Erediens 26 Feb 2023 - Entrepreneurs van Hoop kweek lewe! - Matt 13:31 - 35

Verwelkoming:

Welkom by ons erediens.  Dit is baie lekker om saam met almal hier te wees.

Votum:

Klaagliedere 3:18

Kindermoment 

Die grootste boom in SA – Sagole kremetart in Limpopo – ·  22m hoog, 33,7 meter bree stam – saadjies is baie klein – om en by 1 cm!

In Wes-kaap –King Edward boom in Diepwalle –  39m hoog en 7m breed, Sy saadjies ook minder as 1 cm! 

Mosterdsaad is ook baie baie klein  – so sê Jesus is God se koninkryk…word ‘n boom! 

·        
Nie al klein dingetjie…Grootste brood – 1571kg – weeg soveel soos ‘n Lambo Aventador!

Om Brood te bak het jy nodig om die Deeg te laat rys – suurdeeg-GIS

·        
Jesus se mense en boodskap – hoef nie groot dinge te doen nie –klein dingetjies skep LEWE&Hoop!

·        
 

Boodskap&Teksgedeelte:Mattheus 13 

  ‘n Vasvra begin:

1.  Noem die 5 rykste mense terwereld

2.  Noem die laaste vyf wenners van die Rugby wêreldbeker

3.  Noem die laaste 5 wenners van Mej. Suid-Afrika

4.  Noem 10 mense wat Nobelprys wenners is.

5.  Noem die laaste 5 jaar se Oscar wenners van beste akteur/aktrise.

Hoe het jy gevaar?  Ons vergeet gou gister se nuusmakers!  En ons praat nie van nobodies nie – hierdie is die beste van die bestes en ons onthou hulle nie!

 Vandag kyk ons saam na twee van die bekendste gelykenisse in die Bybel, die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg in Matt 13.  Dit is nie alleen baie bekend nie, maar op die oog af ook duidelik en eenvoudig.  G’n wonder dat Jesus self dit nie nodig gevind het om, soos met baie ander koninkryksgelykenisse, hierdie twee ook later meer breedvoerig uit te lê nie.  En saam met die lees van Sagaria 4:10 wat ons herinner om nie die klein dingetjies van elke dag gering te ag nie is mens se gevoel dat die boodskap van die week vir ons almal glashelder duidelik is.  Dit herinner mens aan die Afrikaanse spreekwoord “klein begin is groot gewin”. 

 

Soos met die meeste ander gelykenisse as mens dit goed gaan lees, is daar egter ook in hierdie twee ‘n kinkel in die kabel.  Daar lê meer agter die boodskap as bloot dat die koninkryk klein begin, maar nietemin buitengewone proporsies sal aanneem en in iets baie groot sal ontwikkel.

 

Om hierdie dieperliggende boodskap te verstaan os dit belangrik om iets te weet van beide mosterdsaad en suurdeeg van daardie tyd: Beide was slegte goed in Jesus se tyd. Dit het negatiewe konotasies gedra.

Mosterdsaad was beskou as ‘n gevaarlike indringer onkruid in landerye.  Dit begin met ‘n klein ou saadjie, maar as hierdie saadjie ontkiem (byna onmiddellik nadat dit in die grond beland het) en wortelskiet is daar geen keer aan nie. Die bos neem heeltemal oor en vervuil.

 

Suurdeeg was ‘n besmetter wat liefs vermy moes word.  Wanneer suurdeeg in die omgewing was, was alles kort voor lank daardeur aangetas. Dit word dikwels in die Bybel gebruik om die gevaarlike aard van sonde uit te wys.  Suurdeeg is meestal met boosdoeners en korrupsie in verband gebring.  Dit is nie sonder rede dat een van die heiligste feeste van die Joodse volk, die Pasga, ook as die Fees van die Ongesuurde Brode bekendgestaan het nie. Diegene wat in daardie tyd brood met suurdeeg in geëet het, is van die gemeenskap afgesny, want hulle was onrein.

 

Na die aanhoor van die twee gelykenisse sou die hoorders waarskynlik wonder of hulle enigsins nog wou hê dat die koninkryk moet kom. Wie sien nou uit na iets wat soos mosterdsaad sal vervuil en soos suurdeeg die hele wêreld sal kontamineer?

 

Waarom vergelyk Jesus die koninkryk van God met hierdie slegte dinge – mosterdsaad en suurdeeg?

 

Omdat beide die mosterdsaad en die suurdeeg ‘n manier het om so onkeerbaar te versprei dat dit ‘n hele sisteem kan infiltreer en oorneem.

 

Onthou, Jesus praat nie hier net met die dissipels nie. Hy is nog besig om met die skare te praat en te
leer van God en Sy wêreld.  Daar is so baie mense dat Hy in ‘n skuit moes gaan sit terwyl hulle almal op die strand saamdrom om na Hom te luister. Onder hulle sou daar ook Fariseërs en Skrifgeleerdes wees. Mense wat vir Jesus uit die weg wou ruim. Wat juis na Hom kom luister het omdat hulle Hom wou vastrek.

 In die groter konteks van Matt 13 begin Jesus met die gelykenis van die Saaier.  Hierdie Saaier saai nogal onverskillig met Sy saad.  As jy sy saai jy tog versigtig net in die goeie grond – hierdie saaier – SAAI oral- ongeag waar die saad val- HY SAAI!

 

Stel julle voor hoe ontsteld hierdie Joodse leiers en ook die Romeinse invloedryke burgers moes wees wanneer Jesus op die manier oor die koninkryk en oor God praat. Want as Jesus dan sê dat die koninkryk soos mosterdsaad en soos suurdeeg is, dan beteken dit hierdie ryk wat aan die kom is is ‘n bedreiging van die status quo. 

 

 

Die koninkryk van God is rewolusionêr. En die Saaier, God is ook! 

 

Want die Saaier is dinamies en aktief sonder ophou aan die gang om te saai – in die goeie en slegte grond – God se boodskap is vir die wat WIL hoor en die wat niks wil hoor nie!  God is ook die Een wat die mosterdsaad in Sy tuin plant en die Een wat deeg deursuur…Hy inisieer dit!  Hy – nie die mense nie!

Wat Jesus verder vir Sy skare sê is die wêreld verwens die koninkryk, dit wil dit nie hê nie en probeer dit uitroei. Maar sonder sukses, want ten spyte van terugslae sal die koninkryk onstuitbaar voortbeur.  Niks kan dit keer nie!

 

Maar op ‘n treffende wyse word die negatiewe vir die wêreld wat nie vir God wil hê nie, omgekeer na goeie dinge in God se ryk:

Mosterdsade groei vinnig en vorm nie ‘n boom nie, maar ‘n woeste, ontembare bos. Maar, sê Jesus, die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaadjie wat sal groei en ‘n groot boom sal word.  Nie ‘n bos nie, maar ‘n boom! Groter as groot. Die mosterdsaad van die koninkryk sal die mosterdsaad van die wêreld oortref. Hierdie boom sal so groot groei dat voëls in sy takke nes sal maak.  Ons moet die beeld sien dat die koninkryk ‘n plek is vir mense om te skuil, om tuis te wees, te behoort!  Te voel jy is geliefd!

En die suurdeeg sal die meel so deursuur en daar sal so in oorvloed gebak word dat daar genoeg brood sal wees vir ‘n groot fees waar almal welkom is.  MEER AS GENOEG! 

 

Die koninkryk van die hemel, sê Jesus, lyk maar so klein en onskadelik.  Maar dit sal so groot groei en so versprei dat die wêreld wat niks daarvan wil weet nie, geheel en al daardeur oorgeneem sal word.

 

Jesus sê dit reguit – Julle wêreldlinge sal dit vergelyk met mosterdsaad en met suurdeeg, so sal die koninkryk teen julle en selfs deur julle voortbeur totdat alles wat nie daarby kan inpas of aanpas nie sal verdwyn, en totdat daar genoeg veilige plek en genoeg kos sal wees vir almal wat daarna hunker en soek en vra.

 

Klein begin is groot gewin. Dis waar. Maar dit is nie die enigste Afrikaanse spreekwoord wat van toepassing is vandag nie.

Onkruid vergaan nie, bring die meer dieperliggende betekenis na vore. En die gevaarlike, rewolusionêre verspreiding daarvan – hiervoor is daar ‘n Engelse spreekwoord wat mooi pas:

Dynamite comes in small packages.”Kyk na my!”

Hoe kweek klein dinge LEWE?

Weer ‘n vasvra:

1.  Noem 3 vriende/familielede wat jou deur swaarkrytye bygestaan het.

2.  noem 5 mense wat jou iets geleer het wat regtig die moeite werd was

3.  Noem ‘n paar mense wat jou gewaardeer en spesiaal laat voel

4.  Noem 5 mense met wie jy die graagte tyd saam spandeer

5.  Noem 5 helde wie se verhale vir jou inspirer.

Hierdie was ‘n makliker ene nê…want die boodskap is duidelik  -dit is NIE die mense wat die sterkste, slimste, beroemdste of rykste wat ‘n verskil in die lewe maak nie – dit is mense wat Small acts of kindness and love leef – wat saam met die SAAIER se gelykenisse ons vandag wil aanmoedig om te kyk na dit wat ek by my het- dalk iets alledaags en eenvoudig -wat ’n verskil kan maak en LEWE en HOOP kan skep in ander se lewens…

 Amen

Gebed:

Here, help ons om die behoeftes rondom ons raak te sien en nie daarvoor blind te wees of daardeur verlam te word nie.

Here, help ons om kreatief te soek na oplossings en geleenthede om betrokke te raak en ’n verskil te help maak.

Here, gee ons die geloofsmoed om met passie te reageer en gehoorsaam te volhard.

Amen

 

css.php