God is vernuwend

Verwelkoming:

God kom na jou as jou lewe… wat bring jy vandag?

Votum/seëngroet:

13God het ons uit die mag

van die duisternis gered,

en verplaas na die •koninkryk

van sy geliefde Seun –

14 deur wie ons bevryding,

die vergifnis van sondes

ontvang het.

15Die Seun is die beeld

van die onsigbare God,

die •Eersgeborene

oor die hele skepping;

16 want deur Hom

het God alles geskep:

alles in die hemel en op die aarde,

die sigbare en die onsigbare dinge…

alles is deur Hom

en tot Hom geskep…

Hy is die oorsprong,

die Eersgeborene uit die dood,

sodat Hy in alles

die eerste plek kon inneem;

19 want God het dit goedgevind

om die hele volheid

in Hom te laat woon,

20en om deur Hom alles,

ja, alles op aarde en in die hemel,

met Homself te versoen…

Ook jy is met God, en jouself, jou medemens en die skepping versoen om in liefde en vrede te leef. 

Skriflesing:

Kol 2:6-15

Preek:

Is ons sondaars of heiliges? Sinners of saints? Ek vermoed die meeste van ons sal sê, in die eerste plek sondaars. Dit is hoe ons oor onsself dink. En ons is geleer om dit te glo. Die heidelbergse kategismus (wat vir baie jare die grondslag van ons kategese was) het die drieledige struktuur: sonde – verlossing – dankbaarheid. En die Reformatore het, soms in die baie sterk taal, beskryf hoe swak en sondig (wurm!) ons is. En die goeie rede vir hulle klem was omdat hulle baie seker wou maak ons besef hoe groot God se genade is en dat ons as mense nie in staat is om onsself te red nie. 

Maar hierdie idee (die storie/narratief wat ons glo) van onsself as ’n arm en sukkelende sondaar, het baie van ons weerhou van die volheid van die lewe in Jesus. Dit was ook ’n lekker gemaksone waar ons mos kan boedel oorgee, want arme sondaars kan mos nie die sonde oorwin nie! 

Maar as ’n mens hierdie gedeelte (en baie ander in die Nuwe Testament) sou neem, dan vertel dit eintlik ’n radikale ander storie. En dit is dat ons sondaar was, maar nou heiliges geword het. Daar het ’n radikale oorgang en verandering plaasgevind deur die werk van Jesus en die Heilige Gees. En dit is baie belangrik dat ons dit mooi moet verstaan. 

Op soveel maniere verduidelik die Bybel dat ons ’n nuwe identiteit gekry het deur geloof in Jesus. Ons is nou in Hom; en Hy is in ons. Met soveel beelde doen Paulus en die ander hier en op ander plekke moeite om die omvang en krag daarvan by ons tuis te bring. 

Julle is in Hom gewortel en op Hom gebou. Ons is met die volheid van God wat in Hom woon vervul. Ons is in die doop saam met Hom begrawe en saam met Hom tot nuwe lewe opgewek. 

Nou as dit nou so wonderlik en groot en seker is, hoekom voel ek dit nie, hoekom leef ek dit nie?

Onthou julle hierdie driehoek van verandering waarmee ons werk in hierdie reeks van ons? (verduidelik kurrikulum van Christus gelykvormigheid. )

Die eerste deel op die antwoord van die vraag is dat ons eers hierdie narratief oor onsself regtig ons eie moet maak. Dat ons nie net eenmalig van sonde vrygespreek is sodat ons hemel toe kan gaan nie, maar dat ons nie net van ons sonde nie, maar van sondige bestaan, ons sondige aard verlos word, sodat ons vry daarvan kan lewe. Oorwinning is moontlik. Ons is nuwe skepsels. Herskep tot die beeld van God waarin ons gemaak is; nuut gebore. Dit gaan tyd neem om hierdie storie ons eie te maak. 

Die tweede vorm van ’n antwoord op die vraag, gaan oor die feit dat dit ’n proses is. Hierdie verandering gebeur nie oornag nie, en dit gebeur nie vansself nie. Dit is ’n pad van dissipelskap wat ons kies; wat ons leer ken en wat ons oefen. Die sonde sit in ons lyf. Dit is ons default. Ons het dit oor jare ingeoefen. Al die potensiaal vir ’n nuwe lewe in oorwinning is reeds in Christus in ons, maar ons moet ruimte skep vir die Gees om dit te ontsluit. 

’n Derde deel van die antwoord op die vraag, is omdat ons so in hierdie denk- en leef patrone van prestasie en verdienste vasgevang is. In hierdie reeks van ons het ons nou al baie hieroor gepraat. Iewers langs die pad het ons moedeloos geword. Want ons het al so baie probeer om die regte ding te doen, maar dit nie reggekry nie. Die ou gewoontes hou hulle houvas. En hoe harder ons probeer het, hoe meer het ons gefaal. Maar die probleem was juis dit. Ek het uit eie krag probeer. En my wilskrag kom alles uit my ego uit – en my eie ego het geen groeipotensiaal nie. 

Nou hoe gebeur dit dan, hoe ontdek en leef ek my saintskap?  Kom ons neem Rom 12:1-2 as ons vertrekpunt. 

1Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. 2Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.

Die eerste punt is, stel jouself beskikbaar. Nie net jou hart nie, jou liggaam. Wees bewus dat alle dele van jou onlosmaaklik aan mekaar vas is en alles aan die Here behoort en aan Hom oorgegee moet word. Dit vra vertroue, dit vra nederigheid en kwesbaarheid, die neerlê van jou trots. 

Twee: wees bewus dat daar ’n klomp ander stories en magte in die wêreld aan die werk is. As jou oorgawe aan die Here nie bewustelik en herhaaldelik is nie, dan gaan die ander stories (die Bybel noem dit die magte van die bose, sonde en dood) wat ook in jou liggaam aan die werk is, die oorhand kry. Dit is ook ’n geestelike stryd. Jy moet God se nuwe stories ontvang en dit herhaaldelik bedink, sodat jou gedagtes toenemend vernuwe word, dan sal die Here se hart, wil, doel, plan en logika vir jou al hoe duideliker word. 

Jy is ’n boom wat gemaak is om goeie vrug te dra. ’n Appelboom hoef nie te konsentreer om appels ipv dorinigs te dra nie. Dit gebeur net. En ek weet dit klink nou teenstrydig, maar die pad het sy dissipline, sy sieloefeninge, maar die doel is ligtheid en vryheid. Jesus het nie vir ons ’n swaar juk in gedagte nie. ’n Langlip lewe van plig en self probeer nie. 

“Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.”

Ons is in Christus en Hy doen dit in en deur Hom. 

Om die dinamika te verduidelik, gebruik Jim die voorbeeld van die plaas en die stadshond. Die stadshond (en dit is ons as ons reelgebonde en skuldgebonde self probeer om sukses in ons godsdienstige lewe te bereik), moet die heeltyd binne die huis of binne die erf bly. Hy voel ingehok en vasgekeer – hoor en ruik alles daarbuite, en as hy die kans kry, skiet hy uit en verdwaal selfs. 

Maar die plaashond het vryheid. Het het al die plaas verken, bossies geruik en die hase gejaag, maar hy ken sy huis en sy baas en hy is meestal daar, want dit is waar hy gelukkig, veilig en versorg is. 

Wat hierdie teksgedeelte (en ander!) duidelik maak, is Jesus se gesag. Die volle gesag en oorwinning van God oor sonde, dood en bose; die volheid van God – wat in Hom beliggaam is en wat Hy nou in jou beliggaam. Jy is nie maar net ’n arme sondaar nie. Jy is ’n heilige (ge-heiligde, ’n saint!). Jy gesag en sy oorwinning is ook joune. Eien dit toe. Gee daaraan oor. Laat dit van jou besit neem. Leef daarin. Amen. 

Sieloefening: Solitude

Stilte en afsondering is hoekstene

Die ander stemme moet stilraak.

Ek dink aan Mat 6: Gaan na jou binneste kamer en maak die deur toe – weg van die oë en verwagtinge van mense wat druk op jou sit om iets te wees wat jy nie is nie – ’n plek waar die skille kan afval. 

Jou Vader wat sien wat verborge is sal jou beloon. 

Lewe voor die Een wat die lewe in sy hand hou

css.php