As Jesus jou pad kruis...
Verwelkoming:
Welkom: mag die Here jou hart sien en voorsien in jou diepste behoeftes: hoop, rus, vernuwing…
Votum/seëngroet: 1 Joh 4
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.
11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.
Skriflesing:
Hand 8:26-40
Preek:
Reg mense, voordat ons wegtrek, so ’n paar goed oor Paastyd en Handelinge. In ons kerklike jaar trek ons nou by die herdenking van die periode van 40 dae toe die opgestane Jesus sporadies aan sy volgelinge verskyn het “en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat het” (Hand 1:3). Hy het sekerklik God se bedoelinge vir hulle verder uitgeklaar en hulle begin voorberei vir die rol wat hulle in sy plan moes speel. Paastyd wil ons lei om ook weer nuut te dink oor ons lewe, ons wêreld en ons roeping in die lig van alles wat die Jesus wat vir ons gekruisig is én weer opgestaan het.
Wat Handelinge betref sien ons dat Lukas se tweede “berig”/verhaal begin deur vir Teofilus (moontlik ’n hooggeplaaste Romein) te sê dat sy eerste een was “oor alles wat Jesus begin doen het en waaroor Hy onderrig gegee het…” met die implikasie dat dit steeds Jesus se eie werk (deur sy gestuurdes) is, waarvan Hy nou gaan vertel. En na die uitstorting van die Heilige Gees sien ons hoe dit inderdaad gebeur – deur sy volgelinge leer Hy steeds mense, Hy genees steeds mense (die eerste is Johannes en Petrus by betrokke, die genesing van die verlamde man).
Maar die nuwe Jesusbeweging het ook aggresiewe teenstand ontlok. Die Joodse raad is glad nie beïndruk met die feit dat hier Jesus se Naam weer oral gehoor word nie. Die apostels word gevange geneem en in die tronk gegooi, uiteindelik gegésel en vrygelaat, nadat die plan eintlik was om hulle dood te maak, maar hulle was “ bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly.” (Hand 5:41) Dan word die 7 medewerkers/diakens aangewys, onder wie Stefanus, die eerste martelaar, en dan ook Filippus. En dit stel dan aan ons bekend hoe Jesus se woorde in Hand 1:8 begin waar word, en dat die evangelie nie net in Jerusalem en in Judea bly nie, maar ook nou na die naburige Samaria versprei.
Juis die vervolging maak dat die Jesus-volgelinge versprei en al hoe verder die evangelie verkondig. En in vanoggend se storie, sien ons ’n voorsmaak ook van wat dit sou beteken dat Jesus verkondig sou word tot aan die uithoeke van die aarde. Hierdie setting en storie is vir my net so merkwaardig! Flippus moet op ’n verlate pad gaan loop – teen die middaguur – in die hitte van die dag. Nou nie juis kans op ’n gehoor vir die verkondiging nie. En dan hierdie besonderse, fassinerende ontmoeting…
“En kyk: ’n Man van Ethiopië, ’n Eunug” – altyd ’n merker in die Nuwe Testament dat ons nou mooi moet oplet, iets verrassend/belangrik gaan gebeur
Wie was hierdie man? Die ’83 vertaling verwys net na ’n “ontmande Ethiopiër”, maar die 2020 laat meer reg geskied aan die oorspronklike: “ ’n Man van Ethiopië, ’n Eunug…” Die “man” kom in die Grieks ook eerste in die sin. Hy is ’n man, maar ook nie ’n man wat deur die samelewing regtig meer as ’n man gesien word nie. Hierdie man was nie van die hedendaagse Ethiopië afkomstig nie, maar van die destydse Nubië (Kus), suid-oos van Egipte, vandag Soedan. Maar vir die Romeine het Ethiopiër ook sommer na al die onbekende volke buite die Romeinse empire verwys. Ethiopiër beteken letterlik “gebrande gesig” wat natuurlik hulle rassistiese verwysing na die mense se donker velle was.
Hoe moet hierdie arme man soek na identiteit en rigting – waar pas hy? Hy is hoogswaarskynlik ontman sodat hy ’n “veilige” dienaar van sy koningin kan wees. Aan die een kant is hy hooggeplaas, met groot verantwoordelikheid en welgesteld. Aan die anderkant word hy gesien as geen ware man nie, ook “ontman” in die figuurlike sin, met geen werklike mag volgens die destydse opvattings nie. Hy sal geen nageslag ken nie. Hy sal nooit deur enige man of vrou as hul gelyke gesien word nie. Bespot en beskaamd.
’n Jesaja boekrol was ’n luukse om te besit; skaars en duur. Sit jouself in die skoene van die Eunug. Wat sou hierdie woorde uit Jesaja aan hom doen? Watter identifikasie sou daarmee wees – en wat sê dit vir jou oor God en oor die wonder van hierdie ontmoeting op die verlate pad?
“Soos ’n skaap is hy ter slagte gelei en soos ’n lam wat stom is voor sy skeerder, so maak Hy sy mond nie oop nie. In sy vernedering is regspraak hom ontneem, en wie sal sy nageslag kan opnoem?”
Hy het in Jerusalem gaan aanbid. Was dit vir hom ’n positiewe ervaring as ’n uitlander? Het hy gekry wat hy gesoek het. Letterlik vra Filiipus vir hom: “Weet jy wat jy soek om te weet deur te lees?”
Lukas hoef nie eers vir ons al die detail in te vul nie. In daardie oomblik, toe Filippus hom oor Jesus vertel het uit daardie mooi gedeelte, moes die Eunug gekry het wat hy gesoek het. Hy moes die Jesus wat met hom identifiseer self op daardie verlate pad, uit die profeet se mond, ontmoet en aanvaar het. Die evangelie, die goeie nuus van Jesus. “Kyk water, wat verhoed dat ek gedoop word…” (Weer die merker!)
Klaarblyklik niks nie. Want hy gee opdrag dat die wa gestop word (hulle was dus nie alleen nie – die eunug se geselskap was by). Nie sy ras of herkoms nie. Nie sy seksuele identiteit of gender of status nie. Die goeie nuus is vir almal.
Glo in Jesus en jy sal gered word. Dan sit jy jou lewensreis met blydskap voort – jy het gevind waarna jy nog altyd gesoek het…
Wat daarna gebeur het weet ons nie. Ons weet dat almal in die Handelinge verhaal aanhou vertel van Jesus – hulle sien dit as hulle hooftaak. So ons glo hy het in sy land gaan vertel. Selfs vir die koningin en die ander hooggeplaastes? Selfs vir diensknegte en slawe? Ek dink so.
Die punt is, die evangelie steek radikale grense oor in hierdie verhaal, na nuwe wêrelddele en volke – na iemand wat nie in die boksies van geslag en seksualiteit inpas nie (iets waarmee ons vandag nog so sukkel). Om te sê die boodskap van Jesus steek grense oor, het ’n cliché geword – maar wat beteken dit regtig?!
Hoe verander die goeie nuus hoe jy oor mense dink, hoe jy hulle sien en hoe jy na hulle uitreik?
Of is jy soekend op ’n verlate pad? Kan jy glo dat Jesus op die regte tyd die regte persoon oor jou pad sal stuur en jy Hom sal ontmoet? Is daar ook vir jou nuwe lewe, redding en blydskap in die Naam van Jesus?
En is jy bereid om te luister as die Gees roep, oop vir die avonture, die ontmoetings, die geleenthede wat sal kom as jy jou roeping as getuie van die goeie nuus ernstig opneem?