19 Julie 2020: Van vrees na liefde! – Rom 8:12-16

 

WELKOM:

Goeie môre en baie welkom by Paarlberg se oggenddiens.

SEËNGROET:

Rom 1:7  Aan almal vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Rom 8:12-16 

Daarom dan, broers, staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie.  (13)  As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.  (14)  Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.  (15)  Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.  (16)  Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 

PREEK:

Ek wil graag vanoggend fokus op vers 15 wat praat oor vrees in ons lewens.

In ‘n boek van Henry Nouwen, ‘n Nederlandse teoloog en sielkundige, vertel hy die volgende verhaal:

Daar was ‘n groep mense wat op ‘n dag gekyk het na die bronne op die aarde en gevra het: “Hoe kan ons seker wees dat ons genoeg sal hê in moeilike tye ook? Ons wil oorleef, wat ook al gebeur. Kom ons maak kos en kennis en goed bymekaar sodat ons veilig is as daar ‘n krisis kom.” Hulle begin toe goed en kennis en kos bymekaarmaak. Hulle maak toe soveel bymekaar dat ander mense begin kla en sê: “Julle het meer as wat julle nodig het om van te lewe terwyl ons nie genoeg het om van te lewe nie. Help ons asb met julle rykdom.” Maar die Opgaarders het net gesê: “Nee, net-nou het ons nie genoeg nie!” Daarop sê die ander toe: “Ons is besig om te sterf! Asb, gee vir ons kos en kennis en materiaal om te oorleef. Ons kan nie wag nie. Ons het dit nou nodig.” Dis toe dat die Opgaarders nog banger raak en dink dat die armes en honger mense hulle sal aanval. Hulle sê toe vir mekaar: “Kom ons bou hoë mure rondom ons rykdom sodat niemand dit van ons kan vat nie.” Hulle bou toe sulke mure rondom hulle dat hulle nie eers kon sien rondom hulle nie – of daar nou vyande was of nie. Maar soos hulle vrees groter geword het, sê hulle vir mekaar: ”Ons vyande het nou so baie geword dat hulle dalk ons mure kan afbreek.” Ons moet plofstowwe en doringdraad bo-op sit sodat niemand naby ons kan kom nie”. En so het hulle bly leef en alhoe banger geword dat hul goed van hulle weggeneem sal word. Die hartseer was, ipv om veiliger te voel agter hulle mure, het hulle hulself as gevangenes beleef in die tronk wat hulle met hul eie vrees gebou het.

Toe ek die storie gelees het, het ek net weer besef in hoe ‘n groot mate vrees ons almal se lewens beheers. En die meeste kere weet ons nie eers daarvan nie. Op ‘n manier het ons al “verslaaf” geraak aan vrees.

Ek lees die week in die nuus dat daar in Ohio, Amerika, sedert Maart, 4 keer meer Gebrokehart-sindrooom gevalle is en dat dit is agv die vrees vir Covid-19 en die ekonomiese impak wat dit gaan hê en gevolglike eensaamheid.

Daar is altyd iets waarvoor ons bang is: vrees vir onsself of buite onsself of in ander mense, vêr of naby, sigbaar of onsigbaar, selfs vrees vir God. En op een of ander manier kry ons vrees nie afgeskud nie. As ons hierdie vrees nie kan makmaak in ons lewens nie, sal ons ons lewe lank lewe as gevangenes in die huis van vrees.

Dis juis deur vrees wat mense ander mense in hul mag hou, gewoonlik teen hul wil in. En die mense met mag kan enige mens wees: politici, ‘n pa of ma, ‘n onderwyser, ‘n dokter, ‘n baas by die werk, ‘n predikant en ons kan dit selfs ook beleef van God. Dis dan wat ons sulke vrae vra soos: “Wat as….?” “As ek nie ‘n man of vrou kry nie, nie ‘n werk kry nie of dit verloor, as ek siek word, as ek in ‘n ongeluk kom, of my vriende verloor of my huwelik verbrokkel of as daar oorlog uitbreek. Wat as ek Covid-19 opdoen? Wat as die ekonomie inmekaar stort? Wat as!….?”

As ek bv dan wel iemand ontmoet om mee te trou, is ek dalk bang ek kan nie kinders hê nie. As ek dan wel ‘n kind het, is ek bang sy gaan nie presteer op skool nie. Kom sy skool deur, is ek bang sy gaan nie ‘n werk kry nie, nie die regte huweliksmaat kry nie en met die kleinkinders begin die proses net weer van vooraf! Jy sien, vrees skep net nog vrees en nog vrees. Ipv van ‘n lewe van vertroue en vryheid, ervaar ons angstigheid en verlamming. In plaas van hoop en vreugde, beleef ons ‘n innerlike leegheid en hartseer en gespannenheid.

Hoe verdryf ek die vrees in my lewe? Vir seker nie deur groter oorvloed nie. Ek is so herinner aan jare terug toe ek en Dorette in ons studentejare, Junie-vakansies deel was van werkerskampe in die Transkei. Die mense daar het bittermin gehad, maar tog het ek by baie van hulle geleer om met ‘n glimlag te lewe, met vreugde en dankbaarheid. Ons dink dikwels dat oorvloed vrees uit ons lewens sal wegneem, maar so dikwels bring meer goed en geld net meer verantwoordelikheid en vrese in ons lewens.

Hoe dan? Hoe kan vrede die plek van vrees in my lewe neem?

Kom ons lees weer vers 15. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.

Alleen as ek so naby aan God kom dat ek Hom as my Vader, my liefdevolle hemelse Pa, beleef, begin die vrees verdwyn in my lewe. As ek die beskerming en liefde van God as Vader soek en beleef, dan begin my vrees verdwyn. Die nabyheid van ‘n liefdevolle Vader of Moeder laat vrees verdwyn. So lees ons dit al in die OT.

Psalm 131:2  Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.

Vrees word verdryf daar waar ek liefde beleef. Deur in liefde te leef, God se liefde. Ook Johannes praat oor vrees:

1 Joh 4:18  Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.

Hierdie liefde, is ‘n gawe wat ons alleen van God kan ontvang as ‘n geskenk, nie deur hard te probeer nie. En sy liefde is vir almal: Wat ook al jou geslag, kleur, sieninge, politieke oortuigings, rykdom, intelligensie, emosies, gevoelens en passies…dis ook vir jou.

En dit is juis die Heilige Gees, die Gees van Jesus, wat ons wil bring in die allesomvattende onvoorwaardelike liefde van God ons Vader, ons liefdevolle Pa.

Tog is ons net mense en is daar baie dinge wat ons baie bang maak. Dinge wat ons nie sommer met een veeg uit die pad kan vee nie. Ook ons is bang vir die storms wat die lewe na ons kant toe gooi, soos ook nou met die Covid-19 storm. Die Here weet dit: Daarom is dit nie vreemd dat ons in die Nuwe Testament alleen die frase “Moenie bang wees nie” ten minste 15 keer hoor. Meesal uit die mond van Jesus. Dit is vir jou en my wat Jesus dieselfde sê as vir die dissipels van jare terug:

Joh 6:20  “Dit is Ek; moenie bang wees nie.”

Hoe trek ons uit ons huise van vrees en in God se huis van liefde en vrede? Hoe kan ek God, die Vader meer beleef en sy beloftes van sorg vir my toe-eien?

Natuurlik sal die dinge wat ons bangmaak, nie verdwyn nie. Maak ons kan self besluit waarna ons wil kyk. Wil ons na die storms en die winde en die onsekerhede kyk, of na Jesus? As Jesus sê:

Joh 15:7  As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.

…dan maak Hy vir ons ‘n nuwe werklikheid oop. As Jesus die fokus van ons lewens word, die middelpunt van ons verlange, dan word Hy ook die “trooster van ons bang gemoed” (soos die ou gesang en lied 393 dit sing).

As ons met ons harte op Jesus gerig bly lewe, dan word waar wat Hy belowe:

Joh 15:11  Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.

Hoe werk dit in die regtige lewe? Hoe lewe ek gefokus op Jesus en in Hom? Gebed is een van die sleutels wat die deur oopsluit na God se huis van liefde weg van vrees. Juis omdat gebed my help om op God te fokus en ek in gebed besef hoe afhanklik ek van God is. Maar dan afhanklik van ‘n Pa wat my en jou baie, baie liefhet. Dan hang my geluk en vreugde nie af van wat ander mense van my dink of sê nie of van die omstandighede waarin ek is nie, maar wat God van my dink. En ek en jy weet dat God jou en my onvoorwaardelik en altyd liefhet. By Hom is ek waardevol, so waardevol dat Hy sy lewe vir jou en my gegee het. As ek en jy nie gaan leer om myself meer en meer te sien deur die oë van Jesus nie, gaan ons steeds na onsself kyk deur die oë van ander en die wêreld en my eie emosies en dan gaan ek vasgevang bly in vrees. Maar as ek myself, en andere, sien deur die oë van ons Vader, dan gaan ons liefde en vrede beleef want Hy kyk na ons enkel en alleen met oë van volmaakte liefde.

Deur gebed bly ek naby God en beleef ek sy liefde meer en meer en verloor vrees al meer die greep op my lewe. Die geloofsgewoonte van drie maal kort gebede te bid, is een manier wat ons daarmee baie kan help, om ons weer terug te bring na die werklikheid van God se liefde.

Maar daar is ook ander dissiplines wat ons daarmee kan help: deur op die behoeftes van ander mense te fokys deur gasvryheid teenoor ander. Ook deur die las van bitterhaeid en haat meer en meer te sny deur die dissipline van vergifnis. Verder ook om ‘n lewe van dankbaarheid na te streef en om bly te wees oor die goeie dinge in die lewe – waarvan daar natuurlik baie is. Alles maniere om in die huis van God se liefde te leef.

Ja, daar gaan weer tye kom wat vrees ons lewens wil beheer, maar dan roep Jesus ons weer om ons rus by Hom te kom vind.

Kan dit regtig gebeur of is dit net wensdenkery? Jare gelede vertel ‘n Engelse predikant my van sendelinge wat sendingwerk in die destyde Rhodesië gedoen het en op ‘n sendingstasie gebly het. Dit was ook in die tyd wat daar baie aanvalle op mense deur die destydse bevrydingsorganisasies gedoen is. So word die een sendingstasie ook een nag aangeval en word al die sendelinge met hulle vrouens en kinders na buite gesleep. Voor hul oë is die mans toe almal doodgeskiet. Die predikant vra toe later vir die een vrou wat dit oorleef het of sy baie bang was. En weet jy wat antwoord sy? “Ek was baie, baie hartseer maar nie een enkele oomblik bang nie. God wat daar.”

Mag die Here ons ook elke dag help om uit ons huise van vrees te kom en in te trek in God se huis van vrede en liefde sodat ons ook saam met Dawid in Psalm 23 sal kan sê:

Psalm 23:6  U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

Amen

OFFERGAWES:

Daar is geleentheid dat ons ook ons dankbaarheid kan wys deur die gee van ons dankoffers. Weereens wil ons net baie dankie sê vir baie van julle wat getrou ook so die werk van die Here ondersteun.

SEËNBEDE:

Mag die genade van ons Here, Jesus Christus, en die liefde en vrede van God ons Vader, en die gemeenskap van die HG met jou wees. Amen.

css.php