Preek – Datum: Tema – Teksvers

Votum:

Psalm 78

Luister na wat ek jou leer, my volk,

luister aandagtig na wat ek sê.

2 Ek gaan ‘n gedig voordra,

ek gaan julle inlei in geheimenisse uit die verre verlede.

3 Wat ons gehoor het en wat ons weet,

wat ons vaders ons vertel het,

4 sal ons vir ons kinders nie verswyg nie.

Ons sal aan die volgende geslag vertel

van die roemryke dade van die Here en van sy mag,

van die wonderdade wat Hy gedoen het.

Seëngroet:

Genade en vrede vir elkeen van u!

Skriflesing:

Eksodus 17:1-7

1Nadat die hele volk Israel uit die Sinwoestyn vertrek het, het hulle op bevel van die Here van plek tot plek gegaan totdat hulle by Refidim kamp opgeslaan het. Maar daar was geen water vir die volk om te drink nie. 2Toe het die volk met Moses rusie gemaak en gesê: “Gee jý vir ons water om te drink!”
En Moses antwoord hulle: “Waarom maak julle rusie met my? Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef?”
3Maar die volk was dors en hulle het vir Moses verwyt: “Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat omkom?”
4Daarna het Moses tot die Here geroep: “Wat moet ek met hierdie volk aanvang? Netnou gooi hulle my met klippe dood.”
5Toe sê die Here vir Moses: “Loop voor die volk verby en neem van die leiers van Israel saam. Vat ook die kierie waarmee jy op die Nyl se water geslaan het, en stap vooruit. 6Ek sal daar reg voor jou op die rots by Horeb staan. Dan moet jy teen die rots slaan, en daar sal water uitloop vir die volk om te drink.”
Moses het dit toe gedoen voor die oë van die leiers van Israel. 7Hy het die plek Massa en Meriba genoem omdat die Israeliete daar met Moses rusie gemaak het en ook omdat hulle die geduld van die Here op die proef gestel het toe hulle gesê het: “Is die Here by ons of nie?”

Preek:

Die verhaal van Israel se reis in die woestyn word in hierdie hoofstuk  verder  gevoer – ons onthou nou natuurlik dat ons maar ’n week gelede weer gehoor het hoedat die volk honger word en God vir hulle kos uit die Hemel gee, in terme van die Bybelverhaal gebeur dit in die vorige hoofstuk, in die vorige paar verse.

Israel se swaarkry en hongerte in die woestyn herinner ons ook aan ons eie sootgelyke woestyntye wanneer ons ernstig moeilike en gebroke omstandighede beleef, wanneer ons self honger is vir die teenwoordigheid en die sorg van God.

In hierdie sogenaamde woestyntye word ons ook bewus van hoe diep afhanklik ons van die Here is en kan ons dikwels later terugkyk en uitwys waar ons kosbare lesse geleer het oor geloof en lewe – selfs in die droogste en swaarste van tye.

Wanneer Israel in die vorige hoofstuk honger word, wanneer hulle sorg nodig het, leer hulle dat God selfs in daardie swaar tyd ’n besonderse liefde vir hulle het, dat God selfs in die woestyn kies om by Sy mense te wees.

In sommige Bybels hoef ons nie eers om te blaai om by die volgende hoofstuk uit te kom, voordat die volgende swaarkry vir Israel tref nie. Die volk is op pad na die beloofde land, hulle is vry, nie meer slawe wat hulle dood werk in Egipte nie, en hulle loop dag en nag saam met die sigbare teenwoordigheid van God.  Maar die woestyn is baie anders as die vrugbare landstroke van Egipte waar die Nyl en sy vertakkings sorg vir water,  ’n verskeidenheid van kos, vrugte en gewasse, en natuurlik, die befaamde “vleispotte van Egipte”.

In die woestyn het die Israeliete nou reeds kos uit die hemel ontvang, genoeg vir elke mens in elke gesin,  vir veertig jaar lank. Maar selfs die manna uit die hemel, die geheime hemelse kos waaroor mense verstom gevra het “wat is dit die?”, het alledaags geword. Manna het al minder  ’n versekering van God se sorg en teenwoordigheid geword, en al meer  ’n afgesaagde gegewe.

In die woestyn is daar ook nie water nie en dis daaroor dat die volk in hierdie teksgedeelte so ongelukkig is. Mense is natuurlik uiters afhanklik van water om te kan oorleef – dit is te verstane dat die Israeliete begin vrees het en begin lam raak het, soveel so dat die Nyl met sy slawerny na ’n beter uitkoms geklink het.

Die volk se woede en verwyt word onmiddellik op Moses gemik – hy is dan nou die een wat hulle laat trek het, dit moet dan ook hy wees wat hulle wil laat doodgaan van die dors. Dit lyk ook asof die volk op hierdie punt reeds opgegee het op die hoop dat God vir hulle sou water gee, aangesien hulle vir Moses sterk aanspreek en sê: “Gee jy vir ons water om te drink!”

Laat ons ’n oomblik hier stilstaan. Is dit nie interessant dat die volk so vir Moses aankla nie? Hulle is tog sekerlik bewus daarvan dat Moses, soos hulle, ook net ’n mens is en, soos hulle, ook net so dors is. As Moses nie ’n geheime kruik saam met hom gedra het nie en nie bewus was van enige versteekte strome nie, dan het hy sekerlik net so min water soos die res van die volk gehad.

Waarom dan sê “gee jy vir ons water om te drink!” as die volk weet dat Moses maar net so magteloos is soos die res van hulle?

Mens kan die versteekte beskuldiging in daardie uitroep hoor: “Gee jy vir ons water, want God gaan dit nie doen nie. Gee jy vir ons water, want vir jou kan ons sien en met jou kan ons baklei.”

Moses dien hier maar net as die ontvanger van die volk se woestynwoede, wanneer daar moontlik iets heeltemal anders agter dit skuil.

Ten spyte daarvan bid Moses steeds tot die Here, al vrees hy vir sy eie lewe, en vra hy waarheen hy dan nou nog die volk moet begelei. Die Here se antwoord en oplossing is eenvoudig, dit is saaklik – die mense is dors, so gee vir hulle water.

So eenvoudig is die besluit, so eenvoudig en sonder voorwaarde is die Here se sorg vir hierdie mense. Die swaar tyd wat Israel beleef is meteens verby wanneer die Here antwoord op hulle behoeftes.

Vele jare later skyf Asaf ’n gedig oor die gebeure in die woestyn met die belofte dat hierdie dinge vir generasies oovertel sou word, dat die volk nooit sou vergeet wat God in die woestyn gedoen het nie:

 

12 Voor die oë van hulle voorvaders het Hy wonders gedoen

in Egipte, in die veld by Soan.

13 Hy het die see oopgekloof

en hulle laat deurtrek.

Hy het die water laat opdam

en dit het soos ‘n muur gestaan.

14 Bedags het Hy hulle met ‘n wolk gelei,

snags met die lig van ‘n vuur.

15 Hy het rotse in die woestyn oopgekloof

en soos by groot waterstrome almal se dors geles.

16 Hy het water uit die rots laat stroom,

dit soos riviere laat vloei.

17 Maar hulle het aangehou om teen Hom te sondig;

in die woestyn het hulle teen die Allerhoogste in opstand gekom.

 

Hoe gebeur dit dat Israel aanhou vergeet? Hoe gebeur dit dat God elke keer getrou sorg en voorsien en die kant van mense kies, dat God aanhoudend lesse leer oor oorgawe, selfbeheersing, geduld  en afhanklikheid, en dat Israel dit elke keer daar in die Woestyn vergeet?

Wat opvallend is in hierdie teksgedeelte is die heel laaste woorde. Nadat die volk met Moses baklei het en nadat die hele wonderbaarlike voorsiening gemaak is, kom ons dalk by die hart van die volk. Hulle kies om met Moses te baklei, terwyl hulle dalk ’n dieper behoefte wegsteek. Dit is eers in die laaste sewe woorde dat ons hoor dat die volk êrens gevra het: “Is die Here by ons of nie?”

Is dit nie dikwels wat in die woestyn met ons gebeur nie? Vergeet ons nie ook die duur lesse wat ons uit swaar tye leer wanneer ons op plekke kom waar dit absoluut godverlate voel nie?

Ons is dalk gou om die Israeliete te oordeel: hoe kan hulle al weer dieselfde fout maak? Hoe kan hulle vergeet dat God hulle uit slawerny gered het? Dat Hy vir hulle kos gegee het? En water? Hoekom vertrou hulle nie net op God nie?

Ja, een van die lesse wat ons leer is vertroue op God.  Ja, ons leer geduld en selfbeheersing in die proses. Ja, ons leer dat God voorsien, maar ons kan hoegenaamd nie voorgee dat ons dit nooit vergeet nie, dat ons nooit daarin twyfel en ook wil vra: “Is die Here by ons of nie?”

Miskien is die kruks en die troos van die les in die woestyn dan dit: God is die een wat voorsien, ek is die een wat vergeet. God is die een wat sorg, ek is die een wat twyfel. God is die een wat teenwoordig bly, ek is die een wat wegdwaal. God is die een wat alles besit en ek is die een wat afhanklik is.

Miskien is die voorreg van die les in die woestyn dat ons eindelose toegang het tot God se opvoeding, dat ons volmaak geskape is, maar dat ons nog nie naastenby klaar gevorm is nie. Miskien kan ons eerlik wees en sê die les in die woestyn is warm, droog en aaklig en dat dit ons vorm, dat dit ons oortuig van God se teenwoordigheid en sorg.

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is” – nie net vir oplossings en voorsiening nie, maar ook vir herinnering aan ons menslikheid, aan ons swakheid, aan die feit dat ons gaan vergeet wat God vir ons in die woestyn gedoen het.

Geseënd is dié wat hulle tyd in die woestyn ook gebruik om in elk geval saam met God te wandel.

Amen