Wie het mag?
Verwelkoming:
Deurmekaar wêreld: ons wil ’n oomblik kom asemskep…
Ps 27: 5 “Ja, Hy steek my weg
in sy skuiling op ‘n dag van onheil;
Hy verberg my in die beskutting
van sy tent;
Hy tel my hoog op ‘n rots.”
Aankondiginge:
- Ons regula of Beheerstelsel: in die middel is die hart met die wingerdloot; ons moet begin waar ons onthou – ons verloor ons lewe vir die lewe van Jesus. Hy is die Wingerdstok en ons is die lote; sonder Hom kan ons niks doen nie…
Votum/seëngroet:
5Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:
6Hoewel Hy in die gestalte van God was,
het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie,
7maar Hy het Homself daarvan leeggemaak,
deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
Skriflesing:
2 Sam 11:1-15
Preek:
Seksuele skandale is toe nie ’n nuwe ding nie. En ook nie moorde om jouself uit die moeilikheid uit te hou nie. Dit is ontstellend om te sien hoe ver Dawid sou gaan. Die Dawid wat die Here daar langs die skape gaan haal. Die jongste seun wat aan die begin glad nie eers in die tel was nie, want die Here kyk nie na die uiterlike nie, maar na die innerlike. Die Dawid wat so op die Here vertrou het dat hy met net sy slingervel en sy 5 klippies die reus oorwin het. Die Dawid wat vir Saul op die harp sou speel om hom te kalmeer; en later, selfs al sou Saul hom probeer doodmaak, Saul se lewe sou spaar toe het die kans gehad het om hom in ’n baie nederige posisie in die grot te kon doodmaak.
Wat het met Dawid gebeur? Hy het koning geword. Die mense was gaande oor hom. Hy het die land verenig en roemryke oorwinnings op die oorlogsveld behaal. Saul het sy 1000’e verslaan, maar Dawid se 10000’e.
Ons ken die gesegdes. Power corrupts. Absolute power corrupts absolutely. Ek het gelees dat posisies van mag mense se brein verander. Die probleem met mag is dat mense wat dit hét dit graag onderspeel of nie altyd bewus is van hoeveel mag hulle het nie of wat dit aan hulle doen nie – dit is vir hulle vanselfsprekend.
Aan die ander kant is mense sonder mag deeglik daarvan bewus. Mag is om mense te kan beïnvloed, of beheer – kry om te maak soos jy wil hê hulle moet maak. Jy kan dit polities kry (gekies), aangestel, of deur baie geld te hê (wie jou ouers is!). Mag verminder ook jou aanspreeklikheid, soos ons by Dawid sien. So jy kan basies doen wat jy wil. Mense met mag kan hulself so maklik oortuig die doel heilig die middele.
Batseba het sover ons weet niks verkeerd gedoen behalwe om haarself te wou skoonkry nie. As die koning jou laat haal en by jou wil slaap, het jy ’n keuse? En wat doen dit aan jou menswees? En jy moet aanbly by die ou wat jou man laat vermoor? Uria se volslae toewyding aan die koning werk teen hom, tot by die punt waar hy sy eie moordbrief na die slagveld dra – en Joab raak ’n medepligtige – want jy vra nie vrae nie.
Aan die begin van die eerste boek van Samuel lees ons hoe Israel as koninkryk sy ontstaan gehad het. Toe die stamme van Israel die beloofde land binnegekom het is hulle nog deur Rigters gelei. Samuel, as profeet, het as’t ware self as die laaste Rigter opgetree. As mens lees van die laaste veldslag teen die Fillistyne onder sy leiding, is die Here self direk daarby betrokke. Die Here veg vir sy volk. Die Here is self die koning van sy volk. Maar Samuel raak oud en sy seuns is nie van die regte stoffasie nie (hulle was uit op winsbejag, het omkoopgeskenke aanvaar en het die reg verdraai! – klink dit nie bekend nie…), en die volk vra vir ’n koning (1 Sam 8).
Samuel het nie daarvan gehou nie. Maar die Here het Hom gepaai: “Die is nie vir jou wat hulle verwerp nie, maar vir My om oor hulle koning te wees. Verder het die Here vir hom gesê hy moet mooi vir hulle verduidelik wat die regte van ’n koning oor hulle gaan wees. Maar na hy aan hulle die absolute mag van ’n koning verduidelik het, wou hulle nog steeds ’n koning hê, soos al die ander volke, “om voor hulle uit te trek en vir hulle oorloë te voer.”
In ons moderne wêreld is die konings net simbolies. Veral in die 90’s, na die val van die Berlynse muur (89), die opbreek van die Soviet Unie (91) en die val van apartheid (94), het mense gedink dat liberale demokrasie nou deur almal aangeneem sou word as die beste vorm van regering wat daar is. Regte en verantwoordelikhede, vryheid en orde word mooi gebalanseer, en mag is in instellings gedesentraliseer eerder as net vir spesifieke mense soos ’n koning. Maar sedert die begin van die 2000’s het dinge weer erg suid gegaan. Magte van chaos en wreedheid wat ons gedink het verby is. Die groot simbool was daardie twee vliegtuie in 2001 (9/11) wat in die World Trade Centre se twee torings in gevlieg het en die daaropvolgende “war on terror”.
Die globale finansiële krisis in 2008 het ons herinner dat die supperrykes die sisteem sal speel en beskerm om hulself nog ryker te maak – en aan die geweldige mag wat rykdom bring. Die res is te veel om op te noem. China se opkoms (glad nie dekomkraties nie), Brexit, Noord-Korea se kernwapens, die swaai na regs in Europa en Amerika. Die Covid-pandemie, die klimaatskrisis, die oorloë in Oekraïne en Gaza. Die wêreld is bang en onseker, en ons vra wie het mag, wat gaan hulle daarmee doen, en hoe kry ’n mens meer mag/ hou dit uit die hande van die wat jy nie van hou nie?
Alles is ’n magstryd (selfs Interskole?) En nou sien ons hoe die aptyt vir populistiese leiers (wat per definisie outoritêr is) oral toeneem. Zuma het nog steeds invloed. Daar is Putin en Trump. Wat as niks minder as Verlossers gesien word deur hulle navolgers (of sal ons sê aanbidders). Kragdadige ouens wat eenvoudige oplossings vir komplekse probleme belowe.
En waar los dit ons as Christene se verhouding met mag? Ons sien hoe die wêreld in rigtings gaan waarvan ons nie hou nie. En ons wonder, wie gaan ons en die wêreld soos ons dit ken en van hou beskerm. En ons is bereid om te gryp na enige iets wat ons die gesag sal gee om ons en ons manier van lewe te beskerm. En so sien ons dat die idee van Christen nasionalisme weer sy lelike kop oplig. Dit is waarvan ons deel was, as wit Afrikaanse mense en as NGK in apartheidstyd. Ons geloof word met ’n seker kultuur se meerderwaardigheid geassosiëer en moet deur wette en geweld op almal afgedwing word. In Amerika word dit weer openlik gepredik – en dit gaan altyd saam met die onderdrukking van basies almal wat nie heteroseksuele wit mans is nie; en ons Afrikaner organisasies gaan leer by hierdie mense.
Christen nasionalisme is maar net ’n manier om ons geloof te misbruik om ’n wêreldse koninkryk te bou. Dit gebruik konsepte uit die Bybel maar vul dit met ons kultuur se inhoud. (Selfs die ateïs Richard Dawkins noem homslf ’n kulturele Christen – wat sê dit vir jou?) Dink maar aan die hoofskap van die man. Jesus het daaraan heeltemal nuwe betekenis gegee, sê Paulus, sodat mans nou hule vrouens so lief moet hê soos Jesus wat sy lewe vir die kerk afgelê het.
“Sit die 10 gebooie op die skole se mure.” “Skryf God in die wette in.” Verstaan ons dan glad nie hoe die evangelie werk nie?!
“Christian nationalism is impoverished as it seeks a kingdom without a cross. It pursues a victory without mercy. It acclaims God’s love of power rather than the power of God’s love. We must remember that Jesus refused those who wanted to ‘make him king’ by force just as much as he refused to become king by calling upon ‘twelve legions of angels’.Jesus needs no army, arms or armoured cavalry to bring about the kingdom of God.” (Tom Wright)
Jesus se koninkryk, so sê Hy vir Pilatus, is nie van hierdie wêreld nie (dit is wel vir hierdie wêreld!). Julle onthou ook die storie in Mat 20. Johannes en Jakobus se ma kom vra namens Jesus dat hulle die hoogste poste in sy kabinet sal kry as Hy nou eers koning word. En natuurlik is die ander dissipels glad nie lekker hieroor nie. Wat maak hulle nou beter? Dan roep Jesus hulle nader en verduidelik.
“Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel, en die maghebbers oor hulle gesag uitoefen. 26 So mag dit nie by julle wees nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, 27en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. 28 Net so het die Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee. ”
Ons is in ’n krisistyd. Ons onderskeiding en ons getrouheid in navolging van Jesus is so belangrik. Ons moet mooi na ons harte en na die Gees luister. Mooi kyk waar ons ego wil oorneem en ons vrees ons liefde wil verdryf. Mooi kyk waar ons die logika van hierdie wêreld aanneem eerder as die logika van die koninkryk van God. Ons glo in die krag van kruisliefde, in die krag van nederigheid en diens. Dit is allesbehalwe boedeloorgawe. Dit verteenwoordig die sterkste van oortuigings. Mense wat weet wie ons God in Jesus is en daarom presies wie ons is en wat ons roeping is.
Ons herinner mense aan God se visie – hoe dit in die hemel gaan wees. ’n God wat nie onderskeid maak nie, wat vir almal sy genade gee en ’n ruimte van volheid van lewe gee. ’n God wat in Jesus ons herinner het aan die vrouens, aan die armes, die siekes, die kinders, aan die “ander” – die geringstes onder ons. Ons weet geen aardse politieke stelsel, geen party, geen mens, geen regering, geen wetboek, kan die koninkryk van God volledig verteenwoordig nie. Dit leef in mense se harte – en almal wat vandag groot is en eerste is, gaan dan laaste wees, en almal wat vandag klein en laaste is, sal groot en eerste wees. Amen.