Roep uit!

 

Votum/seëngroet:

(Klaagl 3:19-24) “Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my;

as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas. Maar dít sal ek ter harte neem

en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;

daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,

daarom hoop ek op Hom.”

Genade en vrede vir jou van die God van liefde, hoop, ontferming en getrouheid. 

Skriflesing: Ps 13

Preek:

Ons is besig om te leer wat dit beteken om Entrepreneurs van hoop te wees. Eintlik is dit natuurlik ’n lewenslange geloofsreis: dit is maar ander woorde vir navolging van Jesus/dissipelskap: hoe raak ek ’n Christen wat wesenlik anders is as mense wat Jesus nie ken nie – en hoe maak ek ’n verskil in hierdie wêreld in sy Naam en deur sy krag. 

Ons het al geleer dat Entrepreneurs van hoop geleenthede raaksien. Hulle skakel eintlik aan as ander mense wil boedel oorgee. Maar hulle doen dit nie vir hulleself nie. Hulle voel nood van mense en die skepping aan en vind kreatiewe maniere om dit aan te spreek. Hulle volhard, nie omdat hulle sulke positiewe mense is nie, maar omdat hulle in voeling is met die Bron. 

God se liefde dring hulle en God se genade hou hulle staande. 

Maar hoop is nie ontkennig en vermyding van die werklikheid nie. Iewers gaan hierdie strategieë jou inhaal. Ons het verlede week geleer dat EvH eerlik leef met hulle angs.

Vandag se tema help ons verder op hierdie pad van ’n eerlike omgang met jou diepste worstelinge as ’n mens op die pad na hoop. ’n Derde van die Psalms is psalms van klag/protes. Dit is eintlik jammer dat ons nie in Afrikaans ’n ander woord het vir klag nie. In Engels sou ons in hierdie opsig praat van lament en nie van moan nie. Laasgenoemde is mos gewoonlik wat ons onder kla verstaan! Selfs in die Leesrooster wat die algemeenste deur kerke gebruik word, die RCL (wat juis moet keer dat ons net ’n paar gunsteling tekste uit die Bybel in eredienste gebruik), word die tipe Psalms meestal vermy. Hoekom? Hoekom maak hierdie tipe taal ons ongemaklik?

Is daar iets in ons wat sê dit bots met my oortuiging? Doen predikante nie Sondag vir Sondag moeite om vir ons te verduidelik dat ons meer as oorwinnaars is nie. Dat gevoelens van God se afwesigheid of sy ontrouheid maar net dit is nie – gevoelens? Voel 1 Tess 5:16 nie meer soos wat ’n Christen eintlik moet wees nie? “Wees altyd bly…Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus van julle verwag.” Lig en sonnig. 

Ons dink daar is net twee opsiesnegatiwiteit en positiwiteit – en ons wil tog nie in die swart gat van negatiwiteit wegraak nie. En ons dink ’n positiewe lewenshouding is ’n slinger wat ons self moet draai en een dag is ons net moeg. Ironies is jou kans om bitter te raak groter as jy glo jy moet net die heeltyd positief bly. 

Hoekom moet ons uitroep na God? As ons dit nie doen nie, beweeg ons na ‘n fantasiewêreld of ‘n bitter wêreld, en ons sleep vir God ook daarheen…Soveel so dat jy in jou geloofslewe breek met die realiteite van die lewe. 

Walter Brueggeman (een van die mes gerespekteerde Teoloë en OT kenners van ons tyd) sê as ons die Psalms se taal van disoriëntasie (as jou wêreld ontwrig, onderstebo is, sukkel om sin te maak en te oorleef) verloor, dan lei dit tot twee moontlike reaksies: 

  1. Skuld: al die gemors is my skuld. Ek verdien niks beter nie. Ek bring dit oor myself. Ek het dit veroorsaak. Die Here straf my. 
  2. Ontkenning: Dit gaan altyd goed. Ek gee voor dit werk al weet ek dit werk nie meer nie. (En dit kan my geloof insluit)

Wat leer ons geloofstradisie ons oor die verwerking van ons diepste pyn en verlies as mense? Dat daar sekere goed is waarin ons as mense onsself nie kan in-dink nie. Ons as mense is nie so gebou nie. Hierdie taal en voorbeeld wat aan ons gegee is in die Psalms, in Klaagliedere en in die profete (self in Jesus se bediening, maar ons kom nou daarby) leer ons oor ’n belangrike aspek van gebed en ons omgang met God. 

Partykeer is die pyn so diep dat ons nie meer weet wat ons weet en of ons dit regtig weet nie. Ons rede kan ons nie red nie. 

En dan kom ons na God toe, op die mees primitiewe, kinderlike, kwesbare manier. Ons waag om uit ons hart te praat. Om ons diepste en eerlike gevoelens op die tafel te sit deur dit hardop te sê. Dit is nie algemene klag en negatiwiteit nie, want ons lament het ’n adres: ons bring dit na God. ’n God wat ons as’t ware toelaat, uitnooi, om hom aan die klere te gryp en te sê – ek gaan U nie laat gaan voordat U my help nie.

Soos die Vrou met bloedvloeiing wat aan Jesus se kleed gegryp het, of die Samaritaanse Vrou wat namens haar dogtertjie by Jesus se voete kom pleit, en bereid is om die hondjie te wees wat die krummels van die tafel kry. Want dit is die ander interessante, wonderlike konneksie wat WB maak: hierdie mense is gevorm is deur die taal en die tradisie van klag van die Psalms. Hulle “summon/petition” vir Jesus. Hulle moet Hom kry om stil te staan en na hulle probleem te luister. Hulle glo Hy sal luister en iets doen, maar hulle moet na Hom te gaan. Dit is Psalmgeloof wat die blinde man langs die pad al hoe harder laat uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

 

Saam met Jesus leer ons aan die kruis van die dieptepunt van lament: “My God my God waarom het U my verlaat (en bly U ver as ek om hulp roep).” (Ps 22) ’n God wat Hom vereenselwig en ons liefhet tot in die dood – wat ons diepste pyn en vrese sy eie maak – wat Homself arm en kwesbaar maak. Wat ons herinner ons dat ons maar kan vertoef, kan gaan sit in ons pyn, want Jesus en sy teenwoordigheid is reeds daar – waar Hy is is gemeenskap met God, is nuwe lewe en heling moontlik. 

Ja, ons Vader weet wat ons nodig het nog voordat ons dit van Hom vra. En God help nie net die wat hulleself help nie. En God wil hê dat ons tevrede en dankbaar moet wees. Maar gebed sluit ook hierdie kinderlike geloof in dat as ek my op God beroep, as ek God intrek, basies konfronteer met my omstandighede, dan gebeur iets, dan verander dinge, dan laat Hy my toe om Hom te beweeg tot aksie. 

Kathleen O’Connor sê: “Lament names what is wrong, what is out of order in God’s world, what keeps human beings from thriving in all their creative potential. Simple acts of lament expose these conditions, name them, open them to grief and anger, and make them visible for remedy.”

Jy kan net ’n Entrepreneur van hoop wees as jy bereid is om self hierdie pad van lament te stap. Want dit is die pad na heelheid. Jy het dit nodig en ander mense het dit nodig. Want ons pyn kan nie altyd op ’n afstand gehou word nie – dit dring homself op aan ons – dit haal ons in. 

Ons het hierdie geloofsruimtes nodig waar daar nie morele oordeel gemaak word nie – waar ons nie skuld probeer gee nie – maar waar ons die pyn, verlies en onreg wat nie ongedaan gemaak kan word nie, in omgang met God begin verwerk – om te sien waarheen dit ons beweeg – om te ervaar hoe dit ons weer rig op die koninkryk: om te weer te begin glo dat alles wel eendag heel en reg sal wees, dat die tekens van lewe, van Jesus se opstanding wel oral om ons is en dat hoop wat vanuit die bron kom, ons wel oorwinnaars kan maak in hierdie stukkende, stukkende, wêreld. Amen. 

Stilword en gebed:

Skryf jou eie Ps 13…

Wat het jou hoop gegee?

(Blare skryf – kinderlag, iemand wat om verskoning vra, iemand wat daar is om te help…)

#gaanleefgeloof: Uitdagings

(Stories: oumense gaan besoek… hulle toewyding en lojaliteit gee hom hoop

Skoondogter: skuif van welgestelde Skool na behoeftige Skool in voorstede – lig in haar oë – ek is geroep om hulle lief te hè!)

  
  
  
css.php