Om te worstel met God - Gen 32:22-32
GEN. 32:22-32 (2/8/20)
# Daar gebeur elke dag ingrypende dinge in baie mense se lewens.
- Só ingrypend dat hulle lewens daarna nooit weer dieselfde is nie.
- En ek glo ons almal weet waarvan ek nou praat!
- Maar kom ons noem ’n paar van hierdie ingrypende dinge wat in ons lewens kan gebeur by die naam.
- Hier by my het ek ’n lysie wat ons dalk daarmee kan help.
- Dit is deur kenners op die gebied van trauma en stres opgestel.
- En hierdie lysie noem vir ons daardie 10 dinge wat, volgens hierdie kenners, die belangrikste oorsake van stres is.
- In rangorde is dit: Nr. 1: die dood van jou huweliksmaat, 2. egskeiding, 3. huweliksverbrokkeling, 4. tronkstraf, 5. die dood van ’n naby familielid, 6. ’n persoonlike besering of siekte, 7. om te trou (!), 8. ontslag uit jou werk, 9. huweliksversoening na huweliksprobleme, en nr. 10. aftrede.
- Hierdie is almal sulke ingrypende dinge wat in ons lewens kan gebeur dat ons lewens daarna nooit weer dieselfde is nie.
- En dít wat hier in Gen. 32 met Jakob gebeur het, is vir seker ook so ’n ingrypende gebeurtenis, iets wat sy lewe totaal verander het.
# Maar kom ons gaan haal hierdie storie net so ’n bietjie verder terug.
- Jakob was mos eintlik op pad om sy broer Esau te ontmoet.
- En nou weet ons dat die 2 broers mekaar laas gesien het toe Jakob vir Esau bedrieg het.
- Toe Jakob homself as Esau voorgedoen het, sodat sy blinde ou vader, Isak, vir hóm kon seën in plaas van vir Esau.
- Jakob, die bedrieër!
- Dis mos ook wat die naam Jakob beteken: bedrieër!
- En dít was seker ook hoe Esau hom onthou het: as my broer wat my bedrieg het.
- En waar die 2 broers mekaar binnekort weer sou sien, is dit verstaanbaar dat Jakob nogal bang was.
- Esau gaan dalk wraak neem en daarom vrees Jakob vir sy lewe.
- Vroeër in Gen. 32 lees ons dan ook hoe Jakob bid en vir die Here vra: “Red my tog uit die mag van my broer, Esau, ek is bang vir hom. Hy kan dalk kom en my doodmaak, en ook die moeders en die kinders.”
# So, die naderende ontmoeting met Esau het soos ’n berg voor Jakob gelê.
- En voordat hierdie ontmoeting plaasvind, wou Jakob eers ’n bietjie alleen wees.
- Hy laat sy mense deur die Jabbok-drif trek en hy bly alleen agter.
- Miskien wou hy weer tot die Here bid soos kort tevore.
- Of miskien wou hy maar net alleen wees om oor alles na te dink.
- Maar dan kom die verrassing: Jakob ontmoet ’n man wat met hom begin stoei.
- Voordat Jakob nog vir Esau kon ontmoet, ontmoet hy hierdie vreemde man.
- En nou is dit duidelik uit die Bybel dat Jakob in hierdie vreemde man eintlik vir God self ontmoet het.
- In vers 30 wat ons gelees het, sê Jakob dan ook: “Ek het God van aangesig tot aangesig gesien …”
# Jakob was bang vir Esau, maar nou het hy hom in God vasgeloop.
- Nóú was dit vir jou ’n groot stryd en ’n groot worsteling.
- En die teenstander was nie Esau nie maar die Here self.
- En die worsteling tussen Jakob en die Here het dwarsdeur die nag aangehou.
- Die Bybel sê “tot dagbreek toe.”
- In plaas van ’n rustige nag alleen moes Jakob stoei en worstel tot dagbreek toe.
- En, as ’n mens Gen. 32 lees, val dit jou op dat Jakob met mening gestoei het.
- Hy laat hierdie vreemde man nie gaan nie, maar bly worstel met hom.
- Selfs toe die man vir Jakob sê: “Los my, want die dag breek,” het Jakob gesê: “Ek sal jou net los as jy my seën.”
- Maar dan is dit ook wonderlik om te lees hoe die Here toe wel vir Jakob geseën het.
- En dit beteken dat die Here net daar aan Jakob sekere goeie dinge geskenk het.
- Die Here gee bv. vir Jakob ’n nuwe naam, die naam Israel.
- En hierdie naam het te doen met die Hebreeuse woorde vir “stryd voer” en “God.”
- So dit herinner aan Jakob se worsteling met God daar by die Jabbok-drif.
- Maar die naam Israel is ook ’n naam wat wys op die ingrypende verandering wat daar in Jakob se lewe gekom het.
- Dit wys op die nuwe identiteit wat Jakob in werklikheid ontvang het.
- Ons kan sê: die Here het self vir Jakob verander van ’n aartsbedrieër (met die naam Jakob) tot ’n aartsvader (met die naam Israel).
- En so word Jakob dan deur die genade van God een van die belangrike voorvaders van Israel, die volk van God.
# Maar nou is die vraag vanoggend: Wat beteken dit wat daar by die Jabbok-drif met Jakob gebeur het vir ons vandag?
- Wat is die boodskap daarvan vir elkeen van ons?
- Martin Luther het gesê dat Jakob se worsteling met God vir ons ’n dubbele boodskap inhou.
- Dis vir ons ’n voorbeeld én ’n troos.
- Beide ’n voorbeeld en ’n troos, sê Martin Luther.
# Nou weet ons: somtyds is die lewe mos ook vir ons ’n stryd met God.
- Gelukkig is dit natuurlik nie elke dag die geval nie.
- En miskien gaan daar selfs jare in ons lewens verby wat stil en rustig verloop.
- Maar die moeilike tye breek tog vir ons almal aan.
- Ingrypende dinge gebeur wat ons dalk nie kan verstaan of kan aanvaar nie – soos die dinge op die lysie van 10 voorbeelde wat ek daar aan die begin vir u genoem het.
- En dan vra ons dalk: Hoekom en waarom?
- Dan worstel en stry ons dalk met die Here.
- En alhoewel dit nie altyd maklik is om aan te hou met worstel sonder om moedeloos te word nie, moet ons Jakob se voorbeeld volg.
- Moet ons ook, soos hy, vir die Here sê: Ek sal U net los as U my seën.
# So, Jakob se worsteling met die Here is vir ons ’n voorbeeld.
- Maar dis tog ook vir ons ’n troos.
- En wat is die troos daarin?
- Dat die Here vir Jakob geseën het.
- Die Here kon hom vernietig het.
- Hy kon Jakob se nek gebreek het in hulle worsteling en hom in een oomblik laat sterf het.
- Maar Hy doen dit nie.
- Hy slaan vir Jakob net op sy heupsenuwee.
- En Hy seën vir Jakob.
- En net so, glo ek, wil die Here ook vir ons seën wanneer Hy ons met Hom laat worstel.
- Deur ons met Hom te laat worstel, wil Hy ook van ons nuwe mense maak, soos Hy dit met Jakob gedoen het.
# En nou wil ek sommer net ’n kort storie vertel van iemand wat as kind en jongmens ook baie met die Here geworstel het.
- Hierdie storie word vertel deur ’n Amerikaanse professor in preekkunde.
- Hy sê dat hy en sy vrou op ’n keer by ’n tafel in ’n restaurant gesit het.
- ’n Bejaarde man kom toe na hulle toe aangestap en begin met hulle gesels.
- En hy sê: “Ek is ’n buite-egtelike kind.
- Ek het nooit geweet wie my pa is nie, en dit was vir my baie swaar.
- As ek in die straat gestap het in ons klein dorpie het ek beleef dat mense na my staar en in hulle gedagtes die verskriklike vraag vra: ‘Ek wonder wie se kind is hy?’
- Ek het baie tyd alleen deurgebring en nie baie vriende gehad nie.
- Maar op ’n dag het daar ’n nuwe prediker na die dorpie toe gekom.
- Almal het gepraat oor hoe goed hy preek.
- Ek het nie eintlik kerk toe gegaan nie, maar een Sondag het ek toe tog gegaan om na die preek te gaan luister.
- En daarna het ek weer en weer gegaan.
- Ek het altyd laat ingekom en vroeg geloop sodat ek met niemand hoef te praat nie.
- Een Sondag is ek egter so deur die boodskap meegevoer dat ek vergeet het om vroeër uit te stap, en is ek tussen die mense vasgevang op pad uit.
- Skielik het ek ’n swaar hand op my skouer gevoel, saam met die vraag: ‘Wat is jou naam, seun? Wie se kind is jy?’
- Met die hoor van dié vraag het ek inmekaar gekrimp.
- Al weer hierdie vraag oor wie ek is.
- Maar voor ek nog iets kon sê, sê die prediker: ‘Toemaar, ek weet wie jy is. Jy is ’n seun van God!’”
- En nadat die man dít vertel het, sê hy: “U weet, professor, daardie woorde het my lewe verander. Na al my worsteling het daardie woorde my lewe verander: dat ek ’n seun van God is!”
- Die man het toe uit die restaurant uitgestap, en later noem die kelnerin dit vir die professor en sy vrou dat die man wat met hulle gepraat het al 2 termyne lank die goewerneur van Tennessee was.
# Ons troos is dat ons nie tevergeefs met die Here worstel nie.
- Daardie goewerneur van Tennessee het nie tevergeefs met Hom geworstel oor sy buite-egtelikheid nie.
- Die Here het hom geseën en wonderlik gebruik later in sy lewe.
- En ook Jakob het nie tevergeefs met God geworstel nie.
- En hoekom nie?
- Want God het hom geseën en hom vir altyd verander.
- En dit was ook vir Jakob ’n onvergeetlike ondervinding om so as ‘t ware van aangesig tot aangesig met die Here te doen te hê.
- Daarom het hy ook die plek Pniël genoem.
- En die naam Pniël het te doen met die Hebreeuse woorde vir “aangesig” en “God.”
- Jakob het by Pniël op ’n manier vir God van aangesig tot aangesig ontmoet.
- En so is hy wonderlik geseën.
- Maar as ons self ook met die Here moet worstel, dan sal ons Hom ook, op die een of ander manier, beter leer ken en ook as ‘t ware sy gesig kan sien.
- En ek glo in ons worsteling met Hom sal ons Hom veral leer sien as die Een wat in ons plek aan die kruis op Golgota self ook geworstel en verskriklik gely het.
- Sal ons Hom leer sien as ons liefdevolle Verlosser, Jesus Christus.
- En daarom hoef ons eintlik nie bang te wees vir tye van worsteling met die Here nie, al is dit nie vir ons aangenaam en maklik nie.
- Al sou ons dit anders verkies.
- Ons hoef nie daarvoor bang te wees nie, want daardeur leer ons Hom vir seker beter ken.
- En daardeur kom seën Hy ons.
- Daardeur verander Hy ons ten goede, net soos Hy ook vir Jakob ten goede verander het.
AMEN
