Ekstra-Myl liefde

Verwelkoming:

Waar voel jy veilig, welkom, bevestig – mag hierdie vir jou so plek wees en mag jy ander help om ook so te voel! Ons tree namens ons Vader op wat geen onderskeid tussen mense maak nie – mag ons ook so wees!

Votum/seëngroet:

(Our hidden life in God): Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

27“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

28(Jesus sê): “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Skriflesing:

Mat 5:38-48

Preek:

Dit is die presies hierdie stellings in die bergrede, skryf Dallas Willard in sy boek, “The Divine Conspiracy: rediscovering our hidden live in God” wat mense hulle hande in die lug laat gooi van moedeloosheid (ons sal dit tog nooit kan doen nie), of dan mense laat wegsink in die put van selfprobeer-wettisisme: Draai die ander wang. Loop die ekstra myl. Gee meer as wat mense van jou eis. Wees lief vir jou vyande. Dit is ’n goeie ideaal, sal die meeste mense sê, maar doodeenvoudig te moelik vir ons om te doen – so Jesus het definitief nie bedoel dat ons dit letterlik moet opneem nie. Maar wat moet ons dan nou maak met hierdie woorde van Jesus?

Kom ons herinner onsself wat ons tot dusver geleer het by ons Rabbi wat ons nooi om Hom te volg en meer soos Hy te word (en nie net kennis oor God of reg en verkeerd nie!). Want, Hy sê dit is die pad na ware geluk en ware goedheid. Dié goedheid wat meer as die van die Skrifgeleerdes en Fariseërs – m.a.w. ’n goedheid wat nie die uiterlike nastreef van sekere wette is nie, maar wat vloei vanuit ’n nuwe hart. 

Deur Jesus kan almal nou toegang kry tot die nuwe werklikheid van God se koninkryk en ’n nuwe koninkrykshart ontvang. 

Ons het ook al geleer dat Jesus begin by die hantering van woede en minagting in ons lewe – dit staan reg teenoor die koninkrykswaardes van liefde en respek vir ons naaste. Presies dieselfde rede hoekom ons ook moet leer om ons liggaamlike begeertes op gesonde maniere te hanteer en ons laat lei deur ons ware sielshonger na intimiteit.

Ons doelwit, so leer Jesus ons in die gedeelte wat ons vanoggend gelees het, is om volmaak te wees soos wat ons hemelse Vader volmaak is. Die Griekse woord wat gebruik word vir “volmaak” (teleioi) dui op bestaansdoel – die uiteinde van hoe ons moet wees. Dit is die punt wat ons regtig ingesink het in die Vader se agape liefde en as sy kinders waarlik deel in sy natuur. Ons het die goedheid van God self gevind. Dink ’n bietjie aan 1 Kor 13. Ons lees dit gewoonlik as voorskrifte van hoe ons moet wees, wat ons moet gaan doen – maar dit is nie wat daar staan nie – wat daar staan is dit is liefde wat hierdie dinge doen: die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik, is nie afgunstig nie, soek nie sy eie belang nie. As ons leer om te woon/wandel in God se liefde, is dit die tipe persoon wat ons raak: een vir wie hierdie dinge natuurlik kom…

Die voorbeelde wat Jesus noem gaan oor jou reaksie op ’n onreg wat aan jou as persoon gedoen word. Jy mag dalk weet dat die OT reël “ ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand” reeds ’n poging was om die spiraal van wraak en geweld te breek wanneer ’n party verontreg is – jy mag net dieselfde aan iemand terugdoen, en nie meer nie. Maar ons weet dat dit nie juis in die praktyk werk nie – ’n beter benadering is nodig. So hoe lyk die goedheid van die koninkrykshart in sulke situasies? Dit is natuurlik hoekom Jesus begin by die woede en minagting; by die dinge wat in die hart lê – anders gaan dit altyd in hierdie situasies vir jou ’n struikelblok word.

Maar soos jy jou voete, jou hart en jou verstand begin vind in die nuwe werklikheid van God se koninkryk, word jou perspektief baie groter. Jy word nie die onreg wat aan jou gedoen word nie – jy sien die omvang van God se wêreld en jou plek daarbinne. Jy sien God en ons almal in sy hand. Ons sien ons “vyand” as meer as die een wat ons leed aangedoen het – ons sien sy/haar menswees en hulle beperkinge; ons sien hom/haar ook onder God. En dit is hierdie visie van God se genade wat ons ook sal help om te leer bid: “Vader, vergewe hulle wat hul weet nie wat hulle doen nie.”

Ons het dit al genoem, maar dit is belangrik om dit weer te beklemtoon: wat Jesus hier doen is nie om vir ons ’n nuwe wet te gee wat ons slaafs moet navolg nie. Dit is voorbeelde vanuit die regte lewe van daardie tyd, oor hoe iemand met ’n koninkrykshart mag reageer in situasies soos hierdie. Die koninkryk(shart) daag die voorveronderstelling uit. Die wêreld leef met die veronderstelling dat jy sal terugbaklei as jy aangeval of verontreg word; dat jy net sal gee aan dié wat ook iets vir jou bied, soos jou familie of iemand wat weer vir jou ’n guns gedoen het. 

Jy kan ook presies doen wat Jesus voorstel, maar met ’n stink houding en miskien nog ’n “ek doen dit omdat Jesus dit van my vra” vroom opmerking daarby. Dit is nie die koninkrykshart van agape liefde nie. 

Jesus noem voorbeelde van hoe God se liefde lyk en Hy nooi ons om ook so te wees. Daarom leer leef ek in Hom; want ek sal steeds moet kan onderskei, in elke situasie hoe die gawes van my kwesbaarheid, my goed, my tyd en my krag in elke situasie gepas aangewend word. Dit is nie wette nie, en daarom kan ek nie persoonlike verantwoordelikheid ontduik nie en maar net die Here blameer as dinge skeefloop nie. As ek die ander wang draai en dit gaan my dood beteken, is my reaksie dalk nie liefde teenoor my familie wat op staatmaak nie; as my kwesbaarheid my mishandeling enable ook nie. Ek besluit, voor die Here en deur sy Gees se leiding wat ek moet doen – en die vertrekpunt daarvoor is natuurlik dat ek my eiebelang/selfsug moet kan erken en opsyskuif. 

Ons het al in die verlede vir mekaar gesê dat ons ook verteenwoordigers is van God se koninkryk – ’n teken ’n voorsmaak van sy doeleinde – sy telos. Ons dra dit, ons bevorder dit. Wanneer ons kwaad raak en terugbaklei, gee ons ons vyande natuurlik net die skietgoed wat hulle nodig het – dan voel hulle hulle gee ons net wat ons verdien. 

Daar is baie ontleders wat iets van vreedsame teenstand teen onreg in hierdie voorbeelde sien. As iemand jou op die regterwang slaan, was dit ’n klap met die agterkant van die hand – ’n vernederende hou, soos vir ’n slaaf. As jy die ander wang aanbied, dwing jy die persoon om jou as gelyke te hanteer. En wat gaan hy doen as jy die wang draai – net aanhou slaan? – uiteindelik gaan die persoon gedwing word tot selfondersoek en tot erkenning van die tipe mens wat hulle is.

Dieselfde met die soldaat wat jou dwing om sy goed te dra: as jy meer doen as wat van jou verwag word, raak jy meer as net ’n gebruiksartikel – jy word ’n medemens wat ’n ander bystaan. Ons respons sit die koninkryk van God, en al die hulpbronne daarvan, aan die werk in daardie situasie. (Wat ’n voorreg en verantwoordelikheid!)

Is dit moeilik? Wel ja, sonder ’n koninkrykshart onmoontlik. Ons leer om ons te verlaat op God en sy koninkryk – om die logika en die krag daarvan te leer glo en vertrou. Die diepte van jou wese moet deur liefde getransformeer word. Dan is die nie meer moeilik nie. Dan is dit ’n natuurlike uitdrukking van daardie liefde; van jou kindwees van God, met sy aard. Kom ek sluit af met hierdie kragtige aanhaling van oom Dallas:

“When Jesus hung on te cross and prayed, “Father forgive them because they do not understand what they are doing,” that was not hard for him. What would have been hard for Him would have been to curse his enemies and spew forth vileness and evil upon everyone… He calls us to Him to impart Himself to us. He does not call us to do what he did, but to be as He was, permeated with love. Then the doing of what He did and said becomes the natural expression of who we are in Him.

css.php