Waar ons dien
Verwelkoming:
Kom ons dink vir ’n oomblik oor al die verskillende leefwêrelde wat ons hier vanoggend verteenwoordig – waar ons beweeg, met wie ons kontak het – dit ons ons reikwydte, ons gemeenskap waar die Here ons geplaas het – en dit is deel van ons as ons vanoggend hier saamkom in die Here se teenwoordigheid.
Votum/seëngroet:
(Lydenstyd – verootmoediging – voorbereiding op nuwe lewe)
Klag is om met ons grootste nood eerlik na die adres te gaan waar ons weet ons kan gehelp word. Ons doen dit ook namens ander… Armes en siekes, hoop verloor het… Oekraïne en Gaza…
(S3-8)Ps 22
2 My God, my God,
waarom het U my verlaat?
Waarom is U ver daarvan
om my te verlos,
ver van die woorde
wat ek uitskreeu?
3My God, ek roep bedags,
maar U antwoord nie,
ook snags,
maar daar is geen rus vir my nie.
4U is tog die Heilige,
U heers waar die lofliedere
van Israel opklink.
5Op U het ons voorouers vertrou,
hulle het vertrou
en U het hulle bevry.
6 Tot U het hulle om hulp geroep
en hulle het ontvlug;
op U het hulle vertrou
en hulle het nie beskaamd gestaan nie.
11Op U is ek aangewese
van die moederskoot af;
van my geboorte af is U my God.
12Moenie ver van my bly nie,
want die nood is naby;
daar is immers niemand wat help nie!
15Soos water is ek uitgestort,
my hele gebeente val uitmekaar;
my hart het geword soos was,
dit het in my liggaam gesmelt.
16My krag het uitgedroog
soos ‘n potskerf,
en my tong kleef
aan my verhemelte;
in die stof van die dood laat U my lê.
20U, Here, moet tog nie
ver van my bly nie;
my bron van krag,
kom my gou te hulp.
U het my geantwoord.
23 Ek wil u Naam verkondig
aan my •broers;
in die byeenkoms wil ek U loof:
24“Julle wat vir die Here
ontsag het, loof Hom!
Julle, die ganse nageslag
van Jakob, vereer Hom!
Vrees Hom, ganse nageslag van Israel!
25Want Hy het die lyding
van die magtelose
nie geminag of misken nie;
Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie;
maar toe hy Hom om hulp gesmeek het,
het Hy gehoor.”
Vryspraak:
Een van die groot boodskappe van die Bybel is, jy is vrygemaak!! Vry van skuld, skaamte en verlore voel – jy behoort, jy is tuis.
Skriflesing:
Luk 10:1-11, 16-20
Preek:
Ons jaartema is om in Pas te wees met die lewende God. Maar dit is ook meer as dit. Ons as gemeente wil vorm gee aan ’n wedstrydplan waarmee ons kan leer wat dit vir ons beteken om ’n roepingsgetroue gemeente te wees.
“In Pas” verwys mos, soos die prentjie op ons almanak voorstel, na ’n dans. ’n Dans is ’n wonderlike ding waar twee mense mekaar in ’n venootskap vind. In ons vennootskap met God is Jesus die leier. Hy gee selfs die musiek! In dans is daar ritme en struktuur en vaardigheid, maar daar is ook geleentheid vir vryheid en vreugde!
Om saam met Jesus te leer lewe, is baie soos so ’n vaardigheid – dans, musiekinstrument, of sport. Daar is seker kennis wat jy moet opdoen, maar daar is goed wat jy saam met jou afrigter moet inoefen – die vreugde van jouself ten volle uitleef, word vooraf gegaan deur ’n seker dissipline…
Vandag praat ons oor die aspek van ons wedstrydplan nl. “waar ons dien”. Dit verteenwoordig daardie deel van ons roepingsgetrouheid wat gaan oor “om te groei en vrug te dra daar waar ons geplant is.” Of anders gestel – om die koninkryk van God te laat kom in die gemeenskap waar God ons geplaas het.
Reg, wat gebeur hier in ons teksgedeelte? In die begin van Luk 9 stuur Jesus sy 12 dissipels uit met ’n baie soortgelyke opdrag. Hier stuur Hy dus “nog” 72 uit. Is daar iets aan die getal? (Dit kan 70/72 wees). In Gen 10 is daar ’n lys van nasies, wat ook 70/72 is!! Julle sien dus die simboliek.
Baie soos Johannes die Doper berei hierdie gestuurdes die pad vir Jesus voor. Hulle missie is duidelik en dringend. Jesus is hier. Die koninkryk van God is in Hom op hande. Anders gestel. Dit is baie naby. Dit is besig om deur te breek. En jy kan deelwees daarvan.
Dit kom as beide ’n groot verantwoordelikheid (wat baie van jou vra) en as ’n groot geleentheid en vreugde. Regdeur die teksgedeelte sien ons hierdie spanning.
Die oes is groot. Maar dit is die Here se oes. Gaan nou!! Jy is jou loon werd. Daar sal vir jou voorsien word. Die resultaat is nie in jou hande nie en jy hoef jou nie moeg te maak daaroor nie. Jy is aan my verbonde en jy het reeds ’n tuiste in die hemel. Op ’n manier is jy onaantasbaar. “Niks sal jou enige skade kan aandoen nie.” Jy gaan met die gesag van die Here wat baie groter is as die gesag van die bose. Die 72 kom met groot blydskap terug – hulle is verras en opgewonde. En Jesus bevestig dit: “Ek het die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val.” Hy is oorwin en jy is aan die wenkant!
Maar Jesus waarsku ook: moenie op die verkeerde goed fokus nie. Moenie dink jy is spesiaal nie en moenie eer vir jouself soek nie. Toe ons as kerkraad hieroor gesels het, het iemand gesê: aardse logistiek tel nie hier nie. Jy gooi al jou aardse/menslike sekuriteit oorboord. Jy maak jouself weerloos. “Soos lammers tussen wolwe.” Jy verlaat jou gemaksone. Jy verlaat jou op die gasvryheid en die versorging van die mense wat jou ontvang. Jy het niks anders om te bied nie as die boodskap van vrede.
Dit is merkwaardig dat dit die hart is van wat hulle mense bied. Sonder enige vooraf oordeel oor mense, wie hulle is, wat hulle dink – word die vrede uitgeroep. En as die vrede ontvang word sal die vrede op die persoon/huis rus. En as dit nie ontvang word nie, word dit nie gemors nie, dit keer terug na jou. Jou vrede verminder nie, dit verdiep; dit is nie afhanklik daarvan of ander dit aanvaar nie.
Ek dink dit is verskriklik belangrik dat ons, as dit kom by ons getuienis en teenwoordigheid in hierdie wêreld, weer dink oor Bybelse vrede. Dit is gebaseer op die ryk begrip van God se shalom in die OT. Dit het sterk bande met die “heelword” idee van 2 Sondae gelede toe ons oor die mediese tassie gesels het. Bybelse vrede is as alles op hulle plek is en die samelewing werk soos dit moet. Daar is vrede, want daar is regverdigheid en reg. Mense word nie misbruik, uitgebuit, onregverdig behandel en onderdruk nie. Dit lei altyd tot onvrede. God se vrede hang saam met sy liefde vir elke liewe mense en sy beeld in elke liewe mense. Dít kan ons nie ontken nie!! Ons soek al die vredeliewende mense om saam met hulle te werk.
Nou wat moet ons maak van al hierdie mooi beginsels?
As ons so homogeen (dieselfde) is soos ons vriende, dan verarm dit ons Christelike belewenis en getuienis verskriklik. Dit is altyd so: “soort soek soort”. Hierdie menslike instink is nou nog wet en teologie gemaak hier in ons mooi SA onder apartheid. Dit is baie makliker om Christen te wees as ons dieselfde ras en kultuur het, dieselfde klas en dieselfde taal. Maar Jesus roep ons tot meer – dit is tog duidelik uit ons teks en die hele Bybel!! Alle tale, stamme, volke en nasies!! Die vroegste kerk se getuienis was juis in hulle radikale diversiteit wat die versoening van Jesus vir die wêreld duidelik gemaak het. (Jood en Griek, slaaf en vry, man en vrou…)
Die sentrale beginsel wat ons dalk moet begin waag en inoefen is om ons gemaksone te verlaat. En ons het daardie sekuriteit wat Jesus aanbeveel – ons kan dit saam doen; en belangriker nog, natuurlik gaan Hy saam! Jy doen dit as jy deelraak van sopkombuis, maar nie net in die veiligheid van jou kombuis die sop maak nie, maar gaan help om dit uit te deel en daardie mense in die oë te kyk en hulle omstandighede en nood te sien en te vra – Here, hoe lyk U vrede hier?
Jy doen dit as jy saamgaan na die Calvynse kerk se erediens in Paarl-Oos – onthou julle die absolute vreugde daarvan in die aanbidding en die saamkuier?! Vra vir Hubert, Annalise en Wimpie wat gebeur met jou in Msinga. Die voertuig kan PJI wees, dit kan ons gemeente se getuienisbediening wees. Die punt is, jy moet jou lyf skuif (ek betree nou al die terrein van die bruggie). Selfde lywe, selfde plek, geen groei.
Ons gemeenskap het nood, die diepste nood na God se vrede – en die gestaltes daarvan is eindeloos. God het ons hier geplant. Ons moet ons lote uitsprei. Ons moet op nuwe plekke wortel skiet en vrug dra. Die geleenthede, die mense die plekke sal Hy ons wys; sal Hy jou wys, ook daar waar jy beweeg – al die konsentriese sirkels van ons leefwêrelde is ons as gemeente se gemeenskap! Maar jy sal moet waag, buite jou gemaksone beweeg.
Jy kan veilig bly. Maar dan bly jy ook op die rand van die blydskap om deel te neem aan die koms van God se koninkryk. Of jy kan waag, en kyk wat gebeur. Gaan ons saam waag en kyk wat gebeur? Amen
Gebed:
Oordenking: watter sekuriteite in jou gemaksone is jy die meeste geheg aan? Sien jy kans om te waag? Wat sal dit konkreet beteken? Maak ’n commitment…
