By jou adres...
Votum:
Die dissipline: Fokus op God, sy teenwoordigheid en wat Hy besig is om te doen – raak stil…
“Here, U ken my deur en deur… U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.”
Seëngroet:
(Wat doen God nou?) Jy is gelief, jy word gevorm, jy word gestuur deur die God, die Vader, Seun en Heilige Gees wat vir jou en sy hele skepping die volheid van lewe gee!
Skriflesing:
Jeremia 1:4-10
Preek:
Almal wat soos ek so 40 jaar en ouer is, het grootgeword in ’n tyd waar ons oortuig was dat ons in ’n Christelike samelewing leef. Ons het ’n Christelike regering, Christelike onderwys, en amper almal wat ons geken het was lidmate van die NGK en baie het nogal gereeld gegaan. Ons moes net vashou wat ons het en seker maak dat ons dit nie verloor nie. Ons weet nou dat dit meereendeels ’n illusie was. Reeds in 1997 skryf Dallas Willard (wat onlang oorlede is) sy bekendste boek wat sou groei tot een wat gesien word as ’n classic: “The Divine Conspiracy”: (S6)“My hope is to gain a fresh hearing for Jesus, especially among those who believe they already understand Him.”
Hy gaan verder aan om te verduidelik hoe bekendheid met Jesus gelei het tot oorbekendheid en later tot ’n totale gebrek aan belangstelling: “Very few people today find Jesus to be a interesting person or of vital relevance to their actual lives. He is not generally regarded as a real-life personality who deals with real-life issues but is thought to be concerned with some feathery realm…” Jesus het vir ons net ’n naam geword, ’n godsdienstige token in die kategorieë van dogma en wet/moraliteit: Dogma is wat jy moet glo, al glo jy dit nie regtig nie. En die wet/moraliteit is wat jy moet doen, of dit vir jou goed is of nie. En daarom het die regte lewe, die lewe vol interessante, vreesaanjaende dinge en mense, nie iets wat veel met Hom te doen het nie. (Bakleie – glo jy reg – wat is sonde?)
Jesus en sy woorde, gaan oom Dallas verder, het egter nooit behoort tot die kategorieë van dogma en wet nie. Hulle het juis die bestaande orde en maniere van dink en doen uitgedaag. Dit is duidelik as ons sien hoe Hy en sy woorde in die verhale van die NT ontvang word. Jesus nooi ons in in ’n nuwe wêreld, die koninkryk van God wat in Hom gekom het – en in Hom raak ons deel daarvan – ’n wêreld wat meer real is as ons regte wêreld en wat ten doel het om alles daarbinne te verander. (“Ultimate reality”)
Nou hoe bring dit ons terug by Jeremia?Jeremia help ons om te verstaan wat gebeur as ons ’n ontmoeting het met God. Ons beskryf hierdie as ’n roepingsverhaal met die gevaar dat ons dit kan losdink van bekering – maar as iemand vir Christus ontmoet en tot geloof kom, is dit duidelik uit die NT dat ’n roeping veronderstel word – nie een van die Here se kinders is blote toeskouers nie!
Ontmoetings met God wat ’n mens se lewe verander. Ons sou seker ’n tegniese onderskeid kon maak tussen ’n bekering en ’n roeping, maar in besginsel is dit dieselfde ding: oorgawe aan God en aan sy plan vir jou lewe. Neem ’n oomblik: wil jy regtig ’n ontmoeting met God hê – of is ’n veilige afstand vir jou beter?
As God vir jou vaskeer gebeur daar vreemde en wonderlike goed met jou: Jy verloor jouself en jou lewe sodat jy jouself en jou lewe kan vind.Jy kom agter hoe baie jy saakmaak sodat jy kan agterkom dat jy glad nie soveel saakmaak soos jy gedink het nie. Jy raak vreeslik bang totdat jy agterkom dat jy nog nooit so veilig was nie. Jy verloor alle beheer sodat jy met gesag toegerus kan word. Jy leer om goed te doen wat jy nie eintlik veronderstel is om te kan doen nie.
Jeremia se oomblik “of no return” begin met hierdie wonderlike woorde: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het ek jou geken; voordat jy gebore is, het ek jou aan My gewy en jou aangestel as profeet vir die nasies.” Dit is pragtig, maar geld dit elkeen van ons? Is dit dalk net Jeremia en God se “elite”? Dit sny baie naby aan hoe die psalmis van 139 oor sy verhouding met God dink: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.”
En gesamentlik noem Petrus vir ons: “ ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.”
Kan jy hierdie woorde uit die Bybel oor jouself glo? En watter verskil maak dit? Wat verander dit aan jou selfperspesie, jou toekomsverwagting, jou besluite, jou regte lewe? Dit is die Goeie Nuus: Jy is geliefd – jy maak saak – die Skepper van die heelal is erg oor jou, hunker na jou, huil oor jou, sorg vir jou, bevriend jou, vul jou! (En Hy vorm jou en Hy stuur jou). Ons moet weet ons het ’n doel, ons is nie passiewe ontvangers nie – dit is ons grootste vreugde!
Geestelike waarhede soos hierdie vat ’n leeftyd (en meer!) om by ons in te sink. Jeremia se kneejerk reaksie is: Ek is te jonk! Ons voel oorweldig en probeer uitkom! CS Lewis was ’n man van dertig toe hy nie meer anders kan as om oor te gee aan God se appél op sy lewe nie. Maar tog voor dit was God reeds met hom besig, vertel hy hoe hy as ’n ateïs getreiter is deur oomblikke van skoonheid en vreugde en nie lekker geweet het wat om as ongelowige daarmee te maak nie. Jeremia was vir 40 jaar profeet in Juda. Aan die begin van sy boek vertel hy ons van sy roeping; maar soos hy verder gaan leer ons ook van die teenstand en die aanvegtinge en die twyfel; hoe hy herhaaldelik sy roeping en God se getrouheid weer moes ontdek. (Lees bv die aangrypende Jer 15 waar hy sy geboortedag vervloek en vir God sê dat hy Hom nie kan vertrou nie). Ons elkeen het ’n unieke storie wat ons saam met God skryf. Die moeilike deel is om elke keer in nuwe tye en onder nuwe omstandighede weer sy hand te ontdek en weer ons wil en ons planne af te lê ter wille van syne.
Ons deins weg van God se roeping omdat ons twyfel in onsself. Ons twyfel aan ons vermoëns. Ons twyfel aan ons innerlike krag. Ons twyfel of ons regtig God se stem gehoor het. Ons twyfel ook aan God; sal Hy regtig by ons wees, regtig vir ons red, regtig vir ons sorg? As ons sien wat van ons gevra word, wonder ons of dit regtig die moeite werd is.
Ons kan natuurlik altyd kies om die Stem wat ons roep te vermy. Baie van ons ontken dit dalk al so lank, dat die stem amper onhoorbaar sag geword het. In ’n seker sin is dit makliker om eerder nie te luister nie. Die take wat God vir ons in gedagte het is groot. Té groot. Dit is noodwendig so, want Hy roep nie bekwame mense; Hy maak onbekwames bekwaam sodat hulle altyd afhanklik sal bly van sy krag. Ons moet die koste bereken, want God vra alles.
Maar om die koste te bereken sny ook ander kant toe: Ons moet ook die koste bereken van ons ongehoorsaamheid. As ons roeping (wat ten diepste maar die koninkryk van God is) werklik die pêrel/skat van groot waarde is, is dit dan nie elke moontlike opoffering en selfverloëning werd nie, selfs al kos dit ons lewens? Wil ons regtig saai, onvervulde, selfsugtige, liefdelose, veilige lewens leef as ons ’n kans het om in diens te staan van die lewende God?
Waartoe is dit dan wat die Here ons roep? Dit is nie so ’n maklike vraag nie. Daar is ’n diep persoonlike kant daaraan vir elkeen van ons. Alhoewel ons geestelike familie verskriklik belangrik is, is daar seker goed wat ek en net ek eerstehands by God moet hoor. Gelukkig is daar ’n paar leidrade: God roep die meeste van ons nie om heeltemal iets nuuts te gaan doen nie. Hy roep ons terug na ons eie lewe; om weer daar waar ek nou is, tussen die mense en in die werk waar Hy my geplaas het opnuut sy wil te doen, opnuut sy hand raak te sien en geleenthede om ’n verskil te maak aan te gryp. God het die meeste van ons nodig waar ons reeds is. Waar begin jy? Gaan begin elke dag in stilte en hoor weer wie jy is – ontdek weer jou identiteit – laat die nuwe werklikheid van God se koninkryk groei in jou – en vra vir nuwe oë vir jou lewe, vir die omstandighede en die mense daarin.
Jeremia word aangestel oor nasies en koninkryke en dan volg daar vier negatiewe woorde en slegs twee positiewes. Hy moet eers afbreek en uitroei, vernietig en platslaan en dan kom die bou en die vestig. In Jesus taal sal ons praat van die kruis-opstanding paradoks: jy moet sterf om regtig te lewe. Die oue het verby gegaan, die nuwe het gekom. Nuwe wyn kom in nuwe wynsakke. Op die pyn wag die heerlikheid.
Ons roeping strek sover soos die kreatiwiteit en die genade van God. Dit raak alle dele van ons bestaan en ons wêreld. Mede–skeppers; miskien is dit die beste manier om oor onsself te dink. Alles moet nuut word en God maak ons deel van wat Hy doen. Gaan jy nog so ’n rukkie die aksie van die kant af dophou, nog ’n bietjie wik of weeg, of gaan jy inspring? Amen.
Gebed:
Stilword – Wat doen God nou? – Voordat jy gebore is… Hoor jy God se stem: altyd eers jy is Geliefd – nooit net ’n werktuig nie.
Waarvoor roep Hy jou?
Kan jy “ja” sê?
Seën:
Voor jy gebore is, het die Here jou al geken en jou vir Hom gekies.