Saam Jesus se handlangers

Teksgedeelte  – Psalm 27

Psalm 27 beskryf baie mooi die twee kante van die lewe.  Aan die een kant is die ou lewe vol vreugde en joy en dan die ander kant voel dit asof alles uitmekaar val en ek stoksielalleen voel – ja, selfs die Here het my nou gelos…klink dit bekend?

Hierdie ongelooflike mooi Psalm vang hierdie twee kant gevoel vang die lewe vas in twee dele:

  • Vers 1 – 6: waar ons die digter se vreugde en vertroue lees, sy lofsang en jubel hoor!
  • Vers 7 – 14: waar ons hoor hoe die digter die Here se teenwoordigheid soek, hoe hy alleen voel en hoe die omstandighede en mense in sy lewe hom diep seer maak en hy vir homself moet herinner – vertrou, wag, soek die Here! 

Ek hou altyd daarvan om dinge vir myself so bietjie sin te laat maak en daarom is hierdie Psalm my Palmpsalm – nie palmboom nie – handpalm!  

Hoekom?  Wel, jou hand het 27 bene!  Psalm 27, palm 27 – psalm, palm – klink vir my so bietjie dieselfde – dit klink dalk simpel, maar dit is hoe ek dit onthou!

Kyk gou vir ‘n slag weer na jou hande, watter ongelooflike dinge doen ons nie dalk met ons hande nie – 

  • Ons tik vir mekaar boodskappe en eposse, ons neem voicenotes op, maak oproepe, neem fotos en maak videos
  • Ons bestuur, skryf, teken/verf, ons maak dinge reg, maak kos en skink wyn en water
  • Ons vat aan mekaar en groet mekaar, waai vir mekaar en wys vir mekaar ons is lief vir mekaar – dink maar net aan hoe lekker daardie eerste hande vashou was met daardie iemand spesiaal – hoe lekker dit nounog is om hande vas te hou
  • Ons help mekaar op, ons lei en bskerm en red mekaar
  • Ons bid en vat en lees ons Bybel en lig ons ons hande op in aanbidding.

Maar die ander kant is ook waar – met ons hande breek ons mooi dinge af, ons slaan mekaar, ons baklei, bal ons vuiste en vloek en skel ook met ons hande…

Wat maak jy die meeste met jou hande?

Hierdie palmpsalm help my onthou wie die Here is en wie ek as Nico is, en dat geroep, gevorm en gestuur is om God se handlanger hier by Paarlberg kerk te wees op ‘n baie spesiale manier…

Ek het ‘n trekboks wat ek nog nie lekker kon uitpak nie en ek wil ‘n paar handlangers vra om my te help om hierdie boks uit te kom pak asb.  (Oupa en Ouma, Kind, tiener, Pa en Ma, my 2 kollegas)

Die trekboks het 5 dinge binne:

  • ‘n Kopliggie (Psalm 27 vs 1, 4) – Ek wil myself en ons almal help om God se lig en liefde in hierdie wêreld raak te sien!  Ek hou van lag en grappies maak en ek daarmee wil met my hande die flitsie vashou en op ‘n eenvoudige manier vir myself en die mense om my wys en sê – kyk daar, kyk hier, kyk oral om ons…  kyk net hoe God se lig en liefde selfs in die donkerste plekkies skyn! Ja, my batterye raak ook soms pap en my liggie skyn soms dof, maar ek saam met julle dit sien en hoor en voel en dan gevul word met hierdie vreugde wat nie oor ons omstandighede gaan nie, maar oor God se teenwoordigheid en lig!  Die grootste bron van hierdie joy is vasgevang in die bekende ou liedjie:  

JESUS LOVES ME THIS I KNOW – yes Jesus loves me, yes Jesus loves me, yes Jesus loves me…kyk net hoe smile ons as ons dit sing…sien jy die dowwe liggie raak – dit laat mens sê: Die Here is my lig en my vreugde – vir Wie sal ek bang wees!

  • ‘n Tent (Psalm 27:3,5) – Ek hou baie van kamp en stap en in die buitelug wees.  As jy baie buitekant is weet jy ook al dat as die wind rof waai en dit reën of dit is baie warm dan soek jy ‘n skuilplekkie.  Ek wil saam met julle weer ontdek dat God vir ons ‘n skuilplek is, dat die Here ons letterlik in SY tent wil kom innooi (vers 5) as die lewe nie meer sin maak nie en alles uitmekaar val (vers 2 en 3).  Is dit nie WOW nie julle!!!!  God nooi ons om te kom wegkruip by Hom.  Dit is vir my lekker as my manne bang raak in die nag en hulle kom kruip weg by Pappa en Mamma – om te weet my ouens en my vrou voel veilig by hierdie lyf is vir my WOW!  Die digter sê ook dan dat die Here ons veilig op ‘n Rots plaas – en dalk moet ons vandag onsself herinner dat ons gemeente vernoem is na ‘n baie prominente en unieke rots en berg – een wat ons wil herinner aan die Here wat ons UNIEKE ROTS en veilige skuilplek is en Hy smag ook daarna dat ons by Hom IN Sy tent kom wegkruip!
  • ‘n Kitaar (Psalm 27:6 – 7, 8 – 13) – Ek is baie lief vir musiek en sing – al kan ek nie vreeslik mooi kitaar speel of sing nie.  Ons almal het mos daardie song, wat jou lewe weer volmaak en wat jou siel optel.  Ek wil saam met julle ontdek en leer dat ons, soos hierdie Psalmdigter, ons hartsliedere vir God kan sing – opreg en eerlik –vals note, krom snare en al.  Psalms was musiek, maar dit is ook gebede –real, rou, eerlik en opreg – en regdeur tussen vers 1 – 6 se joy en 7 – 14 se seer, en stoei met God het die Psalmdigter bly sing – Want sing het Hom help leer Wie God is.  Dink sommer weer aan jou liedjies wat vir jou baie beteken.  Hoekom is dit so kosbaar?  Dalk omdat daardie liedjies jou weer help onthou Wie die Here is en dat Hy vir jou en my lief is…in ons praise and worship vreugde songs, maar ook in ons treur en klaagliedere.
  • ‘n Kruis (Psalm 27:8 – 10) – In die psalm beleef die digter ‘n stuk alleenheid.  Ons ken dit ook nê… Tye waar mensehande ons los of ons breek en dit voel mos dan asof God se hand ook ons los.  Jesus roep aan die kruis – “My God, my God waarom het U verlaat…”!  Snaaks genoeg is dit ook die woorde van ‘n Psalm – Psalm 22.  Die digter van Psalm 27 hou in sy alleenheid vas aan God wat altyd, altyd daar is.  Vers 10 is vir my treffend –  al sou my pa EN ma my verlaat, daarmee wil hy eintlik kom sê al sou almal my verlaat – die Here sal my nie los nie.  Die ou Israeliete het die baie mooi ding gehad dat die woord Ruach wat in Hebreeus “asem” beteken ook die woord was wat gebruik is as hulle gepraat het oor God se Gees.  Ek wil graag saam met julle daar wees vir mekaar – selfs al is dit net om stil en sag saam te sug en asem te haal.  Hierdie moet ‘n huis wees waar ons nie alleen voel nie, waar Jesus se kruis ons herinner aan Psalm 27:10 se woorde – omdat GOD JOU NIE LOS JOU NIE, SAL ONS JOU NIE LOS NIE!
  • Cheetahvlag (Psalm 27:14) – Ek is baie lief vir my Cheetahspan.  Ek sit elke keer met ‘n ongelooflike verwagting as my span speel.  Ja, ek is van nature ‘n optimis, maar ek sit met hoop dat my span ELKE KEER sal wen.  

Soms lyk dit so hulpeloos en hulle verloor, en dit is vir my sleg want ek is n aaklige verloorder, maar ek bly wag en ek bly hoop want wonderwerke met die Cheetahs het al gebeur…so ek wag… opgewonde met hoop en vertroue.  

Die Psalmdigter sluit af met so ‘n WAG met verwagting!  Die Here het al baiekeer my in donker tye gehelp en soos Psalm 27 se digter het Hy my nie gelos nie en daardie terugdink en onthou vul my met vreugde en bo alles…HOOP!  In sulke tye kyk ek veral af na my hande en vou ek my vingers in my palm styf vas en soos ek my vuis sien sal ek vir myself sê: “Wees sterk hou goeie moed, wag op die Here…” Interessant om te weet dat 14 van die 27 bene in jou hand in jou vingers is!  Dalk omdat die Here vir my en ook vir julle juis wil herinner aan dit wat Psalm 27:14 sê

My palmpsalm herinner my elke dag wie ek geroep is om te wees – ‘n handlanger van God.  Maar ek deel my palmpsalm met julle om julle vandag uit te nooi om saam met my as geloofsfamilie handlangers te wees van die Here.

Handlangers wat met ons palmpsalm saam met mekaar,vir en teenoor mekaar opreg sal vertel dat God ons lig&vreugde is, ons Skuilplek en Rots is, dat Hy altyd daar is selfs al los almal ons en dat ons met ons vingers in ons palm altyd met verwagting kan wag en hoop op Hom…

Liewe Oupa en Ouma, Liewe pa en ma, Liewe seun en dogter van Paarlberg…Kom wees saam met my en my palmpsalm ‘n handlanger van Jesus en kom ons ontdek saam hoe geliefd ons is, hoe God ons vorm en hoe Hy ons stuur na mekaar.

css.php