Liefde verdryf vrees

Verwelkoming:

By wie is voel jy heeltemal veilig? Wat is die rede? Dan verteenwoordig daardie persoon vir jou iets van God is

Votum/seëngroet:

(1 Joh 4) 7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

 

Kindergewoonte:

Dankbaarheid (1 Tes 5:18) 

Onthouvers opsê: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Dankbaarwat is dit? Bly oor iets wat jy ontvang het. Tevrede: sien raak wat jy het eerder as dit wat jy nie het nie. 

Kan ’n mens Altyd, oral, maak nie saak wat gebeur nie, dankbaar wees?

Is dit iets wat jy is, of kan jy dit ook word?

Ons kan dit oefengewoontes: as jy ’n sekere ding aanmekaar doen, verander dit jou.

Soek vir goeie dinge in die moeilike omstandighede: mense wat helpers is en nie vatters nie

Soek vir mooi dinge – liefde, diere, natuur, lekker kos, warmte as dit koud is. 

Veral, weet, niks kan jou losmaak van God se liefde nie!! En dit is genoeg!

Skriflesing:

Jes 5:1-7 

Preek:

Hierdie woorde van Jes herinner baie aan dié van Hosea 11 waarby ons drie Sondae gelede stilgestaan het. (Ek weet dit is lank gelede!) Hosea se woorde was ’n waarskuwing aan die Noordryk (Israel) oor die naderende ballingskap deur Assirië. Jesaja waarsku die Suidryk (Juda) oor die ballingskap deur die Babeloniërs. (Ballingskap: verwoesting, weggevoer: hoekom gebeur dit met God se uitverkorenes?) Hosea, so het ons geleer, gebruik twee beelde vir God se hartseer oor sy volk (wat ook elders in die OT voorkom): die van ’n geliefde wie se eggenoot wegdraai van Hom; en die van ’n Ouer wie se kind, ten spyte van troue liefde en versorging, die Ouer verwerp. Jesaja gebruik hier ‘n derde beeld: van ’n boer en sy geliefde wingerd. Weer is daar hierdie uitgebreide beskrywing van die aandag, die moeite, die liefdevolle en getroue versorging, sodat daar eintlik net een uitkoms behoort te wees: die vreugde van ’n goeie druiweoes en goeie wyn!

NB beginsel: Ten diepste wil die Bybel vir ons sê wie God is sodat ons gepas daarop kan reageer. 

Hierdie beelde oor God is merkwaardig, of hoe? Ons sien nie ’n koue regeerder wat in woede straf as sy reëls oortree word nie. Ons sien ’n Vader, ’n Liefdesmaat, ’n Boer, wie se liefde onbeantwoord bly. Kom ons ignoreer eers weer die ordeelsaankondiging in die middel van hierdie profesie; ons sal later weer daarby uitkom. Hoe ironies dit ookal vir ons mag klink, selfs die Here se oordeel spruit uit sy liefde: (Jes 5:7)

“Die Here het verwag dat daar reg sou wees, maar daar was onreg, dat daar geregtigheid sou wees, maar daar was net die hulpgeroep van verontregtes.”

Oral in die profete is dit waaroor dit gaan. Die Here wil hê dat daar vir elke mens ’n plekkie in die son moet wees, dat elke mens vry moet lewe van vrees, en misbruik en onderdrukking (arme, weduwee, weeskind, vreemdeling). Elkeen moet kan floreer. 

Hy is die God wat hoor, Hy is die God wat verlos. (Twee pragtige voorbeelde vroeg in die OT). 1)Na Isak se uiteindelike geboorte, stuur Abraham die slavin (Hagar) en sy kind by haar, Ismael weg die woestyn in (Gen 21). Toe hulle water opgeraak het, het sy hom onder ’n bos gesit met die gedagte dat hulle daar sal doodgaan. Ismael het begin huil… “God het die kind hoor huil…” En Hy het hulle daardie dag gered en onder sy sorg geneem. 

So is God.

2) Na jare in slawerny in Egipte, lees ons die volgende (Eks 2): “23Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. 24God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. 25Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem. 

So is God. 

Aan die einde van Mat 21 vertel Jesus ’n gelykenis wat sulke ooglopende ooreenkomste het met hierdie gedeelte in Jesaja het dat ’n mens redelik seker kan wees dat Jesus daarop sinspeel:

“Daar was ‘n grondbesitter wat ‘n wingerd geplant en ‘n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook ‘n parskuip uitgekap en ‘n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan….”

Maar die wending hier is anders. Die boer stuur van sy slawe om die sy deel van die oes te gaan haal. Maar die slawe word mishandel en selfs doodgemaak. En toe stuur die boer sy eie seun – selfs van slegte mense kan jy tog verwag dat hulle die regmatige eienaar van die grond se seun sal ontsien. Maar hulle gooi die boer se erfgenaam uit die wingerd en maak hom dood

Oral gebruik die profete hierdie tegniek (Hosea, Jesaja, Natan – arm man se troetelskapie). Hulle vertel vir mense ‘n storie waar jy met die karakter kan identifiseer oor die onreg wat hom aangedoen is, en saam kwaadword, net om te ontdek dat die tafels omgedraai word en dat jy self die punchline van die storie is. Ook Jesus kondig daardie dag oordeel aan oor die Skrifgeleerdes en Fariseërs (hulle het besef dat Hy op hulle sinspeel):

“43“Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ‘n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.”

Hierdie profesieë wil ons altyd konfronteer met die vraag: Wat sou jy gedoen het as jy die eggnoot, ouer, boer was? Wat sou jy gedoen het as jy in die Here se skoene was? En wat gaan jou reaksie nou wees? Hoe gaan jy reageer/antwoord?

Goddank, Jesus was nie net die laaste toets, die laaste strooi in God se oordeel nie – dit het ook die dinamika daarvan heeltemal verander. Sekere goed oor God, oor wie Hy is, en en hoe ons sy pad met ons moet verstaan, was in die OT nog nie so helder soos ons dit in Jesus kon sien nie. Toe ons oor Hosea 11 nagedink het, het ons na ’n paar beginsels gekyk wat ons in gedagte moet hou wanneer ons die gedeeltes in die Bybel oor God se oordeel lees. Kom ons recap dit gou en voeg dan dalk so een of twee by:

  1. Ons moenie obsessief oor die hel wees nie. Ons idee daaroor kom meer uit kulturele goed as uit die Bybel self. 
  2. “Oordeel” was regstelling (rondreisende regters). Boosheid word aangespreek en gekeer. Gevolge. 
  3. Vertrou God daarmee: Hy is nie wraaksugtig of bevooroordeeld nie. 
  4. In die NT leer ons meer oor die bose en die verpersoonliking daarvan die duiwel, wat God se goeie werk teenstaan en wat steel en verwoes. In die OT word alle gebeure aan God toegeskryf. Dit is merkwaardig dat moeilike omstandighede nêrens in die NT as God se straf beskryf word nie, maar as ’n geleentheid om te deel in die lyding van en vir Jesus!  Die koninkryk van God is in die wêreld maar nie van die wêreld nie!
  5. Jesus se offer het alles verander.

Want Jesus verteenwoordig God se uiteindelike droom en plan. En hoe klink dit?  (1 Joh 4)

“17Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 

Liefde (onverstaanbare, onvoowaardelike, selfopofferende liefde uit die hart van die Vader, uitgestort in Jesus) wat liefde wek. 

Oor Hos 11 het ek die volgende gesê: “Want ons sien die vreeslike gevolge van die mensdom wat sy rug draai op God, van die Vader se stukkende hart, in die gesig van Jesus aan die kruis. Daar ontmoet God se oordeel en liefde mekaar in genade. Daar wen die liefde as God die gevolge op Homself neem.

Volmaaktheid, volheid, volwassenheid in ons lewe en in ons verhouding met God word bereik as daar geen vrees meer is nie. Liefde verdryf vrees, maar vrees verdryf ook liefde.

Ons wat ouers is behoort dit tog goed te kan verstaan. Jy wil tog hê jou kind moet jou in liefde respekteer en liefhê en nie uit vrees gehoorsaam nie. Laasgenoemde sou tog ’n ongesonde en onvolwasse verhouding verteenwoordig. ’n Kind kan nie tegelyke tyd vir ‘n ouer bang wees én liefhê nie… In Jesus kon ons verhouding met God uiteindelik wasdom bereik. 

God se droom is ’n lewe vry in liefde. Sonder enige vrees vir straf. Wat met vrymoedigheid na Hom te kom, veilig in Jesus. 

En dit is so belangrik. Ons word die beeld van God wat ons aanbid. Richard Rohr sê: “Your image of God creates you”. 

As ons god kleinlik, reëlgebonde, veroordelend/wraaksugtig en kwaad is, dan word ons ook so. (En ons dit nie oral om ons nie – Christene met geen genade vir ander nie)

As ons God die Vader van ons Here Jesus is; die Drie-Eenheid (“An event of communion” – Rohr)

 Wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy enigste Seun gestuur het om die wêreld te red en nie veroordeel nie;

’n God wat genadig, grootmoedig, nederig, groothartig, vergewensgesind en bo alles liefde is – dan word ons ook so. 

Your image of God creates you. Amen. 

Stilgebed:

  • Wek jou beeld van God nog vrees by jou?
  • Wat doen die Here vir jou? (Beelde: leer loop, vasgehou, opgetel, gevoed, klippe weggehaal, parskuip gebou, muur om te beskerm…> inbou, vashou, versorg, beskerm). 
  • Liefdeloosheid, ongehoorsaamheid het steeds gevolge: om teen God te kies en sy liefde te verwerp (Nie straf nie); steeds dringendheid… waar sien jy dit in jou lewe en die gemeenskap?
  • Koninkrykslogika: liefde vermenigvuldig as dit gedeel word (hoor ons die hulpgeroep van die verontregtes – doen ons iets?). Vrouemaand: iets wat jy in jou invloedsfeer kan doen?

#GaanLeefGeloof: Moet tog prakties word!

God wat hoor en omgee, elkeen moet floreer – geregtigheid. 

Drie uitdagings. Wil waag? Doenbaar. As iets gebeur waaroor jy moet getuig, stuur net terugvoer aan my – dit kan anoniem wees. 

Godstories!

css.php