Die koninkryk is soos...
Votum/seëngroet: (Ps 119)
129U bepalings is wonderlik;
daarom hou ek daarby.
130As u woorde oopgaan, gee dit lig;
dit gee insig aan onkundiges.
131Met ‘n oop mond hyg ek,
want ek hunker na u gebooie.
132Draai na my en wees my genadig,
soos U gewoonlik maak
met hulle wat u Naam liefhet.
Nagmaal:
Stories, beelde, simbole. Dit is wat ons gebruik om van die diepste vrae en worstelinge in hierdie lewe sin te maak. By ’n Troosdiens, bv. vertel ons stories en lees ons gedigte – kyk ons na foto’s.
Jesus het dit so goed verstaan. Hy het mense altyd in gelykenisse geleer. ’n Gelykenis verhelder aan die een kant en verdiep die geheim aan die anderkant.
Daarom is Jesus se offer van sy liggaam wat ons in die nagmaal vier die grootste gelykenis van almal.
Ons sien God se liefde, ons verstaan sy hart en sy bedoeling en ons vryheid soveel beter. Maar ons buig ook dieper voor die geheim — wie is U, Here, wat U lewe vir my sal gee; wat my innooi in ’n dieper verhouding met U? Wat my toelaat om in U te woon en U in my? Wat my nooi om een met U te word?
Kinders – mystery of fantasy – ons moet mooi kyk en uitfigure wat regtig aangaan… die geheim van Jesus se lewe wat vir ons nuwe lewe gee.
Skriflesing:
Mat 13:31-33, 44-52
Preek:
Mat 13 is ’n hoofstuk vol gelykenisse. En dit is in hierdie hoofstuk (v34-35) wat Mat spesifiek sê dat Jesus “al hierdie dinge vir mense in gelykenisse geleer het, en sonder gelykenisse het Hy hulle niks geleer nie”. Meeste van ons hou meeste van die tyd van dinge wit en swart. Ons wil dit eenvoudig hou. Sê dinge vir ons duidelik en maklik; reguit en ondubbelsinnig. Gee vir ons die reël of die opdrag en ons sal luister. Ons hou nie van onsekerheid nie.
Maar Jesus doen nie dit nie. Daar is iets aan die omvang en die aard van die koninkryk van God wat dit onmoontlik maak. Dit is baie meer as selfs net ’n nuwe lewenswyse. Dit is ’n nuwe wêreld, ’n nuwe werklikheid wat ons kan betree en ontvang. Die manifestasies daarvan is wyd en nuut en verrassend. Uniek en persoonlik vir elke mens, elke situasie en elke tyd.
So Jesus is nie moedswillig nie; Hy probeer nie onverstaanbaar wees nie. Net so ’n bietjie vroeër prys Hy sy Vader omdat Hy “hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en aan eenvoudiges bekend gemaak het.” Dit gaan nie oor hoe slim jy is nie, maar hoe jou geestelike ingesteldheid is. Is jy bereid om Jesus te vertrou? Sal jy Hom volg en hierdie nuwe wêreld betree?
Jesus ontmoet juis mense daar waar hulle is. Werk jy graag in die tuin of boer jy? Kom ek vertel jou van die mosterdsaadjie. Is die kombuis jou omgewing? Kom ek vertel jou van die koninkryk van die hemel wat soos suurdeeg is wat in meel ingewerk word. Bevind jy jouself in die besigheidswêreld – kom ek vertel jou van ’n skat in ’n saailand en ’n pêrel met groot waarde – of ’n visserman, van groot treknette in die see.
In kort wil Jesus dit vir elke mense sê op ’n manier wat vir hulle werk – die koninkryk van die hemel het onmeetbare waarde, dit is aan die werk selfs al kan jy dit nie sien nie, en dit gaan jou alles kos as jy ten volle daaraan wil deelneem. Kom ons vat hulle gou een op ’n slag:
Uiteindelik is daar vyf kort gelykenisse in hierdie gedeelte wat soortgelyke beginsels oor die koninkryk van die hemel met ons deel. In die eerste plek is daar die element van iets wat versteek of verborge is. Die mostersaadjie verdwyn onder die grond. Die suurdeeg is versteek in die meel. Die skat is begrawe in die veld. ’n Kosbare pêrel kry jy nie sonder om te soek nie. Selfs die vis is weggesteek onder die oppervlak van die see.
Die koninkryk van die hemel, is nie die dadelik sigbaar nie. Kom nie met fanfare nie. Die werk onder die oppervlak van dinge en vra dat dié wat dit begeer, daarna moet soek.
Tweedens is daar hierdie element van ’n uitkoms wat heeltemal uit verhouding is met die begin daarvan. Die kleinste saadjie word ’n boom wat groot genoeg is vir die voëls van die hemel om in sy takke te kom nesmaak. Die bietjie suurdeeg word in 40 liter meel ingewerk, genoeg om 100 mense van brood te voorsien. En daardie enkele ontdekking van die skat of die pêrel is groot genoeg om alles te verkoop wat jy het net om dit in die hande te kry.
En derdens is daar hierdie element van radikale reaksie – totale oorgawe. Die persoon wat die skat in die saailand ontdek, verkoop alles wat hy het. Die handelaar wat die kosbare pêrel vind, verkoop alles wat hy het. Die koninkryk van die hemel verander alles. Niks is vergelykbaar in waarde nie. Jou lewe behoort nie meer aan jouself nie. Die vraag wat elkeen van hierdie gelykenisse aan ons wil stel is: “Sal jy alles los om hieraan deel te neem?”
51“Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.”
Ons geloof leef altyd in hierdie spanning tussen nuwe en ou dinge. Jesus is so goeie voorbeeld daarvan. Hy verseker ons dat geen deel van die getuienis van die Ou Testament sal wegval nie. Tog neem hy die gangbare afleidings en interpretasies daarvan so ver verby dit wat dit in daardie tyd was. Hy daag die vaste tradisie uit. Hy bring mense terug na God se oorspronklike bedoeling. Hy pas dit toe vir daardie tyd en omstandighede.
Om God se koninkryk te ontvang en te betree, om die lewende Jesus elke dag te volg in jou menswees, in jou kring, in jou werk, in ons tyd, is uitdagend. Nie omdat ons breine te klein is nie, maar omdat ons behoefte aan aardse sekuriteit te groot is en ons vertroue te min. Maar laat Jesus se gelykenisse jou lei en die leidrade verskaf. Verbeel jou sulke stories wat die koninkryk in jou lewe ’n werklikheid sal maak.
Onthou dat dit onder die oppervlak is. Kyk dieper as die uiterlike. Kyk dieper as die voorkoms en die onmiddelike. In jou lewensverhaal, in jou verhoudinge, in jou werksplek. Daar is saadjies wat besig is om te groei. Suurdeeg wat werk. Skatte wat wag om ontdek te word. Iets wat nou klein en onbenullig lyk kan groei en ontwikkel. Dit kan groter wees as wat jy gedink het – as jy dit net kan raaksien vir wat dit is. Dalk kan jy vandag terugkyk oor jou lewe en getuig oor so ’n prentjie wat vir jou vorm aangeneem het.
Agter dit alles is daar Jesus wat jou nooi, wat jou roep. Laat gaan, gee oor, vertrou. Gee alles vir hierdie skat van die koninkryk van die hemel. Jy sal meer ontvang as wat jy ooit kan droom. Amen.
Doop:
Weereens ’n prentjie – God wat liefhet – wat eerste uitreik. Wat alles doen en gee; ons antwoord en ontvang net.
Water, teken van lewe, van geboorte, en van skoonwas.
