In pas met God
Votum/seëngroet:
Wat is jou behoefte vandag? Energie, vryheid van bekommernis/pyn, sekerheid oor jou doel? Jesus nooi na: “Kom na My toe; Ek sal vir jou rus gee…”
Skriflesing:
Mat 11:16-19, 28-30
Preek:
Ons ken die bekende woorde van Jesus goed; en ons hoor dit graag; dit voel soos salf vir ons siel. Ons almal soek rus vir ons gemoed. Ons almal soek iemand wat ons met nederigheid en sagmoedigheid sal hanteer. En Jesus sê ons kan dit by Hom kry. Wat ons dalk nie altyd mooi na oplet nie, is wat ons moet doen om toegang te kry tot hierdie rus wat Jesus aanbied.
Ons hoor van ’n juk wat sag is en ’n las wat lig is. Dit klink eintlik ’n bietjie soos ’n teenstrydigheid. Dit is albei eintlik goed wat jy sou wou afgooi as jy die keuse kon hê. (Vir die wat dalk vergeet het, ’n juk is mos daai houtbalke waarmee jy ’n bees ingespan het vir trek.) Dit is ook in Jesus se tyd gebruik vir ’n sekere stel leringe – dikwels van ’n sesifieke Rabbi. Jy het Rabbi X se juk op jou geneem – jy volg sy leerstellinge. Maar eintlik het jy by hierdie Leermeester ingeskryf vir ’n vakleerlingskap; om by hom te leer lewe voor God net soos wat hy lewe – presies soos wat Jesus met sy dissipels gemaak het.
Jesus sê ons moet leer van Hom: “Neem my juk op julle en leer van my…” Om te leer van Jesus is in Matteus baie belangrik. Jesus leer mense van Hom, van die Vader en van die koninkryk (Bergrede Mat 5-7). En Jesus stuur aan die einde (Mat 28) sy dissipels uit om aan die hele wêreld te gaan verkondig; om die mense sy dissipels te maak – en hulle alles te leer wat Hy hulle geleer het.
Met ’n baie mooi begrip van die konteks, vertaal Eugene Peterson in sy The Message as volg: “Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.”
Om hierdie weg na Jesus se ware rus te vind, is daar nog twee dinge wat jy moet raaksien (wat ook baie belangrik is in Matteus se evangelie). En die twee hang saam met mekaar. (S12)Die eerste is Jesus se gesag (die Vader het alles aan my toevertrou). In Mat 28 neem Jesus dit nog verder: “Aan my is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” En die ander gaan om sy teenwoordigheid. Die Evangelie word hiermee omraam. Mat 1:23. Die profeet se woorde word waar; ’n maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en Hy moet Immanuel genoem word; God by ons. En so sluit Mat dan ook sy Evangelie af: “Onthou, ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Die wat na Jesus toe kom en wat sy rus wil ontvang moet sy gesag erken en bewus wees van sy teenwoordigheid en daaruit leef. In daardie oomblik rig Jesus hierdie uitnodiging aan almal – en Hy, as die lewende Christus rig dit ook aan ons: om sy juk, sy las op te neem. Net so ’n entjie terug in die storie (Mat 10) verwys Jesus na hierdie juk as die kruis wat ons moet opneem as ons Hom wil volg deur onsself te verloën. So raak dit dan ook vir ons duidelik dat hierdie rus wat Hy aanbied nie soos ’n vakansie is nie. Dit hou eerder met ons roeping verband.
Na die goue kalf episode in die woestyn loop die volk die risiko om sonder die Here te moet verder trek. Maar daarvan wil Moses niks weet nie. En toe vra die Here vir hom: “Moet my teenwoordigheid met jou saamgaan en moet ek vir jou rus gee? wat die Here toe ook gedoen het. Jesus verteenwoordig die Vader se teenwoordigheid vir ons in fisiese, menslike vorm. Die God van die Skepping en die reis deur die woestyn. Die rus lê op die reis waarop Jesus ons nooi. Op die weg, die lewenswyse in navolging van Hom. Deur saam met Jesus te stap. Deur saam met Jesus te werk. Dan kan ’n mens die ongeforseerde ritmes van genade leer en kan daar integrasie en harmonie in jou lewe kom.
Om hierdie weg te vind, is egter nie vanselfsprekend nie. Jesus sê dit is smal. Sy geslag kon nie die openbaring van God in Johannes of Jesus erken nie; al was hulle so radikaal verskillend. Jesus is ook ’n vervulling van ’n ander baie belangrike OT woord/konsep: wysheid. Wysheid is die lig van onderskeiding sodat jy die regte pad kan erken.
Hoekom mis die slim en geleerde mense die weg en die rus van Jesus? Hulle ego staan in die pad. Hulle het vaste idees’s van wie God is opgebou. Hulle is nie oop nie, hulle kan nie oorgee en vertrou nie – hulle mis die geleentheid van ’n leeftyd; om regtig deel te word van God se rus deur onder sy gesag en binne sy teenwoordigheid te leef.
Die modernistiese wêreldbeskouing sê alles gebeur hier op die boonste verdieping; in my vestand. Ek verander as ek anders dink. Dit is egter net ten dele waar. “It is easier to act yourself into a new way of thinking than to think yourself into a new way of acting.” Wat ons regtig vorm, gedagtes en gevoelens, is ons gewoontes. Om ’n dissipel van Jesus te wees beteken dat ons veronderstel is om ’n spesifieke lewenswyse te kweek; dit is ’n beliggaamde daaglikse manier van leef wat uit genade vloei en oorgaan in gehoorsaamheid. In die vroeë kerk is hierdie manier van lewe beskryf as ’n regula; ’n ritme vir die lewe. Iets wat jou lewe “reguleer”.
Een van die beste moderne maniere om dit te beskryf is om te sê ons het ’n goeie OS nodig. Iets wat betroubaar is en wat al die programme van ons lewe op die regte manier laat werk. Ons het reeds so ’n OS of Regula. Ons gewoontes/ritmes wat ons vorm – persoonlik en as gemeente. Maar soos ons rekenaar s’n, kan ons s’n dalk oud wees, of nie meer ordentlik funksioneer nie – dit moet aangepas, verbeter, of opgegradeer word.
En hierdie 7 aspekte waaraan ons in hierdie kwartaal gaan aandag gee, moet daardie rol vervul. Julle sal sien dit is ’n manier om juis die OS (Geliefd, gevorm, gestuur) waarop ons besluit het aan te vul en vleis te gee. Die vraag is basies – op watse beginsels (en die praktyke wat daaruit vloei) kan ons fokus, leer én oefen om as gelowiges en as gemeente die Evangelie, die koninkryk van God hier waar God ons geplaas het te verteenwoordig. En omdat dit nie oornag gebeur nie, gaan hierdie meer as ’n reeks wees en langer by ons moet bly – ons moet dit uiteindelik almal van binne af buitentoe ken, dit moet deelraak van ons praat en bid, dink en voel en leef.
Jesus is ons Rabbi/Leermeester. Een van die beter maniere om dit vandag te sê is Hy is ons Lewensafrigter. Ons leer by Hom hoe om ons lewe te leef soos wat Hy sou as Hy ek was. Ons neem sy juk op, want hoe snaaks dit ookal mag klink – sy juk maak vry. Ons leer om waarlik te leef – en daardie ware lewe, ware rus is in ons roeping en God se teenwoordigheid op ons pad. Dit is om te let op wat Jesus doen, om saam met Hom te loop en saam met Hom te werk, sodat jy met die ongeforseerde ritmes van genade kan leef. Amen.
