Is dit U, Jesus?

 

Votum/seëngroet: Ps 95

1Kom, laat ons voor die Here jubel,

laat ons juig tot eer van die rots

wat ons verlos.

3Want die Here is ‘n groot God,

‘n groot Koning bo al die gode,

4in wie se hand die dieptes

van die aarde is,

en aan wie die kruine

van die berge behoort,

5aan wie die see behoort.

Ja, Hy het dit gemaak,

en die droë grond

met sy hande gevorm.

6Gaan in, laat ons in aanbidding

buig en kniel,

laat ons op ons knieë staan

voor die Here, ons Maker.

7 Want Hy is ons God

en ons is die volk wat Hy laat wei,

die kleinvee van sy hand.

Skriflesing:

Mat 25:31-46

Preek:

Miskien is dit belangrik om net onsself aan die begin te herinner aan die verbande met die OT – hoe Jesus die hele tyd in sy bediening wys hoe Hy die bevestiging en die vervulling van die OT – op so ’n manier dat dit nog verder en dieper gaan as wat mense ooit sou kon dink. 

Die eerste belangrike konteks uit die OT vir hierdie gedeelte, kry ons in Dan 7. Jesus verwys altyd na Homself as die Seun van die Mens – en veral in Mat 24-25 wat gaan oor die “Dag van die Here” of die eindoordeel kom dit baie voor. Nou waar kom dit vandaan?

In Dan 7 het Daniël hierdie ontstellende nagtelike visioene van diere met baie koppe en horings wat verslind en vertrap. (Openbaring het baie parallelle met Daniël; en ons weet, dink ek, die diere is die verskillende koninkryke van die wêreld wat mekaar opvolg en altyd geweldadig en vol onreg is). En dan in die middel van hierdie chaos kom iemand “soos die seun van ’n mens” (’n menslike gestalte) aan wie die eer en die heerskappy oor alle volke en nasies gegee word. En natuurlik behoort hierdie gesag en hierdie titel aan Jesus. 

En die tweede sinspeling uit die OT wat hier ter sprake is, is Eseg 34 (ook terloops in die konteks van ballingskap) wat gaan oor die Here se kudde – die volk Israel – en die herders (leiers) van die volk. Die herders versorg nie die kudde nie – hulle vertrap en verstoot die swakkes. Hulle sorg net vir hulleself – en daarom gaan die Here regter wees tussen die skaapramme en die bokramme (tussen vet skape en maer skape). Daarom gaan hulle ’n herder kry uit die huis van Dawid – een wat die verstrooi is sal terugkry en die wat gebreekte bene het sal versorg – Jesus!

As daar een ding is wat ek graag sal wil hê mense moet besef, is dit dat Jesus nie gekom het om vir ons ’n nuwe godsdiens te leer nie, maar om vir ons te leer wat dit beteken om regtig mens te wees. Regdeur sy lewe en sy lering is dit wat uitstaan. En as God ons as mense gemaak het en ons regtig liefhet, is ons florering as mense tog wat vir Hom ook belangrik is, of hoe? Die hart van Jesus se boodskap word vir ons saamgevat in Matteus in die bergrede. Dit begin Hy met die saligsprekinge – gelukkig/geseënd is die armes van gees, die barmhartiges, die wat treur, die sagmoediges, barmhartiges, die vredemakers, die wat rein van hart is… Hy leer oor die ekstra myl stap, die ander wang draai en liefde vir die vyand. Want, goeie bome dra goeie vrugte en slegte bome slegte vrugte – alles kom van binne af, uit ons hart en uit ons aard – en dit is van binne af dat ons moet verander. 

En daarom is dit nie almal wat vir Hom sê “Here, Here” wat in die koninkryk van die hemel sal ingaan nie, maar net die wat die wil doen van sy Vader wat in die hemel is. En soos ons weet is dit maar net ’n vervulling en ’n verheldering van dit wat God reeds gekommunikeer het in die wet en die profete. Van Eksodus tot by Amos, en regdeur Jes en Jer, gaan die toets vir die volk oor hoe het hulle die vreemdeling en die arme, die weduwee en die verdrukte hanteer. 

Maar ons ego’s verskans ons teen hierdie radikale, selfopofferende, Goddelike liefde. Ons wil/kan dit nie ontvang nie, want ons verkies verdienste teenoor genade en self probeer teenoor oorgawe. En daarom verkies ons ook selfsug en selfbeskerming teenoor weerloosheid, deernis en diens. En daarom mis ons uit op die grootste en diepste vorme van gemeenskap wat God vir ons in gedagte het as mense. 

Ons ego hou van reg wees. Ons ego hou daarvan om vir ander mense te wys hoe verkeerd hulle is. En so bly ons geestelik blind en onvolwasse. Die Skrifgeleerdes en Fariseërs in Jesus se tyd was sekerlik opregte mense, net soos wettiese Christene sekerlik ook vandag is. Maar hulle klem was op die uiterlike; op reëls wat mens op die regte pad en in die regte verhouding met ’n puntenerige God moes hou. 

En van vroeg af het hierdie tipiese menslike reaksie (want, die ego!!) ook die Christelike geloof/godsdiens ingesluip. En dit was nie Paulus se skuld nie, maar sy woorde is veral hiervoor gebruik – want Hy het die evangelie aan die Grieke probeer verduidelik binne hulle Griekse kultuur en hy het so bietjie meer tegnies geraak en ’n bietjie meer geskryf oor moraliteit (wat mos gaan oor die reg en verkeerd van menslike gedrag, soos bv. seksualiteit en die huwelik en ouers en kinders en selfs oor hoofbedekkings in die erediens en of vroue mag praat.) En van die kerk se eerste sinodes af het dit al die tyd en energie en aandag gekry. Hoe glo ek reg? Wat is die morele reëls? Want ons soek wat ons kan meet. Want, dit is hoe ek in die hemel kom en die straf van ’n kleinlike God wat die reels maak het, vermy – laasgenoemde het veral in die middeleeue belangrik geraak. 

(Eendag gesels ons ’n bietjie spesifiek oor ons perspektief oor die hel, maar dit is ’n gesprek vir ’n ander dag…)

En uiteindelik het hierdie goed niks te make met my binneste, my aard en die karakter van die mens wat ek word nie. Dit is alles buite my en in my kop – alles waaroor ek kan beheer hou en waarmee ek ander wat verskil kan oordeel (want, die ego!!). En dit is eintlik alles randsake as dit kom by wat Jesus vir ons leer en demonstreer (en interessant genoeg is daar Christene wat alles in die Bybel letterlik sal opneem, behalwe Jesus se eie woorde – miskien die toppunt van ironie?). 

Die dieptepunt van ware menslikheid is empatie – die vermoë om met iemand anders meegevoel te hê. En alhoewel die Bybel nie die woord gebruik nie – is dit tog die hart van die Bybelse boodskap. God het die wêreld so liefgehad… Jesus se hart het in beroering gekom as Hy die skare sien. 

En dit lyk my as ons mense om ons begin sien met ware empatie, meegevoel, meelewing – ek wat ’n dag in jou skoene loop; as ek kan sien wat jou ware menslike behoeftes is, fisiese hulp, menslike teenwoordigheid en troos, oop arms as ander verwerp – dan sien jy al hoe meer van Christus in hierdie wêreld! En al hoe meer van Christus beteken al hoe meer lig, al hoe meer hoop, al hoe meer vreugde en al hoe meer gemeenskap. 

En dan raak jou oordeel oor ’n ander se lewe en keuses, jou politieke ideale, jou kultuur en groep, al hoe mínder belangrik en die liefde van Christus vir ander en die potensiaal van sy liefde om hulle vry te maak, al hoe méér belangrik. En doen ons nie dan juis die wil van ons Vader wat in die hemel is nie?

“Julle het gehoor dat daar gesê is, ‘Jy moet jou naaste liefhê,’ en ‘Jou vyand moet jy haat’. 44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, 45sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees. Hy laat immers sy son opkom oor slegte én goeie mense en Hy laat dit reën oor wetsgehoorsames én wetsverbrekers. 46As julle diegene liefhet wat vir julle liefhet, verdien julle dan enige beloning? Maak die tollenaars nie ook maar so nie? 47En as julle slegs julle broers groet, wat doen julle meer? Maak die heidene nie ook maar so nie?

48 “Wees dus volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Mat 5)

Amen. 

Nagmaal:

Die nagmaal word in engels o.a. “communion” genoem. ’n Vorm van diep gemeenskap, tussen Christene en met Christus. Wat ons gemeenskap met Jesus vorm, is as ons die tekens van sy genade, die tekens van sy liefde, regtig ontvang en net daarop vertrou – nie op onsself nie – as ons ego uit die pad is – dan gebeur die diep konneksie wat ons die ware, ewige, oorvloedige lewe gee. 

En as ons saam dit doen, gebeur daar ook iets tussen ons. Ons ontdek ons naaste in hulle weerloosheid, in hulle nood en ons begin ook onsself uitdeel aan mekaar tot heling en verlossing. 

css.php