Kan ek heel word?
Verwelkoming:
Wie onthou hierdie?
WIE WEET, IEWERS IS DAAR DALK ‘N LAND VAN RUS EN
WIE WEET, WAAR DIE VLUGTELING VEILIG IS
WAAR DIE SWERWER EINDELIK RUS EN AS DAAR IS
NEEM MY SAAM, NEEM MY SAAM
Ons verlang na ’n regte rus vir jou siel… veilig is – behoort – en bevestig word vir die bydrae wat jy kan maak. Kan hierdie erediens, ons gemeente so plek wees?
Votum/ seengroet:
Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is,
die knie sou buig, en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.
Gebed:
Skriflesing: 1 Kor 15:12-22
Preek:
Wat is jou storie oor die afgelope twee jaar wat Covid ons lewens oorgeneem het? Waar is jy op die oomblik – kan jy dit beskryf? Wat het jy verloor in hierdie tyd? Mense, ervarings, geleenthede, werk, inkomste, sekuriteit? Op ’n manier is alles dieselfde (miskien net nog’n bietjie slegter as voorheen), maar tog is alles ook anders. Wat het ons geleer en sal ons dit kan vashou? Wat wil ons los, en sal ons kan? En as ek moeg en stukkend en weerloos voel, kan ek weer heel word, hoop hê, met oorgawe liefhê en leef?
Paulus is in ons gedeelte besig met ’n lang argument oor Jesus se opstanding. Hy wys dat dit die spilpunt is waarom die hele evangelie draai. Dit wys dat dit alles waar is. Dat Jesus regtig die vewagte Messias was; dat Hy wel die sonde en dood oorwin het; en meer nog: dat Hy die Here van die Here en die Koning van die Konings is. Dat alle gesag nou aan Hom behoort.
In vandag se taal: dit is real – ons geloof is nie net nog ’n godsdies of spiritualiteit naas ’n klomp ander opsies nie. In Jesus betree ons ’n verhouding met die lewende en enigste God en leer leef ons in sy koninkryk – ons word deel van sy nuwe skepping wat vervulling sal vind in die nuwe hemel en die nuwe aarde – wanneer elke knie sal buig en elke tong sal erken dat Jesus Here is – en alles sal verenig wees onder die wil en die heerskappy van God.
Volgende Sondag begin ons met ons nuwe reeks: “Meer soos Jesus”. Ons dominees kan ook nie meer aan nuwe maniere dink om die dinge uit te druk nie – ons weet jy het dit al gehoor… Maar kan ons weer, op hierdie spesifieke punt in ons storie – ’n verwagting kry dat Hy vir my lewe iets nuuts in gedagte het? Het ek ’n begeerte om aan Hom oor te gee sodat Hy kan doen wat Hy vir my droom?
Volgende Sondag is ook die begin van die eerste Lydensweek (Lent – wat eintlik lente beteken!) Bob Holmes skryf op die internet onder die naam van The Conteplative Monk. Hy het in hierdie tyd sy vrou aan kanker verloor. Hy self het fase 4 longkanker. Hy skryf dat hy die eerste keer Lydingstyd regtig verstaan. Hier in die nadraai van Covid, aan die begin van Lydenstyd, en natuurlik n.a.v die opstanding van Jesus, staan ons op soveel maniere op die drumpel van ’n nuwe mensheid. Hy skryf, en ek vertaal vir julle:
Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf,
So sal almal in Christus lewend gemaak word.
Ons is ’n nuwe skepping, gebore vanuit die hemel.
Ons is die Seuns en dogters van die Vader van Lig.
Jesus het gesterf om ons van onsself te red.
Die dood kon Hom nie vashou nie.
En in Christus kan die dood ons ook nie vashou nie.
Die hele skepping wag vir ons om geopenbaar te word.
Dit is die rede vir Lydingstyd,
Sodat ons, soos Jesus, mag sterf aan onsself
Sodat ons in Christus mag lewe en Christus in ons
Dit is ons hoop en ons sekerheid en dit is hier, naby…
Dit is tyd om wakker te word en om te leer wat ons moet leer.
Hoe om ’n anker in die storm te wees.
Hoe om die heiligdom van vrede in die midde van chaos te wees.
Laat ons word wat ons regtig is: Seuns en dogters van die Lig.
Lydingstyd (Lent) is die tyd vir Springcleaning van ons siele. Dit is die tyd om leeg te raak van onsself sodat ons kan vol word van God. Dit is tyd om weer ’n ander plek te besoek waar Paulus iets skryf oor die hart van ons reaksie op die evangelie. In Fil 2 skryf hy dat ons dieselfde gesindheid/gedagtes moet hê wat Christus Jesus gehad het; dit is grondhouding, die diepste logika van die evangelie – Hy het nie vasgeklou aan sy Goddelike magsposisie nie, maar in nederigheid Homself leeggemaak vir ons. Neergedaal het, gehoorsaam was, geoffer is.
As ons regtig meer soos Jesus wil word, moet ons in hierdie seisoen, in hierdie Lydingstyd, leer om die paradokse van ons geloof te leef. Ons moet laat gaan om te kry – sterf om nuut te leef – jou weerloosheid verken om ’n nuwe veerkragtigheid te vind. Dit is moeiliker maar ook beter as wat jy dink…
Is jy gereed, verlang jy na, hunker jy na, ’n geestelike, emosionele en fisiese detox? Dat God jou hele sisteem reboot? Sal jy ’n trustfall doen in die arms van God? Toelaat dat jou lewe onderbreek word deur sy Goddelike ingryping? Sal jy toelaat dat Hy jou brei tot heelheid? Sal jy dit ’n bietjie stadiger vat? Sal jy doelbewus tyd by so voete spandeer en jou knapsakkie en al jou afgodjies een vir een voor Hom uitpak?
Sal jy in die donker nag van jou siel ingaan sodat jy blootgestel kan word aan God se genade, goedheid en lig? Sal jy sterf aan jou hoop, jou drome, jou agendas, sodat jy gevul kan word met nuwe lewe, kan sien met nuwe oë, om gevul met die Gees heelhartig en in oorvloed te lewe?
Jesus se opstanding gee ons al die sekuriteit wat ons nodig het – geen dood of sonde of omstandighede kan ons vashou nie. Daar is geen muur wat ons nie kan oor nie – geen doodloopstraat wat nie kan lei tot ’n nuwe pad nie, geen plek so ver dat Hy ons nie kan kom haal nie, gee ketting te sterk dat ons nie vry kan word nie, geen hart of lewe so stukkend dat dit nie kan heel word nie.
Ons kan waag. Ons kan waag om saam met Jesus in sy lyding en in sy dood in te klim want dit is ook ons s’n en ons s’n is ook syne. En ons sal deel kry aan sy nuwe lewe en sy heerlikheid. Dit is hierdie pad van vertroue en oorgawe waarop ons saam hierdie volgende paar seisoen wil stap. Kom ons vat mekaar aan die hand. Kom ons vat die Here Jesus se hand. Hy het baie om ons te wys en baie om ons te leer. Amen.
