Sal die regte Jesus opstaan asb?

Verwelkoming:

Belydenis: Geloof as ’n persoonlike konneksie en ’n alternatiewe lewenstyl. Ons is almal verantwoordelik om mooi te onderskei wat die pad van die Here en wat die pad van die wêreld is. Uit al die stemme God se stem te hoor.

Votum:

Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” (Lukas 3:21-22)

Seëngroet:

Ook jy is God se geliefde seun en dogter oor wie Hy baie bly is. Jy is in die huis van jou Vader. Hier by Hom is jou rus.

Skriflesing:

Lukas 4:14-21

Preek:

Wie is Jesus regtig? Dit is asof ons omring word met so baie prentjies van Hom, so baie verskillende weergawes en idees van Wie Hy is, en wat Hy doen en wat dit beteken om om in Hom te glo en Hom te volg – en so baie koppel hulle doelwitte aan sy Naam. En dit is so, Jesus is groot en wonderlik en Hy het baie kante, maar hoe weet ons dat ons nie dalk iewers mislei word om weg te dwaal van wie Hy regtig is nie? Ons het CRC en Hillsong, Christene iewers onder ’n boom in Afrika en Indië, Makro kerke, huiskerke, nuwe kerk, ou kerke, Katedrale en skoolsale, ons het Moeder Theresa en Joel Osteen, Charlie Kirk en Desmond Tutu en Oom Angus, Rockbands en Retreat sentrums. En almal sê hulle verteenwoordig Jesus, sy Naam en sy koninkryk. Maar dikwels lyk dit so uiteenlopend dat ons sukkel om die verband te sien. Dat ons wil uitroep: Sal die regte Jesus opstaan asb?!

Om te verstaan wie Jesus was en hoekom Hy gekom het, is dit baie belangrik om mooi op te let na hoe sy bediening begin. Die eerste prentjie wat ons kry is ’n intieme kykie binne in die hart van die Drie-Enige God. Toe Jesus gedoop is het die hemel oopgegaan en die Heilige Gees het in soos ’n duif op Hom neergedaal en die Vader se stem uit die hemel het gesê: Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My! Jesus was (en is!) diep geanker in sy identiteit as God se geliefde Seun, want deur alles wat Hy sou deurmaak, sou dit vir Hom dra en rigting gee.

Want net daarna, is Jesus deur die Heilige Gees na die woestyn gelei waar Hy 40 dae lank deur die duiwel versoek is. (So kom ons maak sommer nou al ’n nota in ons kop dat die pad agter Jesus aan ons net nie op ’n voorspoed paadjie neem nie). En hierdie ervarings van Jesus help ons baie om duidelik te verstaan wat die grootste maniere is hoe mense deur die duiwel se leuens van die ware lewe wat God vir ons in gedagte het weggelei word.

Klaarblyklik kom die duiwel aan die einde van die 40 dae tyd by Jesus aan as Hy op sy kwesbaarste is. Hy het gevas in hierdie tyd en moes uitgehonger gewees het. En toe sê die duiwel vir Jesus: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” En dit is die versoeking om altyd onmiddelik toe te gee aan ons onmiddelike behoeftes en oppervlakkige begeertes. I want what I want when I want it. En dit is my reg, ek verdien dit. Ek kan vat en gryp wat ek wil. Maar Jesus wys, dit is nie God se pad nie. Ware rykdom gaan oor die vermoë om te kan uit stel, om te kan wag en hoop, want so leer ons daar is goed (o.a. mense en verhoudings) wat belangriker as ons eie selfsugtige behoeftes en begeertes – én om nie te settle vir ons oppervlakkige tydelike begeertes nie, maar uit te kom by ons diepste begeertes – die passies wat ons connect met God.

In Jesus se tweede versoeking wys die duiwel vir Jesus al die koninkryke van die wêreld. Jesus kan dit alles kry, sê hy, al die mag en die majesteit, as Hy maar net voor die duiwel buig en hom aanbid. En hierdie is die versoeking om ons siel te verkoop om mag en invloed (wat ook geld en goed insluit) te kry. Ons wil so graag in beheer wees, self besluit, baas wees oor ons eie lewe en almal moet by ons inval. Maar Jesus, en die weg na ware lewe wat Hy verteenwoordig is nie so nie. Jesus sou self later sê: “Ek het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.” Ons Koning kom van Nasaret en ry op ’n donkie en was sy vriende se voete. Hy is koning van die onderstebo koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie, maar wel vir hierdie wêreld.

Die duiwel eindig sy drietal versoekings letterlik op ’n hoogtepunt. Hy laat Jesus op die hoogste punt van die tempel staan; die grootste en indrukwekkendste gebou in Jerusalem. “As U die Seun van God is, spring hier af!” en dan “bewys” die duiwel boonop met ’n Bybelversie hoekom dit ’n goeie idee is. En dit is natuurlik die versoeking om jouself te bewys; die versoeking om ander mense te beïndruk; soos ons sal sê: om spectacular te wees. Maar so is Jesus nie. Skares het om Hom saamgedrom, maar Hy was nooit ’n crowdpleaser nie. Hy het nooit wonderwerke gedoen wanneer mense gevra het dat Hy Homself moet bewys nie. En net so vinnig soos wat die mense opgewonde oor Jesus kon raak, net so vinnig kon hulle teen Hom draai as Hy iets gesê het wat hulle nie aanstaan nie (soos net verder aan in ons storie gebeur). Jesus het geweet dat jy net vry is as God se goedkeuring vir jou die belangrikste is, en as die nood van mense belangriker is as jou eie begeertes.

So, as kerke en mense ’n Jesus aan jou voorhou wat alles oor jou gaan, oor jou persoonlike (en selfsugtige) sukses en drome en voorspoed, oor jou aansien en begeertes; as jy sien mense speel vir skare, probeer beïndruk of manipuleer, of mense oordeel uit die hoogte, as daar nie die liefde, die nederigheid en dienskarakter van die Man op die donkie is nie, onthou dat die duiwel nie dom is nie en dat Jesus gewaarsku het teen wolwe in skaapsklere.

Jesus het Homself gevind in God se groot plan vir hierdie wêreld, en Hy was heeltemal uitverkoop, oorgegee, daaraan. Daar in sy ou plattelandse tuisdorpie, Nasaret, in die sinagoge (Joodse kerkie) waar Hy grootgeword het en elke sabbat in die banke gesit het, daar wys Hy vir die mense dat Hy die vervulling is van die profeet Jesaja se woorde, eeue gelede (sou hulle ooit in daardie oomblik kon weet hoe groot daardie oomblik is?!); Hy kondig sy bediening aan; Hy spel vir hulle uit Wie is Hy en hoekom God Hom gestuur het.

Hy moet kom wys hoe God is, die God wat ons almal se Vader is; wat ons wêreld en almal en alles in dit wil kom red en herstel. En dit gaan alles oor sy hart vir mense; oor die geleentheid vir almal om regtig te leef; oor die “common good”. Dat mense moet heel wees, moet vry wees, regtig moet kan floreer in ’n gemeenskap waar daar plek is vir almal; geen onreg, geen onderdrukking, geen uitbuiting en misbruik.

Jesus het nie ’n boek geskryf met ’n klomp idees nie. Hy het mense genooi om saam met Hom te kom lewe; om by Hom te kom leer hoe om regtig ’n mens te wees; Hy het ’n nuwe beweging, ’n nuwe community, begin. Paulus noem dit later in Efesiërs “ ’n nuwe mensheid,” waar dit nie saakmaak of iemand man of vrou is, van watter klas of ras of kultuur is nie, in Jesus raak ons almal een. Want God het ons gemaak vir gemeenskap, vir diep en lewegewende verhoudinge met God en mekaar; waar ons onsself vind in en deur ons verhouding met Hom en ander mense.

Ons raak die eerste tekens en die voorsmaak van God se nuwe wêreld, die nuwe hemel en die nuwe aarde. Ons leef die enigste ware lewe, die ewige lewe, nou al, as God se kinders wat vir die wêreld wys hoe Hy is. Ons is nie beter as ander mense nie, maar ons is deur God se genade gekies vir hierdie baie spesiale lewenswyse.

En in hierdie proses, het ons mekaar nodig. Ons is nou Jesus se liggaam, sy lyf op aarde. Nie een een nie, maar saam. Ons verskil, ons huil, ons lag, ons stoei, maar ons hou mekaar vas, want dit is wat die wêreld nodig het om te sien; dat daar hoop is, dat mense regtig in vrede met mekaar kan leef. Want ons onthou dat God se groot vreugde is om alle mense, maak nie saak wie en wat en waar hulle is nie, ook in te nooi en deel te maak van sy liefde. En dit is die belangrikste rede hoekom Jesus gekom het, en dit is die belangrikste rede hoekom ons hier is. Amen

 

css.php