Preek – 24 Januarie 2021: Nuwejaarsvoornemens? – 2 Kor 3:18
2 Kor 3:18; Mat 19:21
Nuwe jaar/voornemens
PREEK:
2020 was nie ‘n goeie jaar vir die wêreld nie agv baie redes maar hoofsaaklik agv die Covid-19 virus. Ook in SA het ons deurgedruk van een toespraak tot ‘n volgende een van oom Cyril. En in ons agterkoppe het ons om een of ander rede (ek ook) gehoop dat 2021 ‘n beter jaar gaan wees. En toe 2021 aanbreek, was ons reg vir die beter nuwe jaar, net om ‘n 2de vlaag van die virus en toe strande en leë kerke en nog ‘n reeks inperkings te beleef. En dit laat ons baie teleurgesteld in ons verwagtings.
Iets van die belewenis is eintlik ook maar waar van meeste van ons nog voor die Virus-tyd. Nuwejaar is amper al sinoniem met nuwe voornemens in die meeste mense se lewens. Sommige van ons skryf dit neer en rankskik dit. Ander hou dit in hul agterkop, maar ons hoop en beplan vir beter dae. So gaan dit al jare en jare in meeste mense se lewens. Sulke dinge soos: Ek wil fikser, maerder, gesonder, geduldiger of ryker word. En dan koop ons vir ons gymklere of ‘n nuwe fiets of begin met ‘n banting diëet en staan sterk vir ‘n week of 3. Natuurlik is dit mos nou nie verkeerd om goeie voornemens te hê nie. Anders sal ons ook nêrens kom nie. Maar ons ken ook die gesegde wat sê dat die pad na die hel is uitgeplavei met goeie voornemens!
Soms bereik ons die mikpunte wat ons vir ons gestel het, bv om 4 kg te verloor. Ander kere haal ons net die eerste Vrydag van die nuwe jaar en val maar weer terug in die ou patrone soos die nuwe jaar sy gewone gang begin gaan. En dis dan eintlik erger as om geen voornemens te gehad het nie want dan voel mens teleurgesteld in jouself. Nou, of ek my voornemens bereik of nie, bittermin van ons voornemens (indien enige) maak van ons ander mense. Ons voel dalk beter oor onsself of geniet sommige dinge meer, maar meeste voornemens raak nie aan ons karakter of menswees nie.
Dalk is dit beter om hier aan die begin van die jaar liewer te vra: Watter soort mens wil ek wees? En dit is iets wat nie ophou of na ‘n 6 maande diëet bereik word nie maar eerder soos ‘n kompas in my lewe werk itv my karakter en lewensdoel, wat nooit ophou solank ek lewe nie. Ja, natuurlik sal daar dinge wees wat ek sal moet doen en verander, waarmee ek sal moet ophou of begin doen, maar die dinge is nie die doelwit in my lewe nie maar eerder hulpmiddels om meer die mens te word en te wees wat ek wil word. Dan kan mens ook daarmee saamleef dat ek soms nie altyd is soos ek graag wil wees nie omdat ek steeds oppad daarheen is!
Kom ek gebruik ‘n gewone voorbeeld. Voor ons blyplek het die boer so ‘n bietjie langer as 2 jaar terug ‘n nuwe wingerd aangeplant wat hom baie geld uit die sak gejaag het. Ek het ‘n idee wat sy bedoeling is met die wingerd: Hy wil hê dit moet uiteindelik ‘n gesonde, goed gevestigde wingerd wees wat goed dra waarvan hulle dan goeie wyn kan maak (wat niemand mag koop nie!). Die afgelope 2 jaar is daar baie geld in die wingerd in deur arbeid, aankoop van stokkies, drade, pale, besproeiïng, bemesting, snoei en wat nog nie alles nie. Intussen het die wingerd nog nie ‘n sent opgelewer nie, maar die boer weet wat hy wil hê van die wingerd. Daarom hou hy aan om die wingerd te versorg. En tog kan die boer selfs nie die wingerd laat groei en laat druiwe dra nie. Hy kan alles doen om die regte omstandighede te skep maar die uitkoms is nie in sy hande nie.
Dit het my so laat dink aan Jesus se gelykenis in Markus 4:
Mark 4:26-29 Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land (27) en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. (28) Vanself bring die aarde die graan voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die vol koringaar. (29) En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.”
Die boer met die wingerd wil graag hê die wingerd moet goed gevestig wees en druiwe van ‘n goeie kwaliteit dra. Hier aan die begin van die jaar is dalk ook weer ‘n goeie tyd om te vra: Watter soort mens wil ek wees? As ek nie ‘n Christen is nie, sal mens dalk die vraag beantwoord deur te droom dat ek ‘n ryk mens sal wees, of ‘n gesonde mens wat kan doen en gaan wat en waar ek wil. Maar dis nie die antwoord wat ek kry as ek as gelowige vra na God se wil vir my lewe nie. So hoor ons in Joh 15 as Jesus sê:
Joh 15:1 “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer.
Wat is dit wat ons Vader wil hê ek moet wees? As ons ernstig is om te hoor wat die antwoord op die vraag is, dan hoor ons:
2 Kor 3:18 Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.
God se wens vir jou en my, ook hier aan die begin van 2021, is om al hoe meer soos Jesus te word in my denke en optrede en menswees. Ja, steeds uniek aan my eie persoonlikheid en menswees, maar iemand wat die beeld van Jesus al hoe meer uitstraal. In plaas daarvan om, soos met nuwejaarvoornemens, te vra: “Wat wil ek bereik?”, moet ek eerder vra: “Wie wil die Vader hê moet ek wees?” en dan my mikpunt te stel om die soort mens te wees.
Ja, ons sal sekere dinge moet begin doen en ander minder doen of ophou daarmee, maar dan is my doelwit om meer aan die beeld van Christus gelyk te word. Maar dit lyk my dat die belangrikste nie is om dinge te doen nie, maar om myself daagliks tot beskikking van die Gees te stel, te luister na sy stem en daaraan gehoorsaam te wees. Of soos ons teks sê:
Dit doen die Here wat die Gees is.
Dan is die vraag aan die einde van die jaar nie: “Het ek my doelwitte bereik?” nie, maar was ek op die regte koers.
En dis juis daarmee wat geestelike dissiplines in ons lewens ons wil help sodat die Gees my en jou meer kan maak soos Jesus. Dan lees ek nie elke dag my Bybel en bid sodat ek ‘n regmerkie aan die einde van die jaar agter die doelwit kan sit nie, maar vra ek liewer of ek moeite doen om God se stem in my lewe te hoor en dit te gehoorsaam?
So hoor ons Jesus Self sê:
Mat 19:21 Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”
Die vraag wat aan my en elkeen van ons gevra word vanoggend, is dus nie: “Wat wil jy bereik?” nie, maar Wie gaan jy in 2021 volg? As dit nie Jesus is nie, is dit ‘n doodloopstraat. Maar as dit Jesus is, bring dit die lewe. As dit Jesus is, wys jou lewenskompas na die ware noord. Amen.
