Getrou aan die ewige Koning
Votum/seëngroet:
Openb 1
Aan Hom wat ons liefhet,
en ons deur sy bloed
van ons sondes verlos het,
6wat ons ‘n koninkryk gemaak het,
priesters vir God, sy Vader –
aan Hom kom die heerlikheid
en die sterkte toe,
vir ewig en ewig. •Amen.
7Kyk, Hy kom met die wolke,
en elke oog sal Hom sien,
selfs hulle wat Hom deurboor het;
en al die volke op die aarde
sal oor Hom rou.
Ja, amen!
8“Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige.
Genade vir julle en vrede van Hom
wat is en wat was en wat kom,
en van die sewe Geeste
wat voor sy troon is;
5en van Jesus •Christus,
die betroubare getuie,
die •Eersgeborene uit die dood
en die heerser oor die konings van die aarde.
Skriflesing:
Dan 7:9-10, 13-14
Preek:
Aan die einde van koninkrykstyd, net so voor Advent, vier ons die Sondag van Christus die Koning. As ons kyk na ons wêreld en die toestand daarvan op hierdie tydstip, wat beteken dit vir ons? Hoe help dit ons kyk, verstaan, hoop en leef?
Die boek Daniël is geplaas in die tyd van die Babiloniese ballingskap. In ongeveer 586vC breek die donkerste dag in die geskiedenis van die volk Israel aan toe die geweldadige en wrede koning Nebukadneser en sy leër, na jare van beleg, die stad Jerusalem inneem en verwoes. Al die welgestelde en jonger mense word weggevoer in Ballingskap – net die oues en armes word agter gelaat. Vir ons om te identifiseer moet jy jouself indink – Paarl word tot op die grond afgebrand. Jou ouerhuis en skool, jou kerk, in puin – die ganse ekonomie kom tot stilstand. Die winkelrakke is leeg. Met die net die klere aan jou lyf word jy ’n slaaf in ’n vreemde land.
Ons sou met die Here worstel oor so iets. Vir die Israeliete, as die verbondsvolk, God se uitverkorenes, hulle tempel sy aardse woning, hulle land, die beloofde land, soveel meer! Hoeveel vrae sonder antwoorde, hoeveel twyfel en wanhoop is daar nie? Waar is ons God nou? Het Hy ons verlaat – of Hy is net nie wie ons gedink het Hy is nie?
In die eerste deel van die boek Daniël speel die bekende stories af. Hoe Daniël en sy vriende deel raak van die koninklike personeel. Hoe hulle getrou bly aan hulle geloof, aan hulle God (nie onrein kos eet nie, nie buig voor die beeld nie, hou aan bid al is dit verbied), en hoe Hy hulle in die moeilikste van omstandighede versorg en bewaar – red uit die brandende vuuroond en die leeukuil. ’n Voorbeeld, ’n inspirasie, vir elke gelowige van alle tye wanneer alles verander, alle sekuriteit wegval en die wêreld donker raak.
En dan in die tweede helfte van die boek Daniël het ons hierdie profetiese visioene. Hy droom van vier diere, verskriklik en vreesaanjaend; die een erger as die vorige. Vier opeenvolgende koninkryke wat sal opkom en vernietig, en dan sal tot ’n val kom; net op vervang te word deur die volgende een; die patroon van die empire wat ons tot vandag toe nog ken.
Dink net wat dit vir Daniël moes beteken – in hierdie donkerte, hierdie prentjie, hierdie belofte van heerlikheid en hoop, van die dag wat God saam met hierdie “mensekind” (seun van ’n mens) sal regeer, ’n ewige heerskappy en alle volke nasies en taalgroepe sal Hom dien.
Hoe sentraal hierdie gedeelte in die Bybel is, kan moeilik oorskat word. Uit die Ou Testament eggo dit temas en gedeeltes uit Jesaja, Sagaria en Esegiël. In die Nuwe Testament haal Jesus self dit gereeld aan, en in Openbaring staan dit baie duidelik sentraal. Terwyl ander na Jesus tydens sy aardse bediening verwys het na die Messias of die Christus, noem Hy Homself altyd die “Seun van die Mens.” Hy is die vervulling van Daniël se visioen. Hy is die mens wat die troon langs God sou inneem en saam met Hom sou regeer, vir ewig, in heerlikheid.
Wat is die dieper betekenis van hierdie visie (of die plek in die Bybelse storie) wat in Jesus in vervulling gegaan het? Genesis vertel vir ons hoe ons as mense gemaak is as God se vennote in sy skepping; ons moes saam met Hom heers oor en sorg vir sy skepping. Maar die eerste dier (slang en draak!) verlei mense – ons wil nie meer in vennootskap met God wees nie, ons wil eerder sélf God wees!
En so kom daar ’n breuk en skeiding. Ons harte verhard en raak al hoe meer soos die van die “dier”; ons doen dierlike dinge; ons vernietig mekaar. Weens ons onkunde en selfsugtige begeertes verruil ons die ereplek in gemeenskap met God vir die rioolslote van alles wat sleg is.
Dit is nie toevallig dat die mooiste, kragtigste profesieë gebore word in die slegste van tye nie. Die lig skyn op die helderste in die donkerste nag. Jesaja, Jeremia, Esegiël, Daniël. In die eeue voor die koms van Jesus sou God se volk al hoe meer oor hierdie profesieë dink, bid en praat; die verwagting het gegroei dat die Een moes kom – die Een wat weer God se koningskap en teenwoordigheid sou vestig in Israel en oor die ganse aarde en mensdom.
En dit is hoekom Jesus van Nasaret na Homself as die Seun van die Mens verwys het. Hy het presies geweet wie Hy is – die Een wat die kloof tussen God en mens moes oorsteek en die verlore mense moes gaan haal; Hy moes namens hulle doen wat hulle nie vir hulself kon doen nie; die mag van die dier breek; hulle sonde en skuld uitwis, die verhouding herstel. Die pad vir hulle oopmaak na die ereplek langs God. Konings en priesters wat sal deel in sy ewige heerskappy.
Een van die merkwaardigste oomblikke waar Jesus Homself verbind aan hierdie teksgedeelte is toe Hy reeds gevange geneem is voor sy kruisiging. Voor die Joodse Raad (wat klaar besluit het hulle wil Jesus doodmaak), was die Hoëpriester besig om Hom te ondervra (Mat 26:63-65):
“Ek stel jou onder ‘n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?”
Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle:
“Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel. ”
Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig?
Na die tyd lyk dit so vanselfsprekend, maar voor die tyd sou niemand dit kon droom nie; Die groot oomblik van die finale oorwinning oor die dier, sy bose mag en bose vennote, was toe die Seun van God die pad van elke seun van die mens (mensekind) moes stap aan die kruis. Die pad van selfvernietiging wat ons self gemaak het; al ons verkeerde keuses, al ons skuld en skaamte, ons boosheid, ons geestelike en ons natuurlike dood moes Hy op Hom neem, op Homself, in Homself, om dit te oorwin aan die kruis – en bevestig is deur uit die dood uit op te staan.
En die kruis van ons Koning definiëer nou nog ons manier van kyk en wees en doen in hierdie wêreld. Net die kruis kan die wêreld laat sin maak en vir ons hoop en vrede gee. Dit is die teken van God se omgekeerde koninkryk, sy logika van selfopofferende liefde. Die koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie en nie met die metodes en die wyses van die wêreld (geweld, oorheersing, manipulering, geld, leuens) kom nie, maar met liefde, nederigheid, diens; krag as jy swak is, eerstes wat laaste is, en mense wat saam die vreugde en onskuld van kinders herontdek.
Miskien kan Openbaring se onheilige Drie-Eenheid ons help om as koninkrykskinders in hierdie tydstip in die geskiedenis van die wêreld te leef. Ons het die draak (die slang van ouds, die Satan self),
die dier (al die Satan se proxies hier op aarde, mense wat bewustelike of onbewustelik kies om sy bose planne namens hom uit te voer);
en dan die vals profeet – die leuens en propganda wat versprei word om mense aan neus rond te lei en hulle te laat val vir die dier en die draak se slinksheid.
Die geestelike stryd is fel. Dinge om ons en in die wêreld voel onseker; niks voel meer vas en duidelik nie. Ou sekuriteite het weggeval. Daar is vrees en wantroue. Daar is baie vingerwysery en blaam. Iemand moet die skuld kry.
Burgers van die Jesus se ewige koninkryk doen veral twee goed om hul Koning te verteenwoordig in hierdie tyd.
Ons bly nader aan Hom as die bron van lig en lewe en waarheid as ooit tevore. Ons ondersoek ons harte; ons verootmoedig onsself; ons bly in die lig – net deur sy krag kan ons die duister weerstaan.
Ons onthou dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie. Ons mede-mens is nie ons vyand nie. God se genadige uitnodiging om in ons verlossing te deel is aan hulle almal. Ons demoniseer geen mens of geen groep nie. Ons is regverdig in ons oordele. Ons bly wat reg en goed is. Ons jaag nie voordeel of sukses, rykdom om roem vir onsself nie, maar staan by die geringstes.
Ons soek en baklei onwrikbaar dat die waarheid sal seëvier. Ons buig nie die waarheid vir groepsbelang nie en ons versprei nie vals nuus nie – ons ontmasker dit eerder.
Elke woord, elke keuse, elke daad van my, maak saak. Die Seun van die Mens sit aan die ereplek aan die regterhand van die Vader. Hy sal weer kom op die wolke. Tot dan verteenwoordig ek Hom en sy koninkryk en verdien Hy ons hoogste lojaliteit. Amen.
