Preek – 23 Aug 2020 – "Uitgehaal" - Eksodus 2:1-10

 

Votum:

Psalm 8:4-5

4 As ek u hemel aanskou,

die werk van u vingers,

die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het,

5 wat is die mens dan

dat U aan hom dink,

die mensekind dat U na hom omsien?

Seëngroet:

Genade en vrede vir elkeen van julle.

Skriflesing:

1‘n Man uit die stam Levi was met ‘n Levitiese meisie getroud. 2Die vrou het swanger geword en ‘n seuntjie in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi is hy, het sy hom drie maande lank weggesteek. 3Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom ‘n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit. 4Sy suster het op ‘n afstand gaan staan om te sien wat met hom gebeur.
5‘n Dogter van die farao het afgegaan Nyl toe om te swem, en die jongmeisies wat haar vergesel, het aan die kant van die rivier geloop. Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal. 6Met die oopmaak sien sy dit is ‘n seuntjie en hy huil. Toe kry sy hom jammer en dink: dit is seker een van die Hebreeuse seuntjies.
7Sy suster kom sê toe vir die farao se dogter: “Mag ek vir u ‘n vrou gaan roep, ‘n Hebreeuse vrou met ‘n pasgebore baba, dat sy die seuntjie vir u kan laat drink?”
8Die dogter van die farao het haar geantwoord: “Ja, goed!”
Die meisie het toe die seuntjie se ma gaan roep.
9Toe beveel die farao se dogter die ma: “Neem hierdie seuntjie en laat hom vir my drink. Ek sal jou daarvoor betaal.”
Die vrou het die seuntjie geneem en vir hom gesorg. 10Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.”

Preek:

Ons reis deur die verhaal van Josef het ons weer kom herinner aan die manier waarop God mense liefhet, roep en stuur. Josef is maar een van God se kinders wat bitter moeilike omstandighede oorleef het en as gestuurde van God gebruik is om duisende mense se lewens te red.

Al het hy moontlik gevoelens van wraak gekoester teenoor sy broers, is die gesindheid van God deur diepe vergifnis in hom opgewek en kon ons deur hom en sy lewe reeds ’n glinstering van die koninkryk van Jesus sien.

Josef se verhaal eindig met sy familie wat veilig en versorg in Egipte begin woon en dit gaan goed met hulle. Hierdie einste familie vermeerder en word die hele volk Israel, of, volgens die Egiptenare dan, die Hebreeuse volk.

Jare en geslagte gaan dan in die verhaal verby en ’n nuwe farao begin heers – hierdie een is egter salig onbewus van die belangike posisie wat Josef, ’n Hebreeuse man, eens op ’n tyd in Egipte beklee het nie. Al wat vir hom duidelik is, is dat die Hebreeuse volk al groter en groter word en moontlik ’n bedreiging kan wees vir die Egiptiese koninkryk.

Die blink plan waarmee die farao dan vorendag kom is om die Hebreeuse volk swak te maak: hy beveel dat die volk Israel slawe van Egipte sal word en so begin hulle onder haglike omstandighede hulself doodwerk. Wanneer dit egter vir die farao nie na genoeg van ’n verdediging lyk nie, beveel hy verder dat alle Hebreeuse seuntjies jonger as twee jaar doodgemaak moet word. Hy beveel selfs vroedvroue om pasgebore babaseuns te vermoor.

Dit is die omstandighede waarin Israel se storie in Egipte begin: hulle werk en leef as slawe, hul babaseuns word vermoor en al die tyd bly die spanning onder die farao se regering groei en groei. Hoe onveilig moes hulle nie voel nie? Hoe gereeld moes hulle nie saggies vir mekaar vra “waar is God?” nie?

Dan op ’n dag word daar nog ’n baba gebore, ’n seun. Sy ma, soos die geval met meeste ma’s sou wees, vrees die dag dat iemand hom sou ontdek en van haar wegruk en doodmaak. Sy steek hom weg tot sy nie meer kan nie.

Dan vat sy ’n kans, sy neem ’n geloofsprong: sy steek haar baba weg in ’n biesiemandjie – dalk om hom later self weer te gaan haal, of dalk het sy ’n ander plan in gedagte. Sy steek hom toevallig (of dalk juis) daar weg waar die farao se eie dogter gaan bad en swem.

Wie sou kon dink dat die dogter hom sowaar daar vind? En meer nog: wat as die dogter die sentimente en oortuigings van haar pa gedeel het en die baba oorgelewer het om doodgemaak te word?

In plaas daarvan om ’n weerlose, Hebreeuse baba net daar in die riete te los, raak die dogter se hart sag, haal sy hom uit en gee vir hom ’n naam: Moses.

Moses, wat klink soos “uitgehaal”, is maar nog ’n onwetende baba wanneer hy van die dood gered word. Min weet sy ma of die farao se dogter wat hom aanneem, dat hierdie Moses die hele volk Israel, wat so ’n bedreiging blyk te wees, sou uithaal onder die hand van die volgende farao.

Min weet Moses self wie hy is, tot hy veel later vir God self ontmoet en deur Hom gevorm en gestuur word om sy volk te gaan bevry.

Moses se verhaal getuig daarvan dat God ’n eindelose en onvoorwaardelike liefde het vir mense, vir Sy kinders. Hierdie verhaal herinner ons daaraan dat God reeds van die begin af kies aan die kant van mense.

Al die pad van Adam en Eva af, van Noag af, van Abraham, Isak en Jakob af, van Josef af regdeur Moses en almal wat nog na hom kom, getuig die Bybel daarvan dat God mense kies. Dat God mense liefhet. Dat God mense nie alleen laat in ’n wêreld wat dikwels meer stukkend as heel lyk nie. God is in mense se lewens – God is in mense se swaarkry.

Moses is een baba wat gered word, sodat Hy duisende kan uithaal waar hulle is, sodat hulle die beloofde land mag beleef. God ontmoet Sy volk in hulle swaarkry en nood wanneer Hy vir Moses in ’n biesiemandjie en in ’n brandende bos ontmoet.

Dit is maar ’n menslike voorsmaak van wat God later self in die liggaam van ’n baba kom doen: Jesus oorleef as kind ’n landswye kindermoord, sodat Hy die hele mensdom kan uithaal uit sonde en dood. Nêrens word daar, soos in Jesus, bevestig dat God ’n diepe liefde vir mense het nie; nêrens is God meer tasbaar teenwoordig in ons nood as in die lewe van Jesus nie.

God is egter nie net hier in Jesus of die Helige Gees nie. God het ons as mense geskep om Hom te verteenwoordig en dit beteken dat ons vir mekaar in nood moet intree, ons moet mekaar ook liefhê.

God is ook nie ’n poppemeester nie: elkeen van die rolspelers in Moses se verhaal kon kies: sy ma kon hom laat wegneem; die farao se dogter kon hom oorlewer of agterlaat; Moses self kon die brandende bos ignoreer en nie God se roepe beantwoord nie.

Ons is gemaak om God te verteenwoordig, indien ons dit kies. Ons is gemaak om ander lief te hê, indien ons dit kies. God weet dat ware liefde nie in geprogrammeer word nie, daarom vertrou Hy ons eerder met mekaar.

Hy het vertrou dat een mens in die posisie van koning nie ander sal onderdruk en as slawe aanhou nie – die farao het gekies om nie lief te hê nie. Hy het vertrou dat ’n jong vrou nie dieselfde pad van haat en agterdog sal stap nie – die farao se dogter se hart was sag. God het vertrou dat hy iemand sou kon roep, vorm en stuur om sy mense te bevry – Moses het gekies om te luister en te antwoord.

God is almagtgig, maar Hy werk nie alleen nie. God is teenwoordig in ons lewens en in ons swaarkry, maar Hy gebruik mense om ons lief te hê, om ons uit te haal. Hy gebruik ons om ander uit te haal en so word elkeen van ons ’n rolspeler (met keuses) in die verhaal wat aan die vorm is van Adam en Eva se dae af.

Mag jy opnuut luister na waar God jou roep, mag jy sien waar jy gered word, mag jy raaksien wanneer jy voor ’n brandende bos staan en mag jy antwoord wanneer God jou stuur.

Amen

Seën

Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.

Die Here is langs jou om jou hand vas te hou.

Die Here is agter jou om die Bose te verslaan.

Die hand van die Here is onder jou om jou te dra as jy swak is en jou op te help as jy val.

Die Here is rondom jou om jou te beskerm.

Die Here is bokant jou om jou te seën.

Die Here is binne-in jou, want Hy lei jou deur sy Heilige Gees.

Die Here is vir jou, want Jesus pleit vir jou.

Die Drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.

Amen.