Preek – Datum: Tema – Teksvers

1

INRY-EREDIENS – PAARLBERG – SONDAG, 16 AUGUSTUS 2020

1. Teks en Tema

Gen 45:1-15

‘n Nuwe begin

2. Teks:

Gen 45:1-5 Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. (2) Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het. (3) Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?” Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom. (4) Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. (5) Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.

Gaan lees gerus die verhaal verder hoe Josef God se hand ook sien in die versorging van sy familie en hoe hy dan sy pa laat haal en hulle in die Gosenstreek kom woon het.

3. PREEK:

Dis darem interessant hoe sommige verhale uit die Bybel mens aan stories uit jou eie lewe laat dink. Dié verhaal van Josef het my laat terugdink aan my en my jonger sussie, Lydia, in ons kleintyd. Mense, ons het baie baklei! Uit radeloosheid het my Ma ons dan soms elkeen ‘n mes gegee en in die badkamer toegesluit en gesê: ”Maak mekaar nou dood!” Ek is darem bly om te sê dat ons beide nog vandag lewe! Om die waarheid te sê: Iets wat in Josef se verhaal gebeur het, het ook met die ouderdom by ons gebeur: Ons is vandag baie na aan mekaar en baie lief vir mekaar. Ons kan gelukkig nou lag oor daardie simpel tyd in ons lewens.

Ek vermoed darem dat ons nie die enigste is wat sulke oorloggies gevoer het nie. ‘n Artikel in Time Magazine berig dat ‘n Universiteit in Toronto, Kanada, navorsing gedoen oor hoeveel kinders baklei met mekaar. En die uitslag? Gemiddeld baklei 2-3 jarige boeties en sussies 6.3 keer per uur met mekaar! Dis 90 keer per dag! Klink dit bekend? Gelukkig neem dit darem af tot 3.5 keer per uur vir 3-7 jariges.

Nou-ja, hierdie geskilletjies is dikwels maar bo-langs. Maar ons weet ook almal van broers en susters wat baie ernstige uitvalle met mekaar gehad het en wat soms verwydering vir geslagte lank in ‘n familie gebring het met baie slegte gevolge vir almal betrokke. En moenie dink dat dit nie ook kan voorkom in gesinne wat gelowiges is nie – soos wat ons nou sien ook gebeur het met Jakob se kinders – Josef en sy broers. In hulle geval was dit ‘n saak wat vir 22 jaar onopgelos tussen hulle gewees het. Wat baie erg is, is dan die emosies van bitterheid en haat en behoefte aan vergelding wat daarmee gepaard gaan. Ons eie taal is dan ook deurspek met sulke uitdrukkings soos:

Elke hond…. kry sy dag. 2

Boontjie… kry sy loontjie.

Jou dag sal kom.

God se meule maal stadig maar seker.

Skelmgeit se vet braai uit.

Dalk is dit waar van jou ook, dat jy ook ly onder iets wat tussen jou en iemand gebeur het en nie wil gaan lê nie maar eintlik net donkerder raak en ‘n effek het op jou lewe en ander om jou. Ons natuurlike reaksie is mos dat ons beter sal voel as ek die ander een teruggekry het. Asof dit die honger na wraak sal stil en my vrede sal gee. Wat so sleg is van so ‘n ding, is dat dit baie maal ‘n mens se lewe oorheers. Jy kan dit nie vergeet nie, dit ontneem jou van baie vrede en vreugde en maak dit ook moeilik om Jesus te volg, soos wat ons geroep is om te doen.

As ek nou dit sê, dan dink ek nie dat dit maklik is om verkeerde dinge wat teen jou gepleeg is altyd te vergeet nie. Baie, baie slegte dinge het al met mense, dalk ook met jou, gebeur wat hoofsaaklik die skuld van die ander kan wees.

Hoe moet ons as dissipels van Jesus in so ‘n situasie optree? Natuurlik net deur die voorbeeld van Jesus te volg. En wat is dit? Jesus het juis gekom sodat daar ‘n herstel kan wees in verhoudings. Juis daarom stuur die Vader sy Seun om die gebreekte verhouding tussen ons en Hom reg te maak deur sy dood aan die kruis. As Jesus sê dat Hy gekom het om vir ons die lewe te gee, dan is die lewe een van allesomvattende vrede (Shalom) – ook tussen mekaar. Hoor hoe praat Hebreërs oor die saak:

Heb 12:14-15 Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. (15) Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ‘n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.

Jesus vergewe ons nie net van ons sondes nie, maar roep ons op om as ‘n teken van sy liefde, ook andere om ons te vergewe.

Wanneer ek Jesus volg, dan is dit ‘n nuwe lewe met ander waardes en praktyke in my lewe wat ek moet aanleer en oefen. Dis juis wat Paulus in die oog het as hy aan die mense van Korinte skryf:

2 Kor 5:17-18 Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. (18) Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.

Ons lees hiervan baie in die verhaal van Josef. Sy storie het ‘n baie mooi einde. Versoening bring altyd goue skatte. ‘n Pa wat na 22 jaar weer by sy seun kan bly wat hy gedink het dood is. Broers wat mekaar gehaat het en die gevolge daarvan gedra het, huil van blydskap in mekaar se arms. Dis ‘n storie van hoop! ‘n Nuwe begin! As so-iets in ons gesin moes gebeur het, sou ons almal vir ten minste ‘n week op Jongensfontein saamgetrek het, elke aand tot laat groot vuur gemaak het, gebraai het en van die 3

beste Bolandse wyne uitgehaal het. Die storie van Josef en sy broers laat mens ook baie dink aan die terugkoms van die verlore seun. Dis vreugde!

Dit klink alles wonderlik, maar hoe gebeur dit? Hoe kan dit ook vandag gebeur met ons dat daar nuwe lewe kom in slegte verhoudings? Ek glo dat die verhaal van Josef en sy broers ons daarmee ook help.

Josef was natuurlik nie ‘n engeltjie nie. Hy was in sy jonger dae ook maar ‘braggerig’ en sy pa het hom ook maar voorgetrek. Maar op ‘n wonderlike manier het die Here hom gehelp om dieper te sien as net dit wat met en rondom hom gebeur het. Daar het ook ‘n verandering in sy lewe plaasgevind. Toe Potifar se vrou hom verlei om by haar te kom slaap, hoor ons hom sê:

“Hoe kan ek so ‘n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!”

En so getuig Josef telkens van God as hy in die tronk gegooi word, teenoor die skinker en bakker, ook as die farao hom roep om sy droom uit te lê.

Toe hy homself aan sy broers ontmasker, getuig hy weer van God se pad met hom en hulle.

Wat het hier gebeur? Josef het deur die jare geleer om verder en dieper te kyk as die pyn wat ander hom aangedoen het en te kyk hoe God ook in elke situasie teenwoordig is as ‘n God wat uit slegte dinge goeie dinge bring. En uiteindelik draai hierdie houding van Josef die bose spiraal van kwaad en vergelding na liefde en vergifnis en word almal se lewens ten goede gedraai in die verhaal. Dis ook nie net ‘n verandering wat in Josef se lewe gebeur het nie, maar ook in sy broers se lewens. Ook hulle het gegroei in liefde en wou ‘n nuwe begin maak. Ook in hulle lewens het God deur al hulle bitterheid en haat en selfsugtigheid ‘n omdraaipunt gebring sodat hulle ook versoening kon beleef en uitleef.

Wat is dit wat die verhaal van Josef ons kom gee van God en vir ons lewenspad vorentoe?

1. Daar is nie ‘n oomblik wat ons Godverlate is nie – al voel dit vir ons soms so. Is dit nie waar as ons terugkyk op ons lewens dat ons kan sien hoe die Here op soms onverwagte maniere nog altyd daar was en my nie gelos het nie. Ja, aan die kruis was Hy van God verlate sodat ons nooit weer verlate hoef te wees nie.

2. Deur alles, goed en sleg, is God besig met my om my ook meer te vorm na die beeld van Jesus. Ook as daar onregverdige dinge met my en jou gebeur. Daarom kan ons verder kyk as die slegte dinge wat met ons gebeur en God se einde raaksien met my.

3. As ons Jesus volg, dan moet ons Hom, soos Josef, ook volg in vergifnis teenoor ander. So praat Jesus Self daaroor:

4

Luk 6:35 Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ‘n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes.

Nie net maak ons ander vry om Jesus te kan volg nie, maar word ons self ook vry.

Josephine Ligon vertel in ‘n artikel in Christianity Today van ‘n gesin met die van Parsons in die stad waar sy grootgeword het wat vergifnis geleef het. Nadat Josephine en ‘n paar van haar vriendinne in graad 3 ‘n handvol potloodskaafsels in die toebroodjie van die Parsons-meisie gesit het, net om haar te terg en kwaad te maak. Maar sy het nie kwaad geword nie. Die Parsons-meisie het die volgende dag, sonder dat enigeen om verskoning gevra het vir haar, vir almal in die klas ‘n heerlike, handversierde koekie gebring wat sê: ‘Jesus het jou lief.’ Meer as 40 jaar later onthou Josephine Ligon nog steeds daardie demonstrasie van vergifnis meer as enige preek. Dit het haar lewe verander.

As ons nou saam die nagmaal gebruik, sien dit as ‘n teken van God se vergifnis en liefde en ‘n uitnodiging om Jesus te volg en andere te vergewe. Amen.

4. AMEN

css.php