21 April 2021: Die Woord as anker - Heb 6:10-20
Verwelkoming:
Ons kom saam as die nuwe volk van God om mekaar te herinner wie ons is, aan wie ons behoort en waarheen ons op pad is.
Votum/seëngroet:
Heb 1: 1In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.
Skriflesing:
Heb 6:10-20
Preek
Ons leef in ’n VUCA wêreld.
Volatility (Wisselvalligheid)
Uncertainty (onsekerheid),
Complexity (verwikkeldheid) en
Ambiguity (dubbelsinnigheid)
beskryf ‘n wêreld waar jy moeilik veilig voel, min dinge akkuraat kan voorspel en moet leer om met die grys van lewe te kan saamleef. Ons sien dit in die ekonomie (waarheen is die petrolprys, die JSE en die groeikoers nou eintlik op pad?)
in die politiek (watter faksie in die ANC gaan op die ou end die oorhand kry en gaan ons ooit ’n lewenvatbare opposisieparty sien?)
in die omgewing: gaan ons betyds wakker skrik om die voortbestaan van ons planeet te verseker?
In ons binne-wêreld gaan dit nie veel anders daaraan toe nie. Tel my lewe? Is daar betekenis? Wat is my roeping? Hoe hanteer ek dit dat ek voortdurend in oorgang na nuwe lewenshoofstukke verkeer – waarvan ek die inhoud nie ken nie? Oor die grysland buite en binne my kan ek tegelykertyd sê dat dit uiters opwindend en uiters uitputtend is. Die adrenalien pomp terwyl ons nuwe geleenthede ontgin (Covid) en nooit verveeld kan raak nie. En tog is daar net onder die oppervlak ’n broeiende woede, frustrasie en uitputting omdat ons altyd moet soek vir die vaste punte van ’n groter en betroubare prentjie en dit ons heeltyd bly ontglip.
Die mense van die Bybelse tyd het was baie bang vir die oseaan – dit was die toonbeeld van onbekendheid en gevaar, van verdwaal en vergaan. Veral in stormagtige omstandighede was dit die wind, golwe en strome wat jou laat ronddryf en wegdryf, uitgelewer aan magte buite jou beheer. Die verlies aan die gesigseinder in die middel van die oseaan is soortgelyk aan die verlies aan ‘n Groter Prentjie waaraan jy jouself kan oriënteer. Ronddryf en wegdryf ken ons almal ongelukkig te goed.
In die Hebreër brief word geworstel met die ontstellende werklikheid dat van die gelowiges wat Christus geken en vertrou het, afvallig geraak het. Hulle het weggedryf, uit Sy rus uit, in hulle eie onrus in. In die middel van die storm het hulle die anker
losgemaak. Die beginsel van ‘n anker bly dat die boot nie aan homself vasgemaak kan wees nie – dan dryf hy net saam met die winde en strome. Hy moet aan die vastheid van rots en bodem verbind wees.
Hoe kan hoop ’n anker wees? Is hoop nie, al is dit iets baie mooi en edel en inspirerend, juis iets wat so bietjie in die lug hang nie, onseker is – die tyd sal maar mos moet leer. Die Bybelse, Christelike hoop is wesenlik anders as ons algemene gebruik daarvan – “ek hoop maar dit sal uitwerk…”
Die Heb-skrywer probeer hier juis wys dat God se beloftes vas is, anders is as menslike beloftes – dit is so vas dat jy ten volle daarop kan vertrou. In die antieke tyd sou jy, om gewig te verleen aan jou belofte of voorneme, ’n eed daaroor aflê by iets of iemand bo jou – jy sweer voor die Keiser of jy sweer voor God. Maar met sy argument, herinner die Heb skrywer ons dat God niemand hoër het as Homself nie. Hy is die laaste bastion – as ons nie op Hom kan hoop nie op wie kan ons hoop – en juis om ons te verseker van sy trou bevestig God sy beloftes met ’n eed voor Homself. Alles wat God se nuwe skepping verteenwoordig is reeds ons s’n, al moet dit nog ten volle realiseer – dit is klaar weggebêre, dit wag vir ons: die volheid van lewe, in vrede en vryheid in die teenwoordigheid van God!
Ons Anker is nie iets nie, maar Iemand. Dis ons Hoëpriester wat alles gegee het en vir ewig vir ons intree aan die Regterhand van God. (Oor die orde van Melgisedek hoef ons vir nou net te weet dat dit verwys na ’n Hoëpriester in die verlede wat nie uit die stam van Levi kom nie, maar deur God self aangewys is – so is Jesus dus ook so ’n spesiale soort Hoëpriester wat deur God self aangewys is.) Agter die voorhangsel (met ander woorde in die hemel as die allerheiligste teenwoordigheid van God) is hierdie anker vasgemaak.
Letterlik word dit beskryf as ’n veilige en vaste anker vir die siel. Vir ons as Christene is die siel nie noodwendig iets apart van ons liggaam nie, maar die diepste deel van ons menswees – dit wat saakmaak – ons diepste verlangens, gevoelens, motiverings en waar dit bymekaarkom. John Ortberg het ’n wonderlik klein boekie geskryf met die titel: “You have a soul – it weighs nothing but means everything!”
In hierdie onstuimige wêreld van ons, hoe keer jy dat jou anker losgaan, dat jy jou greep op jou lewe, op jou siel, op God verloor? Hoe bly jy in aktiewe verwagting leef op God se beloftes? Hoe bly jy in kontak met die hoop? Soos Vader Abraham wat geduldig gewag het op die vervulling van die belofte.
Ortberg verdeel sy boekie in twee dele. Die eerste noem hy “It’s the nature of the soul to need.” Hy beskryf hoe jou siel juis kwesbaar is omdat dit so behoeftig is. Ons as mense wil altyd meer hê – meer wysheid, meer skoonheid, meer genot, meer snaakse YouTube-videos! Maar dit is nie “needy” karakter van ons siel wat die probleem is nie, maar ons sondige natuur. Ons begeertes se doel was om ons na God te laat draai, maar dan probeer ons dit met ander goed bevredig – wat die Bybel natuurlik afgode noem. As jou siel toegewy raak aan iets wat vir jou meer belangrik is as God, dan is dit jou afgod. Maar dit is nou waar God se genade intree – ek kan nie loskom van ’n afgod deur daarvan weg te draai nie – ek moet na iets toe draai – na Iemand wat regtig my diepste behoeftes kan bevredig.
Die tweede deel van Ortberg se boekie, sluit so mooi aan by een van die sentrale temas van Hebreërs: Rus – God se rus: “The soul needs rest”. Een van die mees radikale goed wat ons deesdae as Christene kan doen in hierdie malle ratrace is om te stop – om die waarde van minder, eenvoudiger, stadiger te herontdek. Ons is besig om ons siele stukkie vir stukkie dood te wurg, so af te skeep dat ons op die randjie van die afgrond staan. Wat is dit wat ons so dryf – ek moet moet moet…??!! Jou siel sal net vry wees as jy bereid is om te aanvaar dat jy nie God is nie.
Christelike rus, sabbatsrus, is nie net om uit te zone oor die naweek met Netflix, vriende, bier en braaivleis nie; dit is om by jou diepste menswees, by jou siel uit te kom. Om teenwoordig te raak in die teenwoordigheid van God – om op te hou weghardloop. En daar is die Bybel een van die belangrikste skakels van die ketting wat ons aan ons anker vashou. In die wêreld van die Woord, is God in beheer en daarom hoef ek nie te wees nie. In die wêreld van die Woord is daar genoeg lewe, krag, genoeg genade vir my sodat ek oorvloed sal hê as ek net my lewe daarvoor kan oopstel. Ek hoef nie die wêreld regop te hou nie, ek hoef nie myself te bewys met performance nie – ek kan maar net die ongeforseerde ritmes van genade vind!
Voel jy of jy ronddobber sonder rigting, sonder vastigheid, verlore? Daar is ’n anker vir jou siel – dit is Jesus self en die anker is agter die voorhansel vas, in die allerheiligste van die lewende God se teenwoordigheid. Die Heb-skywer sou vir jou sê: Terwyl die geleentheid nog daar is, moet dit nie misloop nie – kom in in God se rus. Amen.
Gebed
Tyd vir stilword: bely jou afgode.
Plaas jou hoop op Jesus en in sy Woord.
Vra Hom om jou anker vas te maak…