Kan ek God ken?

Verwelkoming:

Agter die werklikheid wat ons sien, is daar ’n groter werklikkheid…

Votum/seëngroet:

Waar ookal die Israeliete kamp opgeslaan het, het Moses ’n tent geneem en dit ver van die kamp af opgeslaan – die ontmoetingstent. Enige iemand kon daar die Here gaan raadpleeg. As Moses soontoe gegaan het, het die hele volk opgestaan en by die ingang van hulle tente gaan staan en hom agterna gekyk. As Moses in die tent ingegaan het, het die wolkkolom afgekom tot by die ingang van die tent en dan sou die hele volk buig in aanbidding. 

“Die Here het met Moses van aangesig tot aangesig gepraat, soos ’n man met sy vriend praat…”

Vriendskap met God is vir elkeen van julle moontlik…

Skriflesing:

Eks 33:12-23

Preek:

Kan ons God ken? Ja! Dit is die goeie nuus van die Bybel. Hy openbaar (wys) Homself, en ons kan Hom ken – nie net dit nie, Hy is goed; Hy is lief vir ons. Hy het ’n plan gemaak sodat ons versoen kan word – die verhouding met Hom kon heelword na die groot skeuring waarvan Gen 3 (die sondeval) ons vertel. Na dit is die hele Bybel amper die antwoord op die vraag hoe ’n goeie, heilige God, weer ten volle teenwoordig, en in verhouding kan wees, met mense. 

As dit daarby kom om iemand werklik te ken, is die persoon se gesig baie belangrik. Ons oë, ons gesig, gee ons weg – dit is naaste wat die buite-wêreld kan kom aan ons binne-wêreld. Die Joodse filisoof Emmanuel Lévinas het gesê dat die enigste ding wat ons regtig tot bekering laat kom, wat van ons goeie (morele) mense maak, is die “gesig van die ander”. As ons iemand regtig sien, meeleef met hulle “gesig”, verander dit regtig ons wese/menswees. 

Neurowetenskap bevestig die beginsel. Die vroeë “mirroring” wat ons van ons ouers ontvang is geweldig belangrik. Daar die kyk/staar tussen ’n pasgebore baba en sy/haar ouers (veral die primêre versorger) skep “spieël-neurone” wat ons as mense help om deernis en meegevoel met ander mense te hê. As versorgers en baba’s in mekaar se oë kyk, dan vermeerder breinaktiwiteit – dele van die brein “light up”.

Ons word nie ge-“mirror” deur konsepte nie, maar deur gesigte – gesigte wat na ons kyk met liefde en waardering en bewondering, wat verlig as hulle ons sien. En daarom het vroeë Christen mistici soos Claire van Assisi ook so baie hiervan gemaak — die perfekte spieël vir ons, lê in die gesig van God – (aangesig/teenwoordigheid) sodat hulle ons hele doel as mense beskryf het om verlief te raak op God in die gesig van Jesus. 

James Finley:

“When God eases us out of God’s heart into the earthly plane, God searches for the place that is most like paradise, and it’s the mother’s gaze. In the mother’s gaze, she transparently sacramentalizes God’s infinite gaze of love, looking into the eyes of the infant. And when the infant looks into her eyes it is looking into God’s eyes, incarnate as her loving eyes.

When caregivers and infants gaze at each other, their brain activity increases; parts of the brain “light up”. When God gazes at us and we gaze at God, both of us light up. God lights up in the sense of the joy of being recognized by the one that God created in his own image and likeness for the very sake of this recognition. For us it’s a moment of visceral, intimate communion or oneness that feels like homecoming.”

Aan die begin van die Bybel is mense verras was as hulle ’n direkte ontmoeting met God oorleef het – dink maar aan Jakob na die stoeiery by die Jabbokdrif”: “Ek het God van aangesig tot aangesig gesien, en tog is my lewe gered…” -Teen hierdie agtergrond is die woorde in Eksodus 33:11 aangrypend:“Die Here het met Moses van aangesig tot aangesig gepraat soos ‘n man met sy vriend.” En juis omdat ons ’n gesig nodig het, het God mens geword in Jesus: 

“Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aandagtig bekyk het, en wat ons hande aangeraak het aangaande die Woord van die Lewe, dit verkondig ons aan julle.” (1 Joh 4:1-2)

Die Jesus wat ook vir ons sê: Ek noem julle my vriende

Nou hoe verstaan ons dan nou ons teksgedeelte waar God vir Moses sê: “Jy kan nie my gesig sien nie, want ‘n mens kan My nie sien en bly leef nie.” Ons moet onsself hier herinner aan die agtergrond waarteen hierdie ontmoeting afspeel. Die volk het lank by die berg Sinaï vertoef met hulle intrek in die woestyn op pad na die beloofde land. Moses het gereeld met die Here gaan praat op die berg en dan lank weggebly. En hulle het gedink hul leier is weg – en mense soek iets konkreet – en hulle was gewoond in Egipte, gode is ook so – jy kan hulle sien; hulle is handig – en jy kan hulle hanteer en beheer – jy bepaal self hoe hulle lyk. 

Hulle kon nie uithou nie, hulle kon nie wag en vertrou nie. En toe maak hulle die goue kalf. En dit skep ’n krisis. Hy stuur nog steeds sy volk na die land wat Hy hulle belowe het, maar “Hy sal nie in hulle midde” optrek nie, anders “vernietig Ek jou op pad”. 

Een van die hooftemas van die Bybel is wat in Engels vertaal met “the Fear of the Lord” of in Afrikaans “ontsag” vir die Here. God is God. Geen handgemaakte, makgemaakte, pasklaar godjie nie. En hierdie heerlikheid/heiligheid/geheimenis van wie God is, sluit sy liefde nie uit nie – dit is nie ’n ander of donker kant van Hom nie. Ons sal Hom eendag ten volle ken soos wat Hy ons nou reeds ten volle ken (1 Kor 13). 

Die Here verdra vir Moses wat Hom eintlik uitdaag: Ons kan nie gaan as U nie saamgaan nie – ons word geken aan U teenwoordigheid – dit is wat ons anders maak – dit definiëer ons! En Hy belowe om met al sy goedheid voor Moses verby te gaan. Hy hou sy handpalm oor Moses in die skeur en hy mag tog ’n oomblik na God kyk van agter…

Hierdie verhaal nooi ons om gemaklik te raak met die geheimenis – om toe te laat dat ook die dele van God wat nou nog vir ons onkenbaar is, buite die bereik van ons begrip en verstand, ons te beweeg tot aanbidding en verwondering, tot nederigheid – ons almal ken ten dele. Ons moet kyk in al die gesigte, ons moet luister na al die stemme want God is altyd groter as ons klein begrip, klein idee’s, klein harte. 

Geloof is openheid; want God is altyd groter. Dit bring heilige ongemak. Want ongemak is altyd nodig vir groei. En dit vra diep vertroue op die Drie-enige God; in sy pad, in sy tyd, in sy teenwoordigheid, in sy almag en liefde, al kan ons Hom nie sien nie. En dikwels sien ons eers vir God terugskouend – miskien is dit ook een van die lesse van hierdie storie (van agter af). 

Sonder daardie vertroue raak ons bang – en as ons bang is maak ons toe. Ons wil nie meer in almal se gesig kyk en almal stem hoor nie – ons kan nie in vryheid liefhê soos ons Vader nie. 

Ons forseer God in die boksie van ons sekerhede in. Ek weet wie Hy is en ek sal vir jou vertel – en as jy Hom nie wil ken en dien soos ek Hom ken en dien nie, dan is jy die een wat verlore is. 

Geloof is in die paradokse. Geloof is om in die spanning, in die geheimenis te kan bly. Loop stadiger. Bly langer. Gaan dieper. 

Daar is ’n kant aan God wat ’n gesig het, wat so persoonlik, so naby, so kenbaar is. En daar is ’n kant van God wat ons altyd bly ontwyk; wat verdwyn as ons dit wil vasgryp. Wat ons herinner om altyd oop te bly, want God is altyd meer as wat ons nou al ken. Amen. 

Gebed/stilword:

Twee kante van God…

gesig, persoonlik, naby, duidelik, vrede, teenwoordig

ver, twyfel, onbekend, onduidelik, vreemd, afwesig

integrasie: heilig, misterie, ruimer, dieper, voller – verwondering en aanbidding

Saamneem?

Met God oor praat?

Nagmaal: Sakramente nooi ons in in die spanning – so naby, so persoonlik, so tasbaar, so kenbaar; verteenwoordig ook iets groter – die onberyplike wat ons net leer vertrou en ontvang…

Maak jou hart, gedagtes en sintuie oop!

Uitstap (band): Our God

css.php