Wees jou roeping waardig!
Wiel:
Waar ons dien – Wingerdstok: God plant ons op ’n spesifieke plek. Ons moet daar wortel skiet en vrug dra. Dit gaan oor deel raak van ons gemeenskap, verhoudings bou, tyd spandeer; onsself gee… (bou die brug na die brug!)
Stilte/votum/seëngroet:
Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
Skriflesing:
Ef 4:1-7, 11-16
Preek:
Ef is ’n wonderlike brief wat die evangelie en die doel en betekenis daarvan in ons lewens, so mooi ontsluit – en wat is die uiteindelike doel? Dat ons volwasse sal wees in ons geloof. (En ’n baie spesifieke volwassenheid wat ons vanoggend wil verken: “ ’n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus.” Ek het so in 2015/16 van die wreedste ontnugteringe in my lewe gehad. Dit was met die kerk se groot sinodes oor SGV. En wat my pla is nie dat ons oor moeilike kwessies as Christene verskillende menings kan hê nie. Wat my nog steeds pla in die sg. culture wars (veral deesdae rondom geslag/seksualiteit – dink maar aan die Algeriese bokser) is hoe ons as Christene klaarblyklik nie veel van ’n idee het waaroor ons geloof regtig gaan nie. Ons kyk oppervlakkig en na die uiterlike. Ons sien nie wat regtig op die spel is nie.
Die stryd kom nog van altyd af aan. Daar is altyd aanslae wat ons met wysheid moet leer navigeer. Jesus roep ons weer op: Leef so dat julle die roeping waarmee julle geroep is, waardig is…”
As ons ten minste al die intensie het, dan is die stryd half gewonne. Die tweede helfte kom wanneer ons dan uitvind wat die eerste treë is om te gee op hierdie pad en dit dan in derwaarheid begin gee.
Die Ef-brief gaan veral oor die aard van kerkwees. Paulus begin hierdie gedeelte met die oproep wat hy sê hy op ons harte wil druk: “Leef so dat julle die roeping waarmee julle geroep is, waardig is.” En hier gaan dit duidelik nie oor daardie spesifieke roeping wat sommiges het om onderwysers te word en ander dokters of wat ookal nie. Hier gaan dit oor die basiese, essensiële roeping wat ons almal deel: en dit is om ‘n “volgroeide mens te wees, so volmaak en volwasse soos Christus.” (4:13)
Ons noem dit gewoonlik geestelike groei, of dissipelskap. Maar soos dit maar met woorde gaan is hierdie woorde ook nou al oorbekend en onbemind – soms het ons programme in die kerk wat ons sê daaroor gaan, maar uiteindelik verwag niemand vuurwerke nie – mense verander mos nie regtig nie, en eintlik is ek Ok soos ek is en om maar so aan te klap tot ek hemel toe gaan.
Dallas Willard skryf in sy boek The Divine conspiracy: “What God get out of our lives – and indeed what we get out of our lives – is simply te person we become. It is God’s intention that we should grow into the person He could empower to do what we want to do.” En dit is nie ’n tikfout nie – wat óns wil doen – daai oomblik as jou tweede natuur jou eerste natuur geword het – waar jou wil en God se wil oorvleuel sodat jy vry is om sy wil te doen omdat jy dit regtig wil doen.
Kom ons kyk dan hoe Ef hierdie lewenswandel in ooreenstemming met die roeping wat ons van God ontvang het, beskryf. In Ef 1 skryf Paulus hierdie ongelooflike woorde oor die kerk, oor ons…: “Ja aan Hom (Jesus) het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” Kan die kerk, ons klompie verweerde siele, aan so ’n hoë roeping voldoen?
Ons moet natuurlik nie net met onsself en ons onvermoë rekening hou nie, maar ook met God en sy vermoë. In Hoofstuk 2 en 3 (wat die hart van die brief is) maak Paulus twee baie belangrike punte. God maak van ons 1)’n nuwe mens én 2) een nuwe mensheid.
Ons was dood in ons ou sondige lewe, maar ons lewe nou in Christus. Ons is ’n nuwe mens. Dit som Paulus so in die eerste deel van Hoofstuk 2 (2:10):
“Nee, God het ons gemaak wat ons nou is, in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”
En dan in die 2de helfte van Hoofstuk 2 en Hoofstuk 3 verduidelik hy hoe die nuwe mensheid voortvloei uit die die samekoms van hierdie herskepte, nuwe mense. Jesus het nie net individue se sondes nie, maar ook alles wat verkeerd geloop het in die strukture van ons wêreld, afgebreek deur sy liggaam te gee aan die kruis – al die mure van vyandskap – ras, klas, herkoms, gender – ondenkbaar vir ’n Jood en kom ons wees maar eerlik: ondenkbaar vir ons ook. Almal is nou lede van die een liggaam van Christus, saam “lede van die huisgesin van God” (2:19), saam opgebou “tot ’n geestelike huis waarin God woon.” (2:22)
Dit sê Paulus, gaan lees maar in Hoofstuk 3, is die geheimenis van die evangelie, die is die groot waarheid wat verborge was maar nou deurgebreek het: die deur is oop vir almal, ook vir nie-Jode – en nou begin dit meer sin maak; die kerk kán ’n lewende getuie wees van hoe die evangelie, hoe die koninkryk van God in aksie lyk (onthou julle van die teken en die voorsmaak?). Die grootste bedoeling van God is ’n haalbare alternatief – en die “Motley crew” van die die vroegste kerk hét dit aan die wêreld voorgeleef! En óns kan ook. Oral daar waar Christene mekaar vind in en oor al die menslike grense kan kom in liefde, vrede, vriendskap en versoening, daar gebeur die evangelie!! (Dan lewe ons in die koninkryk – in die sfeer van God se effektiewe wil – en is ons daardie teken en voorsmaak van sy koninkryk).
Dit is nie vanselfsprekend nie – hoegenaamd nie, maar dit is haalbaar. Vir mense onmoonlik, maar vir God moontlik. (Daarom Paulus se gebed “Mag julle in staat wees om saam met alle gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.” Want dit is mense wat dít begryp wat kan meewerk om die mure van vyandskap af te breek. Nét hulle.)
En daarom eindig Paulus met hierdie praktiese prentjie van hoe hierdie wonderlike waarheid fisies lyk: “Wees altyd beskeie, vriendelik, geduldig en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.” Ek gaan nie nou ingaan op die rol van almal wat die Here aan die kerk gegee het om die kerk toe te rus nie – ek wil net julle aandag vestig op die doel van hierdie “gawes” aan die kerk (4:12):“So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.” (Julle sien die nou band tussen eenheid en volwassenheid – wat ons hopelik teen hierdie tyd nou al beter verstaan.)
En dan sal ons standvastig wees, nie soos ’n bootjie wat rondobber op die oop see en uitgelewer is aan die genade van die golwe en die winde nie. Ons het volwasse, standvastige Christene so nodig. En ongelukkig is daar nie baie van hulle nie. En dit is nie omdat ons nie kán nie – dit is omdat ons nie wíl nie, en ook omdat ons nie weet hoe nie.
Ons wêreld is in chaos – ek hoef julle nie van al die drama te vertel nie – én die openbare beeld van ons Christelike geloof is nie oral positief nie – te veel oordeel, te min liefde. Ek hoop julle kon deur my kort oorsig oor Ef die lyn sien – iets van die hart van die evangelie, iets van die beeld van die koninkryk van God: ons fundamentele roeping waarmee ons lewenswandel in ooreenstemming moet wees: nuwe mense saam in ’n nuwe mensheid.
So kom ek sluit op die volgende manier af: Ons ís die verteenwoordigers van dié waarheid in hierdie wêreld. Nie óns waarheid nie, dié waarheid. Natuurlik niks om op trots te wees nie, dit is in God se groot genade aan ons geskenk.
“Ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe.” (V15). So om in liefde by die waarheid te bly is ’n belangrike aspek van groei na volwassenheid.
So eerstens, wat is die waarheid? In 1:13 word die waarheid beskryf as “die evangelie van julle verlossing.” Die nuwe menswees en die nuwe mensheid dus.
En natuurlik hang alles van hierdie waarheid af: van mense se erkenning en aanvaarding daarvan: dat hierdie Jesus Here is en dat sy koninkyk juis só lyk! – en ons leef en verkondig dit onverskrokke; ons gee ons lewe daarvoor.
“Don’t let yourselves be squeezed into the shape dictated by the present age.” (Rom 12:2)
(Volg: dan sal God julle denke vernuwe en julle sal sy wil kan onderskei…)
Amper soos die kat in die glaspot druk ons die evangelie in ons kultuur in en die kat is amper onherkenbaar en glad nie vry om te doen wat ’n kat doen nie. En dit maak dat rand-issues (taal, doop, geslag, aborsie) ewe skielik verhef word as die merkers van die waarheid. En dit weerhou ons as Christene wat in hierdie “culture wars” verval van die groei tot volwassenheid in ons geloof en die evangelie van betroubare getuies. Ons fokus is heel af en die duiwel lag al die pad.
Om standvastig te wees as ’n volwasse gelowige, as iemand van die waarheid, beteken nie om rigied te wees nie. (Juis nie, wat niks wat rigied is kan groei nie). Ons kan nooit die evangelie verteenwoordig deur liefdeloos mense uit te sluit nie, aan te val of te beswadder nie. Dit is onmoontlik om die evangelie te verdedig terwyl jy die boodskap daarvan verdraai.
Volwasse gelowiges weet dit gaan heel eerste oor die evangelie van ons verlossing – oor die nuwe menswees en die nuwe mensheid – oor God se groot droom, om alles en almal onder een hoof te verenig – en dit is onder Christus. En as ons harmonieus mekaar vind in eenheid (sinergie), elkeen met sy gawe, diensbaar in liefde, sal die liggaam groei (v16). Mag God ons die genade gee om almal saam hierdie commitment te maak. Amen.