Moenie bang wees nie!

Votum:

Skildery van die tuiskoms…

Die lig – oudste seun uit die hoogte en nie ten volle in die lig nie… al dra hy ook rooi…

Jongste seun…lê teen sy pa se bors – moeg en flenters, maar nog die familiedolk

Kop soos ’n pasgeborene (gevangene)

Die Pa se hande – ferm en Vaderlik, sag en moederlik

Waar is jy?

Ek sal opstaan – W.E.G. Louw

Ek sal opstaan en na my vader gaan;

opstaan uit my vodde en my vuil;

opstaan en onder die volle maan

wat geel streep oor die vleiland, gaan en huil

aan sy breë skouer, en hóm saggies vra

om alles te vergeet, en te vergewe

die jongkrag van my hoon wat hy moes dra;

dat ek weer soos ‘n kindjie klein die lewe

vol sonskyn voel, die vreugde van my werk

in die wingerd waar pers die swaar korrels hang;

dat ek weer voel my hand jonk en sterk,

die voorjaarskoelte saggies teen my wang – 

Voorwaar onmiddellik na my vader sal

en moet ek gaan, en aan sy voete val.

Seëngroet:

My vrede gee Ek julle; julle moenie ontsteld wees nie en julle moenie bang wees nie! Ek sal julle nie as weeskinders agter laat nie – in die huis van My Vader is daar baie woonplek. 

Skriflesing:

Johannes 14:18-29

Preek:

Hierdie film hervertel die storie van die klein Prinsie deur die oë van ’n dogtertjie wat gedwing word om te vinnig groot te word (soos ons kinders vandag!). Die ou oom wat die klein prinsie in die woestyn ontmoet het, help haar daarmee – en herinner alle volwassenes oor die wonder van die vars oë en die wysheid van ’n kind. Die klein prinsie is alleen op sy eie klein planetjie en hy soek na ’n vriend. Hy vetrek dus na sy naburige planete; op die een klein planetjie, ontdek hy ’n koning sonder onderdane wat steeds ingenome is met sy eie mag. Op ’n ander ’n man wat nie net nie genoeg erkenning kan kry nie en enige iets sal doen vir applous, en op ’n derde klein planetjie in hierdie merkwaardige sonnestelsel nog ’n alleen siel wat kliphard probeer om al die sterre te koop en boek te hou van die hele lot.

Uiteindelik raak die storie van die klein prinsie ’n eggo van Jesus se woorde dat ons soos kinders moet raak; dat volwassenes glad nie so slim is as wat hulle dink nie en dat jy net ’n goeie volwassene kan wees as jy kan onthou wat dit beteken om kind te wees. Die storie van die klein prinsie hou vir ons ’n spieël op sodat ons die verregaande dwaashede van ons wêreld kan sien. Ons het hierdie stelsel geskep wat soos ’n honger dier is wat net meer en meer goed en geld wil hê; en dit met geweld sal gryp –  en op ’n manier koop ons almal in op die mite dat dit ons sal versadig.

Op ’n stadium in die stuk wat ons gelees het, vra Judas (nie Iskariot) nie, vir Jesus hoe dit dan is dat Jesus Homself aan hulle openbaar, maar nie aan die wêreld nie. En in Eugene Peterseon se The Message vertaling antwoord Jesus dan: “Because a loveless world, is a sightless world.” Die klein prinsie het gesê ons kan net iets of iemand se ware vorm sien met die hart. Sonder liefde sien ons niks – is ons niks. 

Kan ons nog onsself ’n nuwe wêreld verbeeld; ’n wêreld wat nie gesien word deur ons skewe logika en vooroordele en wrokke nie, maar deur God se Waarheid. Johannes help ons met sy evangelie op ’n spesiale manier om hierdie pad te begin stap. Aan die begin help hy ons al om nie oor God se Woord en Waarheid as statiese “ewige waarhede” te dink wat jy met jou kop moet verstaan en glo nie. Dit lewe, want dit het in Jesus ’n lyf gekry, ’n Iemand geword, wat ons kan sien en liefhê en saamleef.

Die Woord het vlees geword en onder ons kom woon (1:14). “Laat julle harte nie ontsteld wees nie… In die huis van my Vader is daar baie woonplek. (14:1-2)” “As iemand My liefhe, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en ons sal na hom toe kom en by hom woon… (14:23). “Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle… laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie. (14:27)”

Ons kan vrede ken want ons het ’n huis, ons is tuis… God se woonplek is nou by die mense. 

Ken Jesus ons wêreld waar ons die heeltyd soos swerwers voel? In laasweek se gedeelte het Jesus gesê: “Nou is die Seun van die Mens verheerlik, en God is deur Hom verheerlik…” Nou? Net nadat Judas daar uit is om Jeus te verraai? Nou, net voor Jesus vir Petrus (vol bravade) sou sê dat hy Hom drie keer gaan verloën. Nou, net voor Jesus in hegtenis geneem sou word, gemartel sou word, onskuldig veroordeel sou word en gekruisig word?

Jesus het geweet dat dieselfde dinge waardeur Hy is op sy volgelinge sou wag. En soos enige iets anders is dit deur sy voorbeeld, meer nog, in Hom en deur Hom, in sy gemeenskap, in sy liefde, wat ons leer hoe om ook met sy vrede te leef. Dit voel my waar die ander evangelies klem lê op die koninkryk van God, Johannes praat van die Vader se woonplek. Die huis van die Vader, is nie net ’n belofte vir eendag nie. As Jesus hier vir sy dissipels sê dat Hy weer na hulle toe kom, praat Hy nie van die wederkoms nie. Hulle gaan nie weeskinders wees nie – hulle gaan nog steeds ’n huis hê – want Hy kom na hulle deur die Heilige Gees – die Parakleet. Agter alles wat Jesus hier belowe, lê die werk van die Heilige Gees, die Parakleet. 

Nou hoekom het die vertalers besluit om hierdie Griekse woord netso te behou? Sommige Engelse vertalings doen dit ook. Dit is juis sodat die reikwydte van die woord nie beperk word deur een woord te kies nie; want dit kan verwys na ’n advokaat, iemand wat jou saak stel, iemand wat geroep is om jou by te staan, ’n helper, ’n voorspraak, ’n pleitbesorger, ‘n trooster. Ons gemeenskap met Jesus en sy Vader deur die Heilige Gees is ons huis. Ons veilige anker. Ons skuilplek. Jou huis is waar jou hart is. 

Sommige mense kan dit sien. Sommige mense kan daar woon. Maar die wêreld ken nie hierdie woning nie en hulle ken die die Gees wat hierdie woning skep nie – en hulle kan Hom nie sien of ontvang nie. 

Wie is die wat in die Vader se huis kan woon? Wat in die Vader en in sy Seun Jesus se geselskap kan deel? Dit is die mense wat Jesus liefhet. En hoe weet ’n mens jy het Jesus lief. Jy neem sy woorde te harte. Jesus doen twee dinge. Hy deel die Vader se liefde en Hy deel die Vader se woorde (van liefde). In Joh is hierdie twee onlosmaaklik aan mekaar verbind. Jesus se nuwe gebod, die een wat ons sal merk as sy dissipels, is dat ons mekaar moet liefhê, die wêreld moet liefhê soos wat Hy die wêreld liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê het. 

Vanuit ons lewe in die huis van Vader, ons geestelike woning, leer ons ’n totale ander perspektief op mense en gebeure. Ons sien ander nie as vyande waarvoor ons moet bang wees nie (al gebeur daar verskriklike goed waarvan Jesus so goed wees – soos verraad en onreg en geweld). Miskien beskryf Henri Nouwen dit die beste…

“When we claim and constantly reclaim the truth of being the chosen ones, we soon discover within ourselves a deep desire to reveal to others their own chosenness. Instead of making us feel that we are better, more precious or valuable than others, our awareness of being chosen opens our eyes to the chosenness of others. That is the great joy of being chosen: the discovery that others are chosen as well. In the house of God there are many mansions. There is a place for everyone—a unique, special place. Once we deeply trust that we ourselves are precious in God’s eyes, we are able to recognize the preciousness of others and their unique place in God’s heart.

Die mag van die heerser van die wêreld is gebreek. En ons Here Jesus wat dit gedoen het, woon by ons deur die Heilige Gees. Hy is ons Parakleet (advokaat, helper, voorspraak, pleitbesorger) – Hy onderrig ons in die waarheid, Hy herinner ons aan alles wat Jesus gesê het. Daarom hoef ons nie ontsteld te wees nie. Daarom kan ons vrede ken. Daarom hoef ons nie ons harte op te hang aan al die vals beloftes van vrede wat hierdie wêreld en sy heersers aan ons maak nie. 

Ons hou vas aan sy woorde, aan sy voorbeeld sy pad. Dit is kinderlik, dit is kwesbaar, nederig, onselfsugtig, gefokus op die ander en gemeenskap met alle mense – alles waarvoor ons wêreld nie nie staan nie. Maar as jou oë verlig is vir die waarheid, dan kan jy die ware vorm van dinge sien, deur die uiterlike skyn…

Amen.

Geloofsbelydenis: 

Ons glo in een God, die almagtige Vader,

die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;

en in een Heer, Jesus Christus die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;

God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;

deur wie alle dinge ontstaan het;

wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;

en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;

wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;

wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het;

wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;

en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker,

wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word , wat gepreek het deur die heilige profete.

Ons glo in een heilige, algemene kerk,

gegrond op die leer van die apostels.

Ons bely een doop

tot vergifnis van sondes;

ons verwag die opstanding van die ontslapenes,

en die lewe van die toekomstige eeu. Amen (uit die belydenis van Nicea).

Doop: Liam Nicolas Visser

Vader se huis – druk vir Liam teen sy vors – verwelkom Hom – kuns is om te weet jy is klaar by die huis – jy het niks anders nodig nie…

Seën:

Mag God ons geestesoog verhelder dat ons kan weet watter hoop sy roeping inhou;

en dat ons kan weet hoe geweldig groot die krag is wat God uitoefen in ons wat glo – dieselfde krag waarmee God vir Jesus uit die dood opgewek het;

css.php