is die bron van hoop in die kinders van Lig se lewens.

css.php