26 Julie 2020: God is (hier) vir ons – Rom 8:26-30
Votum:
“God is liefde!” juig ons harte en bedink wat Liefde doen: dat Hy ons sy Seun gestuur het om ons sonde te versoen. Hy, wat eerste liefgehad het, het in liefde ons vergeef. Nou kan ons, uit God gebore, uit die bron van liefde leef.
Seëngroet:
Genade en vrede vir elkeen van julle, van God ons Vader, van die Here Jesus Christus en van die Heilige Gees!
Skriflesing:
Romeine 8:26-30
Preek:
Die Gees is nie net die Een wat ons lewens behoort te beheers nie, maar ook die een wat vir God naby aan ons bring.
Die Gees staan ons in ons swakheid by, wanneer ons nie weet hoe om te bid volgens die wil van God nie, wanneer ons sukkel om gelykvormig te wees aan die Seun van God, dan tree die Gees vir ons in en pleit by God dat ons maar swakker mense is, dat ons oor en oor kanse gegun mag word om nader aan God te probeer leef.
Dit is ’n tydlose herinnering aan die God wat tussen skepsels kom leef het: God is nie net vir ons nie, nie net aan die kant van mense nie, maar ook hier vir ons om ons te vertroos en ons te leer hoe om te hoop.
Dan kom daar ’n gevaarlike draai in Romeine 8 wat dikwels misbruik word en wat in die geskiedenis van die wêreld al gelei het tot byna ondenkbare boosheid:
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is.”
Na hierdie vers brei die gedeelte uit oor die uitverkorenes van God, en daarby sal ons moet stilstaan, maar eers hierdie ou bekende vers: God laat alles ten goede meewerk.
Ek was vir lank kwaad oor die moeilike dinge wat ek in my kort lewe moes deurmaak: ek kon bloot nie verstaan hoekom sommige mense net al die geluk in die lewe tref, terwyl die ander van ons moet sukkel met alles nie. Hierdie kwaadgevoel is net vererger daardeur dat geloofsake soms alles net moeiliker gemaak het. Ek kon as teologiestudent en getroue, betrokke lidmaat van die kerk nie verstaan dat alles vir my moeilik was nie – ek probeer dan nou om die Here te dien.
Ek was kwaad daaroor dat ek my lewe toewy aan die “werk van die Here” en dat ander mense, naastefamilie, vriende en vreemdelinge, se lewens lyk asof hulle eerder die Here se guns geniet. Hoekom laat God dan nie alles ten goede meewerk vir my nie?
My verstaan van hierdie vers was verdraai en selfsugtig, dit was gerig op my eie wil, op die dinge wat ek liefgehad het in plaas van die Here.
Wat Paulus egter hier van praat, is dat God dinge ten goede laat meewerk vir Sy koninkryk – dié wat Hom liefhet, is immers dié wat werk vir Sy koninkryk en nie hul eie nie.
Ons moet dus nooit dink dat hierdie verse beteken dat ons as kinders van God geen swaarkry sal beleef nie: ons hoop is dan om in beeld gelyk te wees aan Christus, ons broer, en Hy het die meeste van almal gely. Kindskap van God beteken hoegenaamd nie dat al ons persoonlike wense en begeertes ons gegun gaan word nie, maar as ons leef soos kinders wat God liefhet, sal Hy dinge laat uitwerk ter wille van Sy koninkryk.
Waar Paulus dan verder gesels oor die uitverkorenes van God, raak dit ook soms vir ons moeilik om goed te verstaan. Die gedagte dat God mense uitverkies is in die verlede wreed misbruik om die een nasionaliteit, ras of selfs geslag bo ander te plaas met die verwronge oortuiging dat God dit so bestem.
Dink maar aan Nazi-ideologie, ons eie apartheidsera of vrouens wat steeds nie dieselfde betaling ontvang as mans wat dieselfde werk doen nie.
Ons as mense hou daarvan om ons te verbeel dat die groepering waaraan ons self behoort, die uitverkorenes van God is.
Die punt wat ons egter mis, is dat God die een is wat uitkies, God is die een wat mense roep, God is die een wat vryspreek en God is die een wat verheerlik.
Sien, ons as selfdienende mense is so behep daarmee om deel te wees van dié wat uitverkies is, dat ons veg vir ons eie stukkie grond en daarom dink ons ons kan oordeel oor die res van God se uitverkore kinders. Waaroor voel ons so bedreig? As die Gees dan reeds in ons woon en reeds besig is om ons te vorm tot Christus se beeld, dan is ons mos reeds vrygespreek, is ons reeds kinders van God.
Juis daarom het ons die Gees so nodig: die Gees staan ons in ons swakheid by, wanneer ons nie weet hoe om te bid vir God se wil nie, wanneer ons ons eie wense en begeertes probeer laat gebeur, wanneer ons wil oordeel oor wie kinders van God is en wie nie!
Verbeel jou hoeveel druk ons op onsself sit om god te speel.
Paulus praat hard met die gemeente in Rome oor die plekke waar hulle dalk ’n groot fout of twee maak en ons maak hierdie selfde foute. Dan wonder ek soms meer as ooit, hoe voel God regtig oor my?
Paulus vra dit ook: “Wat is ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge?”
ROM 8:31-39
Paulus erken in hierdie gedeelte dat ons sukkel: dat ons sukkel om te bid, dat mense mekaar verkeerdelik veroordeel, dat ons blootgestel is aan lyding, benoudheid, naaktheid, honger, gevaar – wat ons dikwels self as mense vir mekaar veroorsaak.
Maar uiteindelik is hy, en ons, daarvan oortuig dat niks ons van die liefde van God kan skei nie.
Nie die manier hoe ons bid nie, nie ons veroordeling van mekaar nie, nie ons verdraaide interpretasies van bybelverse nie, nie COVID-19 nie…
Want sien, vir mense is hierdie onvergeeflike dinge en ja, die meeste van dit veroorsaak ook verbrokkeling in ons verhouding met God, maar God gooi nie mense weg soos wat mense met mekaar doen nie, want Hy is die een wat uitverkies, wat roep, wat ons verheerlik en die een wat ons vryspreek daarvan om god te speel.
God is vir ons, hoe kan ons dan nog teen mekaar wees?
