Erediens 21 Junie 2020

Votum:

Matteus 22:37b-40

“‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Seëngroet:

Genade en Vrede vir elkeen van julle.

Skriflesing:

Matteus 10:26-39

26“Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. 27Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin. 28Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.
29“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
32“Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. 33Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.”
34“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. 35Ek het gekom om tweedrag te bring
 
“ ‘tussen ‘n man en sy vader
en tussen ‘n dogter en haar moeder,
tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder;
36ja, ‘n man se huismense sal sy vyande wees.’
 
37“Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. 38Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.
39“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

Preek:

Hierdie teks stel ’n nuwe soort Jesus aan ons bekend. Op hierdie stadium in Matteus het ons reeds die Jesus ontmoet wat uiters teen-die-stroom is, wat mense genees op die Sabbatdag en wat skynbaar nie bang is om te praat teen die owerhede van die dag nie.

Ons het al gelees dat Hy mag het selfs oor die mees vreesaanjaende vorste van die natuur – Hy maak storms stil.

Hy is ook die Jesus wat die manier hoe mense dink op sy kop kom draai met stellings soos “geseënd is die armes”.

Nie lank voor hierdie gedeelte nie, kry ons vir baba Jesus wat byna hulpeloos, soos enige mens, afhanklik is van sy ma. Ons ken hierdie Jesus, wat later skoon verdraai, grootgeword het met blonde hare en blou oë, as “Liewe Jesus”.

Ons is lief vir Liewe Jesus. Ons weet wat om te verwag van Liewe Jesus en wanneer ons hardkoppig wil voortstruikel op ons eie pad, dan is dit beslis nie Liewe Jesus wat ons wil keer nie, want Hy is sag en hy kyk na ons met sagte, blou oë.

Maar wat maak ons met die Jesus wat tafels omgooi en wat sê Hy het nie gekom om vrede te bring nie?

In hierdie teks daag Jesus ons op ten minste twee maniere uit:

Wie vrees ons en voor wie praat ons?

In die eerste plek spreek Jesus ’n diep, menslike vrees aan: die vrees om ons geloof voor ander, in woorde, te bely.

Dit is egter uiters belngrik om eers te erken hoe ons omstandighede verskil van die omstandighede waarin Jesus hierdie woorde oorspronklik gespreek het:

Jesus spreek hier mense aan wat gevrees het vir hul lewens: indien hulle sou waag om te bely dat hulle enigiemand anders as die keiser of die Romeinse gode aanbid, sou hulle wreed vervolg en doodgemaak word, tensy hulle hul geloof in Jesus Christus sou afsê.

Om Jesus se woorde in hierdie omstandighede te hoor is baie anders as om dit byna 2000 jaar later in die veiligheid van ons huise te lees.

Nietemin, Jesus moedig sy volgelinge aan om selfs in hierdie omstandighede van die dakke af te basuin dat God selfs meer magtig as die Romeine is. Hy gee aan hulle die opdrag om nie te vrees vir hul lewens nie, of ten minste nie vir hul liggame nie.

Wie is vir ons blangrik?

In die tweede plek, effens later in die teks, daag Jesus ons toewyding uit. Hy sê in soveel woorde dat ons keuse om Hom te volg dikwels rusie en selfs skeuring tussen ons en ander sal bring en dan gebruik Hy spesifiek die voorbeelde van naastefamilie: ouers, broers en kinders.

Weereens moet ons hier deeglik verstaan hoe die konteks waarin Jesus praat, hierdie woorde laat oorkom: In die Joodse kultuur van die tyd was familiebande uiters belangrik. Families in daardie tyd het onder een dak gewoon en die ouers (spesifiek die pa’s) was die absolute hoofde. Kinders het nie hul ouers teëgegaan in enige saak nie en die hele familie moes alles in hul vermoë doen om nie skande oor die familienaam te bring nie.

Vir Jesus, self ’n gebore Jood, om dus te sê dat Hy tweedrag sou bring tussen familielede, sou in hierdie konteks uiters skokkend gewees het. Jode was gewoond daaraan dat die Ou Testament wette die familie-eenheid bo alles beskerm het, en God self het nie daarmee ingemeng nie, aangesien Hy dit ook so bestem het.

Hier daag Jesus, self God, egter op en dit wil voorkom of Hy wil onmin saai in die bekende. In hierdie tyd was mens se lewe ook net so afhanklik van jou familie, sonder familie was daar niemand wat vir jou sou sorg nie. Dit wil voorkom of Jesus mense se oorlewing wil bedreig deur aan hulle die opdrag te gee om nie aan hul lewens vas te hou nie.

Vir ons is hierdie omstandighede vreemd: ons het, eerstens, in SA (genadiglik) vryheid van geloof ons kan aanbid en bely wie en wat ons wil. Tweedens is gebroke families of families met rusie nie vir ons vreemd nie. Ons woon nie meer almal onder ons ouers se dakke nie en vir meeste van ons het die gedagte van familie hierargie heeltemal verval.

Beteken dit ons moet hierdie teks oorslaan? Is dit nog van toepassing op ons?

Hoewel ons sou verkies om die moelike (of selfs onverstaanbare) dinge wat Jesus in hierdie gedeelte sê te ignoreer en eerder te fokus op Liewe Jesus, laat dit ons met ’n halwe Jesus.

2000 jaar later kan ons ons amper nie indink hoe dit moes wees om in daardie ruimte saam met Jesus te wees en hierdie harde woorde te hoor nie. Wat ons egter kan doen, is om vandag nog Jesus se hart te hoor:

Hierdie harde woorde is ’n uitdagende uitnodiging om Jesus sonder enige huiwering of verdeelde toewyding te volg.

Te dikwels is ons skaam om Jesus Christus hardop te bely – dis nie net tieners wat groepsdruk vrees nie, dis grootmense ook. Ons troos onsself daarmee dat “Liewe Jesus mos weet dat ek ’n Christen is, dis mos tussen my en Hom”.

Te dikwels is die goeie opinie van familie en ander naastes die bron van my sosiale oorlewing – ons bly eerder stil aan die etenstafel of om die braaivleisvuur, terwyl ons weet dat hierdie Jesus ons uitdaag om iets te sê. Ons doen dit omdat ons vashou aan verhoudings en sosiale lewens wat vir ons belangriker lyk as dit wat Jesus uitdruklik van ons verwag.

Liewe Jesus, die baba op die Kerskaartjies of die een met die blonde hare en die blou oë, daag ons nie uit nie, maar hierdie een in Matteus 10 doen. Hierdie is ’n moeilike Jesus met groot verwagtinge wat nie ophou om my uit te daag nie: Hy is elke keer daar wanneer ek verby die stukkend en die seer in die wêreld kyk. Hy is elke keer daar wanneer ek huiwerig is om Hom te bely. Hy is elke keer daar met elkeen van my leuens, my afbrekende opmerkings teenoor mense, met my grappies ten koste van ander se menswaardigheid, wanneer ek rassisme probeer regverdig, wanneer ek iemand as halwe-mens probeer hanteer, wanneer ek die dinge doen wat ek weet nie in lyn is met Sy waardes en Sy wil nie.

Hierdie moeilike Jesus is elke dag daar met ’n nuwe uitdaging vir my om beter te wees, maar net so is Hy elke dag daar met ’n nuwe uitnodiging vir my om nader aan Hom te wees.

“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

Hy of sy wat vol waagmoed en vertroue vir Jesus Christus bely, Hy of sy wat nie die opinie van familie, vriende of vreemdelinge bo toewyding aan Jesus Christus kies nie, is waardig om aan Hom te behoort.

Amen

Seëngroet

Mag daar in jou ’n waagmoed ontstaan om nie net vir Liewe Jesus nie, maar ook vir Moeilike Jesus te wil volg en te wil ken.

Mag die liefde van God ons Vader, die genade van Jesus Christus en die gemeenskap van die Heilige Gees by jou wees.

css.php