Ons is Een!
Verwelkoming:
’n Voorreg, dankie vir wat julle vandag doen om hier by ons te wees – 50ste bestaansjaar – Entrepreneurs van hoop! In Eenheid lê ons hoop!
Ook iets met die musiek doen wat albei gemeentes se identiteit verteenwoordig.
Votum/seëngroet:
Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: 23Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.
19Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ‘n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ‘n heilige tempel vir die Here, 22in wie julle ook saam opgebou word as ‘n geestelike huis waarin God woon.
Skriflesing:
Hand 2:14 en 36-42
Preek:
Ons moet die situasie net weer mooi vir onsself kan voorstel…
Dit is Pinksterdag. Jode en mense wat die Joodse geloof aangeneem het uit al die omliggende streke is in Jerusalem bymekaar vir die Fees. Die dissipels en ’n kerngroep van volgelinge van Jesus is bymekaar toe die stormwind en die vuurtonge kom, mense word vervul met die Heilige Gees en begin in al die tale praat van die wonderlike dinge wat God deur Jesus gedoen het.
Om hierdie ongelooflike transformasie te waardeer, moet ons teruggaan na die tyd van vrees, onsekerheid en totale ontnugering wat hierdie mense tydens die verhoor, teregstelling en dood van Jesus beleef het. Hulle was bang, hulle het weggekruip, hulle was verslae en ontnugter.
En toe gebeur die grootste enkele ding in die geskiedenis van die mensdom – en hulle is in die hartjie daarvan: Jesus, hulle Jesus, hulle vriend en Leermeester, staan uit die dood uit op en word bevestig as die Here, die Christus, die Messias, die Seun van God.
Geleidelik, soos wat Hy in die loop van 40 dae sporadies aan hulle verskyn het, het hulle begin besef wat dit alles beteken, waartoe dit lei en wat dit van hulle gaan vra.
Maar kan ons dink die impak? Om daar te wees met Jesus se hemelvaart.
Om biddend te gaan wag op die gawe van die Heilige Gees soos wat Hy belowe het?
En dan, as die Heilige Gees kom, is daar hierdie oomblik waar alles op ’n manier bymekaar kom – helder word, geopenbaar word…
“Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak.”
’n Soortgelyke totale herverbeelding van Jesus, van God, van die lewe, van alles, word nou van hierdie mense (skare) gevra as van die dissipels. Julle het op ’n stadium gedink Jesus was ’n bedreiging, boos, ’n vyand van God, iemand wat uit die weg geruim moes word, maar nou moet julle besef Hy is die Koning, die een met al die gesag (Here) en God se gestuurde (Messias), die Christus, die beloofde, die Seun van God. So ’n totale Nuwe manier van dink, voel, doen en wees…
In daardie waarheidsoomblik waar die mense diep getref word, en hulle wil weet wat hulle moet doen, is Petrus se antwoord: “Bekeer julle…” Die Engelese vertaling vertaal dit met “Repent” – wat dalk nie so goeie ding nie is. Dit laat ons net dink aan ’n morele keuse – ek het nou gekies om die drank te los of nie meer rond te slaap nie nie.
Maar bekering is soveel meer. Die meeste van ons het dalk al gehoor van die Griekse woord metanoia wat ons met bekeer vertaal. Die eenvoudigste betekenis daarvan is om jou persepsie te verander; to change your mind. Of soos ek al die slim dominees hoor sê het: die transformasie van jou gedagtes…
Dit sluit nou aan by Paulus se woorde in Rom 12: 2 (“laat God julle verander deur julle denke te vernuwe…”) en in Fil 2:5 (“dieselfde gesindheid/gedagtes moet daar in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was…”) ’n Franciskaanse priester, Richard Rohr, sê dat onvolwasse gelowiges aangetrek word na al die “two steps backward” aanhalings in die Bybel: alles wat gaan oor straf en skaamte en wat gaan oor watter “verkeerde” mense om uit te sluit – toevallig ook die verse wat die status quo ondersteun en wat hulle sosiale, ekonomies en godsdienstige posisie beskerm. Hulle dink dit is waaroor godsdiens gaan – oor orde en sosiale beheer.
Hulle sien God as die groot polisieman in die hemel wat ons almal onder beheer moet hou (of ten minste almal anders!). As jy nog in hierdie wêreld leef, dan bied Jesus aan jou definitief hierdie uitdaging om jou denke/wese te laat vernuwe – om die hele wêreld en die waarheid te herverbeel. RR noem dit die “Divine revolution”. Want in Jesus ontdek ons God as ons Vader – as hierdie genadige, versorgende, vergewende, selfopofferende, vrymakende, lewegewende, liefdevolle, gemeenskapsvormende God.
Jesus breek talle sosiale en godsdienstige reels. Hy is altyd by die randfigure, by die mense wat Hom die meeste nodig het, soveel so dat Hy ’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars genoem word. Hy oordeel nie, Hy spreek vry, Hy maak gesond. Hy fokus nie op die uiterlike nakoming van reels nie, maar op innerlike houdings en gesindhede. Hy domineer nie – Hy dien. Hy soek nie sy eie eer nie, maar die van God.
Hy breek deur al die Menslike grense en onderskeide, en maak ware versoening moontlik.
Hy vorm ’n nuwe gemeenskap – die kerk. Die plek wat ’n teken en ’n voorsmaak moet wees van sy koninkryk – van God se grootste doel. Dit is die heel eerste ding waarvan ons vertel word na mense se bekering – die vorming van ’n nuwe gemeenskap, vry van die dwang, die misbruik, die selfsug en selfverheerliking van hierdie “ontaarde geslag” (kultuur). Ons lees van mense met ’n diep toewyding aan en verbondenheid met Jesus en daarom van ’n diep toewyding van en verbondenheid met hulle mede-gelowiges en mede-mense.
Ek kom vry van myself om myself te vind in hierdie diep gemeenskap.
In Jesus ontdek ons, dit is die hart van God en daarom ook ons diepste bekering. Dit is Jesus wat ons help om God te verstaan as ’n gemeenskapswese – die drie persone wat nie geskei of saamgesmelt kan word nie wat hulle ware identiteit vind in hierdie ewige liefdesgemeenskap.
In Joh 17 het Jesus vir ons gebid:
2U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. 3En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.
21Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: 23Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.
In die Sweedse film (destyds genomineer vir die beste anderstalige film by die Oscars) As it is in heaven (jy kan die volle weergawe op Youtube kry!) keer die wêreldbekende dirigent Daniel Dareus terug na sy tuisdorpie op die platteland. Hy is uitgebrand en sy hart is na aan Ingee. Musiek het vir hom net oor die performance en oor die perfeksie begin gaan.
Iets trek hom terug na sy wortels, om versoen te word met die kind in hom.
Daar waar hy altyd in die wuiwende gras viool gespeel het en waar die boelies hom geslaan het…
Hier raak hy die koorleier van die plaaslike kerkkoortjie – ’n versameling van interessante karakters. Almal op ’n manier vasgevang in hierdie konserwatiewe gemeenskap, met onverwerkte pyn, met gevestigde maniere van doen, met tradisionele godsdienstige reels.
En dan leer Daniël hulle allereers om te luister. Alles begin by luister. Om na binne te keer en hulle stem te vind, hulle eie ware toon – en eers dan kan hulle in ware harmonie ’n eenheid vorm. Hy leer hulle om te laat gaan. Om skaamteloos te wees.
Ons weet musiek is ’n metafoor vir die lewe. En soos wat hulle na hul ware self begin luister, soos wat hulle hul stem begin vind, kom die seer uit, soms met konflik en vind hulle genesing – vind hulle ware harmonie en gemeenskap en begin hulle waag.
Hulle skryf in vir ’n groot koorkompetisie in Oostenryk “Let the people sing”. Dit is hulle groot oomblik; hulle is op die verhoog, maar hulle leier, Daniel is nerens te sien nie. Hyself kon sy vrees (ook vir die dood!) oorwin en ware liefde vind – en in die euforie het hy tred verloor van die tyd – en toe hy hom terug haas na die konsertsaal, gee sy hart weer probleme. Hy strompel die badkamer in die kompleks binne en val – sy kop het ’n gapende wond…
Op die verhoog is die verstandelik gestremde Tore wat eerste die noot insit – sy toon, soos wat Daniel hulle geleer het… en julle kan self kyk wat gebeur het… was Daniel dalk die Christus-figuur wat sy lewe gegee het sodat mense ware gemeenskap kan beleef?
As it is in heaven…
Speel eindtoneel van As it is in heaven…
